Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp2 hfst. 25 bl. 208-214
  • Kan ek gelukkig wees in ’n enkelouergesin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan ek gelukkig wees in ’n enkelouergesin?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Werk negatiewe gevoelens teë
  • Bly weg van “sê nou maar net . . .”
  • Doen jy jou deel?
  • Sal ek normaal wees met net een ouer?
    Ontwaak!—1990
  • Hoe kan ek gelukkig wees met net een ouer?
    Ontwaak!—1990
  • Hoe kan ek my enkelouer help?
    Ontwaak!—1991
  • Enkelouergesinne kan welslae behaal!
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
yp2 hfst. 25 bl. 208-214

Hoofstuk 25

Kan ek gelukkig wees in ’n enkelouergesin?

“Kinders met twee ouers kan hulle eie kamer hê en nuwe klere koop. Maar ek moet ’n kamer deel; ek kry byna nooit die klere wat ek wil hê nie. My ma sê sy kan dit nie bekostig nie. Met al die takies wat ek by die huis moet doen terwyl sy werk, voel ek soos ’n bediende—asof ek van ’n deel van my kinderdae beroof word.”—Shalonda, 13.

EEN ding is seker, ’n huis met twee liefdevolle ouers is ideaal. ’n Pa en ma wat bymekaar is, kan gewoonlik meer leiding, beskerming en ondersteuning gee. “Twee is beter as een”, sê die Bybel, “want saam kan hulle meer bereik.”—Prediker 4:9, Today’s English Version.

Maar as die tweeouergesin ’n dier was, sou dit heel moontlik op die lys van bedreigde spesies geplaas word. Byvoorbeeld, meer as die helfte van die kinders in die Verenigde State sal voordat hulle 18 is ten minste ’n tyd lank in ’n enkelouergesin wees.

Nogtans voel party jongmense in ’n eenouergesin skaam oor hulle omstandighede. Ander voel oorweldig deur die druk en probleme van die lewe. As jy in ’n eenouergesin is, watter druk ondervind jy? Skryf op die reël hieronder die probleem wat vir jou die ergste is.

․․․․․

Beteken die feit dat jy die voltydse liefde en sorg van een van jou ouers kortkom dat jy tot ’n ongelukkige lewe gedoem is? Beslis nie! Dit hang grootliks af van jou beskouing van die situasie. Spreuke 15:15 sê: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal.” Hierdie spreuk toon dat jou luim dikwels meer te doen het met jou gesindheid as jou omstandighede. Wat kan jy doen om “vrolik van hart” te voel ten spyte van jou omstandighede?

Werk negatiewe gevoelens teë

Probeer eers om nie toe te laat dat die negatiewe kommentare van ander slegte gevoelens in jou laat ontstaan nie. Party onderwysers was byvoorbeeld al uiters ongevoelig teenoor leerders uit eenouergesinne. Sommige neem selfs aan dat enige gedragsprobleem die gevolg is van probleme by die huis. Maar vra jou af: ‘Ken die mense wat hierdie aanmerkings maak, my en my gesin persoonlik? Of herhaal hulle maar net wat hulle ander omtrent eenouergesinne hoor sê het?’

Dis interessant dat die uitdrukking “vaderlose seun” tientalle kere in die Skrif verskyn. Hierdie term word nie één keer op ’n neerhalende manier gebruik nie. Om die waarheid te sê, in byna al die verslae waar dit verskyn, toon Jehovah sy besondere besorgdheid oor kinders wat in eenouergesinne grootgemaak word.a

Aan die ander kant is party welmenende mense dalk oorgevoelig wanneer hulle met jou praat. Byvoorbeeld, hulle vermy dalk woorde soos “pa”, “huwelik”, “egskeiding” of “dood”, omdat hulle bang is dat sulke woorde jou aanstoot sal gee of in die verleentheid sal stel. Pla dit jou as hulle dit doen? Wys dan op ’n taktvolle manier vir hulle dat hulle verniet versigtig is. Tony, 14, het nooit sy eie pa geken nie. Hy sê dat party mense sekere woorde probeer vermy wanneer hulle met hom praat. Maar Tony help hulle deur self daardie woorde te gebruik. “Ek wil hê hulle moet weet dat ek nie skaam voel oor my situasie nie”, sê hy.

Bly weg van “sê nou maar net . . .”

Toegegee, dis net natuurlik om hartseer en ’n leemte in jou lewe te voel as jou ouers geskei het of as ’n geliefde ouer gesterf het. Maar uiteindelik moet jy jou situasie aanvaar. Die Bybel gee hierdie raad: “Moenie sê: ‘Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie” (Prediker 7:10). Die 13-jarige Sarah, wie se ouers geskei is toe sy 10 was, sê hieroor: “Moenie jouself depressief maak oor jou situasie deur die hele tyd te dink ‘sê nou maar net . . . ’ nie, of moenie dink dat jy net probleme het omdat jy in ’n eenouergesin is, of selfs dat kinders in tweeouergesinne ’n maklike lewe het nie.” Dis goeie raad. Selfs die ‘ideale’ gesin het immers probleme.

Jy kan dalk aan jou gesin dink as ’n span roeiers in ’n roeiboot. Die ideale situasie is ’n boot met ’n volle span. In ’n enkelouergesin is een van die roeiers nie daar nie en moet die res van die span ’n bietjie harder werk. Beteken dit dat die gesin ’n mislukking is? Nee! Solank die res van die span saamwerk, sal die boot bo water bly en sy bestemming bereik.

Doen jy jou deel?

Hoe kan jy seker maak dat jy, saam met die res van jou gesin, jou deel doen? Oorweeg die volgende drie wenke:

Leer om spaarsaam te wees. Geld is ’n groot bron van kommer in die meeste eenouergesinne. Wat kan jy doen om te help? Tony, wat vroeër genoem is, sê: “Kinders in my skool dring daarop aan dat hulle ouers vir hulle ontwerperstekkies en -klere koop. Hulle weier om daarsonder skool toe te gaan. Ek het nie die nuutste ontwerpersklere nie, maar ek is netjies en skoon, en ek kyk mooi na wat ek het. My ma doen haar uiterste bes; ek wil nie dinge vir haar moeiliker maak nie.” Met ’n bietjie inspanning kan jy die apostel Paulus navolg wat gesê het: “Ek het geleer om tevrede te wees met wat ek het . . . , sodat ek op enige plek, te eniger tyd, vergenoeg kan wees.”—Filippense 4:11, 12, TEV.

Nog ’n manier om spaarsaam te wees, is om nie te mors nie (Johannes 6:12). Jong Rodney sê: “Ek probeer in en om die huis versigtig wees om nie goed te breek of te verloor nie, want dit kos geld om dit reg te maak of te vervang. Ek probeer om elektriese toestelle of ligte wat nie gebruik word nie, af te skakel. Dit help om ons elektrisiteitsrekening te verlaag.”

Neem die inisiatief. Baie enkelouers is huiwerig om huisreëls af te dwing of hulle kinders te vra om met takies te help. Waarom? Party voel dat hulle vir die afwesigheid van een ouer moet vergoed deur die lewe vir hulle kinders makliker te maak. ‘Ek wil nie my kinders enige pret ontsê nie’, redeneer hulle dalk.

Jy kom dalk in die versoeking om jou ouer se skuldgevoelens uit te buit. Maar dit sal jou ouer se las net swaarder maak, nie ligter nie. Neem eerder die inisiatief om te help. Kyk wat Tony bereid was om te doen. “My ma werk in ’n hospitaal, en haar uniform moet gepars word”, sê hy. “Daarom stryk ek dit vir haar.” Is dit nie ’n vrou se werk nie? “Party dink so”, antwoord Tony. “Maar dit help my ma, en daarom doen ek dit.”

Toon jou waardering. Behalwe dat jy praktiese hulp kan aanbied, kan jy ook baie doen om jou ouer op te beur deur eenvoudig jou waardering te toon. Een enkelouer het geskryf: “Dikwels wanneer ek depressief of geïrriteerd by die huis aankom ná ’n besonder moeilike dag by die werk, vind ek dat my dogter juis op daardie dag besluit het om die tafel te dek en met die aandete te begin.” Sy voeg by: “My seun sit sy arms om my en gee my ’n drukkie.” Watter uitwerking het sulke bedagsame dade op haar? “Dan voel ek sommer stukke beter”, sê sy.

Skryf hier neer aan watter een van die drie punte hierbo jy die hardste moet werk. ․․․․․

As jy in ’n eenouergesin is, het jy die geleentheid om eienskappe soos medelye, onselfsugtigheid en betroubaarheid aan te kweek. Daarbenewens het Jesus gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). En dit kan jou baie gelukkig maak as jy van jouself gee deur jou enkelouer te help.

Jy sal natuurlik elke nou en dan wens dat jou ander ouer nog saam met julle gewoon het. Maar jy kan leer om die beste van jou situasie te maak. Dis wat ’n meisie met die naam Nia gevind het. “Ná my pa se dood”, sê sy, “het iemand vir my gesê ‘jou lewe is wat jy daarvan maak’, en ek het daardie woorde onthou. Dit het my laat besef dat ek nie die slagoffer van my omstandighede hoef te wees nie.” Jy kan jou situasie ook so beskou. Onthou, dis nie jou omstandighede wat jou gelukkig of ongelukkig maak nie. Dis hoe jy dit beskou—en wat jy daaromtrent doen.

LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 4

[Voetnoot]

a Sien byvoorbeeld Deuteronomium 24:19-21 en Psalm 68:5.

SLEUTELTEKSTE

“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”—Filippense 2:4, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

WENK

As jy voel dat jy meer verantwoordelikhede het as wat jy kan hanteer, kan jy taktvol voorstel dat jou ouer die volgende probeer:

● Maak ’n lys van al die take wat elke gesinslid moet doen.

● Herverdeel die take onder gesinslede wanneer dit nodig is.

HET JY GEWEET . . . ?

As jy verantwoordelikhede in die huis aanvaar, kan dit jou help om vinniger volwasse te word as jongmense in tweeouergesinne, wat dikwels minder verantwoordelikhede het.

AKSIEPLAN!

Ek sal my negatiewe gevoelens teëwerk deur ․․․․․

As mense oorgevoelig is in my geselskap, sal ek sê ․․․․․

Wat ek graag vir my ouer hieroor wil vra ․․․․․

WAT DINK JY?

● Waarom is party mense bevooroordeeld teenoor kinders van enkelouers?

● Waarom is jou ouer dalk huiwerig om jou te vra om met takies in die huis te help?

● Hoe kan jy waardering vir jou ouer toon?

[Lokteks op bladsy 211]

Vandat my ouers geskei is, kan ek en my ma regtig openhartig met mekaar gesels; ons is nou baie na aan mekaar.’’—Melanie

[Prent op bladsy 210, 211]

’n Enkelouergesin is soos ’n span roeiers wat een spanlid kortkom—die res van die span sal ’n bietjie harder moet werk, maar hulle kan suksesvol wees as hulle saamwerk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel