Bybelboek nommer 20—Spreuke
Sprekers: Salomo, Agur, Lemuël
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: ca. 717 v.G.J.
1. Watter wysheid vind ons in die boek Spreuke?
TOE Salomo, die seun van Dawid, in 1037 v.G.J. koning van Israel geword het, het hy tot Jehovah om “wysheid en kennis” gebid om ‘hierdie groot volk te regeer’. In antwoord het Jehovah hom ‘kennis en wysheid en ’n verstandige hart’ gegee (2 Kron. 1:10-12; 1 Kon. 3:12; 4:30, 31). Gevolglik het Salomo “drieduisend spreuke uitgespreek” (1 Kon. 4:32). Van hierdie gesproke wysheid is in die Bybelboek Spreuke opgeteken. Aangesien sy wysheid inderdaad deur “God in sy hart gegee” is, bestudeer ons in werklikheid die wysheid van Jehovah God wanneer ons Spreuke bestudeer (1 Kon. 10:23, 24). Hierdie spreuke som ewige waarhede op. Hulle is vandag net so aktueel as toe hulle uitgespreek is.
2. Waarom was Salomo se tyd ’n gepaste tyd om die goddelike leiding in Spreuke te voorsien?
2 Die regering van Salomo was ’n gepaste tyd om hierdie goddelike leiding te voorsien. Daar is gesê dat Salomo “op die troon van die HERE” gesit het. Die teokratiese koninkryk van Israel was op sy hoogtepunt en Salomo is begunstig met ongekende “koninklike majesteit” (1 Kron. 29:23, 25). Dit was ’n tyd van vrede en oorvloed, ’n tyd van veiligheid (1 Kon. 4:20-25). Maar selfs onder daardie teokratiese regering het die volk nog hulle persoonlike probleme en moeilikhede weens menslike onvolmaakthede gehad. Dit is verstaanbaar dat die volk op wyse koning Salomo sou staatmaak om hulle probleme op te los (1 Kon. 3:16-28). In die loop van sy regspraak in hierdie baie gevalle het hy spreekwoordelike gesegdes geuiter wat gepas het by die talle lewensomstandighede wat van dag tot dag ontstaan het. Hierdie kort dog indrukwekkende gesegdes is baie hoog op prys gestel deur diegene wat hulle lewe in ooreenstemming met God se wil wou bring.
3. Hoe is Spreuke saamgestel?
3 Die verslag sê nie dat Salomo die Spreuke geskryf het nie. Dit sê egter dat hy spreuke “uitgespreek” het, ook dat ‘hy ondersoek het sodat hy baie spreuke kon opstel’, waardeur hy getoon het dat hy daarin belanggestel het om spreuke vir latere gebruik te bewaar (1 Kon. 4:32; Pred. 12:9). In Dawid en Salomo se tyd was daar amptelike skrywers onder die hofbeamptes (2 Sam. 20:25; 2 Kon. 12:10). Ons weet nie of hierdie skrywers aan sy hof sy spreuke opgeteken en versamel het nie, maar die woorde van enige heerser van sy gehalte sou hoog aangeslaan en gewoonlik opgeteken word. Daar word oor die algemeen saamgestem dat die boek ’n versameling is wat uit ander versamelings saamgestel is.
4. (a) Hoe word die boek Spreuke gewoonlik ingedeel? (b) Wie was die bron van verreweg die meeste spreuke?
4 Die boek Spreuke kan in vyf dele ingedeel word. Hulle is: (1) Hoofstukke 1-9, wat begin met die woorde: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid”; (2) Hoofstukke 10-24, wat beskryf word as “Die spreuke van Salomo”; (3) Hoofstukke 25-29, wat begin met: “Dit is ook spreuke van Salomo, wat die manne van Hiskia, die koning van Juda, versamel het”; (4) Hoofstuk 30, wat ingelei word as “Die woorde van Agur, die seun van Jake”; en (5) Hoofstuk 31, wat bestaan uit “Die woorde van Lemuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het”. Salomo was dus die bron van die oorgrote meerderheid van die spreuke. Niks definitiefs is bekend oor die identiteit van Agur en Lemuël nie. Party kommentators doen aan die hand dat Lemuël dalk ’n ander naam vir Salomo is.
5. Wanneer is Spreuke geskryf en saamgestel?
5 Wanneer is Spreuke geskryf en saamgestel? Die grootste deel is ongetwyfeld opgeteken gedurende Salomo se regering (1037-998 v.G.J.), voor sy afval. As gevolg van onsekerheid oor die identiteit van Agur en Lemuël is dit nie moontlik om hulle materiaal te dateer nie. Aangesien een van die versamelings gedurende die regering van Hiskia (745-717 v.G.J.) gemaak is, kon die finale samestelling nie voor sy regering geskied het nie. Is die laaste twee dele ook onder koning Hiskia se gesag saamgestel? In antwoord hierop is daar ’n insiggewende voetnoot by Spreuke 31:31 in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References: “In sommige uitgawes van die Hebr[eeuse] teks verskyn die trigrammaton, of drie letters, Chêth, Zaʹjin, Qoof (תזק), wat staan vir koning Hiskia se handtekening by die kopieerwerk wat deur sy skrywers gedoen is om aan te dui dat die werk voltooi is.”
6. Wat is ’n spreuk, en waarom is die Hebreeuse titel van die boek gepas?
6 In Hebreeuse Bybels is die boek aanvanklik vernoem na die eerste woord in die boek, misj·lêʹ, wat “spreuke” beteken. Misj·lêʹ is die meervoud, status constructus, van die Hebreeuse selfstandige naamwoord ma·sjalʹ, wat volgens die algemene mening afgelei is van ’n grondwoord wat “soos iets wees” of “gelyk wees aan iets” beteken. Hierdie uitdrukkings beskryf die inhoud van die boek goed, want spreuke is pittige gesegdes wat dikwels ooreenkomste of vergelykings gebruik en wat bedoel is om die hoorder te laat dink. Die kort vorm van die spreuke maak hulle maklik om te volg en interessant, en in hierdie vorm word hulle maklik aan ander geleer, self geleer en onthou. Die gedagte bly die hoorder by.
7. Wat is opmerklik omtrent die styl van Spreuke?
7 Die uitdrukkingstyl in die boek is ook baie interessant. Dit is in Hebreeuse digstyl. Die samestelling van die grootste deel van die boek is parallelle digkuns. Dit laat nie die uitgange van reëls of verse rym of eenders klink nie. Dit bestaan uit ritmiese reëls wat parallelle gedagtes of idees bevat. Die skoonheid en onderrigkrag daarvan lê in hierdie gedagteritme. Die gedagtes kan sinoniem of teenstellend wees, maar die krag van die parallel brei die gedagte uit, borduur voort op die idee en maak seker dat die betekenis van die gedagte oorgedra word. Voorbeelde van sinonieme parallelisme kan gevind word in Spreuke 11:25; 16:18; en 18:15, en voorbeelde van die oorvloediger antitetiese parallelisme is in Spreuke 10:7, 30; 12:25; 13:25; en 15:8. Nog ’n digvorm word heel aan die einde van die boek gevind (Spr. 31:10-31). Die 22 verse daar word so gerangskik dat elkeen in Hebreeus met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin; dit is die akrostiese styl wat ook in ’n aantal psalms gebruik word. Wat skoonheid betref, is hierdie styl ongeëwenaard in ou geskrifte.
8. Hoe getuig die vroeë Christene se gebruik van Spreuke van die boek se egtheid?
8 Die egtheid van Spreuke blyk ook uit die algemene gebruik van die boek deur die vroeë Christene in die vermelding van gedragsreëls. Jakobus was blykbaar baie goed vertroud met Spreuke en het die grondbeginsels daarvan gebruik vir die goeie raad wat hy oor Christelike gedrag gegee het. (Vergelyk Spreuke 14:29; 17:27 met Jakobus 1:19, 20; Spreuke 3:34 met Jakobus 4:6; Spreuke 27:1 met Jakobus 4:13, 14.) Regstreekse aanhalings uit Spreuke word ook in die volgende gedeeltes aangetref: Romeine 12:20—Spreuke 25:21, 22; Hebreërs 12:5, 6—Spreuke 3:11, 12; 2 Petrus 2:22—Spreuke 26:11.
9. Hoe is Spreuke in harmonie met die res van die Bybel?
9 Daarbenewens toon Spreuke dat dit in harmonie met die res van die Bybel is, waardeur dit bewys dat dit ’n deel van “die hele Skrif” is. Wanneer dit met die Wet van Moses, Jesus se lering en die geskrifte van Jesus se dissipels en apostels vergelyk word, is daar opvallende eenheid van gedagte. (Sien Spreuke 10:16—1 Korinthiërs 15:58 en Galasiërs 6:8, 9; Spreuke 12:25—Mattheüs 6:25; Spreuke 20:20—Exodus 20:12 en Mattheüs 15:4.) Selfs wanneer dit gedagtes aanroer soos die gereedmaking van die aarde om deur die mens bewoon te word, is daar eenheid van gedagte met ander Bybelskrywers.—Spr. 3:19, 20; Gen. 1:6, 7; Job 38:4-11; Ps. 104:5-9.
10, 11. Wat anders getuig van die boek se goddelike inspirasie?
10 Nog iets wat van die boek se goddelike inspirasie getuig, is sy wetenskaplike akkuraatheid, hetsy die spreuk oor chemiese, mediese of gesondheidsbeginsels handel. Spreuke 25:20 praat blykbaar van suur-alkali-reaksies. Spreuke 31:4, 5 stem ooreen met hedendaagse wetenskaplike bevindinge dat alkohol die denkprosesse vertraag. Baie dokters en voedingkundiges is dit eens dat heuning gesonde voedsel is, wat aan die spreuk herinner: “Eet heuning, my seun, want dit is goed” (Spr. 24:13). Hedendaagse psigosomatiese bevindinge is nie iets nuuts vir Spreuke nie. “’n Vrolike hart bevorder die genesing.”—17:22; 15:17.
11 Ja, die boek Spreuke dek elke menslike behoefte en situasie so deeglik dat een gesaghebbende gesê het: “Daar is geen verhouding in die lewe waaroor daar nie gepaste onderrig gegee word nie, geen goeie of bose neiging sonder sy gepaste beweegrede of regstelling nie. Die menslike bewussyn word oral in onmiddellike betrekking met die Godheid gebring, . . . en die mens wandel as ’t ware in die teenwoordigheid van sy Maker en Regter . . . Elke soort mens word in hierdie ou boek aangetref; en hoewel dit drieduisend jaar gelede opgeteken is, is dit nog net so getrou aan die natuur soos dit sou gewees het indien dit na sy lewende verteenwoordiger opgestel was.”—Smith se Dictionary of the Bible, 1890, Dl. III, bladsy 2616.
INHOUD VAN SPREUKE
12. (a) Watter aaneengeskakelde gedig maak die eerste gedeelte van Spreuke uit? (b) Wat leer dit oor wysheid en mensegedrag? (c) Hoe gee Spreuke 1:7 die tema van die hele boek?
12 Die eerste gedeelte (1:1–9:18). Dit is ’n aaneengeskakelde gedig wat uit kort toesprake bestaan, soos van ’n vader aan ’n seun, en handel oor die nodigheid vir wysheid om die hart, of die hele innerlike persoon, te lei en begeertes te rig. Dit vertel van die waarde van wysheid en die seëninge daarvan: geluk, lieflikheid, vrede en lewe (1:33; 3:13-18; 8:32-35). Dit kontrasteer dit met die afwesigheid van wysheid en die gevolge daarvan: lyding en uiteindelik die dood (1:28-32; 7:24-27; 8:36). Dit beskou die oneindig baie situasies en moontlikhede wat in die lewe kan ontstaan en verskaf ’n basiese studie in mensegedrag en die onmiddellike en toekomstige gevolge van daardie gedrag. Die woorde in Spreuke 1:7 gee die tema van die hele boek: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis.” Alle dade moet toon dat Jehovah in ag geneem word. Die nodigheid om nie God se wette te vergeet nie, om sy gebooie getrou te hou en hulle nie te versaak nie, word voortdurend herhaal.
13. Beskryf die opvallende drade wat deur die eerste gedeelte van Spreuke loop.
13 Die opvallende drade wat deur die materiaal van hierdie eerste gedeelte loop, is praktiese wysheid, kennis, die vrees van Jehovah, dissipline en onderskeidingsvermoë. Waarskuwings word gegee teen slegte omgang, die verwerping van Jehovah se dissipline en onbetaamlike verhoudinge met vreemde vroue (1:10-19; 3:11, 12; 5:3-14; 7:1-27). Twee keer word wysheid beskryf as iets wat in openbare plekke en dus verkrygbaar, beskikbaar, is (1:20, 21; 8:1-11). Dit word verpersoonlik en praat smekend met die onervarenes, en dit werp selfs lig op die skepping van die aarde (1:22-33; 8:4-36). Wat ’n verbasende boek is dit tog! Hierdie gedeelte eindig met die begintema, naamlik “die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE” (9:10). Dit wys deurgaans dat erkenning van Jehovah in al ons weë, gepaard met ons trou aan sy regverdigheid, die weg van die lewe is en ons teen baie ongewenste dinge kan beskerm.
14. Watter antitetiese parallelismes bring die praktiese leringe van Spreuke na vore?
14 Die tweede gedeelte (10:1–24:34). Hier vind ons talle puik grondreëls wat geen verband met mekaar het nie en wat wysheid op ingewikkelde lewensituasies toepas. Deur ons die regte toepassings te leer, wil dit groter geluk en ’n aangenamer lewe bevorder. Teenstellings in die parallelismes prent hierdie leringe op ons gedagtes in. Hier is ’n gedeeltelike lys van die onderwerpe wat in net hoofstukke 10, 11 en 12 bespreek word:
liefde vs. haat
wysheid vs. dwaasheid
eerlikheid vs. bedrog
getrouheid vs. laster
waarheid vs. leuens
vrygewigheid vs. terughouding
vlyt vs. laksheid
onkreukbaarheid vs. verkeerde weë
goeie raad vs. geen bekwame oorleg
’n deugsame vrou vs. ’n skandelike vrou
regverdigheid vs. goddeloosheid
beskeidenheid vs. vermetelheid
’n Vergelyking van hierdie lys met die daaglikse lewe moet ons daarvan oortuig dat Spreuke werklik ’n praktiese boek is!
15. Verstrek enkele voorbeelde van die verskeidenheid menslike situasies wat in Spreuke behandel word.
15 Die res van hierdie gedeelte (13:1–24:34) sit sy vermaninge oor Jehovah se standaarde voort sodat ons insig en onderskeidingsvermoë kan hê. ’n Opsomming van die groot verskeidenheid menslike situasies wat bespreek word, sal toon wat ’n omvangryke sfeer hierdie boek dek. Dit is uiters nuttig om hierdie Bybelraad te hê oor geveinsdheid, vermetelheid, trou aan jou woord, skranderheid, omgang, die tugtiging en opleiding van kinders, die mens se beskouing van wat reg is, traagheid tot toorn, die begunstiging van die ellendiges, bedrog, gebed, bespotting, vergenoegdheid met die lewensbenodigdhede, trots, oneerlike wins, omkopery, twis, selfbeheersing, afsondering, stilswye, partydigheid, rusies, nederigheid, die luukse, die versorging van ’n vader en ’n moeder, bedwelmende dranke, kullery, die eienskappe van ’n eggenote, geskenke, lenery, uitlenery, vriendelikheid, vertroulikheid, eiendomsgrense, die opbouing van die huisgesin, afguns, wraak, ydelheid, ’n sagte antwoord, bepeinsing en ware kameraadskap. Inderdaad ’n groot skat van raad waartoe ’n mens jou vir heilsame leiding oor alledaagse aangeleenthede kan wend! Party sal miskien verskeie van hierdie onderwerpe onbelangrik ag, maar dit toon vir ons dat die Bybel selfs in skynbaar klein dingetjies in ons behoeftes voorsien. In hierdie opsig is Spreuke van onskatbare waarde.
16. Watter opbouende raad word in die derde gedeelte van Spreuke gegee?
16 Die derde gedeelte (25:1–29:27). Opbouende raad word gegee oor sake soos eer, geduld, vyande, handelinge met dwase, pret, vleiery, jaloesie, leed wat deur ’n vriend aangedoen word, honger, laster, die behartiging van verantwoordelikhede, rente, belydenis, die gevolge van goddelose heerskappy, die seëninge van regverdige heerskappy, kindermisdaad, die behandeling van bediendes, insig en visioene.
17. (a) Watter “gewigtige boodskap” deel Agur ons mee? (b) Watter verskillende groepe van vier dinge beskryf hy?
17 Die vierde gedeelte (30:1-33). Dit is “die gewigtige boodskap” (NW) wat aan Agur toegeskryf word. Na ’n nederige erkenning van sy eie onbelangrikheid praat die skrywer van die mens se onvermoë om die aarde en die dinge daarop te skep. Hy sê dat God se Woord gelouter is en noem dit ’n skild. Hy vra dat die leuen ver van hom gehou word en dat hy nie rykdom of armoede gegee word nie. Hy beskryf ’n onrein, trotse en gierige geslag wat sy ouers kwaad toewens. Vier dinge word genoem wat nie “Genoeg” gesê het nie, asook vier dinge wat te moeilik is om te begryp (30:15, 16). ’n Owerspelige vrou se onbeskaamde verontskuldiging van haarself word gemeld. Dan word vier dinge beskryf waaronder die aarde dit nie kan uithou nie, vier klein dingetjies wat uitermate of instinktief wys is, en vier dinge wat uitmunt in hulle gang. Deur middel van gepaste vergelykings waarsku die skrywer dat ‘drukking van die toorn twis voortbring’.—30:33.
18. Wat sê koning Lemuël oor (a) ’n slegte vrou en (b) ’n deugsame vrou?
18 Die vyfde gedeelte (31:1-31). Hier is nog ’n “gewigtige boodskap” (NW), dié van koning Lemuël. Hier word twee skryfstyle gebruik. Die eerste deel bespreek die verderf waarin ’n slegte vrou ’n mens kan bring, waarsku hoe bedwelmende drank die reg kan verdraai en maan tot regverdige oordeel. Die akrostigon in die laaste deel is gewy aan ’n klassieke beskrywing van ’n deugsame vrou. Haar waarde word taamlik breedvoerig beskryf, en dit wys daarop dat sy deur haar man vertrou word en dat sy hom tot seën strek. Haar eienskappe sluit in dat sy vlytig is, vroeg opstaan, versigtig aankope doen, vriendelik teenoor die armes is, asook dat sy voorsorg tref en met wysheid spreek. Sy is ook waaksaam, word deur haar kinders gerespekteer en deur haar man geprys. Bowenal, sy vrees Jehovah.
WAAROM NUTTIG
19. Hoe openbaar Spreuke self sy nuttige doel?
19 Die nuttige doel van Spreuke word in die eerste verse gemeld: “Om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg” (1:2-4). In ooreenstemming met daardie gemelde doel, beklemtoon die boek kennis, wysheid en verstand, wat elk op sy besondere manier nuttig is.
20. Wat sê Spreuke oor kennis?
20 (1) Die mens het kennis die nodigste, want dit is nie goed vir die mens om in onkunde te verval nie. ’n Mens kan nooit juiste kennis verkry sonder die vrees van Jehovah nie, want kennis begin met daardie vrees. Kennis is verkiesliker as uitgesoekte goud. Waarom? Deur kennis word die regverdige gered; dit weerhou ons daarvan om in oorhaastigheid te sondig. Hoe moet ons dit tog soek, dit inneem! Dit is kosbaar. Gee dus “gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis”.—22:17; 1:7; 8:10; 11:9; 18:15; 19:2; 20:15.
21. Wat is die goddelike leer oor wysheid?
21 (2) Wysheid, die vermoë om kennis reg te gebruik tot lof van Jehovah, “is die vernaamste ding”. Verwerf dit. Jehovah is die Bron daarvan. Lewegewende wysheid begin met kennis en vrees van Jehovah God—dit is die groot geheim van wysheid. Vrees God dus, nie die mens nie. Verpersoonlikte wysheid roep uit en spoor almal aan om hulle weë te hervorm. Wysheid roep selfs luid op die strate uit. Jehovah roep al die onervarenes en dié wat dit aan hart ontbreek om in te kom en hulle met die brood van die wysheid te voed. Dan sal hulle, met die vrees van Jehovah, gelukkig wees al het hulle min. Die wysheid bring baie seëninge mee; die voordele daarvan is uiters nuttig. Wysheid en kennis—dit is grondbeginsels vir denkvermoë, die soort wat ons sal beskerm. Net soos heuning nuttig en aangenaam is, is wysheid ook. Dit is waardevoller as goud; dit is ’n boom van die lewe. Mense kom om sonder wysheid, want wysheid hou die lewe in stand; dit beteken lewe.—4:7, NW; 1:7, 20-23; 2:6, 7, 10, 11; 3:13-18, 21-26; 8:1-36; 9:1-6, 10, vgl. NW; 10:8; 13:14; 15:16, 24; 16:16, 20-24; 24:13, 14.
22. Watter beskerming bied verstand?
22 (3) Benewens kennis en wysheid is verstand lewensbelangrik; verwerf dus “by alles wat jy verwerf, . . . verstand”. Verstand is die vermoë om iets in sy samehangende dele te sien; dit beteken onderskeidingsvermoë, altyd met God in gedagte, want die mens kan nie op sy eie verstand steun nie. Hoe absoluut onmoontlik is dit tog om verstand of onderskeidingsvermoë te hê as ’n mens in stryd met Jehovah optree! As ons verstand wil verwerf, moet ons so ywerig daarna soek soos na ’n verborge skat. Om te verstaan, moet ons kennis hê. Die verstandige se soeke na kennis word beloon, en wysheid is voor sy oë. Hy word teen hierdie wêreld se ontelbare valstrikke beskerm, soos teen die tallose slegte mense wat ’n mens probeer verlok om saam met hulle die weg van die duisternis te bewandel. Alle dank aan Jehovah God—die Bron van lewegewende kennis, wysheid en verstand!—4:7, NW; 2:3, 4; 3:5, vgl. NW; 15:14; 17:24; 19:8; 21:30.
23. Watter soort verstandige raad sal vervolgens bespreek word?
23 In ooreenstemming met die nuttige doel van Spreuke verskaf die boek ’n oorvloed van wyse, geïnspireerde raad om ons te help om verstand te verkry en die hart te bewaak, “want daaruit is die oorspronge van die lewe” (4:23). Hier volg van die wyse raad wat dwarsdeur die boek beklemtoon word.
24. Wat word oor die goddeloses en die regverdiges gesê?
24 Die goddeloses en die regverdiges word teenoor mekaar gestel: Die goddelose sal in sy verkeerde weë gevang word, en sy skatte sal hom nie op die dag van die grimmigheid red nie. Die regverdige kom in aanmerking vir die lewe en sal deur Jehovah beloon word.—2:21, 22; 10:6, 7, 9, 24, 25, 27-32; 11:3-7, 18-21, 23, 30, 31; 12:2, 3, 7, 28; 13:6, 9; 14:2, 11; 15:3, 8, 29; 29:16.
25. Hoe waarsku Spreuke teen onsedelikheid?
25 Die nodigheid van rein sedes: Salomo waarsku voortdurend teen onsedelikheid. Owerspelige mense sal deur ’n plaag sowel as oneer getref word, en hulle smaad sal nie uitgewis word nie. “Gesteelde waters” lyk moontlik vir ’n jeugdige soet, maar die prostituut daal af na die dood en neem haar onervare slagoffers saam met haar. Diegene wat in die diep kuil van onsedelikheid verval, word deur Jehovah veroordeel.—2:16-19; 5:1-23; 6:20-35; 7:4-27; 9:13-18; 22:14; 23:27, 28.
26. Wat word oor selfbeheersing gesê?
26 Die nodigheid van selfbeheersing: Dronkenskap en vraatsug word veroordeel. Almal wat God se goedkeuring wil hê, moet matigheid in hulle eet- en drinkgewoontes aan die dag lê (20:1; 21:17; 23:21, 29-36; 25:16; 31:4, 5). Diegene wat traag tot toorn is, is oorvloedig in onderskeidingsvermoë en groter as ’n sterk man wat ’n stad inneem (14:17, 29; 15:1, 18; 16:32; 19:11; 25:15, 28; 29:11, 22). Selfbeheersing is ook nodig om afguns en jaloesie te vermy, wat verrotting in die gebeente is.—14:30; 24:1; 27:4; 28:22.
27. (a) Wanneer word spraak onverstandig gebruik? (b) Waarom is die verstandige gebruik van ons lippe en tong so noodsaaklik?
27 Verstandige en onverstandige gebruik van spraak: Verkeerde spraak, die kwaadspreker, die valse getuie en die leuenaar sal ontmasker word, want hulle is ’n gruwel vir Jehovah (4:24; 6:16-19; 11:13; 12:17, 22; 14:5, 25; 17:4; 19:5, 9; 20:17; 24:28; 25:18). As ’n mens se mond goeie dinge spreek, is dit ’n fontein van lewe; maar die mond van die dwaas verhaas sy ondergang. “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet” (18:21). Laster, bedrieglike spraak, vleiery en haastige woorde word veroordeel. Dit is verstandig om die waarheid te spreek, om God te eer.—10:11, 13, 14; 12:13, 14, 18, 19; 13:3; 14:3; 16:27-30; 17:27, 28; 18:6-8, 20; 26:28; 29:20; 31:26.
28. Watter skade berokken trots, maar watter voordele spruit uit nederigheid?
28 Die dwaasheid van trots en die nodigheid van nederigheid: Die trotsaard verhef homself tot ’n vlak wat hom nie geoorloof is nie, sodat hy neerstort. Die trotses van hart is ’n gruwel vir Jehovah, maar hy gee die nederiges wysheid, eer, rykdom en die lewe.—3:7; 11:2; 12:9; 13:10; 15:33; 16:5, 18, 19; 18:12; 21:4; 22:4; 26:12; 28:25, 26; 29:23.
29. Hoe moet luiheid beskou word, en hoe waardevol is vlyt?
29 Vlyt, nie traagheid nie: Daar word baie beskrywings van ’n luiaard gegee. Hy moet na die mier gaan vir ’n les en wys word. A, maar die vlytige—hy sal voorspoed geniet!—1:32; 6:6-11; 10:4, 5, 26; 12:24; 13:4; 15:19; 18:9; 19:15, 24; 20:4, 13; 21:25, 26; 22:13; 24:30-34; 26:13-16; 31:24, 25.
30. Hoe lê Spreuke nadruk op regte omgang?
30 Regte omgang: Dit is dwaasheid om met diegene om te gaan wat Jehovah nie vrees nie, met goddeloses of dwase, met opvlieënde mense, met verklikkers of met vrate. Gaan eerder met wyse mense om, en jy sal nog wyser word.—1:10-19; 4:14-19; 13:20; 14:7; 20:19; 22:24, 25; 28:7.
31. Wat is die wyse raad oor teregwysing?
31 Nodigheid van tug en teregwysing: “Die HERE tugtig hom wat Hy liefhet”, en diegene wat ag slaan op hierdie dissipline is op die weg na heerlikheid en die lewe. Hy wat teregwysing haat, sal tot skande kom.—3:11, 12; 10:17; 12:1; 13:18; 15:5, 31-33; 17:10; 19:25; 29:1.
32. Watter voortreflike vermaning word oor ’n goeie vrou gegee?
32 Raad om ’n goeie vrou te wees: Spreuke waarsku ’n vrou herhaaldelik daarteen om twisgierig te wees en skandelik op te tree. Die verstandige, bekwame, godvresende vrou het vriendelike onderrigting op haar tong; wie so ’n vrou vind, kry welgevalle van Jehovah.—12:4; 18:22; 19:13, 14; 21:9, 19; 27:15, 16; 31:10-31.
33. Watter nuttige raad word oor die grootmaak van kinders verstrek?
33 Die grootmaak van kinders: Leer hulle gereeld God se gebooie sodat hulle nie “vergeet nie”. Bring hulle van kleins af op in die onderrig van Jehovah. Moenie die roede spaar wanneer dit nodig is nie; as dit ’n uiting van liefde is, gee die roede en teregwysing ’n seun wysheid. Diegene wat kinders op God se manier grootmaak, sal verstandige kinders hê wat hulle vader en moeder vreugde en groot genoeë sal verskaf.—4:1-9; 13:24; 17:21; 22:6, 15; 23:13, 14, 22, 24, 25; 29:15, 17.
34. Watter voordeel hou dit in wanneer ’n mens die verantwoordelikheid aanvaar om ander te help?
34 Verantwoordelikheid om ander te help: Dit word dikwels in Spreuke benadruk. Die wyse moet kennis versprei tot nut van ander. ’n Mens moet jou ook mildelik oor die behoeftiges ontferm, en deur dit te doen, leen jy in werklikheid aan Jehovah, wat terugbetaling waarborg.—11:24-26; 15:7; 19:17; 24:11, 12; 28:27.
35. Met watter raad dring Spreuke deur tot die kern van ons probleme?
35 Vertroue in Jehovah: Spreuke dring deur tot die kern van ons probleme deur ons te vermaan om volkome op God te vertrou. Ons moet Jehovah in al ons weë ken. Iemand beplan moontlik sy weg, maar Jehovah moet sy voetstappe rig. Die naam van Jehovah is ’n sterk toring waarin die regverdige hardloop en beskerming vind. Hoop op Jehovah en gaan na sy Woord vir leiding.—3:1, 5, 6; 16:1-9; 18:10; 20:22; 28:25, 26; 30:5, 6.
36. Uit watter oogpunte kan Spreuke as aktueel, prakties en nuttig beskryf word?
36 Hoe nuttig is die boek Spreuke tog om onsself en ander te leer en te dissiplineer! Geen aspek van menslike verhoudinge is blykbaar oor die hoof gesien nie. Is daar iemand wat hom van sy mede-aanbidders van God afsonder? (18:1). Maak iemand in ’n hoë posisie gevolgtrekkings voordat hy albei kante van ’n saak gehoor het? (18:17). Is iemand ’n gevaarlike grapmaker? (26:18, 19). Is iemand geneig om partydig te wees? (28:21). Die winkelier in sy winkel, die boer op sy land, die man en vrou en kind—almal ontvang heilsame onderrig. Ouers word gehelp sodat hulle die talle verskuilde strikke op die weg van die jeug kan blootlê. Verstandiges kan die onervarenes leer. Die spreuke is prakties waar ons ook al woon; die boek se onderrig en raad raak nooit verouderd nie: “Die boek Spreuke”, het ’n Amerikaanse opvoedkundige, William Lyon Phelps, eenkeer gesê, “is meer aktueel as vanoggend se koerant.”a Die boek Spreuke is aktueel, prakties en nuttig vir onderrig, want dit is deur God geïnspireer.
37. Hoe is Spreuke in harmonie met die leer van die Grotere Salomo?
37 Aangesien die boek Spreuke, wat hoofsaaklik deur Salomo gespreek is, nuttig is om dinge reg te stel, rig dit mense na die almagtige God. Jesus Christus, wat in Mattheüs 12:42 iemand “meer as Salomo” genoem word, het dit ook gedoen.
38. Hoe verinnig Spreuke ons waardering vir God se Koninkryk en die regverdige beginsels daarvan?
38 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat hierdie uitnemend wyse Persoon Jehovah se keuse as die Koninkryksaad is! Sy troon sal “deur geregtigheid bevestig word” vir ’n vreedsame regering wat baie glorieryker sal wees as selfs dié van koning Salomo. Van daardie Koninkryksheerskappy sal daar gesê word: “Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon.” Dit sal ’n ewige regverdige heerskappy vir die mensdom inlui, waarvan die Spreuke ook sê: “’n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees.” Ons besef dus met vreugde dat die Spreuke nie net ons pad na kennis, wysheid en verstand, asook die ewige lewe, verlig nie, maar, nog belangriker, hulle verheerlik Jehovah as die Bron van ware wysheid, wat hy deur Christus Jesus, die Koninkrykserfgenaam, versprei. Spreuke verinnig ons waardering grootliks vir God se Koninkryk en die regverdige beginsels waarvolgens dit nou regeer.—Spr. 25:5; 16:12; 20:28; 29:14.
[Voetnoot]
a Treasury of the Christian Faith, 1949, onder redaksie van Stuber en Clark, bladsy 48.