Hoofstuk 11
Wat van Internetvriendskappe?
Watter soort kommunikasie verkies jy?
□ Persoonlik
□ Telefonies
□ Rekenaar
Met wie praat jy die maklikste?
□ Klasmaats
□ Gesinslede
□ Mede-Christene
Waar is jou kommunikasie die spontaanste?
□ By die skool
□ By die huis
□ By gemeentelike vergaderinge
KYK na jou antwoord op die eerste vraag. Het jy gesê dat jy rekenaarkommunikasie bo persoonlike kommunikasie verkies? Indien wel, is jy glad nie alleen nie. Baie jongmense gebruik die Internet om vriendskappe aan te knoop en aan die gang te hou. “Die idee om mense van regoor die wêreld te ontmoet—mense wat jy andersins nooit sou kon ontmoet nie—is opwindend”, sê ’n jong meisie met die naam Elaine. Tammy, 19, noem iets anders wat aanloklik is. “Jy kan beheer hoe mense jou beskou”, sê sy. “Wanneer jy fisies by mense is en jy pas nie in nie, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie.”
Kyk nou na jou antwoorde op die tweede en derde vrae. Moenie verbaas wees as jy dit makliker vind om met klasmaats te praat as met mede-Christene by gemeentelike vergaderinge nie. “By die skool is daar ’n groter kans om mense te vind wat met dieselfde dinge te kampe het as jy”, sê die 18-jarige Jasmine. “Daarom kan dit baie makliker wees om op jou gemak te voel by hulle.”
Sit al die faktore hierbo bymekaar, en dit lyk dalk net natuurlik dat jy oor die Internet met skoolmaats sal wil gesels. Tammy erken dat sy dit ’n ruk lank gedoen het. “Al my skoolmaats het oor die Internet met mekaar gesels, en ek wou nie uitgesluit wees nie”, sê sy.a Natalie, 20, het ’n webblad opgestel om met vriende in kontak te bly. “Tegnologie gaan vooruit”, sê sy. “Daar is nou nuwe kommunikasievorme. Die Internet is een van hulle, en ek hou daarvan.”
Dink aan die gevare
Dis duidelik dat dit vir party mense makliker is om vriendskappe oor die Internet aan te knoop en aan die gang te hou. “Die Internet gee jou ’n mate van selfvertroue wat jy andersins nie sou hê nie”, sê Natalie. Tammy stem saam. “As jy skaam is”, sê sy, “gee kommunikasie oor die Internet jou die kans om te beplan presies wat jy gaan sê.”
Maar daar is gevare verbonde aan kommunikasie oor die Internet, en dit sou dom wees om dit te ignoreer. Ter toeligting: Sou jy geblinddoek deur die strate van ’n gevaarlike buurt loop? Waarom sou jy dan op die Internet ronddwaal sonder om van die gevare bewus te wees?
Dink aan die gevare wat daaraan verbonde is om oor die Internet te probeer vriende maak. “Dis tog te maklik om skelm mense te ontmoet”, sê Elaine, wat dit vroeër geniet het om oor die Internet met vreemdelinge te praat. Sy voeg by: “Partykeer is dit net ’n kwessie van minute voor iemand vulgêre dinge sê of vrae vra soos: ‘Het jy al seks gehad? Doen jy orale seks?’ Party wil selfs kuberseks hê.”
Maar sê nou jy gesels net met ’n vriend(in) wat jy vertrou? Selfs dan moet jy versigtig wees. “Jy kan te veel tyd daaraan spandeer om met iemand van die teenoorgestelde geslag te praat, selfs al is julle ‘net vriende’”, sê Joan. “Hoe meer tyd jy gebruik om boodskappe aan daardie persoon te stuur, hoe hegter word julle vriendskap, en die gesprekke kan al hoe intiemer word.”
“Dié wat verberg wat hulle is”
Koning Dawid het goed geweet hoe belangrik dit is om versigtig te wees vir die verkeerde soort vriende. Hy het geskryf: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie.”—Psalm 26:4.
Het jy al, wanneer jy op die Internet is, mense teëgekom soos dié van wie Dawid gepraat het? Onder watter omstandighede kan mense op die Internet “verberg wat hulle is”? ․․․․․
Aan die ander kant, verberg jy dalk wat jy is wanneer jy op die Internet is? “Ek het gesprekke met mense aangeknoop en dan ’n persoonlikheid aangeneem wat by die gesprek gepas het”, sê Abigail, wat kletskamers besoek het.
’n Meisie met die naam Leanne het ’n ander vorm van bedrog gebruik. Sy vertel: “Ek het gereeld oor die Internet met ’n outjie in ’n naburige gemeente gesels. Ons het gou begin sê ons is ‘lief’ vir mekaar. Elke keer as my ouers verbygeloop het, het ek die bladsy van die skerm af laat verdwyn, sodat hulle nie die vaagste benul gehad het wat aangaan nie. Ek dink nie hulle het gedink dis moontlik dat hulle 13-jarige dogter vir ’n 14-jarige seun liefdesgedigte skryf nie. Die idee het nooit eers by hulle opgekom nie.”
Bly veilig
Daar is natuurlik tye wanneer kommunikasie oor die Internet gepas is. Byvoorbeeld, baie mense—ook volwassenes—gebruik die Internet om met vriende in kontak te bly. Is daar enige voorsorgmaatreëls wat jy kan tref as jy die Internet hiervoor gebruik? Oorweeg die volgende punte.
● Hou rekord van hoeveel tyd jy op die Internet deurbring, en moenie toelaat dat dit jou beroof van tyd vir belangriker dinge nie—en dit sluit slaap in. “Party kinders by die skool sê dat hulle al tot drie-uur die oggend op die Internet gebly het”, sê ’n jong man met die naam Brian.—Efesiërs 5:15, 16.
● Kommunikeer net met mense wat jy ken of wie se identiteit jy kan bevestig. Onsedelike persone soek dikwels op die Internet na onskuldige jongmense wat hulle kan misbruik.—Romeine 16:18.
● Wees versigtig wanneer jy saketransaksies aangaan. Wees baie versigtig wanneer jy persoonlike inligting bekend maak. Andersins kan jy die slagoffer word van bedrog—of van iets ergers.—Matteus 10:16.
● Wanneer jy foto’s aan jou vriende stuur, vra jou af: ‘Verteenwoordig dit werklik iemand wat sê dat hy God dien?’—Titus 2:7, 8.
● Net soos met persoonlike kommunikasie, moet jy die gesprek beëindig as ’n gesprek oor die Internet oor dinge begin handel “wat nie betaamlik is nie”.—Efesiërs 5:3, 4.
● Wees altyd eerlik oor jou gebruik van die Internet. As jy vir jou ouers moet ‘verberg wat jy is’, is iets verkeerd. “Ek steek niks vir my ma weg nie”, sê ’n tiener met die naam Kari. “Ek wys vir haar wat ek op die Internet doen.”—Hebreërs 13:18.
“Die moeite werd om te wag!”
Jy wil vriende hê. Dis normaal. Mense is gemaak om die geselskap van ander te geniet (Genesis 2:18). So, as jy voel dat jy vriende wil hê, is dit omdat jy so gemaak is! Jy moet hulle net versigtig kies.
Wees verseker dat jy die beste vriende kan vind as jy hulle in ooreenstemming met die standaarde van God se Woord kies. Een 15-jarige meisie het dit so gestel: “Dis moeilik om vriende te vind wat lief is vir Jehovah en ook vir jou. Maar wanneer jy hulle wel vind, was dit die moeite werd om te wag!”
Wie sê woorde kan nie seermaak nie? Skinderpraatjies kan soos ’n swaardsteek wees. Hoe kan jy dit stopsit?
[Voetnoot]
a Vriendskappe by die skool word in Hoofstuk 17 verder bespreek.
SLEUTELTEKSTE
“Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie.”—Psalm 26:4.
WENK
Die tyd vlieg wanneer jy op die Internet is! Besluit dus hoe lank jy op die Internet wil wees en bly daarby. As dit nodig is, stel ’n tydklokkie wat sal afgaan wanneer jou tyd verby is.
HET JY GEWEET . . . ?
Al wat iemand met slegte bedoelings nodig het om jou op te spoor, is ’n paar besonderhede—dalk jou van, die naam van jou skool en jou telefoonnommer.
AKSIEPLAN!
Ek wil graag my tyd op die Internet beperk tot ․․․․․ per week, en om dit te doen, sal ek ․․․․․
As ek vind dat ek met ’n vreemdeling oor die Internet praat, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Wat is die voor-en nadele van Internetkommunikasie teenoor persoonlike kommunikasie?
● Waarom is dit maklik om ’n ander persoonlikheid aan te neem wanneer jy oor die Internet gesels?
● Hoe kan jy die tyd beheer wat jy op die Internet deurbring?
● Op watter goeie maniere kan Internetkommunikasie gebruik word?
[Lokteks op bladsy 103]
Ek praat nie oor die Internet met mense wat ek nie ken nie of met wie ek nie in die regte lewe sou assosieer nie.’’—Joan
[Prent op bladsy 100, 101]
Sou jy geblinddoek deur die strate van ’n gevaarlike buurt loop? Waarom sou jy dan oor die Internet kommunikeer sonder om van die gevare bewus te wees?