Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ip-1 hfst. 16 bl. 208-214
  • Vertrou op Jehovah vir leiding en beskerming

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah vir leiding en beskerming
  • Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Land van bloedvergieting
  • Die oorlog teen Asdod
  • “Naak en kaalvoet”
  • Hoop verkrummel, prag verdwyn
  • Vertrou op Jehovah
  • Jehovah se besluite teen die nasies
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Deel 2—Wrede Assirië—die tweede groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Geen hulp van hierdie wêreld nie
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Fassinerende Etiopië
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
ip-1 hfst. 16 bl. 208-214

Hoofstuk sestien

Vertrou op Jehovah vir leiding en beskerming

Jesaja 20:1-6

1, 2. Voor watter gevaar kom God se volk in die agtste eeu v.G.J. te staan, en by wie is baie van hulle geneig om beskerming te soek?

SOOS vroeëre hoofstukke van hierdie boek getoon het, kom God se volk in die agtste eeu v.G.J. voor ’n skrikwekkende bedreiging te staan. Die bloeddorstige Assiriërs plunder die een land na die ander, en dit is net ’n kwessie van tyd voor hulle die suidelike koninkryk van Juda aanval. By wie sal die land se inwoners beskerming soek? Hulle is in ’n verbondsverhouding met Jehovah en moet op hom vertrou om hulle te help (Eksodus 19:5, 6). Dit is wat koning Dawid gedoen het. Hy het erken: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf” (2 Samuel 22:2). Maar in die agtste eeu v.G.J. is daar blykbaar baie wat nie hulle vertroue in Jehovah as hulle vesting stel nie. Hulle is meer geneig om op Egipte en Etiopië te vertrou en te hoop dat hierdie twee nasies hulle teen die dreigende Assiriese inval sal beskerm. Hulle is verkeerd.

2 Jehovah waarsku deur sy profeet Jesaja dat dit rampspoedige gevolge sal hê as hulle by Egipte of Etiopië hulp soek. Die profeet se geïnspireerde woorde bevat vir sy tydgenote en ook vir ons ’n goeie les oor die belangrikheid van vertroue op Jehovah.

’n Land van bloedvergieting

3. Beskryf die belangrikheid wat Assirië aan militêre mag geheg het.

3 Die Assiriërs was bekend vir hulle militêre mag. Die boek Ancient Cities sê: “Hulle het krag aanbid en het hulle gebede slegs aan kolossale afgode van klip gerig, leeus en bulle waarvan die sterk bene, arendsvlerke en menskoppe simbole was van krag, moed en oorwinning. Oorlogvoering was vir die nasie van die grootste belang, en die priesters het voortdurend oorlog aangestook.” Die Bybelprofeet Nahum kon Nineve, die hoofstad van Assirië, tereg as “die stad van bloedvergieting” beskryf.—Nahum 3:1.

4. Hoe het die Assiriërs die harte van ander nasies met vrees vervul?

4 Die oorlogstaktiek van die Assiriërs was buitengewoon wreed. Reliëfs uit daardie tyd wys hoe Assiriese soldate gevangenes weglei aan hake wat deur hulle neuse of lippe gesteek is. Hulle het party gevangenes met spiese verblind. Een inskripsie praat van ’n geval toe die Assiriese leër hulle gevangenes in stukke gesny het en twee hope buite die stad gemaak het—een van koppe en die ander van ledemate. Die kinders van die verowerdes is verbrand. Die vrees wat hierdie wreedheid by mense ingeboesem het, het die Assiriërs op militêre gebied gehelp, want dit het gekeer dat dié wat in die pad van hulle leërs gestaan het weerstand bied.

Die oorlog teen Asdod

5. Wie was die magtige Assiriese heerser in Jesaja se dag, en hoe is die Bybel se verslag oor hom bevestig?

5 In Jesaja se dag het die Assiriese Ryk onder koning Sargon magtiger as ooit geword.a Kritici het baie jare lank aan die bestaan van hierdie heerser getwyfel, aangesien hy sover hulle geweet het in geen sekulêre bronne genoem is nie. Maar argeoloë het mettertyd die ruïnes van Sargon se paleis opgegrawe, en die Bybel se verslag is bevestig.

6, 7. (a) Om watter redes beveel Sargon moontlik dat Asdod aangeval moet word? (b) Watter uitwerking het die val van Asdod op Filistea se buurnasies?

6 Jesaja beskryf kortliks een van Sargon se militêre veldtogte: “Tartan [het] na Asdod gekom . . . , toe Sargon, die koning van Assirië, hom gestuur het en hy teen Asdod oorlog gevoer en dit ingeneem het” (Jesaja 20:1).b Waarom beveel Sargon dat die Filistynse stad Asdod aangeval moet word? In die eerste plek is Filistea ’n bondgenoot van Egipte, en Asdod, waar ’n tempel van Dagon is, is op die pad geleë wat langs die kus van Egipte en deur Palestina loop. Die stad is dus baie strategies geleë. As hy ingeneem word, kan dit beskou word as die eerste stap om Egipte in te neem. Daarbenewens toon Assiriese verslae dat Azuri, die koning van Asdod, in ’n sameswering teen Assirië betrokke was. Gevolglik laat Sargon die opstandige koning verwyder en plaas hy die koning se jonger broer, Ahimiti, op die troon. Maar dit los die situasie nog steeds nie op nie. Nog ’n opstand breek uit, en hierdie keer tree Sargon drastieser op. Hy beveel dat Asdod aangeval moet word. Gevolglik word die stad beleër en verower. Jesaja 20:1 verwys heel waarskynlik na hierdie gebeurtenis.

7 Wanneer Asdod val, werp dit ’n sombere skaduwee oor sy buurnasies, veral oor Juda. Jehovah weet dat sy volk geneig is om op “’n arm van vlees”, soos Egipte of Etiopië in die suide, te vertrou. Gevolglik gee hy Jesaja die opdrag om ’n ernstige waarskuwing in dade uit te beeld.—2 Kronieke 32:7, 8.

“Naak en kaalvoet”

8. Watter geïnspireerde profetiese daad voer Jesaja uit?

8 Jehovah sê vir Jesaja: “Gaan, en jy moet die saklinne van jou heupe losmaak; en jou sandale moet jy van jou voete aftrek.” Jesaja gee gehoor aan Jehovah se bevel. “Hy het so gedoen en naak en kaalvoet rondgeloop” (Jesaja 20:2). Saklinne is ’n growwe kledingstuk wat dikwels deur profete gedra is, soms wanneer hulle ’n waarskuwing oorgedra het. Dit word ook in krisistye gedra of wanneer ’n mens slegte nuus ontvang het (2 Konings 19:2; Psalm 35:13; Daniël 9:3). Loop Jesaja werklik naak rond in die sin dat hy hoegenaamd niks aanhet om hom te bedek nie? Nie noodwendig nie. Die Hebreeuse woord wat met “naak” vertaal word, kan ook beteken dat ’n mens skraps geklee is (1 Samuel 19:24, voetnoot in naslaanuitgawe). Jesaja het dus moontlik net sy bokleed uitgetrek en die kort onderkleed wat gewoonlik teen die liggaam gedra is, aangehou. Manlike gevangenes word dikwels so op Assiriese beeldhouwerke uitgebeeld.

9. Wat is die profetiese betekenis van Jesaja se daad?

9 Daar word geen twyfel gelaat oor die betekenis van Jesaja se ongewone daad nie: “Jehovah het verder gesê: ‘Net soos my kneg Jesaja drie jaar lank naak en kaalvoet rondgeloop het as ’n teken en ’n voorteken teen Egipte en teen Etiopië, so sal die koning van Assirië die groep gevangenes van Egipte en die ballinge van Etiopië wegvoer, seuns en ou manne, naak en kaalvoet en met ontblote sitvlak, die naaktheid van Egipte’” (Jesaja 20:3, 4). Ja, die Egiptenaars en Etiopiërs sal binnekort as gevangenes weggeneem word. Niemand sal gespaar word nie. Selfs “seuns en ou manne”—die kinders en die bejaardes—sal al hulle besittings verloor en in ballingskap weggevoer word. Deur hierdie sombere beeldspraak waarsku Jehovah die inwoners van Juda dat dit tevergeefs sal wees as hulle hulle vertroue in Egipte of Etiopië stel. Die ondergang van hierdie nasies sal tot hulle “naaktheid”—hulle uiteindelike vernedering—lei!

Hoop verkrummel, prag verdwyn

10, 11. (a) Hoe sal Juda reageer wanneer hulle besef dat Egipte en Etiopië magteloos is voor Assirië? (b) Waarom is die inwoners van Juda moontlik geneig om hulle vertroue in Egipte en Etiopië te stel?

10 Hierna beskryf Jehovah profeties hoe sy volk sal reageer wanneer hulle besef dat Egipte en Etiopië, op wie hulle vertrou het vir hulp, magteloos is voor die Assiriërs. “Hulle sal beslis verskrik en beskaamd wees weens Etiopië, hulle verwagte hoop, en weens Egipte, hulle prag. En die inwoner van hierdie kusland sal beslis in dié dag sê: ‘Kyk, so gaan dit met ons verwagte hoop, waarheen ons om hulp gevlug het, om verlos te word weens die koning van Assirië! En hoe sal ons dan ontkom?’”—Jesaja 20:5, 6.

11 Juda lyk na ’n blote stuk kusland wanneer dit met die Egiptiese en Etiopiese moondhede vergelyk word. Moontlik is van die inwoners van “hierdie kusland” beïndruk deur die prag van Egipte—sy indrukwekkende piramides, sy toringhoë tempels en die ruim villas omring deur tuine, boorde en dammetjies. Dit is asof die pragtige argitektuur van Egipte ’n bewys is van stabiliteit en duursaamheid. Hierdie land kan tog sekerlik nie vernietig word nie! Die Jode is waarskynlik ook beïndruk deur die boogskutters, strydwaens en ruiters van Etiopië.

12. Op wie moet Juda vertrou?

12 In die lig van die waarskuwing wat Jesaja deur sy dade uitgebeeld het sowel as die profetiese woorde van Jehovah, moet enigiemand wat beweer dat hy ’n lid van God se volk is en geneig is om sy vertroue in Egipte en Etiopië te stel ernstig oor die saak nadink. Hoeveel beter sal dit tog wees om eerder op Jehovah te vertrou as op mense! (Psalm 25:2; 40:4). Uiteindelik ly Juda swaar onder die koning van Assirië, en later word sy tempel en hoofstad deur Babilon vernietig. Maar “’n tiende”, “’n heilige saad”, bly oor, soos die stomp van ’n yslike boom (Jesaja 6:13). Wanneer die tyd kom, sal Jesaja se boodskap die geloof van daardie klein groepie wat steeds op Jehovah vertrou grootliks versterk!

Vertrou op Jehovah

13. Watter moeilike omstandighede raak ons almal vandag—hetsy gelowiges of ongelowiges?

13 Die waarskuwing in Jesaja oor die nutteloosheid om op Egipte en Etiopië te vertrou, is nie blote geskiedenis nie. Dit het praktiese waarde vir ons dag. Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Finansiële rampe, wydverspreide armoede, politieke onsekerheid, burgerlike oproerigheid sowel as klein- of grootskaalse oorloë het ’n vernietigende uitwerking—nie net op mense wat God se heerskappy verontagsaam nie, maar ook op dié wat Jehovah aanbid. Die vraag waarvoor elkeen van ons nou te staan kom, is: ‘By wie sal ek hulp soek?’

14. Waarom moet ons net op Jehovah vertrou?

14 Party word moontlik beïndruk deur die hedendaagse finansiële spesialiste, politici en wetenskaplikes wat sê dat dit moontlik is om die mensdom se probleme deur middel van die mens se vernuf en tegnologie op te los. Maar die Bybel sê baie duidelik: “Dit is beter om jou toevlug tot Jehovah te neem as om op edeles te vertrou” (Psalm 118:9). Al die mens se planne vir vrede en veiligheid sal op niks uitloop nie, want dit is soos die profeet Jeremia tereg gesê het: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

15. Waar lê die enigste hoop vir die geteisterde mensdom?

15 Dit is dus noodsaaklik dat knegte van God nie te beïndruk raak deur enige oënskynlike krag of wysheid van hierdie wêreld nie (Psalm 33:10; 1 Korintiërs 3:19, 20). Die enigste hoop vir die geteisterde mensdom rus by die Skepper, Jehovah. Diegene wat op hom vertrou, sal gered word. Soos die geïnspireerde apostel Johannes geskryf het: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

[Voetnote]

a Geskiedkundiges noem hierdie koning Sargon II. ’n Vroeëre koning, nie van Assirië nie, maar van Babilon, word “Sargon I” genoem.

b “Tartan” is nie ’n naam nie, maar ’n titel vir die hoofbevelvoerder van die Assiriese leër, wat waarskynlik die tweede magtigste persoon in die ryk is.

[Prent op bladsy 209]

Die Assiriërs het van hulle gevangenes verblind

[Prente op bladsy 213]

Party word dalk beïndruk deur die mens se prestasies, maar dit is beter om op Jehovah te vertrou

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel