Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 17 bl. 286-305
  • Identifiseer die ware aanbidders in die tyd van die einde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Identifiseer die ware aanbidders in die tyd van die einde
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GROOT VORS GAAN TOT AKSIE OOR
  • DIE HEILIGES “ONTWAAK”
  • HULLE ‘GLINSTER SOOS DIE STERRE’
  • HULLE ‘DEURSOEK DIT’
  • HULLE WORD ‘VERPLETTER’
  • HULLE WORD ‘GEREINIG EN WIT GEMAAK EN GELOUTER’
  • GELUK VIR DIE HEILIGES
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Versterk deur ’n boodskapper van God
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Daniël se profetiese dae en ons geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 17 bl. 286-305

Hoofstuk sewentien

Identifiseer die ware aanbidders in die tyd van die einde

1. Watter buitengewone dinge sou ’n klein, weerlose groepie mense volgens Daniël hoofstuk 7 in ons dag ervaar?

’N MAGTIGE wêreldmoondheid loods ’n verwoede aanval teen ’n klein, weerlose groepie mense. Hulle oorleef dit en ervaar selfs ’n vernuwing—nie as gevolg van hulle eie krag nie, maar omdat Jehovah God hulle as kosbaar beskou. Daniël hoofstuk 7 het hierdie gebeure, wat in die vroeë gedeelte van die 20ste eeu plaasgevind het, voorspel. Maar wie is hierdie mense? Dieselfde hoofstuk van Daniël het hulle “die heiliges van die Allerhoogste”, Jehovah God, genoem. Dit het ook getoon dat hierdie persone uiteindelik medeheersers in die Messiaanse Koninkryk sal wees!—Daniël 7:13, 14, 18, 21, 22, 25-27.

2. (a) Hoe voel Jehovah oor sy gesalfde knegte? (b) Wat sou gedurende hierdie tyd die verstandige weg wees?

2 Soos ons in Daniël hoofstuk 11 geleer het, sal die koning van die Noorde aan sy finale einde kom nadat hy die veilige geestelike land van hierdie getroue mense bedreig het. (Daniël 11:45; vergelyk Esegiël 38:18-23.) Ja, Jehovah is baie beskermend teenoor sy getroue gesalfdes.Psalm 105:14, 15 sê vir ons: “Ook het Hy [Jehovah] konings om hulle ontwil gestraf en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.” Sou jy dan nie saamstem dat dit in hierdie moeilike tye verstandig van die “groot skare” sou wees om so nou as moontlik met hierdie heiliges om te gaan nie? (Openbaring 7:9; Sagaria 8:23). Jesus Christus het skaapgeaarde mense aangeraai om juis dit te doen—om met sy gesalfde geestelike broers om te gaan deur hulle in hulle werk te ondersteun.—Matteus 25:31-46; Galasiërs 3:29.

3. (a) Waarom is dit nie maklik om Jesus se gesalfde volgelinge te vind en om na aan hulle te bly nie? (b) Hoe sal Daniël hoofstuk 12 ons in hierdie verband help?

3 Maar God se Teenstander, Satan, het ’n hewige oorlog teen die gesalfdes gevoer. Hy het valse godsdiens bevorder en dit reggekry om die wêreld met valse Christene te vul. Gevolglik is baie mense mislei. Ander dink dat hulle nooit diegene sal vind wat die ware godsdiens verteenwoordig nie (Matteus 7:15, 21-23; Openbaring 12:9, 17). Selfs dié wat die “klein kuddetjie” wel vind en met hulle omgaan, moet hard stry om hulle geloof te behou, want hierdie wêreld probeer voortdurend om ’n mens se geloof af te breek (Lukas 12:32). Wat van jou? Het jy “die heiliges van die Allerhoogste” gevind, en gaan jy met hulle om? Is jy bewus van die onteenseglike bewyse wat toon dat diegene wat jy gevind het inderdaad die persone is wat God uitverkies het? Sulke bewyse kan jou geloof versterk. Dit kan jou ook toerus om ander te help om die waarheid te onderskei ondanks die godsdiensverwarring wat vandag in die wêreld heers. Daniël hoofstuk 12 bevat ’n oorvloed van hierdie lewensreddende inligting.

DIE GROOT VORS GAAN TOT AKSIE OOR

4. (a) Watter twee afsonderlike dinge voorspel Daniël 12:1 oor Migael? (b) Wat beteken dit dikwels in Daniël wanneer daar gesê word dat ’n koning “staan”?

4 Daniël 12:1 (NW) sê: “Gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die kinders van jou volk staan.” Hierdie vers voorspel twee afsonderlike dinge oor Migael: een, dat hy “staan”, wat op ’n toestand dui wat oor ’n tydperk strek; twee, dat hy ‘sal opstaan’, wat op ’n gebeurtenis gedurende daardie tydperk dui. Eerstens wil ons weet wanneer Migael “ten behoewe van die kinders van [Daniël se] volk staan”. Onthou dat Migael ’n naam is wat aan Jesus in sy rol as ’n hemelse Heerser gegee word. Die verwysing na die feit dat hy “staan”, herinner ons aan die manier waarop hierdie woord op ander plekke in die boek Daniël gebruik word. Dit verwys dikwels na die optrede van ’n koning, soos wanneer hy sy koninklike mag aanvaar.—Daniël 11:2-4, 7, 20, 21, vgl. NW.

5, 6. (a) Gedurende watter tydperk staan Migael? (b) Wanneer en hoe ‘staan’ Migael ‘op’, en met watter gevolge?

5 Die engel praat klaarblyklik hier van ’n tyd wat op ’n ander plek in Bybelprofesie vermeld word. Jesus het dit sy “teenwoordigheid” (Grieks, pa·rou·siʹa) genoem, wanneer hy as Koning in die hemel regeer (Matteus 24:37-39). Hierdie tydperk word ook “die laaste dae” en “die tyd van die einde” genoem (2 Timoteus 3:1; Daniël 12:4, 9). Vandat daardie tydperk in 1914 begin het, staan Migael as Koning in die hemel.—Vergelyk Jesaja 11:10; Openbaring 12:7-9.

6 Maar wanneer ‘staan’ Migael dan ‘op’? Wanneer hy op ’n spesiale manier optree. Jesus sal dit in die toekoms doen. Openbaring 19:11-16 beskryf Jesus profeties as die magtige Messiaanse Koning wat voor ’n engeleleër uit ry en die vyande van God vernietig. Daniël 12:1 sê verder: “En dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie.” As Jehovah se Hoofskerpregter sal Christus gedurende die voorspelde “groot verdrukking” ’n einde maak aan die hele goddelose stelsel van dinge.—Matteus 24:21; Jeremia 25:33; 2 Tessalonisense 1:6-8; Openbaring 7:14; 16:14, 16.

7. (a) Watter hoop het alle getroues gedurende die komende “tyd van benoudheid”? (b) Wat is Jehovah se boek, en waarom is dit noodsaaklik dat ’n mens se naam daarin gevind word?

7 Hoe sal mense wat geloof beoefen gedurende hierdie moeilike tyd vaar? Daar is verder vir Daniël gesê: “In dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” (Vergelyk Lukas 21:34-36.) Wat is hierdie boek? Dit verteenwoordig in werklikheid dat Jehovah God diegene onthou wat sy wil doen (Maleagi 3:16; Hebreërs 6:10). Diegene wat in hierdie boek van die lewe opgeskrywe staan, is die mense wat die grootste veiligheid ter wêreld geniet, want hulle word deur God beskerm. Ongeag watter leed hulle aangedoen word, dit kan en sal ongedaan gemaak word. Al sou hulle voor hierdie komende “tyd van benoudheid” sterf, bly hulle veilig in Jehovah se eindelose geheue. Hy sal hulle onthou en hulle gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus opwek.—Handelinge 24:15; Openbaring 20:4-6.

DIE HEILIGES “ONTWAAK”

8. Watter wonderlike vooruitsig bied Daniël 12:2?

8 Die hoop op die opstanding is voorwaar ’n vertroosting. Daniël 12:2 verwys daarna, waar dit sê: “Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Vergelyk Jesaja 26:19.) Hierdie woorde herinner ons heel waarskynlik aan Jesus Christus se hartverblydende belofte van ’n algemene opstanding (Johannes 5:28, 29). Wat ’n opwindende vooruitsig! Dink net aan geliefde vriende en familielede wat nou dood is, maar wat in die toekoms weer die geleentheid gegee sal word om te kan lewe! Maar hierdie belofte in die boek Daniël verwys hoofsaaklik na ’n ander soort opstanding—een wat reeds plaasgevind het. Hoe is dit moontlik?

9. (a) Waarom is dit redelik om te verwag dat Daniël 12:2 gedurende die laaste dae vervul sal word? (b) Na watter soort opstanding verwys die profesie, en hoe weet ons dit?

9 Kyk na die konteks. Die eerste vers van hoofstuk 12 is, soos ons gesien het, nie net op die einde van hierdie stelsel van dinge van toepassing nie, maar ook op die hele tydperk van die laaste dae. Trouens, die grootste deel van hierdie hoofstuk word nie in die komende aardse paradys vervul nie, maar gedurende die tyd van die einde. Was daar gedurende hierdie tydperk ’n opstanding? Die apostel Paulus het geskryf dat die opstanding van “dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid” plaasvind. Maar diegene wat tot hemelse lewe opgewek word, word “onverderflik” opgewek (1 Korintiërs 15:23, 52). Nie een van hulle word “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik”, opgewek soos in Daniël 12:2 voorspel is nie. Is daar dan ’n ander soort opstanding? In die Bybel het die woord opstanding soms ’n geestelike betekenis. Esegiël en Openbaring bevat byvoorbeeld profetiese gedeeltes wat van toepassing is op ’n geestelike herlewing, of opstanding.—Esegiël 37:1-14; Openbaring 11:3, 7, 11.

10. (a) In watter sin is die gesalfde oorblyfsel gedurende die tyd van die einde opgewek? (b) Hoe het party van die gesalfdes wat verlewendig is nogtans ontwaak “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik”?

10 Was daar gedurende die tyd van die einde so ’n geestelike herlewing van God se gesalfde knegte? Ja! Dit is ’n feit van die geskiedenis dat daar in 1918 ’n klein oorblyfsel van getroue Christene was wat ’n buitengewone aanval moes verduur wat hulle georganiseerde openbare bediening ontwrig het. Hoewel dit uiters onwaarskynlik gelyk het, het hulle in 1919 in geestelike sin weer lewend geword. Hierdie feite pas by die beskrywing van die opstanding wat in Daniël 12:2 voorspel is. Op daardie tydstip en daarna was daar wel party wat geestelik “ontwaak” het. Maar ongelukkig het nie almal geestelik lewend gebly nie. Dié wat, nadat hulle wakker gemaak is, verkies het om die Messiaanse Koning te verwerp en wat God se diens verlaat het, het hulleself die ‘groot smaadheid en ewige afgryslikheid’ op die hals gehaal wat in Daniël 12:2 beskryf word (Hebreërs 6:4-6). Maar die getroue gesalfdes, wat hulle geestelik verlewendigde toestand ten volle benut het, het die Messiaanse Koning lojaal ondersteun. Hulle getrouheid lei uiteindelik tot “die ewige lewe”, soos die profesie sê. Hulle geestelike lewenskragtigheid ondanks teenstand help ons vandag om hulle te identifiseer.

HULLE ‘GLINSTER SOOS DIE STERRE’

11. Wie is vandag “die verstandiges”, en in watter sin glinster hulle soos die sterre?

11 Die volgende twee verse van Daniël hoofstuk 12 sal ons nog verder help om “die heiliges van die Allerhoogste” te identifiseer. Invers 3 vertel die engel vir Daniël: “Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.” Wie is vandag “die verstandiges”? Die getuienis toon weer eens dat dit dieselfde “heiliges van die Allerhoogste” is. Wie anders as die getroue gesalfde oorblyfsel het immers die insig gehad om te besef dat Migael, die Groot Vors, in 1914 as Koning begin staan het? Deur sulke waarhede te verkondig—en deur Christelike gedrag te handhaaf—het hulle in hierdie geestelike donker wêreld ‘as ligte geskyn’ (Filippense 2:15; Johannes 8:12). Van hulle het Jesus voorspel: “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader.”—Matteus 13:43.

12. (a) Watter rol het die gesalfdes gedurende die tyd van die einde daarin gespeel om ‘baie tot regverdigheid te lei’? (b) Hoe sal die gesalfdes gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus baie tot regverdigheid lei en ‘soos die sterre glinster’?

12 Daniël 12:3 vertel ons selfs met watter werk hierdie gesalfde Christene in die tyd van die einde besig sou wees. Hulle sou “baie tot regverdigheid lei”. Die gesalfde oorblyfsel het die oorblywendes van die 144 000 mede-erfgename van Christus begin insamel (Romeine 8:16, 17; Openbaring 7:3, 4). Toe daardie werk voltooi was—klaarblyklik teen die middel van die 1930’s—het hulle die “groot skare” “ander skape” begin insamel (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Ook hulle beoefen geloof in die losprysofferande van Jesus Christus. Hulle het dus ’n rein posisie voor Jehovah. Daar is vandag miljoene van hulle, en hulle hoop om die komende vernietiging van hierdie goddelose wêreld te oorleef. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal Jesus en sy 144 000 medekonings en -priesters al die voordele van die losprys ten behoewe van die gehoorsame mensdom op aarde aanwend en sodoende almal wat geloof beoefen, help om van die laaste spoor van sonde wat van Adam geërf is ontslae te raak (2 Petrus 3:13; Openbaring 7:13, 14; 20:5, 6). Die gesalfdes sal dan in die volste sin ’n deel daaraan hê om ‘baie tot regverdigheid te lei’, en hulle sal “soos die sterre” in die hemel “glinster”. Waardeer jy die hoop om op aarde onder die glorieryke hemelse regering van Christus en sy medeheersers te lewe? Wat ’n voorreg is dit tog om saam met “die heiliges” aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk deel te neem!—Matteus 24:14.

HULLE ‘DEURSOEK DIT’

13. In watter opsig was die woorde van die boek Daniël verseël en geheim gehou?

13 Die engel sluit sy verklaring aan Daniël, wat in Daniël 10:20 begin het, nou met hierdie woorde af: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4). Baie van wat Daniël onder inspirasie geskryf het, is inderdaad geheim gehou en verseël sodat mense dit nie kon verstaan nie. Daniël het self later geskryf: “En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie” (Daniël 12:8). In hierdie opsig het die boek Daniël eeue lank verseël gebly. Wat van vandag?

14. (a) Wie het dinge gedurende “die tyd van die einde” “deursoek”, en wat het hulle “deursoek”? (b) Watter bewys is daar dat Jehovah hierdie ‘soeke’ geseën het?

14 Ons het die voorreg om in “die tyd van die einde” te lewe wat in die boek Daniël voorspel is. Volgens die profesie het baie getroues God se Woord “deursoek”. Met watter gevolg? Ware kennis het met Jehovah se seën vermeerder. Die getroue gesalfde Getuies van Jehovah is geseën met insig wat hulle gehelp het om te begryp dat die Seun van die mens in 1914 Koning geword het, om die diere in Daniël se profesie te identifiseer en om teen “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak” te waarsku—om maar ’n paar voorbeelde te noem (Daniël 11:31, NW). Hierdie oorvloed van kennis is dus nog iets wat “die heiliges van die Allerhoogste” identifiseer. Maar Daniël het verdere bewyse ontvang.

HULLE WORD ‘VERPLETTER’

15. Watter vraag stel ’n engel nou, en aan wie laat hierdie vraag ons moontlik dink?

15 Soos ons onthou het Daniël hierdie boodskappe van die engel ontvang terwyl hy op die oewer was van “die groot rivier”, die Hiddekel, wat ook as die Tigris bekend gestaan het (Daniël 10:4). Hier sien hy nou drie engeleskepsele en sê: “Ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier. En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?” (Daniël 12:5, 6). Die vraag wat die engel hier gestel het, laat ons moontlik weer eens aan “die heiliges van die Allerhoogste” dink. Aan die begin van “die tyd van die einde”, in 1914, was hulle baie besorg oor hoeveel tyd sou moes verbygaan voor God se beloftes vervul word. Dat hulle die middelpunt van hierdie profesie was, word duidelik in die antwoord op hierdie vraag.

16. Watter profesie uiter die engel, en hoe beklemtoon hy die sekerheid van die vervulling daarvan?

16 Daniël se verslag gaan voort: “Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: ’n Tyd, tye en ’n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het [“sodra daar ’n einde gemaak is aan die verplettering van die mag van die heilige volk”, NW], sal al hierdie dinge vervul word” (Daniël 12:7). Dit is ’n baie ernstige saak. Die engel hef albei sy hande in ’n eed op, moontlik sodat die twee engele aan weerskante van die breë rivier hierdie gebaar kan sien. Hierdeur beklemtoon hy die absolute sekerheid van die vervulling van hierdie profesie. Maar wanneer is hierdie tye? Dit is nie so moeilik as wat jy dink om die antwoord op hierdie vraag te vind nie.

17. (a) Watter ooreenkomste is daar tussen die profesieë wat in Daniël 7:25, Daniël 12:7 en Openbaring 11:3, 7, 9 opgeteken staan? (b) Hoe lank is die drie en ’n halwe tye?

17 Hierdie profesie toon merkwaardige ooreenkomste met twee ander profesieë. Die een, wat ons in Hoofstuk 9 van hierdie publikasie bespreek het, word in Daniël 7:25 aangetref; die ander is in Openbaring 11:3, 7, 9. Let op ’n paar van hierdie ooreenkomste. Elkeen speel in die tyd van die einde af. Albei profesieë handel oor heilige knegte van God en toon dat hulle vervolg word en selfs tydelik nie hulle openbare predikingswerk kan uitvoer nie. Elke profesie toon dat God se knegte herlewe en hulle werk dan voortsit en dat dit hulle vervolgers se pogings verydel. En albei profesieë noem ook hoe lank hierdie tydperk van ontberinge vir die heiliges sal wees. Albei profesieë in Daniël (7:25 en 12:7) praat van ‘’n tyd, tye en ’n halwe tyd’. Kenners reken oor die algemeen dat dit drie en ’n halwe tye beteken. Openbaring verwys na dieselfde tydperk as 42 maande, of 1 260 dae (Openbaring 11:2, 3). Dit bevestig die feit dat die drie en ’n halwe tye in Daniël na drie en ’n half jaar van 360 dae elk verwys. Maar wanneer het hierdie 1 260 dae begin?

18. (a) Wat sou volgens Daniël 12:7 die einde van die 1 260 dae aandui? (b) Wanneer is “die mag van die heilige volk” uiteindelik verpletter, en hoe het dit gebeur? (c) Wanneer het die 1 260 dae begin, en hoe het die gesalfdes gedurende daardie tyd ‘in saklinne geprofeteer’?

18 Die profesie sê uitdruklik wanneer die 1 260 dae sal eindig—wanneer “daar ’n einde gemaak is aan die verplettering van die mag van die heilige volk”. In die middel van 1918 is vername lede van die Wagtoring- Bybel en Traktaatgenootskap, waaronder sy president, J. F. Rutherford, op valse aanklagte skuldig bevind, lang vonnisse opgelê en in die tronk gestop. God se heiliges het inderdaad gesien hoe hulle werk “verpletter” en hulle mag verbreek is. As ons drie en ’n half jaar van die middel van 1918 af terugtel, kom ons by die einde van 1914 uit. In daardie tyd het die klein groepie gesalfdes hulle gereedgemaak vir die begin van vervolging. Die Eerste Wêreldoorlog het reeds gewoed, en daar was al hoe meer teenkanting teen hulle werk. Vir die jaar 1915 het hulle selfs hulle jaarteks gebaseer op hierdie vraag wat Christus aan sy volgelinge gestel het: “Kan julle my beker drink?” (Matteus 20:22). Soos in Openbaring 11:3 voorspel is, was die tydperk van 1 260 dae wat daarop gevolg het ’n droewige tyd vir die gesalfdes—dit was asof hulle in saklinne geprofeteer het. Die vervolging het vererger. Party van hulle is in die tronk gestop, ander is deur groepe teenstanders aangeval en nog ander is gemartel. Baie het moedeloos geword toe die Genootskap se eerste president, C. T. Russell, in 1916 gesterf het. Maar wat sou gebeur ná hierdie donker tyd geëindig het en hierdie heiliges as ’n organisasie wat die predikingswerk doen as ’t ware doodgemaak is?

19. Hoe verseker die profesie in Openbaring hoofstuk 11 ons dat die gesalfdes nie lank stil sou bly nie?

19 Die parallelle profesie wat in Openbaring 11:3, 9, 11 aangetref word, toon dat die “twee getuies”, nadat hulle doodgemaak is, net ’n kort rukkie—drie en ’n half dae—dood lê voordat hulle weer lewend gemaak word. Die profesie in Daniël hoofstuk 12 toon eweneens dat die heiliges nie stil sou bly nie, maar dat hulle nog werk gehad het om te doen.

HULLE WORD ‘GEREINIG EN WIT GEMAAK EN GELOUTER’

20. Watter seëninge sou die gesalfdes volgens Daniël 12:10 ná die swaar tye geniet?

20 Soos vroeër genoem is, het Daniël hierdie dinge neergeskryf maar kon hy dit nie verstaan nie. Hy het nietemin seker gewonder of die vervolgers die heiliges heeltemal sou vernietig, want hy het gevra: “Wat is die uiteinde van hierdie dinge?” Die engel het geantwoord: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer [“wit gemaak”, NW] en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:8-10). Daar was ’n vaste hoop vir die heiliges! Hulle sou nie vernietig word nie, maar hulle sou wit gemaak word, dit wil sê geseën word met ’n rein posisie voor Jehovah God (Maleagi 3:1-3). Hulle insig in geestelike sake sou hulle in staat stel om in God se oë rein te bly. In teenstelling hiermee sou die goddeloses weier om geestelike dinge te verstaan. Maar wanneer sou al hierdie dinge gebeur?

21. (a) Wanneer watter toestande teweeggebring is, sou die tydperk begin wat in Daniël 12:11 voorspel is? (b) Wat was “die voortdurende kenmerk”, en wanneer is dit verwyder? (Sien venster op bladsy 298.)

21 Daar is vir Daniël gesê: “Van die tyd af dat die voortdurende offer [“die voortdurende kenmerk”, NW] afgeskaf en die ontsettende gruwel [“die walglike ding wat verwoesting veroorsaak”, NW] opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop.” Hierdie tydperk sou dus begin wanneer sekere toestande teweeggebring is. “Die voortdurende kenmerk”—of “die voortdurende offer”a—moes verwyder word (Daniël 12:11). Watter offer het die engel bedoel? Nie die diereoffers wat by ’n aardse tempel geoffer is nie. Selfs die tempel wat vroeër in Jerusalem gestaan het, was ’n blote “kopie van die werklikheid”—Jehovah se groot geestelike tempel, wat in 29 G.J. in werking getree het toe Christus die Hoëpriester daarvan geword het! In hierdie geestelike tempel, wat God se reëling vir rein aanbidding afbeeld, is voortdurende sondoffers glad nie nodig nie, want “Christus [is] eens en vir altyd geoffer om die sondes van baie te dra” (Hebreërs 9:24-28). En tog bring alle ware Christene wel offerandes by hierdie tempel. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons deur [Christus] altyd aan God ’n lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Hierdie eerste toestand wat in die profesie genoem word—die verwydering van “die voortdurende kenmerk”—is dus in die middel van 1918 teweeggebring toe die predikingswerk omtrent heeltemal opgehou het.

22. (a) Wat is die verwoestende “walglike ding”, en wanneer het dit tot stand gekom? (b) Wanneer het die tydperk begin wat in Daniël 12:11 voorspel is, en wanneer het dit geëindig?

22 Maar wat van die tweede toestand—die ‘oprigting’ van “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak”? Soos ons uit ons bespreking van Daniël 11:31 gesien het, was hierdie walglike ding eers die Volkebond en het dit later weer as die Verenigde Nasies te voorskyn gekom. Albei is walglik omdat hulle die enigste hoop vir vrede op aarde genoem is. Hierdie organisasies het dus in werklikheid die plek van God se Koninkryk in die harte van baie ingeneem! In Januarie 1919 is die Bond amptelik voorgestel. Toe het albei die toestande wat in Daniël 12:11 genoem word, geheers. Die 1 290 dae het dus vroeg in 1919 begin en het tot die herfs (Noordelike Halfrond) van 1922 voortgeduur.

23. Hoe het God se heiliges gedurende die 1 290 dae wat in Daniël hoofstuk 12 voorspel is tot ’n gereinigde posisie gevorder?

23 Het die heiliges gedurende daardie tyd nader daaraan gekom om in God se oë wit gemaak en gereinig te word? Beslis! In Maart 1919 is die president van die Wagtoringgenootskap en sy metgeselle uit die tronk vrygelaat. Later is hulle van die valse aanklagte teen hulle vrygespreek. Hulle het geweet dat hulle nog baie werk gehad het en het onmiddellik daarmee begin deur ’n byeenkoms in September 1919 te reël. In dieselfde jaar is ’n medetydskrif van The Watch Tower vir die eerste keer gepubliseer. Dit is oorspronklik The Golden Age genoem (nou Ontwaak!) en het nog altyd Die Wagtoring ondersteun deur die verdorwenheid van hierdie wêreld onbeskroomd bloot te lê en God se volk te help om rein te bly. Teen die einde van die voorspelde 1 290 dae het die heiliges goed gevorder om weer ’n gereinigde en herstelde posisie te geniet. In September 1922, naby die einde van hierdie tydperk, het hulle ’n baie belangrike byeenkoms in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou. Dit het die predikingswerk groot momentum gegee. Dit was egter nodig om nog verdere vooruitgang te maak. Dit sou plaasvind gedurende die tydperk wat volgende genoem word.

GELUK VIR DIE HEILIGES

24, 25. (a) Watter tydperk word in Daniël 12:12 voorspel, en wanneer het dit klaarblyklik begin en geëindig? (b) Wat was die geestelike toestand van die gesalfde oorblyfsel aan die begin van die 1 335 dae?

24 Jehovah se engel sluit sy profesie oor die heiliges met hierdie woorde af: “Welgeluksalig is hy wat bly verwag [“in afwagting bly”, NW] en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik” (Daniël 12:12). Die engel gee geen leidrade oor die begin of einde van hierdie tydperk nie. Volgens die feite van die geskiedenis lyk dit asof dit eenvoudig op die vorige tydperk volg. In daardie geval sou dit van die herfs van 1922 tot laat in die lente van 1926 (Noordelike Halfrond) geduur het. Het die heiliges teen die einde van daardie tydperk ’n gelukkige toestand bereik? Ja, geestelik gesproke op belangrike maniere.

25 Selfs ná die byeenkoms in 1922 (wat op bladsy 302 getoon word) het party van God se heiliges nog na die verlede terugverlang. Die basiese studiemateriaal vir hulle vergaderinge was nog steeds die Bybel en die reeks Studies in the Scriptures, deur C. T. Russell. Destyds het baie gedink dat die opstanding in 1925 sou begin en dat die Paradys dan op die aarde herstel sou word. Gevolglik het baie met ’n vasgestelde tyd in gedagte gedien. Party het weens trots geweier om aan die openbare predikingswerk deel te neem. Dit was nie ’n gelukkige toedrag van sake nie.

26. Hoe het die geestelike toestand van die gesalfdes gedurende die verloop van die 1 335 dae verander?

26 Maar gedurende die verloop van die 1 335 dae het dit alles begin verander. Die predikingswerk het op die voorgrond gekom toe vaste reëlings ingestel is sodat almal aan die veldbediening kon deelneem. Vergaderinge is gereël om elke week Die Wagtoring te bestudeer. Die nommer van 1 Maart 1925 het die insiggewende artikel “Geboorte van die nasie” bevat, wat God se volk gehelp het om ten volle te verstaan wat gedurende die tydperk 1914-19 gebeur het. Ná 1925 het die heiliges God nie meer met ’n vasgestelde tyd in gedagte gedien nie. Dit was eerder die heiliging van Jehovah se naam wat van die allergrootste belang was. Hierdie lewensbelangrike waarheid is duideliker as ooit na vore gebring in die artikel “Wie sal Jehovah eer?” in The Watch Tower van 1 Januarie 1926. By die byeenkoms in Mei 1926, is die boek Verlossing in Engels vrygestel. (Sien bladsy 302.) Dit was een van ’n reeks nuwe boeke wat Studies in the Scriptures sou vervang. Die heiliges het nie meer in die verlede geleef nie. Hulle het die toekoms en die werk wat voorgelê het met volle vertroue tegemoetgegaan. Soos voorspel is, het die 1 335 dae dus geëindig toe die heiliges in ’n gelukkige toestand was.

27. Hoe help ’n oorsig van Daniël hoofstuk 12 ons om Jehovah se gesalfdes duidelik te identifiseer?

27 Nie almal het natuurlik gedurende hierdie stormagtige tyd volhard nie. Dit is ongetwyfeld waarom die engel die aandag daarop gevestig het dat dit belangrik is om ‘in afwagting te bly’. Diegene wat volhard het en in afwagting gebly het, is grootliks geseën. ’n Oorsig van Daniël hoofstuk 12 maak dit duidelik. Soos voorspel is, het die gesalfdes in geestelike sin herlewe, of is hulle opgewek. Hulle is besondere insig in God se Woord gegee omdat hulle die krag gegee is om dit te “deursoek”, en om, onder die leiding van die heilige gees, eeue oue geheime te ontsluit. Jehovah het hulle gereinig en het hulle geestelik gesproke so helder soos die sterre laat glinster. Gevolglik het hulle baie in ’n regverdige posisie voor Jehovah God gebring.

28, 29. Wat moet ons voorneme wees terwyl “die tyd van die einde” sy voleinding nader?

28 Aangesien “die heiliges van die Allerhoogste” deur al hierdie profetiese kenmerke geïdentifiseer kan word, watter verskoning het ons om nie te weet wie hulle is en met hulle om te gaan nie? Wonderlike seëninge wag op die groot skare, wat Jehovah saam met hierdie verminderende gesalfde klas dien. Ons moet almal vol verwagting na die vervulling van God se beloftes uitsien (Habakuk 2:3). In ons dag staan Migael, die Groot Vors, al dekades lank ten behoewe van God se volk. Hy gaan binnekort daadwerklik optree as die Goddelik aangestelde skerpregter oor hierdie stelsel van dinge. Waar sal ons staan wanneer hy dit doen?

29 Die antwoord op hierdie vraag sal daarvan afhang of ons nou ’n lewe van onkreukbaarheid lei. Om ons voorneme te versterk om dit gedurende hierdie laaste deel van “die tyd van die einde” te doen, kom ons kyk na die laaste vers van die boek Daniël. Ons bespreking daarvan in die volgende hoofstuk sal ons help om te sien hoe Daniël voor sy God gestaan het en hoe hy in die toekoms voor Hom sal staan.

[Voetnoot]

a In die Griekse Septuagint bloot as “die offer” vertaal.

WAT HET JY GELEER?

• Gedurende watter tydperk “staan” Migael, en hoe en wanneer sal hy “opstaan”?

• Van watter soort opstanding praat Daniël 12:2?

• Watter datums dui die begin en einde aan van die

drie en ’n halwe tye wat in Daniël 12:7 genoem word?

1 290 dae wat in Daniël 12:11 voorspel word?

1 335 dae waarvan in Daniël 12:12 geprofeteer word?

• Hoe word ons gehelp om Jehovah se ware aanbidders te identifiseer as ons op Daniël hoofstuk 12 ag gee?

[Venster op bladsy 298]

DIE VOORTDURENDE KENMERK WORD VERWYDER

In die boek Daniël kom die uitdrukking “voortdurende kenmerk” (NW) vyf keer voor. Dit verwys na ’n lofofferande—“die vrug van die lippe”—wat voortdurend deur knegte van Jehovah God aan hom gebring word (Hebreërs 13:15). In Daniël 8:11, 11:31 en 12:11 word daar voorspel dat dit verwyder sal word.

Gedurende albei wêreldoorloë het Jehovah se volk kwaai vervolging in die ryk van “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” ondergaan (Daniël 11:14, 15). Die verwydering van “die voortdurende kenmerk” het naby die einde van die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind toe die predikingswerk teen die middel van 1918 omtrent tot stilstand gekom het (Daniël 12:7). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is “die voortdurende kenmerk” op soortgelyke wyse vir 2 300 dae lank deur die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid “weggeneem”. (Daniël 8:11-14, NW; sien Hoofstuk 10 van hierdie boek.) Nazi-“leërs” het dit ook vir ’n tydperk wat nie in die Skrif vermeld word nie, verwyder.—Daniël 11:31; sien Hoofstuk 15 van hierdie boek.

[Tabel/Prent op bladsy 301]

PROFETIESE TYDPERKE IN DANIËL

Sewe tye (2 520 jaar): Oktober 607 v.G.J. tot Daniël 4:16, 25 Oktober 1914 G.J.

(Messiaanse Koninkryk opgerig.

Sien Hoofstuk 6 van hierdie boek.)

Drie en ’n halwe tye Desember 1914 tot Junie 1918

(1 260 dae): (Gesalfde Christene mishandel. Daniël 7:25; 12:7 Sien Hoofstuk 9 van hierdie boek.)

2 300 aande en 1 of 15 Junie 1938 tot

môres: 8 of 22 Oktober 1944 Daniël 8:14 (“Groot skare” verskyn, vermeerder.

Sien Hoofstuk 10 van hierdie boek.)

70 weke (490 jaar): 455 v.G.J. tot 36 G.J. Daniël 9:24-27 (Messias se koms en aardse

bediening. Sien Hoofstuk 11

van hierdie boek.)

1 290 dae: Januarie 1919 tot Daniël 12:11 September 1922

(Gesalfde Christene ontwaak

en vorder geestelik.)

1 335 dae: September 1922 tot Mei 1926 Daniël 12:12 (Gesalfde Christene kom in

’n gelukkige toestand.)

[Prente op bladsy 287]

Vooraanstaande knegte van Jehovah is ten onregte na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, VSA, gestuur. Van links na regs: (sit) A. H. Macmillan, J. F. Rutherford, W. E. van Amburgh; (staan) G. H. Fisher, R. J. Martin, G. DeCecca, F. H. Robison en C. J. Woodworth

[Prente op bladsy 299]

Besonder belangrike byeenkomste is in 1919 (bo) en 1922 (onder) by Cedar Point, Ohio, VSA, gehou

[Volbladillustrasie op bladsy 302]

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel