Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ie bl. 25-28
  • ’n Gewisse hoop

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gewisse hoop
  • Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Ons vriend het gesterf’
  • ‘Hy sal opstaan’
  • ‘Almal in die gedenkgrafte’
  • Die opstanding—Waar?
  • Die enigste oplossing!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Daar sal ’n opstanding wees!
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
ie bl. 25-28

’n Gewisse hoop

“Van die oomblik van geboorte af is daar altyd die moontlikheid dat ’n mens enige oomblik kan sterf; en dit is onvermydelik dat hierdie moontlikheid ’n voldonge feit gaan word.”—ARNOLD TOYNBEE, BRITSE GESKIEDKUNDIGE.

1. In watter werklikheid moes die mens hom berus, en watter vrae laat dit ontstaan?

WIE kan die bogenoemde geskiedkundige waarheid betwis? Die mens moes hom nog altyd berus in die verskriklike werklikheid van die dood. En wat ’n gevoel van hulpeloosheid ervaar ons tog wanneer ’n geliefde sterf! Die verlies lyk dan totaal onomkeerbaar. Is dit moontlik om weer met ons afgestorwe dierbares verenig te word? Watter hoop hou die Bybel vir die dooies uit? Beskou die volgende verslag.

‘Ons vriend het gesterf’

2-5. (a) Hoe het Jesus sy gewilligheid en vermoë getoon om sy vriend Lasarus op te wek toe hy gesterf het? (b) Wat het die wonderwerk van die opstanding ook tot gevolg gehad, buiten die feit dat Lasarus lewend gemaak is?

2 Dit was die jaar 32 G.J. In die dorpie Betanië, drie kilometer buite Jerusalem, het Lasarus en sy susters Marta en Maria gewoon. Hulle was goeie vriende van Jesus. Op ’n dag het Lasarus ernstig siek geword. Sy besorgde susters het Jesus, wat oorkant die Jordaanrivier was, onmiddellik laat weet. Jesus het geneentheid vir Lasarus en sy susters gehad, daarom het hy ’n rukkie later na Betanië gegaan. Op die pad het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” Aangesien die dissipels nie dadelik die betekenis van hierdie woorde gesnap het nie, het Jesus reguit gesê: “Lasarus het gesterf.”—Johannes 11:1-15.

3 Toe Marta hoor dat Jesus na Betanië op pad is, het sy uitgehardloop om hom tegemoet te gaan. Jesus, wat deur haar droefheid getref is, het haar verseker: “Jou broer sal opstaan.” Marta het geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” Jesus het toe vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy.”—Johannes 11:20-25.

4 Jesus het toe na die graf gegaan en gevra dat die klip voor die ingang weggeneem moet word. Nadat hy hardop gebid het, het hy gesê: “Lasarus, kom uit!” En terwyl alle oë op die graf gevestig was, het Lasarus inderdaad uitgekom. Jesus het Lasarus opgewek—en die lewe teruggegee aan ’n man wat al vier dae dood was!—Johannes 11:38-44.

5 Marta het alreeds geloof in die belofte van ’n opstanding gehad (Johannes 5:28, 29; 11:23, 24). Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het haar geloof versterk en ander met geloof vervul (Johannes 11:45). Maar presies wat word met die woord “opstanding” bedoel?

‘Hy sal opstaan’

6. Wat beteken die woord “opstanding”?

6 Die woord “opstanding” is ’n vertaling van die Griekse woord a·naʹsta·sis, wat letterlik beteken “om weer op te staan”. Hebreeuse vertalers van die Grieks het a·naʹsta·sis met die Hebreeuse woorde techi·jathʹ ham·me·thimʹ weergegee, wat “herlewing van die dooies” beteken.a Opstanding behels dus dat die persoon uit die lewelose toestand van die dood opstaan—dat die lewenspatroon van die individu gereaktiveer word.

7. Waarom sal dit nie vir Jehovah God en Jesus Christus moeilik wees om mense op te wek nie?

7 Aangesien Jehovah God oneindige wysheid en ’n volmaakte geheue het, kan hy iemand maklik opwek. Vir hom is dit nie moeilik om die lewenspatroon van dooies—hulle karaktertrekke, hulle persoonlike geskiedenis en al die besonderhede van hulle identiteit—te onthou nie. (Job 12:13; vergelyk Jesaja 40:26.) Jehovah is ook die Bron van die lewe. Gevolglik kan hy dieselfde persoon weer maklik lewend maak en hom of haar dieselfde persoonlikheid in ’n nuutgevormde liggaam gee. Daarbenewens is Jesus Christus gewillig en het hy die vermoë om die dooies op te wek, soos die ondervinding van Lasarus toon.—Vergelyk Lukas 7:11-17; 8:40-56.

8, 9. (a) Waarom is die opstanding en die idee van die onsterflikheid van die siel onverenigbaar? (b) Wat is die enigste bevryding uit die dood?

8 Die skriftuurlike leerstelling van die opstanding is egter nie verenigbaar met die leerstelling van die onsterflikheid van die siel nie. As ’n onsterflike siel ná die dood voortgeleef het, sou dit nie nodig gewees het om enigiemand op te wek of weer lewend te maak nie. Trouens, Marta het geen melding gemaak van ’n onsterflike siel wat êrens anders ná die dood voortgeleef het nie. Sy het nie geglo dat Lasarus alreeds na die een of ander geesteryk gegaan het om sy bestaan daar voort te sit nie. Inteendeel, sy het haar geloof getoon in God se voorneme om die gevolge van die dood ongedaan te maak. Sy het gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:23, 24). Lasarus het eweneens geen ondervindinge van ’n lewe hiernamaals vertel nie. Daar was niks om te vertel nie.

9 Volgens die Bybel is dit duidelik dat die siel sterf en dat die opstanding die enigste bevryding uit die dood is. Maar miljarde mense het al gesterf sedert die eerste man, Adam, op die aarde gewandel het. Wie sal dus opgewek word, en waar?

‘Almal in die gedenkgrafte’

10. Watter belofte het Jesus gemaak met betrekking tot diegene in die gedenkgrafte?

10 Jesus Christus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat almal in Jehovah se geheue opgewek sal word. Miljarde mense het al gelewe en gesterwe. Wie van hulle is in God se geheue en wag op die opstanding?

11. Wie sal opgewek word?

11 Diegene wat ’n regverdige lewe as Jehovah se knegte gelei het, sal opgewek word. Maar miljoene ander mense het gesterf sonder dat hulle getoon het of hulle hulle aan God se regverdige standaarde sal onderwerp. Hulle was óf onbekend met Jehovah se vereistes óf het nie genoeg tyd gehad om die nodige veranderinge aan te bring nie. Hulle is ook in God se geheue en sal dus opgewek word, want die Bybel belowe: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Handelinge 24:15.

12. (a) Watter visioen het die apostel Johannes aangaande die opstanding ontvang? (b) Wat word “in die poel van vuur geslinger”, en wat beteken die uitdrukking?

12 Die apostel Johannes het ’n opwindende visioen gehad van verresenes wat voor die troon van God staan. Hy beskryf dit in dié woorde: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en hulle is individueel volgens hulle dade geoordeel. En die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur” (Openbaring 20:12-14). Dink net wat dit beteken! Al die dooies wat in God se geheue is, sal bevry word uit Hades, of Sjeool, die mensdom se gemeenskaplike graf (Psalm 16:10, NW; Handelinge 2:31). Dan sal “die dood en Hades” geslinger word in iets wat “die poel van vuur” genoem word, ’n simbool van algehele vernietiging. Die gemeenskaplike graf van die mensdom sal nie meer bestaan nie.

Die opstanding—Waar?

13. Waarom het God gereël dat party tot hemelse lewe opgewek word, en watter soort liggaam sal Jehovah hulle gee?

13 ’n Klein groepie manne en vroue sal tot lewe in die hemel opgewek word. Hulle sal saam met Christus as konings en priesters heers en sal help om al die gevolge van die dood wat die mens van die eerste man Adam geërf het ongedaan te maak (Romeine 5:12; Openbaring 5:9, 10). Volgens die Bybel is hulle getal net 144 000 en word hulle onder die volgelinge van Christus uitgekies, waarvan die getroue apostels die eerstes was (Lukas 22:28-30; Johannes 14:2, 3; Openbaring 7:4; 14:1, 3). Jehovah sal vir elkeen van hierdie verresenes ’n geesliggaam gee sodat hulle in die hemel kan lewe.—1 Korintiërs 15:35, 38, 42-45; 1 Petrus 3:18.

14, 15. (a) Tot watter soort lewe sal die oorgrote meerderheid van diegene wat gesterf het, opgewek word? (b) Watter seëninge sal die gehoorsame mensdom ervaar?

14 Die oorgrote meerderheid van diegene wat gesterf het, sal egter tot lewe op die aarde opgewek word (Psalm 37:29; Matteus 6:10). Watter soort aarde? Die aarde is vandag vol onenigheid, bloedvergieting, besoedeling en geweld. As die dooies op so ’n aarde opgewek sou word, sal enige geluk van korte duur wees. Maar die Skepper het belowe dat hy binnekort ’n einde gaan maak aan die huidige wêreldgemeenskap wat onder Satan se beheer is (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44). ’n Regverdige nuwe mensegemeenskap—“’n nuwe aarde”—sal dan ’n werklikheid wees (2 Petrus 3:13). Dan sal “geen inwoner . . . sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Selfs vrees vir die dood sal uit die weg geruim word, want God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

15 In God se beloofde nuwe wêreld sal die sagmoediges “hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:11). Die hemelse regering van Christus Jesus en sy 144 000 medeheersers sal die gehoorsame mensdom stelselmatig herstel tot die volmaaktheid wat ons oorspronklike ouers, Adam en Eva, verloor het. Onder die bewoners van die aarde sal die verresenes wees.—Lukas 23:42, 43.

16-18. Watter vreugde sal die opstanding vir families meebring?

16 Die Bybel gee ons ’n kykie na die vreugde wat die opstanding vir families sal meebring. Stel jou die vreugde van die weduwee van Nain voor toe Jesus die begrafnisstoet gestop en haar enigste seun opgewek het! (Lukas 7:11-17). Toe Jesus later, naby die See van Galilea, ’n 12-jarige dogtertjie lewend gemaak het, was haar ouers “buite hulleself van groot ekstase”.—Markus 5:21-24, 35-42; sien ook 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37.

17 Vir miljoene wat nou in die dood slaap, sal ’n opstanding lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld beteken. Dink net aan die opwindende vooruitsig wat dit bied vir Tommy en vir die sakeman wat in die begin van hierdie brosjure genoem is! Wanneer Tommy tot lewe in die Paradys op aarde wakker gemaak word, sal hy dieselfde Tommy wees wat sy moeder geken het—maar sonder kwale. Sy sal hom kan aanraak, vashou en liefkoos. Die sakeman van Indië sal nie in ’n byna eindelose kringloop van hergeboortes vasgevang wees nie, maar eerder die wonderlike vooruitsig hê om sy oë oop te maak in God se nuwe wêreld en sy seuns te sien.

18 Kennis van die waarheid oor die siel, oor wat met ons gebeur wanneer ons sterf en oor die opstandingshoop kan ook ’n diepgaande uitwerking op diegene hê wat nou lewe. Kom ons kyk hoe.

[Voetnoot]

a Hoewel die woord “opstanding” nie in die Hebreeuse Geskrifte verskyn nie, kom die opstandingshoop duidelik voor in Job 14:13, Daniël 12:13 en Hosea 13:14.

[Prent op bladsy 26]

Die opstanding sal blywende vreugde meebring

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel