Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • hb bl. 13-17
  • Kwaliteitsalternatiewe vir oortappings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kwaliteitsalternatiewe vir oortappings
  • Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE KAN DOKTERS HELP?
  • CHIRURGIE, JA—MAAR SONDER OORTAPPINGS
  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie
    Ontwaak!—1998
  • Bloedoortappings—Die sleutel tot oorlewing?
    Ontwaak!—1990
  • Die werklike waarde van bloed
    Ontwaak!—2006
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Hoe kan bloed jou lewe red?
hb bl. 13-17

Kwaliteitsalternatiewe vir oortappings

Jy dink dalk: ‘Oortappings is gevaarlik, maar is daar enige kwaliteitsalternatiewe?’ Dit is ’n goeie vraag, en let op die bepaling “kwaliteits-”.

Almal, met inbegrip van Jehovah se Getuies, verlang doeltreffende mediese behandeling van hoë gehalte. Dr. Grant E. Steffen het melding gemaak van twee sleutelelemente: “Kwaliteits- mediese behandeling is die vermoë van die elemente van daardie behandeling om geoorloofde mediese en nie-mediese oogmerke te bereik” (The Journal of the American Medical Association, 1 Julie 1988). “Nie-mediese” oogmerke sal insluit dat die sedelike norme of Bybelopgeleide gewete van die pasiënt nie geskend word nie.—Handelinge 15:28, 29.

Is daar geoorloofde en doeltreffende maniere waarop ernstige mediese probleme sonder bloed behandel kan word? Gelukkig is die antwoord ja.

Hoewel die meeste chirurge beweer het dat hulle slegs bloed gegee het as dit absoluut noodsaaklik was, het hulle aansienlik minder bloed gebruik nadat die Vigs-epidemie kop uitgesteek het. Volgens ’n hoofartikel in Mayo Clinic Proceedings (September 1988) is “een van die min voordele van die epidemie” dat dit “gelei het tot verskeie strategieë deur pasiënte en geneeshere om bloedoortappings te vermy”. ’n Amptenaar van ’n bloedbank verduidelik: “Wat wel verander het, is die intensiteit van die boodskap, klinici se ontvanklikheid vir die boodskap (weens ’n duideliker besef van die gevare) en die aandrang dat alternatiewe oorweeg word.”—Transfusion Medicine Reviews, Oktober 1989.

Let wel, daar is alternatiewe! Dit word duidelik wanneer ons weer die redes vir bloedoortappings ondersoek.

Die hemoglobien in die rooi selle vervoer suurstof wat nodig is vir goeie gesondheid en lewe. As iemand dus baie bloed verloor het, lyk dit miskien logies om dit eenvoudig te vervang. Gewoonlik het jy ongeveer 14 of 15 gram hemoglobien in elke 100 kubieke sentimeter bloed. (’n Ander manier om die konsentrasie te meet, is om te kyk na die hematokriet, wat gewoonlik ongeveer 45 persent is.) Die aanvaarde “reël” was om ’n pasiënt voor ’n operasie ’n oortapping te gee as sy hemoglobien onder 10 (of 30 persent hematokriet) was. Die Switserse tydskrif Vox Sanguinis (Maart 1987) het berig dat “65% van [narkotiseurs] vereis het dat pasiënte se hemoglobien voor die operasie 10 g/dl moet wees vir opsionele chirurgie”.

Maar by ’n konferensie oor bloedoortappings in 1988 het professor Howard L. Zauder gevra: “Hoe het ons ’n ‘towersyfer’ gekry?” Hy het reguit gesê: “Die etiologie van die vereiste dat ’n pasiënt 10 gram hemoglobien (Hb) moet hê voordat hy narkose ontvang, is gegrond op tradisie, gehul in duisterheid en ongestaaf deur kliniese of eksperimentele bewys.” Stel jou die honderdduisende pasiënte voor wat oortappings ontvang het as gevolg van ’n ‘duistere en ongestaafde’ vereiste!

Sommige mense wonder dalk: ‘Waarom is ’n hemoglobienvlak van 14 normaal as jy met baie minder kan klaarkom?’ Wel, dit beteken dat jy ’n aansienlike hoeveelheid reserwesuurstof het sodat jy gereed is vir oefening of harde werk. Studies van pasiënte met bloedarmoede het selfs getoon dat “dit moeilik is om ’n afname in werkvermoë te bespeur met hemoglobienkonsentrasies wat tot 7 g/dl is. Ander het bewyse gevind van slegs geringe afname in werkverrigting.”—Contemporary Transfusion Practice, 1987.

Volwassenes kan klaarkom met ’n lae hemoglobienvlak, maar wat van kinders? Dr. James A. Stockman III sê: “Op ’n paar uitsonderings na ondervind vroeggebore babas in die eerste maand of drie ’n afname in hemoglobien . . . Die aanwysings vir oortappings op babas is nie duidelik omlyn nie. Dit lyk in werklikheid of baie babas verbasend lae vlakke van hemoglobienkonsentrasie verdra sonder enige ooglopende kliniese probleme.”—Pediatric Clinics of North America, Februarie 1986.

Sulke inligting beteken nie dat niks gedoen hoef te word wanneer iemand baie bloed in ’n ongeluk of gedurende ’n operasie verloor nie. As ’n persoon skielik baie bloed verloor, daal sy bloeddruk, en dit kan lei tot skok. Wat allereers nodig is, is dat die bloeding gestop word en die volume in sy stelsel herstel word. Dit sal help om skok te voorkom en sal die oorblywende rooi selle en ander komponente laat aanhou sirkuleer.

Die volume kan herstel word sonder om heelbloed of bloedplasma te gebruik.a Verskeie bloedlose vloeistowwe is doeltreffende volume-uitdyers. Die eenvoudigste is ’n soutoplossing, wat goedkoop en verenigbaar met ons bloed is. Daar is ook vloeistowwe met spesiale eienskappe, soos dekstran, Haemaccel en Ringer-laktaat. Hetastarch (HES) is ’n nuwer volume-uitdyer, en “dit kan met veiligheid aanbeveel word vir daardie pasiënte [met brandwonde] wat beswaar maak teen bloedprodukte” (Journal of Burn Care & Rehabilitation, Januarie/Februarie 1989). Sulke vloeistowwe hou besliste voordele in. “Kristalloïdale oplossings [soos normale soutoplossings en Ringer-laktaat], Dekstran en HES is betreklik atoksies en goedkoop, geredelik beskikbaar, kan by kamertemperatuur bewaar word, verg geen toetsing vir verenigbaarheid nie en hou nie die gevare in van siektes wat deur oortappings oorgedra word nie.”—Blood Transfusion Therapy—A Physician’s Handbook, 1989.

Maar jy vra moontlik: ‘Waarom werk bloedlose vervangingsvloeistowwe goed as ek dan rooi selle nodig het om suurstof na alle dele van my liggaam te vervoer?’ Soos gemeld is, het jou liggaam reserwemiddele om suurstof te dra. As jy bloed verloor, tree wonderlike kompenserende meganismes in werking. Jou hart pomp meer bloed met elke slag. Omdat die verlore bloed deur ’n geskikte vloeistof vervang is, vloei die bloed, wat nou verdun is, makliker, selfs in die klein vaatjies. As gevolg van chemiese veranderinge word meer suurstof aan die weefsels vrygestel. Hierdie aanpassings is so doeltreffend dat die suurstoftoevoer ongeveer 75 persent normaal kan wees al bly net die helfte van jou rooi selle oor. ’n Pasiënt wat rus, gebruik net 25 persent van die suurstof wat in sy bloed beskikbaar is. En die meeste algemene narkosemiddels verminder die liggaam se behoefte aan suurstof.

HOE KAN DOKTERS HELP?

Bekwame geneeshere kan iemand help wat baie bloed verloor het en dus minder rooi selle het. As die volume eers herstel is, kan dokters ’n hoë konsentrasie suurstof toedien. Dit stel meer daarvan vir die liggaam beskikbaar en het al dikwels merkwaardige resultate meegebring. Britse dokters het hiervan gebruik gemaak met ’n vrou wat soveel bloed verloor het dat “haar hemoglobien tot 1,8 g/dliter gedaal het. Sy is met welslae behandel . . . [met] hoë konsentrasies suurstof en oortappings van groot hoeveelhede van ’n gelatienoplossing [Haemaccel]” (Anaesthesia, Januarie 1987). Die verslag sê ook dat ander met akute bloedverlies met welslae in hoogdruksuurstoftenks behandel is.

Geneeshere kan hul pasiënte ook help om meer rooi selle te vorm. Hoe? Deur vir hulle preparate wat yster bevat (deur die spiere of are) in te gee, wat die liggaam kan help om rooi selle drie tot vier maal vinniger as gewoonlik te vervaardig. Nog ’n hulpmiddel het onlangs beskikbaar gekom. Jou niere vervaardig ’n hormoon genaamd eritropoiëtien (EPO), wat die beenmurg stimuleer om rooi selle te vorm. Sintetiese (herverbinde) EPO is nou beskikbaar. Dokters kan dit aan sommige pasiënte met bloedarmoede gee en hulle sodoende help om baie vinnig nuwe rooi selle te vorm.

Bekwame en pligsgetroue chirurge en narkotiseurs kan selfs tydens chirurgie help deur gevorderde bloedbewaringsmetodes toe te pas. Uiters noukeurige operasietegnieke, soos elektrokouterie om bloeding tot ’n minimum te beperk, kan nie oorbeklemtoon word nie. Bloed wat in ’n wond invloei, kan soms opgesuig, gefiltreer en weer in sirkulasie gebring word.b

Pasiënte wat gekoppel is aan ’n hart-longmasjien wat met ’n bloedlose vloeistof gevul is, kan voordeel trek uit die gevolglike hemoverdunning, aangesien minder rooi selle verlore gaan.

En daar is ander maniere om te help. ’n Pasiënt kan afgekoel word sodat hy tydens chirurgie minder suurstof nodig sal hê. Daar is hipotensiewe narkose. Terapie om stolling te verbeter. Desmopressien (DDAVP) om die bloeityd te verkort. Laser-“skalpels”. Jy sal sien dat die lys langer word namate geneeshere en besorgde pasiënte bloedoortappings probeer vermy. Ons hoop dat jy nooit baie bloed sal verloor nie. Maar as dit wel sou gebeur, sal bekwame dokters jou heel moontlik kan behandel sonder die gebruik van bloedoortappings, wat soveel gevare inhou.

CHIRURGIE, JA—MAAR SONDER OORTAPPINGS

Daar is vandag baie mense wat nie bloed sal aanvaar nie. Om gesondheidsredes verlang hulle wat Getuies hoofsaaklik om godsdiensredes verlang: kwaliteits- mediese behandeling deur die gebruik van alternatiewe bloedlose middels. Soos ons gesien het, is groot operasies steeds moontlik. As jy nog enige twyfelgedagtes koester, sal ander getuienis uit mediese lektuur dit dalk uit die weg ruim.

Die artikel “Viervoudige totale gewrigsvervanging in lid van Jehovah se Getuies” (Orthopaedic Review, Augustus 1986) het vertel van ’n pasiënt met bloedarmoede wat “gevorderde verbrokkeling in albei knieë en heupe” gehad het. Ysterdekstran is voor en na die operasie, wat goed afgeloop het, gebruik. Die British Journal of Anaesthesia (1982) het berig oor ’n 52-jarige Getuie met ’n hemoglobienvlak van minder as 10. Met die gebruik van hipotensiewe narkose om die bloedverlies tot ’n minimum te beperk, het sy ’n algehele heup- en skouervervanging gehad. ’n Chirurgiese span aan die Universiteit van Arkansas (VSA) het ook hierdie metode gebruik in honderd heupvervangings op Getuies, en al die pasiënte het herstel. Die professor aan die hoof van die departement sê: “Wat ons van daardie (Getuie)pasiënte geleer het, pas ons nou op al ons pasiënte toe waar ons die totale heup vervang.”

Die gewete van sommige Getuies laat hulle toe om orgaanoorplantings te aanvaar as dit sonder bloed gedoen word. ’n Verslag oor 13 nieroorplantings het afgesluit: “Die algehele resultate dui daarop dat nieroorplantings veilig en doeltreffend op die meeste Jehovasgetuies gedoen kan word” (Transplantation, Junie 1988). En selfs hartoorplantings is met welslae gedoen ondanks die feit dat die pasiënt bloed geweier het.

‘Wat van ander soorte bloedlose chirurgie?’ wonder jy dalk. Medical Hotline (April/Mei 1983) het vertel dat daar by die Wayne-staatsuniversiteit in die VSA “groot ginekologiese en obstetriese operasies op Jehovah se Getuies uitgevoer is sonder die gebruik van bloedoortappings”. Die nuusbrief het berig: “Daar was nie meer sterfgevalle en komplikasies as wat daar was by vroue wat soortgelyke operasies met bloedoortappings ondergaan het nie.” Die nuusbrief het toe gesê: “As gevolg van hierdie studie is dit dalk nodig om opnuut ondersoek in te stel na die gebruik van bloed vir alle vroue wat obstetriese en ginekologiese operasies ondergaan.”

By die hospitaal van die Universiteit van Göttingen (Duitsland) het 30 pasiënte wat bloed geweier het algemene chirurgie ondergaan. “Geen komplikasies het ontstaan wat nie ook kon ontstaan by pasiënte wat bloedoortappings aanvaar nie. . . . Dat toevlug tot ’n oortapping nie moontlik is nie, moenie oorskat word nie, en behoort derhalwe nie te lei tot die weiering van ’n operasie wat noodsaaklik en chirurgies geregverdig is nie.”—Risiko in der Chirurgie, 1987.

Selfs breinchirurgie is al sonder bloed op talle volwassenes en kinders uitgevoer, byvoorbeeld by die Universiteit van New York se Mediese Sentrum. In 1989 het dr. Joseph Ransohoff, hoof van neurochirurgie, geskryf: “Dit is baie duidelik dat die vermyding van bloedprodukte in die meeste gevalle minimale gevaar inhou vir pasiënte wat weens godsdiensbeginsels teen die gebruik van hierdie produkte gekant is, veral as die operasie onverwyld en met ’n relatief kort operatiewe periode uitgevoer word. Van besondere belang is die feit dat ek dikwels vergeet dat die pasiënt ’n Getuie is totdat hy ontslaan word en my bedank omdat ek sy godsdiensopvattings gerespekteer het.”

Ten slotte, kan ingewikkelde hart- en vaskulêre chirurgie sonder bloed op volwassenes en kinders uitgevoer word? Dr. Denton A. Cooley was ’n baanbreker op dié gebied. Soos jy in die herdrukte mediese artikel in die Aanhangsel, op bladsye 27-9, kan sien, het dr. Cooley, op grond van ’n vroeëre ontleding, tot die slotsom gekom “dat die risiko tydens operasies op pasiënte wat Jehovah se Getuies is nie wesenlik hoër is as dié vir ander nie”. Nou, nadat hy 1 106 van hierdie operasies gedoen het, skryf hy: “In elke geval handhaaf ek my ooreenkoms of kontrak met die pasiënt”, dit wil sê, om geen bloed te gebruik nie.

Chirurge het opgemerk dat ’n goeie gesindheid nog ’n faktor is by Jehovah se Getuies. “Die gesindheid van hierdie pasiënte was voortreflik”, het dr. Cooley in Oktober 1989 geskryf. “Hulle het nie die vrees vir komplikasies of selfs vir die dood wat die meeste pasiënte het nie. Hulle het ’n diep en vaste geloof in hulle godsdiens en in hulle God.”

Dit beteken nie dat hulle ’n reg om te sterf uitoefen nie. Hulle streef daadwerklik kwaliteitsbehandeling na omdat hulle gesond wil word. Hulle is oortuig dat dit verstandig is om God se wet op bloed te gehoorsaam, en hierdie beskouing het ’n positiewe uitwerking op bloedlose chirurgie.

Professor dr. V. Schlosser van die chirurgiese hospitaal aan die Universiteit van Freiburg (Duitsland) het opgemerk: “Daar was nie ’n hoër voorkoms van bloeding tydens die perioperatiewe periode onder hierdie groep pasiënte nie; daar was ewe veel of selfs minder komplikasies. Die besondere beskouing van siekte wat kenmerkend is van Jehovah se Getuies het ’n positiewe uitwerking tydens die perioperatiewe proses gehad.”—Herz Kreislauf, Augustus 1987.

[Voetnote]

a Getuies aanvaar nie oortappings van heelbloed, rooi selle, wit selle, bloedplaatjies of bloedplasma nie. Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1990, bladsye 30-1, wat bloedfraksies, soos immuunglobulien, betref.

b Die Wagtoring van 1 Maart 1989, bladsye 30-1, bespreek Bybelbeginsels wat van toepassing is op metodes van bloedbewaring en die gebruik van toerusting waardeur bloed (buite die liggaam) gesirkuleer word.

[Venster op bladsy 13]

“Ons moet tot die slotsom kom dat daar tans baie pasiënte is wat bloedkomponente ontvang terwyl hulle geensins by ’n oortapping kan baat vind nie (die bloed is nie nodig nie), maar tog die gevaar van ongewenste newe-effekte loop. Geen geneesheer sal ’n pasiënt doelbewus aan ’n terapie blootstel wat hom nie kan help nie maar skade kan doen, en tog is dit presies wat gebeur wanneer bloed onnodig oorgetap word.”—“Transfusion-Transmitted Viral Diseases”, 1987.

[Venster op bladsy 14]

“Sommige skrywers het gesê dat hemoglobienvlakke van selfs 2 tot 2,5 g/100ml. aanvaarbaar kan wees. . . . ’n Gesonde persoon kan 50 persent van die rooibloedselmassa verloor en feitlik geheel en al asimptomaties wees as die bloedverlies oor ’n geruime tyd plaasvind.”—“Techniques of Blood Transfusion”, 1982.

[Venster op bladsy 15]

“Ouer konsepte oor die vervoer van suurstof na weefsel, wondgenesing en ‘voedingswaarde’ van bloed word deesdae laat vaar. Ondervinding met pasiënte wat Jehovah se Getuies is, toon dat ernstige bloedarmoede goed deurstaan word.”—“The Annals of Thoracic Surgery”, Maart 1989.

[Venster op bladsy 16]

Klein kindertjies ook? “Agt-en-veertig pediatriese opehartoperasies is met bloedlose tegnieke uitgevoer, ongeag die chirurgiese kompleksiteit.” Die operasies is selfs op klein kindertjies van net 4,7 kilogram uitgevoer. “Weens die konsekwente sukses met Jehovah se Getuies en die feit dat bloedoortappings die gevaar van ernstige komplikasies inhou, doen ons tans die meeste van ons pediatriese hartoperasies sonder oortappings.”—“Circulation”, September 1984.

[Prent op bladsy 15]

Die hart-longmasjien is ’n groot hulp in hartchirurgie op pasiënte wat nie bloed wil hê nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel