Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 12 bl. 198-209
  • Versterk deur ’n boodskapper van God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Versterk deur ’n boodskapper van God
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N REDE TOT KOMMER
  • ’N ONTSAGWEKKENDE VISIOEN
  • ’N “GELIEFDE MAN” WORD VERSTERK
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Gee God werklik vir jou om?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 12 bl. 198-209

Hoofstuk twaalf

Versterk deur ’n boodskapper van God

1. Hoe is Daniël geseën vir sy intense belangstelling in die uitvoering van Jehovah se voorneme?

DANIËL se intense belangstelling in die uitvoering van Jehovah se voorneme is ryklik beloon. Hy het die aangrypende profesie van die 70 weke ontvang oor die tyd wanneer die Messias sou verskyn. Daniël is ook geseën met die voorreg om te sien hoe die getroue oorblyfsel van sy volk na hulle vaderland terugkeer. Dit het in 537 v.G.J. gebeur, teen die einde van “die eerste jaar van Kores, die koning van Persië”.—Esra 1:1-4.

2, 3. Waarom het Daniël moontlik nie saam met die Joodse oorblyfsel na die land van Juda teruggekeer nie?

2 Daniël was nie onder dié wat na die land van Juda teruggekeer het nie. Op sy gevorderde leeftyd was dit dalk vir hom moeilik om te reis. Hoe dit ook al sy, God het nog verdere diens in Babilon vir hom in gedagte gehad. Twee jaar het verbygegaan. Die verslag gaan voort: “In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ’n woord geopenbaar aan Daniël wat Beltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.”—Daniël 10:1.

3 “Die derde jaar van Kores” stem ooreen met 536/535 v.G.J. Meer as 80 jaar het verbygegaan sedert Daniël saam met die koninklike kinders en Juda se jongmense van adellike afkoms na Babilon gebring is (Daniël 1:3). As hy vroeg in sy tienerjare was toe hy in Babilon aangekom het, was hy teen hierdie tyd al byna 100 jaar oud. Wat ’n wonderlike voorbeeld van iemand wat getrou gedien het!

4. Watter betekenisvolle rol sou Daniël, ondanks sy gevorderde leeftyd, nog in Jehovah se diens speel?

4 Ondanks Daniël se gevorderde leeftyd was dit nog nie die einde van sy rol in Jehovah se diens nie. God sou deur hom nog ’n profetiese boodskap verkondig wat ’n verreikende betekenis sou hê. Dit sou ’n profesie wees wat tot in ons tyd en selfs tot in die toekoms strek. Om Daniël vir hierdie verdere taak voor te berei, het Jehovah dit goedgevind om ten behoewe van hom op te tree sodat hy versterk kon word vir die diens wat voorgelê het.

’N REDE TOT KOMMER

5. Watter berigte was waarskynlik ’n rede tot kommer vir Daniël?

5 Hoewel Daniël nie saam met die Joodse oorblyfsel na die land van Juda teruggekeer het nie, het hy intens belanggestel in die dinge wat in sy geliefde vaderland gebeur het. Uit berigte wat hy ontvang het, het Daniël verneem dat alles daar nie pluis was nie. Die altaar is weer opgerig en die fondament van die tempel is in Jerusalem gelê (Esra, hoofstuk 3). Maar die buurnasies het die herbouingsprojek teëgestaan, en hulle het onheilsplanne teen die teruggekeerde Jode beraam (Esra 4:1-5). Ja, daar was baie dinge waaroor Daniël maklik bekommerd kon raak.

6. Waarom het toestande in Jerusalem Daniël ontstel?

6 Daniël was vertroud met Jeremia se profesie (Daniël 9:2). Hy het geweet dat die herbouing van die tempel in Jerusalem en die herstel van ware aanbidding daar ten nouste verband gehou het met Jehovah se voorneme vir Sy volk en dat al hierdie gebeure sou plaasvind voordat die beloofde Messias sou verskyn. Trouens, Daniël het die groot voorreg geniet om die profesie van die “sewentig weke” van Jehovah te ontvang. Daaruit het hy verstaan dat die Messias 69 “weke” ná die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou, sou kom (Daniël 9:24-27, NW). Maar dit is maklik om te verstaan waarom Daniël mismoedig en terneergedruk geraak het as ’n mens in gedagte hou dat Jerusalem verwoes was en dat die herbouing van die tempel gesloer het.

7. Wat het Daniël drie weke lank gedoen?

7 “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur”, sê die verslag. “Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was” (Daniël 10:2, 3). Dit was buitengewoon lank om “drie volle weke”, of 21 dae, te treur en te vas. Hierdie tydperk het blykbaar op die “vier-en-twintigste dag van die eerste maand” geëindig (Daniël 10:4). Die tydperk van Daniël se vas het dus die Pasga ingesluit, wat gevier is op die 14de dag van die eerste maand, Nisan, sowel as die daaropvolgende sewe dae lange fees van die ongesuurde brode.

8. By watter vroeëre geleentheid het Daniël Jehovah se leiding ernstig gesoek, en wat was die gevolg?

8 Daniël het vroeër ’n soortgelyke ondervinding gehad. By daardie geleentheid het hy gewonder oor die vervulling van Jehovah se profesie oor die 70 jaar wat Jerusalem woes sou lê. Wat het Daniël toe gedoen? “Ek het my aangesig tot die Here God gerig”, het Daniël gesê, “om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.” Jehovah het Daniël se gebed verhoor deur die engel Gabriël na hom toe te stuur met ’n boodskap wat hom grootliks bemoedig het (Daniël 9:3, 21, 22). Sou Jehovah nou op ’n soortgelyke manier optree en Daniël die aanmoediging gee wat hy so nodig gehad het?

’N ONTSAGWEKKENDE VISIOEN

9, 10. (a) Waar was Daniël toe hy ’n visioen ontvang het? (b) Beskryf wat Daniël in die visioen gesien het.

9 Daniël word nie teleurgestel nie. Hy vertel ons wat daarna gebeur en sê: “Terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddekel, het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ’n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas” (Daniël 10:4, 5). Die Hiddekel was een van die vier riviere wat in die tuin van Eden ontspring het (Genesis 2:10-14). In Ou Persies het die Hiddekel bekend gestaan as die Tigra, waarvan die Griekse naam Tigris afgelei is. Die gebied tussen die Hiddekel en die Eufraat is Mesopotamië genoem, wat “land tussen riviere” beteken. Dit bevestig dat Daniël, toe hy hierdie visioen ontvang het, nog in die land Babilonië was, al was hy moontlik nie in die stad Babilon nie.

10 Wat ’n visioen het Daniël tog ontvang! Toe hy opkyk, het hy natuurlik nie ’n gewone man gesien nie. Daniël het hierdie aanskoulike beskrywing gegee: “Sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ’n menigte.”—Daniël 10:6.

11. Watter uitwerking het die visioen op Daniël en op die manne saam met hom gehad?

11 Ondanks die glans van die visioen ‘het die manne wat saam met my was die gesig nie gesien nie’, het Daniël gesê. Om die een of ander onverklaarde rede “het ’n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg”. Daniël het gevolglik alleen op die rivieroewer agtergebly. Toe hy “hierdie groot gesig” sien, was dit vir hom so oorweldigend dat hy erken het: “Geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.”—Daniël 10:7, 8.

12, 13. Wat leer ons omtrent die boodskapper as ons let op (a) sy kleredrag? (b) sy voorkoms?

12 Kom ons beskou hierdie merkwaardige boodskapper wat Daniël so laat skrik het van naderby. Hy was “met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas”. In eertydse Israel was die hoëpriester se gordel, skouerkleed en borsstuk, sowel as die klere van die ander priesters, van fyn dubbeldraad-linne gemaak en met goud versier (Exodus 28:4-8; 39:27-29). Die boodskapper se kleredrag dui dus heiligheid en die waardigheid van sy posisie aan.

13 Daniël was ook diep beïndruk deur die voorkoms van die boodskapper—die geskitter van sy juweelagtige liggaam, die verblindende glans van sy stralende gesig, die deurdringende krag van sy vurige oë en die glinstering van sy kragtige arms en voete. Selfs sy gebiedende stem was vreesinboesemend. Dit alles toon duidelik dat hy ’n bomenslike wese was. Hierdie “man met linne bekleed” was ’n baie belangrike engel, een wat in die heilige teenwoordigheid van Jehovah gedien het, waarvandaan hy met ’n boodskap uitgegaan het.a

’N “GELIEFDE MAN” WORD VERSTERK

14. Watter hulp het Daniël nodig gehad om die engel se boodskap te ontvang?

14 Die boodskap wat Jehovah se engel vir Daniël gehad het, was gewigtig en ingewikkeld. Voor Daniël dit kon ontvang, het hy hulp nodig gehad om fisies en verstandelik weer tot verhaal te kom. Die engel was klaarblyklik bewus hiervan en het op liefdevolle wyse persoonlike hulp en bemoediging aan Daniël gegee. Kom ons kyk na Daniël se eie vertelling van wat gebeur het.

15. Wat het die engel gedoen om Daniël te help?

15 “Toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval.” Vrees en benoudheid het Daniël waarskynlik laat flou word. Wat het die engel gedoen om hom te help? “Kyk”, sê Daniël, “’n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan.” Die engel het die profeet ook met hierdie woorde aangemoedig: “Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur.” Die ondersteunende hand en die vertroostende woorde het Daniël nuwe moed gegee. Al het hy ‘gebewe’, het Daniël “gaan staan”.—Daniël 10:9-11.

16. (a) Hoe weet ons dat Jehovah gou op sy knegte se gebede reageer? (b) Wat het die engel vertraag toe hy op pad was om Daniël te hulp te kom? (Sluit venster in.) (c) Watter boodskap het die engel vir Daniël gehad?

16 Die engel het getoon dat hy spesifiek gekom het om Daniël te versterk. “Wees nie bevrees nie, Daniël”, het die engel gesê, “want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom.” Toe het die engel verduidelik waarom daar ’n vertraging was. Hy het gesê: “Maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.” Met Migael se hulp kon die engel sy sending voltooi en hierdie uiters dringende boodskap na Daniël bring: “Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.”—Daniël 10:12-14.

17, 18. Hoe is Daniël ’n tweede keer gehelp, en wat het dit hom in staat gestel om te doen?

17 Pleks dat die vooruitsig om so ’n belangrike boodskap te ontvang Daniël met nuwe moed besiel het, lyk dit of die dinge wat hy gehoor het eerder ’n negatiewe uitwerking op hom gehad het. Die verslag sê: “En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword.” Maar die engeleboodskapper was gereed om ’n tweede keer liefdevolle hulp te voorsien. Daniël het gesê: “Kyk, een wat soos ’n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek.”b—Daniël 10:15, 16a.

18 Daniël is versterk toe die engel sy lippe aangeraak het. (Vergelyk Jesaja 6:7.) Aangesien hy nou weer kon praat, kon Daniël vir die engeleboodskapper verduidelik wat hom so ontstel het. Daniël het gesê: “My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie. En hoe kan so ’n geringe kneg van my heer met so ’n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie.”—Daniël 10:16b, 17.

19. Hoe is Daniël ’n derde keer gehelp, en wat was die gevolg daarvan?

19 Daniël het nie gekla of verskonings gemaak nie. Hy het bloot gesê in watter moeilike posisie hy was, en die engel het aanvaar wat hy gesê het. Die engeleboodskapper het Daniël dus ’n derde keer gehelp. “Toe het die een wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk”, het die profeet gesê. Die boodskapper het daardie aanmoedigende aanraking met hierdie vertroostende woorde aangevul: “Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk!” Daardie liefdevolle aanraking en opbouende woorde was blykbaar al wat Daniël nodig gehad het. Die gevolg? Daniël het gesê: “Terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.” Daniël was nou gereed vir nog ’n veeleisende toewysing.—Daniël 10:18, 19.

20. Waarom het dit inspanning van die engeleboodskapper geverg om sy toewysing uit te voer?

20 Nadat die engel Daniël versterk het en hom gehelp het om sy verstandelike en fisiese vermoëns te herwin, het hy die doel van sy sending herhaal. Hy het gesê: “Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Migael.”—Daniël 10:20, 21.

21, 22. (a) Wat kan ons uit Daniël se ondervinding leer oor die manier waarop Jehovah met sy knegte handel? (b) Waarvoor was Daniël nou versterk?

21 Hoe liefdevol en bedagsaam is dit tog van Jehovah! Hy neem altyd die vermoëns en beperkinge van sy knegte in ag. Aan die een kant gee hy hulle take wat hy weet binne hulle vermoë is, al voel hulle soms onbekwaam. Aan die ander kant is hy bereid om na hulle te luister en dan die nodige hulp te voorsien sodat hulle hulle toewysings kan uitvoer. Mag ons altyd ons hemelse Vader, Jehovah, navolg deur ons medeaanbidders op liefdevolle wyse aan te moedig en te versterk.—Hebreërs 10:24.

22 Die engel se vertroostende boodskap was vir Daniël baie aanmoedigend. Ondanks Daniël se gevorderde leeftyd was hy nou versterk en gereed om verdere merkwaardige profesieë tot ons voordeel te ontvang en op te teken.

[Voetnote]

a Hoewel die naam van hierdie engel nie verstrek word nie, is hy blykbaar dieselfde een wie se stem gehoor is toe hy aan Gabriël die opdrag gegee het om Daniël te help met ’n visioen wat hy kort tevore gesien het. (Vergelyk Daniël 8:2, 15, 16 met 12:7, 8.) Verder toon Daniël 10:13 dat Migael, “een van die vernaamste vorste,” gekom het om hierdie engel te help. Hierdie engel, wie se naam nie genoem word nie, moet dus die voorreg hê om ten nouste met Gabriël en Migael saam te werk.

b Hoewel die engel wat Daniël se lippe aangeraak en hom versterk het moontlik dieselfde een was wat met hom gepraat het, laat die bewoording hier toe dat dit ’n ander engel, moontlik Gabriël, kon wees wat dit gedoen het. Hoe dit ook al sy, Daniël is deur ’n engeleboodskapper versterk.

WAT HET JY GELEER?

• Waarom is Jehovah se engel vertraag toe hy op pad was om Daniël in 536/535 v.G.J. te hulp te kom?

• Wat leer ons omtrent God se engeleboodskapper as ons op sy kleredrag en voorkoms let?

• Watter hulp het Daniël nodig gehad, en hoe het die engel dit drie keer voorsien?

• Watter boodskap het die engel vir Daniël gehad?

[Venster op bladsy 204, 205]

Engele as beskermers of demone as heersers?

ONS kan baie leer uit wat die boek Daniël oor die engele sê. Dit vertel ons van die rol wat hulle in die uitvoering van Jehovah se woord speel en die mate waartoe hulle hulle inspan om hulle toewysings uit te voer.

God se engel het gesê dat “die vors van die koninkryk van die Perse” hom verhinder het toe hy op pad was om met Daniël te praat. Nadat hy 21 dae lank met hom geworstel het, kon die engeleboodskapper alleenlik met die hulp van “Migael, een van die vernaamste vorste,” verder gaan. Die engel het ook gesê dat hy weer teen daardie vyand en moontlik ook “die vors van Griekeland” moes gaan veg (Daniël 10:13, 20). Dit sou glad nie ’n maklike taak wees nie, nie eers vir ’n engel nie! Maar wie was hierdie vorste van Persië en Griekeland?

Ons merk in die eerste plek dat Migael “een van die vernaamste vorste” en “julle vors” genoem word. Later word daar na Migael verwys as “die groot vors wat oor die kinders van [Daniël se] volk staan” (Daniël 10:21; 12:1). Dit toon dat Migael die engel was wat deur Jehovah aangestel is om die Israeliete deur die woestyn te lei.—Exodus 23:20-23; 32:34; 33:2.

Die dissipel Judas se woorde dat “Migael, die aartsengel, met die Duiwel ’n geskil gehad en oor Moses se liggaam geredetwis het”, ondersteun hierdie gevolgtrekking (Judas 9). Migael se posisie, mag en gesag het werklik van hom “die aartsengel” gemaak, wat beteken dat hy “die hoofengel”, of “die vernaamste engel”, is. Hierdie verhewe posisie behoort heel gepas aan niemand anders nie as Jesus Christus, die Seun van God, voor sowel as ná sy lewe op aarde.—1 Tessalonisense 4:16; Openbaring 12:7-9.

Beteken dit dat Jehovah ook engele oor nasies soos Persië en Griekeland aangestel het om hulle in hulle bedrywighede te rig? Wel, Jesus Christus, die Seun van God, het onomwonde gesê: “Die heerser van die wêreld . . . het geen houvas op my nie.” Jesus het ook gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie . . . my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 14:30; 18:36). Die apostel Johannes het gesê dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’ (1 Johannes 5:19). Dit is duidelik dat die nasies van die wêreld nooit onder die leiding of heerskappy van God of Christus was en dat hulle nou ook nie daaronder is nie. Hoewel Jehovah toelaat dat “die hoër owerhede” bestaan en beheer oor aardse regeringsaangeleenthede uitoefen, stel hy nie sy engele oor hulle aan nie (Romeine 13:1-7). Enige “vorste” of “heersers” oor hulle kan alleenlik deur “die heerser van die wêreld”, Satan die Duiwel, daar gestel wees. Hierdie heersers is demone en nie engele wat as beskermers aangestel is nie. Hulle is dus onsigbare demoonmagte, of “vorste”, agter die sigbare heersers, en meer as bloot mense is by nasionale konflikte betrokke.

[Volbladillustrasie op bladsy 199]

[Volbladillustrasie op bladsy 207]

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel