Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 20 bl. 175-183
  • Hou Jehovah se dag goed in gedagte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou Jehovah se dag goed in gedagte
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Let op die teken
  • Die skeiding van mense
  • Wat lê voor?
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Na hierdie “laaste dae” God se Messiaanse koninkryk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 20 bl. 175-183

Hoofstuk Twintig

Hou Jehovah se dag goed in gedagte

1. Hoe het jy gevoel toe jy vir die eerste keer gehoor het dat verlossing van die smarte van hierdie ou stelsel naby is?

EEN van die eerste dinge wat jy uit die Bybel geleer het, was dat Jehovah se voorneme is dat die hele aarde ’n paradys moet word. In daardie nuwe wêreld sal daar nie meer oorlog, misdaad, armoede, siekte, lyding en dood wees nie. Selfs die dooies sal weer lewe. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Die nabyheid van al hierdie dinge word beklemtoon deur bewyse dat Christus se onsigbare teenwoordigheid as heersende Koning in 1914 begin het en dat ons sedertdien in die laaste dae van hierdie goddelose wêreld lewe. Aan die einde van hierdie laaste dae sal Jehovah die teenswoordige stelsel van dinge vernietig en die beloofde nuwe wêreld inlui!

2. Wat is “die dag van Jehovah”?

2 Die Bybel noem hierdie komende tyd van vernietiging “Jehovah se dag” (2 Petrus 3:10). Dit is “die dag van Jehovah se toorn” teen Satan se hele wêreld (Sefanja 2:3). Dit bereik ’n klimaks in “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige . . . , wat in Hebreeus Har–Magedon [Armageddon] genoem word”, waarin “die konings van die hele bewoonde aarde” vernietig gaan word (Openbaring 16:14, 16). Toon jou lewenswyse dat jy oortuig is dat hierdie “dag van Jehovah” naby is?—Sefanja 1:14-18; Jeremia 25:33.

3. (a) Wanneer sal die dag van Jehovah kom? (b) Waarom is dit goed dat Jehovah nie “daardie dag of die uur” geopenbaar het nie?

3 Die Bybel gee nie vir ons die dag en datum wanneer Jesus Christus gaan kom as Jehovah se Skerpregter teen Satan se stelsel van dinge nie. “Van daardie dag of die uur weet niemand nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader”, het Jesus gesê (Markus 13:32). Diegene wat Jehovah nie werklik liefhet nie, sal geneig wees om sy dag in hulle verstand uit te stel en wêreldse dinge na te jaag. Maar dié wat Jehovah werklik liefhet, sal hom heelhartig dien, ongeag wanneer die einde van hierdie goddelose stelsel kom.—Psalm 37:4; 1 Johannes 5:3.

4. Watter waarskuwing het Jesus gegee?

4 Jesus rig ’n waarskuwing tot dié wat Jehovah liefhet en sê: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie” (Markus 13:33-37). Hy spoor ons aan om nie toe te laat dat eet en drink of “sorge van die lewe” soveel van ons aandag in beslag neem dat ons die erns van die tye uit die oog verloor nie.—Lukas 21:34-36; Matteus 24:37-42.

5. Wat sal die dag van Jehovah bring, soos Petrus verduidelik het?

5 Petrus maan ons ook om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [te] hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt”. Alle menseregerings—“die hemele”—sal vernietig word, en so ook die goddelose mensegemeenskap oor die algemeen—“die aarde”—en sy “elemente”, die idees en bedrywighede van hierdie bose wêreld, soos sy gesindheid van onafhanklikheid van God en sy onsedelike en materialistiese lewenswyse. Hierdie dinge sal vervang word deur “nuwe hemele [God se hemelse Koninkryk] en ’n nuwe aarde [’n nuwe aardse gemeenskap]” waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:10-13). Hierdie wêreldskuddende gebeure sal skielik en op ’n onverwagte dag en uur begin.—Matteus 24:44.

Let op die teken

6. (a) In watter mate was Jesus se antwoord op sy dissipels se vraag op die einde van die Joodse stelsel van toepassing? (b) Watter dele van Jesus se antwoord vestig die aandag op gebeure en gesindhede van 1914 af?

6 Met die oog op die tye waarin ons lewe, moet ons goed vertroud raak met die besonderhede van die saamgestelde teken wat die laaste dae—“die voleinding van die stelsel van dinge”—kenmerk. Hou in gedagte dat toe Jesus sy dissipels se vraag beantwoord het, wat in Matteus 24:3 opgeteken is, party van die dinge wat hy in verse 4 tot 22 voorspel het, tussen 33 en 70 G.J. ’n kleinskaalse vervulling ten opsigte van die Joodse stelsel gehad het. Maar die profesie het sy grotere vervulling in die tydperk sedert 1914, die tyd van Christus se “teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge”. Matteus 24:23-28 vertel wat van 70 G.J. af tot die tyd van Christus se teenwoordigheid sou plaasvind. Die gebeure wat in Matteus 24:29–25:46 beskryf word, vind gedurende die tyd van die einde plaas.

7. (a) Waarom moet ons let op die manier waarop huidige toestande die teken vervul? (b) Beantwoord die vrae aan die einde van hierdie paragraaf en toon hoe die teken sedert 1914 vervul word.

7 Ons behoort te let op gebeure en gesindhede wat die teken vervul. As ons hierdie dinge met Bybelprofesieë verbind, sal dit ons help om Jehovah se dag goed in gedagte te hou. Dit sal ons ook in staat stel om oortuigend te wees wanneer ons ander oor die nabyheid van daardie dag waarsku (Jesaja 61:1, 2). Laat ons, met hierdie oogmerke in gedagte, die volgende vrae hersien, wat die aandag vestig op dele van die teken, soos opgeteken in Matteus 24:7 en Lukas 21:10, 11.

Op watter buitengewone manier is die profesie dat ‘nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk’ sal opstaan, van 1914 af vervul? Wat het van toe af met betrekking tot oorloë gebeur?

Watter pessiekte het in 1918 meer lewens as die Eerste Wêreldoorlog geëis? Aan watter siektes sterf miljoene nog steeds ondanks die mens se mediese kennis?

In watter mate het voedseltekorte die aarde geteister ondanks die wetenskaplike vooruitgang van die vorige eeu?

Wat oortuig jou dat 2 Timoteus 3:1-5, 13 nie beskryf hoe die lewe nog altyd was nie, maar hoe slegte toestande vererger namate ons die einde van die laaste dae nader?

Die skeiding van mense

8. (a) Wat anders, wat in Matteus 13:24-30, 36-43 beskryf word, het Jesus met die voleinding van die stelsel van dinge verbind? (b) Wat beteken Jesus se illustrasie?

8 Daar is ander betekenisvolle ontwikkelinge wat Jesus met die voleinding van die stelsel van dinge verbind het. Een daarvan is die skeiding van “die kinders van die koninkryk” en “die kinders van die bose”. Jesus het hiervan vertel in sy gelykenis van ’n koringland waarin ’n vyand onkruid gesaai het. “Die koring” in sy illustrasie stel ware gesalfde Christene voor. “Die onkruid” is dié wat sê dat hulle Christene is maar toon dat hulle “kinders van die bose” is omdat hulle vaskleef aan die wêreld waarvan die Duiwel die heerser is. Hulle word van “die kinders van [God se] koninkryk” afgeskei en is vir vernietiging bestem (Matteus 13:24-30, 36-43). Het dit werklik plaasgevind?

9. (a) Watter groot skeiding van almal wat gesê het dat hulle Christene is, het ná die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind? (b) Hoe het gesalfde Christene bewys dat hulle ware knegte van die Koninkryk is?

9 Ná die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n skeiding waarin almal wat gesê het dat hulle Christene is, in twee klasse verdeel is: (1) Die geestelikes van die Christendom en hulle volgelinge, wat die Volkebond (nou die Verenigde Nasies) kragtig ondersteun het terwyl hulle nog aan hulle nasionale lojaliteit vasgehou het en (2) ware Christene van daardie naoorlogse tydperk, wat hulle volle ondersteuning aan God se Messiaanse Koninkryk gegee het, nie aan die nasies van hierdie wêreld nie (Johannes 17:16). Hulle het getoon dat hulle ware knegte van God se Koninkryk is deur die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” wêreldwyd aan te pak (Matteus 24:14). Met watter gevolg?

10. Wat was die eerste gevolg van die Koninkrykspredikingswerk?

10 Eers was daar die insameling van die oorblyfsel van dié wat deur God se gees gesalf is en die hoop het om saam met Christus ’n deel van die hemelse Koninkryk te wees. Hoewel hulle onder die nasies versprei is, is hulle in ’n organisasie verenig. Die finale verseëling van hierdie gesalfdes kom nader.—Openbaring 7:3, 4.

11. (a) Watter insamelingswerk duur voort, en in ooreenstemming met watter profesie? (b) Waarop dui die vervulling van hierdie profesie?

11 Toe is daar onder Christus se leiding begin met die insameling van “’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hulle maak die “ander skape” uit wat deur “die groot verdrukking” heen tot in God se nuwe wêreld behoue sal bly (Openbaring 7:9, 14; Johannes 10:16). Hierdie werk om God se Koninkryk te verkondig voor die einde kom, duur tot vandag toe voort. Die groot menigte ander skape, waarvan daar nou miljoene is, help die gesalfde oorblyfsel lojaal om die lewensbelangrike Koninkryksboodskap te verkondig. Hierdie boodskap word in alle nasies gehoor.

Wat lê voor?

12. Hoeveel predikingswerk moet nog gedoen word voordat Jehovah se dag kom?

12 Al die bogenoemde feite dui daarop dat ons na aan die einde van die laaste dae is en dat Jehovah se dag naby is. Maar is daar profesieë wat nog vervul moet word voordat daardie vreesinboesemende dag begin? Ja. Om maar een ding te noem, die skeiding van mense op grond van die Koninkryksgeskil het nog nie geëindig nie. In party gebiede waar hewige teenstand jare lank ondervind is, is daar nou ’n vermeerdering in nuwe dissipels. Selfs waar mense die goeie nuus verwerp, word Jehovah se barmhartigheid getoon deurdat ons die getuieniswerk doen. Gaan dus voort met die werk! Jesus verseker ons dat die einde sal kom wanneer die werk gedoen is.

13. Watter merkwaardige gebeurtenis, wat in 1 Tessalonisense 5:2, 3 beskryf word, moet nog plaasvind, en wat sal dit vir ons beteken?

13 Nog ’n besonder betekenisvolle Bybelprofesie voorspel: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie” (1 Tessalonisense 5:2, 3). Ons moet nog sien watter vorm daardie uitroep van “vrede en veiligheid” sal aanneem. Maar dit sal beslis nie beteken dat wêreldleiers die probleme van die mensdom werklik opgelos het nie. Diegene wat Jehovah se dag goed in gedagte hou, sal nie deur daardie uitroep mislei word nie. Hulle weet dat skielike vernietiging onmiddellik daarna sal kom.

14. Watter gebeure sal gedurende die groot verdrukking plaasvind, en in watter volgorde?

14 Aan die begin van die groot verdrukking sal die heersers teen Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, draai en haar vernietig (Matteus 24:21; Openbaring 17:15, 16). Daarna sal die nasies diegene aanval wat Jehovah se soewereiniteit ondersteun, en dit sal Jehovah se toorn teen die politieke regerings en hulle ondersteuners opwek, wat hulle algehele vernietiging tot gevolg sal hê. Dit sal Armageddon, die klimaks van die groot verdrukking, wees. Dan sal Satan en sy demone in die afgrond gewerp word, sodat hulle nie meer ’n invloed op die mensdom kan hê nie. Dit sal die einde wees van Jehovah se dag, wanneer sy naam verheerlik sal word.—Esegiël 38:18, 22, 23; Openbaring 19:11–20:3.

15. Waarom sal dit onverstandig wees om te redeneer dat Jehovah se dag nog ver is?

15 Die einde van hierdie stelsel sal presies op tyd kom, op God se vasgestelde tyd. Dit sal nie laat wees nie (Habakuk 2:3). Onthou dat die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. vinnig gekom het, toe die Jode dit nie verwag het nie, toe hulle gedink het dat die gevaar verby is. En wat van eertydse Babilon? Dit was magtig, vol selfvertroue en met ontsaglike mure versterk. Maar dit het in een nag geval. Net so sal skielike vernietiging oor die teenswoordige goddelose stelsel kom. Mag ons, wanneer dit gebeur, verenig wees in ware aanbidding omdat ons Jehovah se dag goed in gedagte gehou het.

Hersieningsbespreking

• Waarom is dit noodsaaklik om Jehovah se dag goed in gedagte te hou? Hoe kan ons dit doen?

• Hoe word ons persoonlik geraak deur die skeiding van mense wat plaasvind?

• Wat lê nog voor voordat Jehovah se dag begin? Wat moet ons dus persoonlik doen?

[Prente op bladsy 180, 181]

Binnekort sal die laaste dae met die vernietiging van Satan se stelsel eindig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel