Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 1 bl. 4-9
  • Wat kan jou lewe sinvoller maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat kan jou lewe sinvoller maak?
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom word die idee van ’n Skepper verwerp?
  • Die Skepper kan jou lewe sinvoller maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ’n Kunstenaar se soeke na geluk in ’n “paradys”
    Ontwaak!—2005
  • Maak jou lewe vir ewig sinvoller
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 1 bl. 4-9

Hoofstuk Een

Wat kan jou lewe sinvoller maak?

HET jy al gedroom van ’n beter lewe, hetsy in jou tuisomgewing of in ’n tropiese paradys? Die meeste van ons het dit al op die een of ander tyd gedoen.

In 1891 het die Franse skilder Paul Gauguin so ’n lewe in Frans-Polinesië gaan soek. Maar hy het gou voor die werklikheid te staan gekom. Sy losbandige verlede het siekte en lyding oor hom en ander gebring. Terwyl hy die dood voel nader kom het, het hy ’n werk geskilder wat as ’n “finale uiting van kunskrag” beskryf is. Die boek Paul Gauguin 1848-1903—The Primitive Sophisticate sê: “Die spektrum van mensebedrywighede wat deur die skildery gedek word, omvat die hele lewe, van geboorte tot die dood . . . Hy het die lewe as ’n groot raaisel uitgebeeld.”

Gauguin het hierdie skildery “Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Waar gaan ons heen?” genoem.a

Hierdie vrae klink miskien bekend. Talle denkende mense vra dit. Nadat ’n redakteur van The Wall Street Journal oor die mens se wetenskaplike en tegniese vooruitgang kommentaar gelewer het, het hy geskryf: “Wanneer ons oor die mens self dink, oor sy dilemmas, oor sy plek in hierdie heelal, is ons nie veel verder as toe tyd begin het nie. Ons het nog steeds vrae oor wie ons is en waarom ons bestaan en waarheen ons gaan.”

Party mense wy inderdaad hulle hele lewe daaraan om hulle gesin te versorg, ’n bestaan te maak, te reis of na ander persoonlike belange om te sien omdat hulle geen ander sin in die lewe sien nie. Albert Einstein het eenkeer gesê: “Die mens wat sy lewe as sinloos beskou, is nie net ongelukkig nie, maar is nouliks opgewasse vir die lewe.” In ooreenstemming met sulke denke probeer party sin aan hulle lewe gee deur betrokke te raak by die skone kunste, wetenskaplike navorsing of humanitêre pogings om lyding te verminder. Ken jy sulke mense?

Dit is te begrype dat basiese vrae oor die sin van die lewe sal ontstaan. Hoeveel ouers vra tog nie nadat hulle ’n kind aan malaria of ’n ander siekte sien sterf het nie: Waarom is daar sulke lyding? Het dit sin? Soortgelyke vrae kwel talle jong manne en vroue wat armoede, siekte en onregverdigheid aanskou. Wrede oorloë laat mense dikwels wonder of die lewe sinvol kan wees.

Al het sulke ellendes jou nog nie getref nie, stem jy moontlik saam met professor Freeman Dyson, wat gesê het: “Ek is in goeie geselskap wanneer ek weer die vrae vra wat [die Bybelkarakter] Job gevra het. Waarom ly ons? Waarom is die wêreld so onregverdig? Waarom is daar pyn en tragedie?” Jy wil moontlik ook die antwoorde hê.

Dit sou beslis ’n verskil maak as ’n mens bevredigende antwoorde kon kry. ’n Professor wat die afgryse van die Auschwitz-konsentrasiekamp deurgemaak het, het gesê: “Daar is niks ter wêreld . . . wat ’n mens so goed sou help om selfs die ergste toestande te verduur as die wete dat jou lewe sin het nie.” Hy het gemeen dat selfs ’n mens se geestesgesondheid met hierdie soeke na die sin van die lewe verband hou.

Deur die eeue heen het baie mense antwoorde in godsdiens gesoek. Nadat Gautama (Boeddha) ’n sieke, ’n bejaarde en ’n dooie gesien het, het hy verligting, of die sin van die lewe, in godsdiens gesoek, maar sonder geloof in ’n persoonlike God. Ander het hulle tot hulle kerk gewend.

Maar wat van mense wat vandag leef? Baie wend hulle tot die wetenskap en verwerp godsdiens en “God” as onbelangrik. “Hoe meer vooruitgang die wetenskap maak”, sê Religion and Atheism, “hoe minder plek is daar blykbaar vir God. God het ’n Uitgewekene geword.”

Waarom word die idee van ’n Skepper verwerp?

Die tendens om godsdiens of God te verwerp, het in werklikheid sy oorsprong by die filosofieë van mense wat die klem op suiwer denkvermoë gelê het. Charles Darwin het gemeen dat “natuurlike teeltkeuse” ’n beter verklaring vir die lewende wêreld bied as wat die bestaan van ’n Skepper bied. Sigmund Freud het verkondig dat God ’n illusie is. En die beskouing: ‘God is dood’, bestaan al van die tyd van Friedrich Nietzsche af tot nou toe. Oosterse filosofieë is maar dieselfde. Leraars van Boeddhisme beweer dat dit nie nodig is om van God te weet nie. Wat Sjintoïsme betref, het professor Tetsoeo Jamaori gesê dat “gode niks anders as mense is nie”.

Skeptisisme oor die bestaan van ’n Skepper is algemeen, maar is dit geregverdig? Jy weet waarskynlik van voorbeelde van ‘wetenskaplike feite’ wat in die verlede geglo is, maar wat mettertyd heeltemal verkeerd bewys is. Beskouings soos ‘Die aarde is plat’ en ‘Die ganse heelal draai om ons aardbol’ is eeue lank gehuldig, maar ons weet nou beter.

Wat van latere wetenskaplike idees? Die 18de-eeuse filosoof David Hume—wat nie aanvaar het dat daar ’n Skepper is nie—kon byvoorbeeld geen verklaring vir die ingewikkelde biologiese ontwerp op die aarde gee nie. Darwin se teorie het voorgestel hoe lewensvorme ontwikkel het, maar dit het nie verduidelik hoe lewe begin het of watter sin dit vir ons het nie.

Gevolglik besef baie wetenskaplikes sowel as leke dat iets ontbreek. Wetenskaplike teorieë probeer miskien die hoe? verklaar, maar die kern van die sleutelvrae is waarom? Dit raak selfs mense wat te midde van geloof in ’n Skepper grootgemaak is. ’n Jong Europese geskiedenisstudent het gesê: “Vir my is God dood. As hy wel bestaan het, sou die wêreld nie in so ’n gemors gewees het nie: Onskuldige mense kom van honger om; diersoorte sterf uit . . . Die idee van ’n Skepper is onsin.” In die lig van die toestande op die aarde kan baie nie verstaan waarom ’n Skepper—in die veronderstelling dat daar een is—dinge nie ten goede verander nie.

Maar ons moet erken dat talle die bestaan van ’n Skepper verwerp omdat hulle nie wil glo nie. “Al sou God self vir my sê dat ek my lewe moet verander”, het ’n Europese nyweraar vir ’n werknemer gesê, “sou ek dit nog steeds nie doen nie. Ek wil lewe soos ék wil.” Dit is duidelik dat party meen dat dit op hulle vryheid of op die lewenstyl wat hulle verkies inbreuk sou maak as hulle die gesag van ’n Skepper sou erken. Hulle sê miskien: ‘Ek glo net wat ek sien, en ek kan nie ’n onsigbare Skepper sien nie.’

Ongeag waarom mense ‘die idee van ’n Skepper verwerp’, vrae oor die lewe en die sin daarvan bestaan steeds. Nadat die mens die ruimte begin verken het, is teoloog Karl Barth gevra wat hy van hierdie tegnologiese oorwinning dink. Hy het gesê: “Dit los nie een van die probleme op wat my snags wakker hou nie.” Vandag onderneem die mens ruimtereise en vlieg hy deur die kuberruimte. Nietemin kan denkende mense sien dat hulle ’n doel moet hê, iets wat hulle lewe sinvol maak.

Ons nooi almal met ’n ontvanklike gemoed om hierdie onderwerp te ondersoek. Die boek Belief in God and Intellectual Honesty sê dat iemand wat “intellektuele eerlikheid” besit, gekenmerk word deur ’n “bereidwilligheid om noukeurig te ondersoek of wat hy glo die waarheid is” en “om voldoende aandag aan ander beskikbare bewyse te skenk”.

Met betrekking tot die onderwerp wat ons gaan bespreek, kan sulke “beskikbare bewyse” ons help om te sien of ’n Skepper vir die ontstaan van lewe en die heelal verantwoordelik is. En as daar ’n Skepper is, watter soort persoon is hy? Sal ’n Skepper ’n persoonlikheid hê wat met ons lewe verband hou? As ons dit ondersoek, kan dit lig werp op hoe ons lewe sinvoller en lonender kan word.

[Voetnoot]

a D’où venons-nous? Que sommes-nous? Où allons-nous?

[Volbladillustrasie op bladsy 4]

[Prent op bladsy 6]

Gauguin se skildery het vrae oor die sin van die lewe geopper

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel