Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 9 bl. 144-164
  • ’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Samaritaanse vrou
  • ’n Visser se beskouing
  • Waarom het Jesus gesterf?
  • ’n Dissipel wat liefde waargeneem het
  • Die verrese Jesus—die sleutel tot ’n sinvolle lewe
  • Wie is Jesus Christus?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wie is Jesus Christus?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?
    Die mensdom se soeke na God
  • Jesus Christus—Antwoorde op ons vrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 9 bl. 144-164

Hoofstuk Nege

’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons

DIE mense van eerste-eeuse Palestina het “in afwagting verkeer”. Waarvan? Van die “Christus”, of “Messias”, wat eeue tevore deur God se profete voorspel is. Die mense was daarvan oortuig dat die Bybel onder God se leiding geskryf is en dat dit voorskouings van die toekoms bevat. Een hiervan, in die boek Daniël, het getoon dat die Messias vroeg in hulle eeu sou kom.—Lukas 3:15; Daniël 9:24-26, NW.

Hulle moes egter op hulle hoede wees, want selfverklaarde messiasse sou opstaan (Matteus 24:5). Die Joodse geskiedskrywer Josefus meld ’n paar: Teudas, wat sy volgelinge na die Jordaanrivier gelei het en gesê het dat die waters daarvan verdeel sou word; ’n man uit Egipte wat mense na die Olyfberg gelei het en beweer het dat Jerusalem se muur op sy bevel inmekaar sou stort en ’n bedrieër in goewerneur Festus se tyd wat ’n probleemvrye lewe belowe het.—VergelykHandelinge 5:36; 21:38.

In teenstelling met sulke misleide volgelinge het ’n groep wat later “Christene” genoem is, besef dat Jesus van Nasaret ’n groot leermeester en die ware Messias is (Handelinge 11:26; Markus 10:47). Jesus was geen valse messias nie; hy het betroubare getuigskrifte gehad, soos deeglik bevestig word in die vier geskiedkundige boeke wat die Evangelies genoem word.a Die Jode het byvoorbeeld geweet dat die Messias in Betlehem gebore sou word, deur die geslagslyn van Dawid sou kom en wonderwerke sou verrig. Jesus het dit alles vervul, soos selfs die getuienis van teenstanders bevestig. Ja, Jesus het aan die vereistes vir die Bybelse Messias voldoen.—Matteus 2:3-6; 22:41-45; Johannes 7:31, 42.

’n Menigte mense wat Jesus ontmoet het, wat sy uitsonderlike werke gesien, sy unieke woorde van wysheid gehoor en sy vermoë waargeneem het om in die toekoms in te sien, het daarvan oortuig geraak dat hy die Messias is. Gedurende sy bediening (29-33 G.J.) het die getuienis ter stawing van sy Messiasskap toegeneem. Trouens, hy was nie net die Messias nie. ’n Dissipel wat met die feite vertroud was, het tot die gevolgtrekking gekom dat “Jesus die Christus is, die Seun van God”.b—Johannes 20:31.

Omdat Jesus so ’n hegte verhouding met God gehad het, kon hy verduidelik en openbaar watter soort persoon ons Skepper is (Lukas 10:22; Johannes 1:18). Jesus het getuig dat sy intimiteit met sy Vader in die hemel begin het, waar hy saam met God gewerk het om alle ander dinge, lewend en leweloos, te skep.—Johannes 3:13; 6:38; 8:23, 42; 13:3; Kolossense 1:15, 16.

Die Bybel sê dat die Seun vanuit die geesteryk oorgeplaas is en “die gelykenis van mense verkry” het (Filippense 2:5-8). So ’n gebeurtenis is nie normaal nie, maar is dit moontlik? Wetenskaplikes bevestig dat ’n natuurlike element, soos uraan, in ’n ander omgesit kan word; hulle bereken selfs die gevolge wanneer massa in energie omgesit word (E=mc2). Waarom sal ons dan twyfel wanneer die Bybel sê dat ’n geesskepsel verander is sodat hy as ’n mens kon lewe?

Kom ons lig dit op ’n ander manier toe: Dink aan wat party geneeshere met in vitro-bevrugting bereik. ’n Lewe wat in ’n “proefbuis” begin, word in ’n vrou oorgeplaas en word later as ’n baba gebore. In die geval van Jesus verseker die Bybel ons dat sy lewe deur die “krag van die Allerhoogste” in ’n maagd met die naam Maria oorgeplaas is. Sy was in die geslagslyn van Dawid, en daarom kon Jesus die ewige erfgenaam van die Messiaanse Koninkryk wees wat aan Dawid belowe is.—Lukas 1:26-38; 3:23-38; Matteus 1:23.

Op grond van sy intieme verhouding met die Skepper en omdat hulle so eenders is, het Jesus gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Hy het ook gesê: “Niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Lukas 10:22). Namate ons leer wat Jesus op die aarde verkondig en gedoen het, kan ons derhalwe die Skepper se persoonlikheid duideliker sien. Kom ons kyk hierna deur die ondervindinge te beskou van mans en vroue wat met Jesus omgegaan het.

’n Samaritaanse vrou

“Is hy nie miskien die Christus nie?” het ’n Samaritaanse vrou gewonder nadat sy ’n rukkie met Jesus gepraat het (Johannes 4:29). Sy het selfs ander in die nabygeleë dorp Sigar aangespoor om Jesus te ontmoet. Wat het haar beweeg om Jesus as die Messias te aanvaar?

Hierdie vrou het Jesus ontmoet terwyl hy gerus het nadat hy heeloggend op stofpaaie in die heuwels van Samaria gestap het. Hoewel Jesus moeg was, het hy met haar gepraat. Toe Jesus haar intense belangstelling in geestelike dinge sien, het hy diep waarhede aan haar bekend gemaak wat beklemtoon het hoe belangrik dit is om ‘die Vader met gees en waarheid te aanbid’. Later het hy geopenbaar dat hy werklik die Christus is, ’n feit wat hy nie tevore in die openbaar erken het nie.—Johannes 4:3-26.

Haar ontmoeting met Jesus was vir hierdie Samaritaanse vrou uiters betekenisvol. Haar vroeëre godsdiensbedrywighede het om aanbidding by die berg Gerisim gedraai en was op net die eerste vyf boeke van die Bybel gegrond. Die Jode het Samaritane vermy, van wie talle afkomstig was van gemengde huwelike tussen die tien stamme van Israel en ander volke. Hoe anders was Jesus tog! Hy het hierdie Samaritaan gewillig geleer, al het hy opdrag ontvang om na “die verlore skape van die huis van Israel” te gaan (Matteus 15:24). Hier het Jesus Jehovah se gewilligheid weerspieël om opregte mense van alle nasies aan te neem (1 Konings 8:41-43). Ja, Jesus sowel as Jehovah is verhewe bo die kleingeestige godsdiensvyandskap waarvan die wêreld vandag deurtrek is. Hierdie kennis behoort ons tot die Skepper en sy Seun aangetrokke te laat voel.

Ons kan nog ’n les leer uit Jesus se gewilligheid om hierdie vrou te onderrig. Sy het op daardie stadium met ’n man saamgelewe met wie sy nie getroud was nie (Johannes 4:16-19). Tog het dit Jesus nie gekeer om met haar te praat nie. Dit is te verstane dat sy sekerlik waardeer het dat hy haar met waardigheid behandel het. En haar ondervinding was nie uniek nie. Toe party Joodse leiers (Fariseërs) Jesus gekritiseer het omdat hy saam met berouvolle sondaars geëet het, het hy gesê: “Die gesondes het nie ’n geneesheer nodig nie, maar die siekes het wel. Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Want ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars” (Matteus 9:10-13). Jesus het mense gehelp wat gebuk gegaan het onder die las van hulle sondes—hulle skending van God se wette of standaarde. Hoe hartverblydend is dit tog om te leer dat God en sy Seun dié sal help wat probleme as gevolg van hulle vorige lewenswyse ondervind!—Matteus 11:28-30.c

Iets wat ons nie oor die hoof moet sien nie, is dat Jesus by hierdie geleentheid in Samaria op ’n vriendelike en hulpvaardige wyse met ’n vrou gepraat het. Waarom is dit noemenswaardig? Joodse mans is destyds geleer dat hulle nie op straat met vroue, selfs met hulle eie vrou, moet praat nie. Joodse rabbi’s het nie gedink dat vroue diep geestelike onderrigting kon verstaan nie en het hulle as “oppervlakkig” beskou. Party het gesê: “Die woorde van die wet moet eerder verbrand as aan vroue oorgedra word.” Jesus se dissipels het in so ’n klimaat grootgeword; toe hulle dus terugkeer, het hulle “hulle begin verwonder omdat hy met ’n vrou praat” (Johannes 4:27). Hierdie verslag—een van baie—lig toe dat Jesus na die beeld van sy Vader was, wat die man sowel as die vrou geskep en aan hulle eer toegeken het.—Genesis 2:18.

Hierna het die Samaritaanse vrou haar dorpsgenote oorreed om na Jesus te luister. Baie het die feite ondersoek en het gelowiges geword en gesê: “Ons weet dat hierdie man vir seker die redder van die wêreld is” (Johannes 4:39-42). Aangesien ons deel van “die wêreld” van mense is, is Jesus ook van die allergrootste belang vir ons toekoms.

’n Visser se beskouing

Kom ons kyk nou na Jesus deur die oë van twee intieme metgeselle—Petrus en dan Johannes. Hierdie doodgewone vissers was van sy eerste volgelinge (Matteus 4:13-22; Johannes 1:35-42). Die Fariseërs het hulle beskou as “ongeleerde en gewone mense”, deel van die mense van die land (ʽam-ha·ʼaʹrets), op wie neergesien is omdat hulle nie onderrig as rabbi’s ontvang het nie (Handelinge 4:13; Johannes 7:49). Baie van hierdie mense, wat onder die juk van godsdienstradisionaliste ‘geswoeg het en swaar belaai was’, het na geestelike verligting gesmag. Professor Charles Guignebert van die Sorbonne het gesê dat “hulle hart volkome aan Jahweh [Jehovah] behoort het”. Jesus het hierdie nederige mense nie die rug toegekeer ten gunste van die welgesteldes of invloedrykes nie. Inteendeel, hy het die Vader deur middel van sy leringe en handelinge aan hulle geopenbaar.—Matteus 11:25-28.

Petrus het Jesus se liefdevolle besorgdheid persoonlik ervaar. Kort nadat Petrus by Jesus in die bediening aangesluit het, het sy skoonmoeder met koors siek geword. Toe Jesus by Petrus se huis kom, het hy haar by die hand geneem, en die koors het verdwyn! Ons weet miskien nie presies watter proses hierdie genesing behels het nie, net soos geneeshere vandag nie heeltemal kan verklaar hoe party genesings plaasvind nie, maar die koors het hierdie vrou verlaat. Dit is belangriker om te besef dat Jesus sy medelye met die siekes en geteisterdes getoon het deur hulle te genees as om te weet watter genesingsmetode hy gebruik het. Hy wou mense werklik help, en sy Vader wil ook (Markus 1:29-31, 40-43; 6:34). Uit sy ondervinding met Jesus kon Petrus sien dat ’n ieder en ’n elk in die Skepper se oë liefdevolle sorg waardig is.—1 Petrus 5:7.

By ’n latere geleentheid was Jesus in die Voorhof van die Vroue by Jerusalem se tempel. Hy het gesien hoe mense bydraes in die skatkiste gooi. Ryk mense het baie muntstukke ingegooi. Jesus het met groot belangstelling toegekyk en gesien hoe ’n arm weduwee twee muntstukkies van baie min waarde ingooi. Jesus het vir Petrus, Johannes en die ander gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as almal wat geld in die skatkiste gegooi het; want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het.”—Markus 12:41-44.

Jy kan sien dat Jesus die goeie in mense gesoek het en dat hy elkeen se pogings op prys gestel het. Watter uitwerking dink jy het dit op Petrus en die ander apostels gehad? Petrus het uit Jesus se voorbeeld gesien watter soort persoon Jehovah is en het later ’n psalm aangehaal: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Petrus 3:12; Psalm 34:16, 17). Voel jy nie aangetrokke tot ’n Skepper en sy Seun wat die goeie in jou wil vind en na jou smekinge sal luister nie?

Nadat Petrus sowat twee jaar met Jesus omgegaan het, was hy seker dat Jesus die Messias is. Jesus het sy dissipels eenkeer gevra: “Wie sê die mense is ek?” Hy het verskillende antwoorde gekry. Toe het hy hulle gevra: “Maar julle, wie sê julle is ek?” Petrus het met oortuiging geantwoord: “U is die Christus.” Wat Jesus toe gedoen het, sal dalk vir jou vreemd lyk. Hy ‘het hulle streng gelas om vir niemand daarvan te vertel nie’ (Markus 8:27-30; 9:30; Matteus 12:16). Waarom het hy dit gesê? Jesus was daar in hulle midde, en daarom wou hy nie hê dat mense op grond van blote hoorsê gevolgtrekkings moes maak nie. Dit is logies, nie waar nie? (Johannes 10:24-26). Dit kom daarop neer dat ons Skepper eweneens wil hê dat ons deur ons eie ondersoek van grondige getuienis van hom moet leer. Hy verwag dat ons oortuiging op feite gegrond moet wees.—Handelinge 17:27.

Soos jy jou kan voorstel, het party van Jesus se landgenote hom nie aanvaar nie, ondanks ’n oorvloed van bewyse dat hy die Skepper se steun het. Hierdie opregte maar nederige Messias het nie byval gevind by baie mense wat met hulle posisie of met politieke strewes behep was nie. Kort voor die einde van Jesus se bediening het hy gesê: “Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak . . . Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:37, 38). Hierdie verandering in die nasie se situasie het ’n betekenisvolle stap aangedui in die verwesenliking van God se voorneme om alle nasies te seën.

Kort daarna het Petrus en drie ander apostels Jesus ’n uitvoerige profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge” hoor gee.d Wat Jesus voorspel het, het gedurende die Romeine se aanval op en vernietiging van Jerusalem in 66-70 G.J. ’n eerste vervulling gehad. Die geskiedenis staaf dat wat Jesus voorspel het, inderdaad plaasgevind het. Petrus het self baie van die dinge gesien wat Jesus voorspel het, en dit blyk uit 1 en 2 Petrus, twee boeke wat Petrus geskryf het.—1 Petrus 1:13; 4:7; 5:7, 8; 2 Petrus 3:1-3, 11, 12.

Gedurende sy bediening het Jesus geduldig goedhartigheid teenoor die Jode om hom betoon. Maar hy het nie geskroom om goddeloosheid te veroordeel nie. Dit het Petrus gehelp, en dit moet ons help, om ons Skepper beter te verstaan. Toe Petrus sien hoe ander dinge Jesus se profesie vervul, het hy geskryf dat Christene ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte moet hou’. Petrus het ook gesê: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.” Toe het Petrus bemoedigende woorde geskryf oor ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:3-13). Waardeer ons, soos Petrus, God se eienskappe wat deur Jesus weerspieël is en openbaar ons vertroue in sy beloftes vir die toekoms?

Waarom het Jesus gesterf?

Tydens Jesus se laaste aand saam met die apostels het hy ’n spesiale maaltyd saam met hulle geniet. By so ’n maaltyd het ’n Joodse gasheer gewoonlik gasvryheid betoon deur die voete van gaste te was, wat dalk met sandale op stowwerige paaie geloop het. Niemand het egter aangebied om dit vir Jesus te doen nie. Hy het dus nederig opgestaan, ’n handdoek en ’n kom geneem en die apostels se voete begin was. Toe Petrus aan die beurt kom, het hy hom geskaam en wou hy nie hierdie diens van Jesus aanvaar nie. Petrus het gesê: “U sal so nimmer aste nooit my voete was nie.” “Tensy ek jou was”, het Jesus geantwoord, “het jy geen deel met my nie.” Jesus het geweet dat hy binnekort sou sterf en het dus bygevoeg: “As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het die voorbeeld vir julle gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.”—Johannes 13:5-17.

Dekades later het Petrus Christene aangespoor om Jesus na te volg, nie deur ’n voetwasritus nie, maar deur ander op nederige wyse te dien en nie oor hulle ‘baas te speel’ nie. Petrus het ook besef dat Jesus se voorbeeld getoon het dat ‘God die hoogmoediges teëstaan, maar onverdiende goedhartigheid aan die nederiges gee’. Wat ’n les oor die Skepper was dit tog! (1 Petrus 5:1-5; Psalm 18:35, NW). Maar Petrus het nog meer geleer.

Ná daardie laaste maaltyd het Judas Iskariot, wat ’n apostel was maar ’n dief geword het, ’n groep gewapende manne gelei om Jesus in hegtenis te neem. Toe hulle dit doen, het Petrus opgetree. Hy het ’n swaard getrek en ’n man in die skare gewond. Jesus het Petrus tereggewys: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.” Toe het Jesus die man aangeraak en hom gesond gemaak terwyl Petrus toegekyk het (Matteus 26:47-52; Lukas 22:49-51). Dit is duidelik dat Jesus gelewe het in ooreenstemming met sy lering: “Hou aan om julle vyande lief te hê”, in navolging van sy Vader, wat “sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges”.—Matteus 5:44, 45.

In die loop van daardie spanningsvolle nag is Jesus vlugtig deur die Joodse hooggeregshof verhoor. Hy is valslik van godslastering beskuldig, na die Romeinse goewerneur geneem en toe ten onregte oorgelewer om tereggestel te word. Jode en Romeine het hom bespot. Hy is wreed mishandel en uiteindelik aan ’n paal gehang. Baie van hierdie mishandeling het profesieë vervul wat eeue tevore geskryf is. Selfs soldate wat Jesus aan die folterpaal gesien het, het erken: “Hy was beslis God se Seun.”—Matteus 26:57–27:54; Johannes 18:12–19:37.

Hierdie verwikkelinge moes Petrus en ander laat vra het: ‘Waarom moes die Christus sterf?’ Hulle het dit eers later verstaan. Om maar een ding te noem, daardie gebeure het die profesie inJesaja hoofstuk 53 vervul, wat getoon het dat die Christus bevryding moontlik sou maak, nie net vir die Jode nie, maar vir die hele mensdom. Petrus het geskryf: “Hy self het ons sondes in sy eie liggaam aan die paal gedra, sodat ons met sondes klaar kan wees en vir regverdigheid kan lewe. En ‘deur sy hale is julle genees’” (1 Petrus 2:21-25). Petrus het die betekenis gesnap van ’n waarheid wat Jesus gemeld het: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Ja, Jesus moes afstand doen van sy reg op lewe as ’n volmaakte mens om die mensdom vry te koop van die sondige toestand wat hulle van Adam geërf het. Dit is ’n basiese Bybelleerstelling—die losprys.

Wat behels die losprys? Jy kan so daaraan dink: Gestel jy het ’n rekenaar, maar een van sy elektroniese lêers is deur ’n virus beskadig wat iemand in ’n andersins volmaakte program geplaas het. Dit illustreer die uitwerking van Adam se daad toe hy opsetlik aan God ongehoorsaam was, of gesondig het. Kom ons gaan voort met die illustrasie. Enige kopie wat jy van die elektroniese lêer maak wat deur die virus beskadig is, sal foutief wees. Maar die situasie is nie noodwendig hopeloos nie. Jy kan die virus met ’n spesiale program opspoor en uit jou lêers en rekenaar verwyder. Die mensdom het insgelyks ’n “virus”, sonde, van Adam en Eva ontvang, en ons het hulp van elders nodig om dit uit te wis (Romeine 5:12). Volgens die Bybel het God hierdie reiniging deur Jesus se dood moontlik gemaak. Dit is ’n liefdevolle voorsiening waarby ons baat kan vind.—1 Korintiërs 15:22.

Waardering vir wat Jesus gedoen het, het Petrus beweeg “om die res van sy tyd in die vlees nie meer vir die begeertes van mense te lewe nie, maar vir God se wil”. Vir Petrus sowel as vir ons sou dit beteken dat verdorwe gewoontes en ’n onsedelike lewenswyse vermy moet word. Ander sal dalk probeer om dinge moeilik te maak vir iemand wat “God se wil” probeer doen. Hy sal nietemin vind dat sy lewe sinvoller word (1 Petrus 4:1-3, 7-10, 15, 16). Dit was die geval met Petrus, en dit kan met ons die geval wees as ons ‘ons siel, of lewe, aan ’n getroue Skepper toevertrou terwyl ons goed doen’.—1 Petrus 4:19.

’n Dissipel wat liefde waargeneem het

Die apostel Johannes was nog ’n dissipel wat intiem met Jesus omgegaan het en wat ons dus kan help om die Skepper beter te verstaan. Johannes het ’n Evangelie asook drie briewe (1, 2 en 3 Johannes) geskryf. In een brief het hy ons hierdie insig gegee: “Ons weet dat die Seun van God gekom het, en hy het ons die intellektuele vermoë gegee dat ons die kennis van die waaragtige [die Skepper] kan opdoen. En ons is in eenheid met die waaragtige, deur middel van sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God en die ewige lewe.”—1 Johannes 5:20.

Johannes moes “intellektuele vermoë” gebruik om kennis van “die waaragtige” op te doen. Wat het Johannes omtrent die Skepper se eienskappe waargeneem? “God is liefde”, het Johannes geskryf, “en hy wat in die liefde bly, bly in eenheid met God.” Waarom kon Johannes so seker wees daarvan? “Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het” om die losprysofferande vir ons te bring (1 Johannes 4:10, 16). Soos Petrus is Johannes ook geraak deur God se liefde wat hy getoon het deur sy Seun te stuur om ten behoewe van ons te sterf.

Omdat Johannes baie na aan Jesus was, kon hy sy emosies waarneem. ’n Voorval in Betanië, naby Jerusalem, het ’n diep indruk op Johannes gemaak. Nadat Jesus verneem het dat sy vriend Lasarus baie siek was, het hy na Betanië gereis. Teen die tyd dat hy en die apostels daar aangekom het, was Lasarus al ten minste vier dae dood. Johannes het geweet dat die Skepper, die Bron van menselewe, Jesus steun. Sou Jesus Lasarus dus kon opwek? (Lukas 7:11-17; 8:41, 42, 49-56). Jesus het vir Lasarus se suster Marta gesê: “Jou broer sal opstaan.”—Johannes 11:1-23.

Toe het Johannes nog ’n suster van Lasarus, Maria, na Jesus toe sien kom. Hoe het Jesus gereageer? Hy het “in die gees gekreun en verontrus geword”. Om Jesus se reaksie te beskryf, het Johannes ’n Griekse woord gebruik (wat in Afrikaans met “gekreun” vertaal word) wat die betekenis gehad het van diep emosies wat uit die hart opwel. Johannes kon sien dat Jesus “verontrus”, oftewel innerlik in beroering, baie bedroef, was. Jesus was nie koel of afsydig nie. Hy “het trane begin stort” (Johannes 11:30-37). Dit is duidelik dat Jesus diep en tere gevoelens gehad het, wat Johannes gehelp het om die Skepper se gevoelens te verstaan, en dit behoort ons ook te help om dit te doen.

Johannes het geweet dat Jesus se emosies met positiewe dade gepaardgaan, want hy het Jesus hoor uitroep: “Lasarus, kom uit!” En dit het gebeur. Lasarus het lewend geword en uit die graf gekom. Watter vreugde moes dit sy susters en die ander toeskouers tog verskaf het! Baie het toe geloof in Jesus gestel. Sy vyande kon nie ontken dat hy hierdie opstanding verrig het nie, maar toe die nuus hiervan versprei, het hulle ‘beraadslaag om Lasarus dood te maak’, asook Jesus.—Johannes 11:43; 12:9-11.

Die Bybel beskryf Jesus as ‘die presiese afdruksel van die Skepper se wese’ (Hebreërs 1:3). Jesus se bediening getuig dus onteenseglik van sý en sy Vader se intense begeerte om die verwoestende gevolge van siekte en die dood ongedaan te maak. En dit strek verder as die paar opstandings wat in die Bybel opgeteken staan. Trouens, Johannes het Jesus self hoor sê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [die Seun se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Let daarop dat Johannes hier nie die gewone woord vir graf gebruik het nie, maar eerder ’n woord wat met “gedenkgrafte” vertaal word. Waarom?

God se geheue is daarby betrokke. Die Skepper van die ontsaglike heelal kan ongetwyfeld elke besonderheid van al ons afgestorwe dierbares onthou, ingebore sowel as verworwe eienskappe inkluis. (VergelykJesaja 40:26.) En dit is nie net dat hy kan onthou nie. Hy sowel as sy Seun wil onthou. Wat die wonderlike vooruitsig op die opstanding betref, het getroue Job van God gesê: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U [Jehovah] sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15; Markus 1:40-42). Wat ’n wonderlike Skepper het ons tog, wat ons aanbidding waardig is!

Die verrese Jesus—die sleutel tot ’n sinvolle lewe

Die geliefde dissipel Johannes het Jesus tot Sy dood noukeurig waargeneem. Wat meer is, Johannes het die grootste opstanding opgeteken wat nog plaasgevind het, ’n gebeurtenis wat ’n vaste grondslag lê vir ons om ’n blywende en sinvolle lewe te hê.

Jesus se vyande het hom laat teregstel deur hom soos ’n gewone misdadiger aan ’n paal te laat nael. Toeskouers—godsdiensleiers inkluis—het hom bespot terwyl hy ure lank gely het. Ten spyte daarvan dat Jesus onuitspreeklike lyding aan die paal verduur het, het hy sy eie moeder gesien en vir haar van Johannes gesê: “Vrou, kyk! U seun!” Teen dié tyd moes Maria ’n weduwee gewees het, en haar ander kinders was nog nie dissipels nie.e Jesus het gevolglik die versorging van sy bejaarde moeder aan sy dissipel Johannes toevertrou. Dit het weer eens die denke van die Skepper weerspieël, wat gesê het dat weduwees en wese versorg moet word.—Johannes 7:5; 19:12-30; Markus 15:16-39; Jakobus 1:27.

Maar hoe kon Jesus, as hy dood was, sy rol vervul as die “saad” deur wie ‘al die nasies van die aarde hulleself gewis sal seën’? (Genesis 22:18). Met sy dood op daardie Aprilmiddag in 33 G.J. het Jesus sy lewe as die grondslag vir die losprys afgelê. Dit moes vir sy teergevoelige Vader pynlik gewees het om sy onskuldige Seun sulke lyding te sien verduur. Maar op hierdie manier is die losprys voorsien wat nodig was om die mensdom van slawerny aan die sonde en die dood te bevry (Johannes 3:16; 1 Johannes 1:7). Die grondslag vir ’n grootse finale is gelê.

Omdat Jesus Christus ’n hoofrol in die verwesenliking van God se voornemens speel, moes hy opstaan. Dit is wat gebeur het, en Johannes was getuie daarvan. Vroeg op die derde dag ná Jesus se dood en begrafnis het van die dissipels na die graf toe gegaan. Dit was leeg. Hulle was verbysterd totdat Jesus aan verskeie mense verskyn het. Maria Magdalena het vertel: “Ek het die Here gesien!” Die dissipels het nie haar getuienis aanvaar nie. Later het die dissipels in ’n geslote vertrek vergader en het Jesus weer verskyn en selfs met hulle gepraat. Binne dae het meer as 500 mans en vroue ooggetuies geword van die feit dat Jesus inderdaad lewend was. Mense van destyds wat miskien skepties was, kon hierdie geloofwaardige getuies uitvra en hulle getuienis ondersoek. Die Christene kon seker wees dat Jesus opgewek is en lewend was as ’n geesskepsel soos die Skepper. Daar was soveel bewys hiervan en dit was so betroubaar dat baie bereid was om eerder te sterf as om Jesus se opstanding te loën.—Johannes 20:1-29; Lukas 24:46-48; 1 Korintiërs 15:3-8.f

Die apostel Johannes het ook vervolging ondergaan omdat hy van Jesus se opstanding getuig het (Openbaring 1:9). Maar terwyl hy ’n gevangene in ballingskap was, het hy ’n buitengewone beloning ontvang. Jesus het hom ’n reeks visioene gegee wat die Skepper vir ons duideliker openbaar en toon wat die toekoms inhou. Jy sal dit in die boek Openbaring vind, wat talle sinnebeeldige voorstellings bevat. Jesus Christus word hier as ’n seëvierende Koning afgebeeld wat binnekort die oorwinning oor sy vyande sal voltooi. Daardie vyande sluit die dood (’n vyand van ons almal) en die verdorwe geesskepsel genaamd Satan in.—Openbaring 6:1, 2; 12:7-9; 19:19–20:3, 13, 14.

Teen die einde van sy apokaliptiese boodskap het Johannes ’n visioen gehad van die tyd wanneer die aarde ’n paradys sal word. ’n Stem het die toestande beskryf wat dan sal heers: “God self sal by [die mense] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Die belofte wat God aan Abraham gemaak het, sal in die verwesenliking van God se voorneme vervul word.—Genesis 12:3; 18:18.

Lewe sal dan “werklike lewe” wees, vergelykbaar met wat vir Adam voorgelê het toe hy geskep is (1 Timoteus 6:19). Die mensdom sal nie meer rondtas om hulle Skepper te vind en hulle verhouding met hom te verstaan nie. Maar jy kan tereg vra: ‘Wanneer sal dit gebeur? En waarom laat ons liefdevolle Skepper toe dat boosheid en lyding vandag nog bestaan?’ Kom ons bespreek vervolgens hierdie vrae.

[Voetnote]

a Matteus, Markus en Johannes was ooggetuies. Lukas het ’n kundige studie van dokumente en eerstehandse getuienis gemaak. Die Evangelies openbaar die kenmerke van eerlike, juiste en betroubare verslae.—Sien ’n Boek vir alle mense, bladsye 16-17, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

b Die Koran sê: “Wie se naam die Messias sal wees, Jesus, die Seun van Maria, geëerd in hierdie wêreld en in die Hiernamaals” (Soera 3:44). As mens was Jesus Maria se seun. Maar wie was die vader? Die Koran sê: “Jesus is voor [God] net soos Adam was” (Soera 3:58). Die Heilige Skrif praat van Adam as ’n “seun van God” (Lukas 3:23, 38). Nie Adam of Jesus het ’n mensevader gehad nie; nie een van die twee is deur geslagsomgang met ’n vrou verwek nie. Aangesien Adam ’n seun van God was, was Jesus dus ook.

c Jesus se gesindheid is dieselfde as dié van Jehovah, soos in Psalm 103 en Jesaja 1:18-20 beskryf word.

d Ons kan daardie profesie in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 lees.

e Ten minste twee van hulle het later dissipels geword en aanmoedigende briewe geskryf wat in die Bybel gevind word, naamlik Jakobus en Judas.

f ’n Hooggeplaaste Romeinse offisier het Petrus se ooggetuieverslag gehoor: “Julle weet oor watter onderwerp daar in die hele Judea gepraat is . . . God het hom op die derde dag opgewek en aan hom gegee om openbaar te word . . . Hy [het] ons beveel om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee dat dit die Een is wat deur God verorden is om regter van die lewendes en die dooies te wees.”—Handelinge 2:32; 3:15; 10:34-42.

[Venster op bladsy 150]

Jy sal dit moontlik geniet om die parallelle verslae van Jesus se genesing van Petrus se skoonmoeder te vergelyk (Matteus 8:14-17; Markus 1:29-31; Lukas 4:38, 39). Die geneesheer Lukas het die mediese besonderheid ingesluit dat sy “’n hoë koors” gehad het. Wat het Jesus in staat gestel om haar en ander te genees? Lukas het erken: “Jehovah se krag was daar sodat [Jesus] gesond kon maak.”—Lukas 5:17; 6:19; 9:43.

[Venster op bladsy 152]

Die allervoortreflikste preek

Die Hindoeleier Mohandas Gandhi het volgens berig gesê dat ons, deur die toepassing van die leringe daarvan, ‘die probleme van die hele wêreld sal opgelos het’. Die welbekende antropoloog Ashley Montagu het geskryf dat die hedendaagse bevindings oor die sielkundige belangrikheid van liefde bloot “’n bevestiging” van hierdie preek is.

Hierdie manne het na Jesus se Bergpredikasie verwys. Gandhi het ook gesê: “Die leer van die Bergpredikasie is vir ’n ieder en ’n elk van ons bedoel.” Professor Hans Dieter Betz het onlangs opgemerk: “Die invloed wat die Bergpredikasie uitoefen, strek gewoonlik baie verder as die grense van Judaïsme en die Christelike godsdiens, of selfs die Westerse kultuur.” Hy het bygevoeg dat hierdie preek “’n buitengewoon universele aantrekkingskrag” het.

Lees gerus hierdie betreklike kort maar boeiende preek. Jy sal dit inMatteus hoofstukke 5 tot 7 en inLukas 6:20-49 vind. Hier is ’n paar glanspunte wat ons uit hierdie allervoortreflikste preek kan uitlig:

Hoe om gelukkig te wees—Matteus 5:3-12; Lukas 6:20-23.

Hoe om selfrespek te behou—Matteus 5:14-16, 37; 6:2-4, 16-18; Lukas 6:43-45.

Hoe om verhoudinge met ander te verbeter—Matteus 5:22-26, 38-48; 7:1-5, 12; Lukas 6:27-38, 41, 42.

Hoe om huweliksprobleme te verminder—Matteus 5:27-32.

Hoe om besorgdheid die hoof te bied—Matteus 6:25-34.

Hoe om godsdiensbedrog te herken—Matteus 6:5-8, 16-18; 7:15-23.

Hoe om die sin van die lewe te vind—Matteus 6:9-13, 19-24, 33; 7:7-11, 13, 14, 24-27; Lukas 6:46-49.

[Venster op bladsy 159]

’n Man van die daad

Jesus Christus was nie ’n passiewe kluisenaar nie. Hy was ’n vasbeslote man van die daad. Hy ‘het die dorpies in ’n kring deurgegaan en geleer’ en mense gehelp wat ‘gestroop en rondgegooi was soos skape sonder ’n herder’ (Markus 6:6; Matteus 9:36; Lukas 8:1). In teenstelling met talle ryk godsdiensleiers van vandag het Jesus nie rykdom vergader nie; hy het ‘geen plek gehad om sy kop neer te lê nie’.—Matteus 8:20.

Hoewel Jesus hom op geestelike genesing en voeding toegespits het, het hy nie mense se liggaamlike behoeftes geïgnoreer nie. Hy het die siekes, die kreupeles en die demoonbesetenes genees (Markus 1:32-34). By twee geleenthede het hy duisende van sy gretige luisteraars kos gegee omdat hy medelye vir hulle gevoel het (Markus 6:35-44; 8:1-8). Dit was sy besorgdheid oor mense wat hom beweeg het om wonderwerke te verrig.—Markus 1:40-42.

Jesus het met beslistheid opgetree toe hy gierige handelaars uit die tempel verdryf het. Dié wat hom gesien het, het teruggedink aan die woorde van ’n psalmis: “Die ywer vir u huis sal my verteer” (Johannes 2:14-17). Hy het nie doekies omgedraai toe hy skynheilige godsdiensleiers veroordeel het nie (Matteus 23:1-39). Ook het hy nie voor druk van manne met politieke mag geswig nie.—Matteus 26:59-64; Johannes 18:33-37.

Jy sal dit opwindend vind om van Jesus se dinamiese bediening te lees. Baie wat dit vir die eerste keer doen, begin met Markus se kort maar lewendige verslag oor hierdie man van die daad.

[Venster op bladsy 164]

Jesus het hulle tot handelinge beweeg

In die boek Handelinge kan ons ’n geskiedkundige verslag vind van hoe Petrus, Johannes en ander van Jesus se opstanding getuig het. ’n Groot deel van die boek vertel van gebeure rakende ’n intelligente regsgeleerde met die naam Saulus, of Paulus, wat die Christelike godsdiens hewig teëgestaan het. Die verrese Jesus het aan hom verskyn (Handelinge 9:1-16). Omdat Paulus onweerlegbare bewys gehad het dat Jesus lewend in die hemel was, het hy hierna ywerig vir Jode en nie-Jode, met inbegrip van filosowe en heersers, van hierdie feit getuig. Dit is indrukwekkend om te lees wat hy vir sulke geleerde, invloedryke manne gesê het.—Handelinge 17:1-3, 16-34; 26:1-29.

Oor ’n tydperk van etlike dekades het Paulus baie boeke van die sogenaamde Nuwe Testament, of die Christelike Griekse Geskrifte, geskryf. Die meeste Bybels bevat ’n inhoudsopgawe, of ’n lys van boeke. Paulus het 14 van hulle geskryf, van Romeine tot Hebreërs. Hulle het diep waarhede en wyse riglyne aan die Christene van destyds voorsien. Hulle is selfs waardevoller vir ons, wat nie regstreekse kontak met die apostels en ander ooggetuies van Jesus se leringe, werke en opstanding het nie. Jy sal vind dat Paulus se geskrifte jou kan help om jou gesinslewe te verbeter, aangenamer verhoudinge met medewerkers en bure te hê en jou lewe te rig sodat dit ware sin het en jou vergenoegdheid verskaf.

[Prent op bladsy 146]

Wetenskaplikes doen in vitro-bevrugting. Die Skepper het sy Seun se lewe oorgeplaas sodat hy ’n mens kon word

[Prent op bladsy 148]

Baie wat Jesus gehoor het en gesien het hoe hy met mense handel, het sy Vader beter leer ken

[Prent op bladsy 154]

Jesus het die apostels se voete gewas en so ’n voorbeeld van nederigheid gestel wat die Skepper waardeer

[Prent op bladsy 157]

’n Rekenaarvirus kan uit die stelsel verwyder word; die mensdom het Jesus se losprys nodig om van oorgeërfde onvolmaaktheid ontslae te raak

[Prent op bladsy 163]

Ooggetuies het gesien dat Jesus in ’n graf (soos hierdie een) gesit is en op die derde dag opgewek is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel