Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 26 bl. 171-176
  • God se heilige geheim—Sy glorieryke klimaks!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se heilige geheim—Sy glorieryke klimaks!
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah neem sy krag op
  • Wee die verderwers!
  • Aanskou die ark van sy verbond!
  • Jehovah se plae oor die Christendom
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Die uur van God se oordeel het gekom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Engeleboodskappe vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Bybelboek nommer 66—Openbaring
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 26 bl. 171-176

Hoofstuk 26

God se heilige geheim—Sy glorieryke klimaks!

1. (a) Hoe lig Johannes ons in dat die heilige geheim tot ’n einde gebring word? (b) Waarom praat die engeleskare hard?

ONTHOU jy die sterk engel se geswore verklaring wat in Openbaring 10:1, 6, 7 opgeteken is? Hy het gesê: “Daar sal geen uitstel meer wees nie; maar in die dae wanneer die sewende engel homself laat hoor, wanneer hy op die punt staan om op sy trompet te blaas, word die heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus wat hy aan sy eie slawe, die profete, bekend gemaak het, inderdaad tot ’n einde gebring.” Jehovah se bestemde tyd het aangebreek waarin daar op hierdie finale trompet geblaas moet word! Hoe word die heilige geheim dan tot ’n einde gebring? Johannes is werklik verheug om ons in te lig! Hy skryf: “En die sewende engel het op sy trompet geblaas. En daar het harde stemme in die hemel gekom wat sê: ‘Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers’” (Openbaring 11:15). Hierdie engeleskare het rede om hard te praat, selfs met dawerende stemme! Want hierdie geskiedkundige aankondiging is van universele belang. Dit is lewensbelangrik vir die ganse lewende skepping.

2. Wanneer en met watter gebeurtenis word die heilige geheim tot ’n triomfantlike einde gebring?

2 Die heilige geheim bereik sy gelukkige klimaks! Glorieryk, luisterryk word dit in 1914 tot ’n triomfantlike einde gebring wanneer die Here Jehovah sy Christus as mede-Koning op die troon plaas. Jesus Christus, wat namens sy Vader optree, neem aktiewe heerskappy oor te midde van ’n vyandige mensewêreld. As die beloofde Saad ontvang hy Koninkryksmag om die Slang en sy gebroedsel uit te wis en paradysagtige vrede op hierdie aarde te herstel (Genesis 3:15; Psalm 72:1, 7). As Messiaanse Koning sal Jesus sodoende Jehovah se Woord vervul en sy Vader, “die Koning van die ewigheid”, wat “vir ewig en altyd” as Soewereine Heer moet regeer, regverdig.—1 Timoteus 1:17.

3. Waarom het Jehovah God, hoewel hy nog altyd Koning was, toegelaat dat ander soewereiniteite op die aarde bestaan?

3 Maar hoe het “die koninkryk van die wêreld . . . die koninkryk van ons Here”, Jehovah, geword? Was Jehovah God dan nie nog altyd Koning nie? Hy was, want die Leviet Asaf het gesing: “God [is] van lankal af my Koning.” En ’n ander psalmis het gesê: “Jehovah het koning geword! . . . U troon is stewig gevestig van ouds af; van onbepaalde tyd af is u” (Psalm 74:12; 93:1, 2). In sy wysheid het Jehovah egter toegelaat dat ander soewereiniteite op die aarde bestaan. Só is die geskil wat in Eden geopper is, naamlik of die mens homself sonder God kan regeer, ten volle uitgetoets. Menseheerskappy het jammerlik misluk. Die woorde van God se profeet is inderdaad waar: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Sedert die ontrouheid van ons eerste ouers is die hele bewoonde aarde onder die oorheersing van “die oorspronklike slang”, Satan (Openbaring 12:9; Lukas 4:6). Dit is nou tyd vir ’n dramatiese verandering! Om sy regmatige posisie te regverdig, begin Jehovah sy soewereiniteit oor die aarde op ’n nuwe manier uitoefen, naamlik deur sy aangewese Messiaanse Koninkryk.

4. Wat is na vore gebring toe die trompette in 1922 begin weerklink het? Verduidelik.

4 Toe die sewe trompette in 1922 begin weerklink het, was daar gedurende die Bybelstudente se byeenkoms in Cedar Point, Ohio, ’n toespraak deur J. F. Rutherford wat gebaseer was op die teks: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Hy het met hierdie woorde afgesluit: “Keer dan terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! Gord julle wapenrusting aan! Wees nugter, wees waaksaam, wees bedrywig, wees dapper. Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat die laaste deel van Babilon verwoes is. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning regeer! Julle is sy reklameagente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” God se Koninkryk deur Christus Jesus is na vore gebring, en dit het die groot golf van Koninkryksverkondiging aan die gang gesit wat die oordele ingesluit het wat met die geluid van elkeen van die sewe engele se trompette aangekondig is.

5. Wat het in 1928 by die Bybelstudente se byeenkoms gebeur wat die sewende trompetstoot beklemtoon het?

5 Die trompetstoot van die sewende engel is weerspieël in hoogtepunte van die Bybelstudente se byeenkoms van 30 Julie tot 6 Augustus 1928 in Detroit, Michigan. By hierdie geleentheid was 107 uitsaaistasies gekoppel aan wat The New York Times ‘die omvattendste en duurste koppeluitsending in die geskiedenis’ genoem het. Die byeenkomsgangers het geesdriftig ’n kragtige “Verklaring teen Satan en vir Jehovah” aangeneem, wat die aandag gevestig het op die omverwerping, by Armageddon, van Satan en sy bose organisasie en die bevryding van almal wat regverdigheid liefhet. Lojale onderdane van God se Koninkryk was verheug om by hierdie byeenkoms ’n nuwe publikasie te ontvang, die boek Government, met 368 bladsye. Dit het die allerduidelikste bewyse voorsien “dat God sy Gesalfde Koning in 1914 op sy troon geplaas het”.

Jehovah neem sy krag op

6. Hoe beskryf Johannes die aankondiging dat Christus in God se Koninkryk op die troon geplaas is?

6 Christus is in God se Koninkryk op die troon geplaas—watter vreugde bring hierdie aankondiging tog mee! Johannes vertel: “En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone gesit het, het op hulle gesig geval en God aanbid en gesê: ‘Ons dank u, Jehovah God, die Almagtige, die Een wat is en wat was, want u het u groot krag opgeneem en as koning begin heers.’”—Openbaring 11:16, 17.

7. Hoe is dank aan Jehovah God betuig (a) deur die oorblyfsel van die simboliese 24 ouderlinge op die aarde? (b) deur die lede van die simboliese 24 ouderlinge wat na hulle posisie in die hemel opgewek is?

7 Die persone wat hierdie dank aan Jehovah God bring, is die 24 ouderlinge, wat die gesalfde broers van Christus in hulle hemelse posisie simboliseer. Van 1922 af het ’n oorblyfsel van hierdie 144 000 gesalfdes op die aarde die werk aangepak wat deur die trompette aan die gang gesit is. Hulle het die volle betekenis van die teken in Matteus 24:3–25:46 besef. Maar selfs vroeër in die dag van die Here is hulle medegetuies wat reeds “tot in die dood getrou” was, opgewek om hulle posisie in die hemel in te neem, sodat hulle nou die hele groep van 144000 kan verteenwoordig wanneer hulle op hulle gesig val om hulde aan Jehovah te bewys (Openbaring 1:10; 2:10). Hoe dankbaar is hulle almal tog dat hulle Soewereine Heer nie getalm het om sy heilige geheim tot ’n beslissende einde te bring nie!

8. (a) Watter uitwerking het dit op die nasies wanneer daar op die sewende trompet geblaas word? (b) Teen wie het die nasies aan hulle gramskap uiting gegee?

8 Wanneer daar op die sewende trompet geblaas word, bring dit daarenteen geen vreugde vir die nasies nie. Die tyd het aangebreek vir hulle om Jehovah se gramskap te ondervind. Soos Johannes vertel: “Maar die nasies se gramskap het ontvlam, en u eie gramskap het gekom, en die vasgestelde tyd vir die dooies om geoordeel te word en om aan u slawe, die profete, en aan die heiliges en aan dié wat u naam vrees, klein en groot, hulle beloning te gee, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Van 1914 af het die nasies van die wêreld verwoed uiting gegee aan hulle gramskap teen mekaar, teen God se Koninkryk en veral teen Jehovah se twee getuies.—Openbaring 11:3.

9. Hoe het die nasies die aarde verderf, en wat het God besluit om daaromtrent te doen?

9 Deur die geskiedenis heen het die nasies die aarde verderf deur hulle onophoudelike oorlogvoering en wanbestuur. Maar hierdie verderwing het sedert 1914 onrusbarend toegeneem. Hebsug en korrupsie het uitbreidende woestyne en ’n ontsaglike verlies van vrugbare grond tot gevolg gehad. Suurreën en radioaktiewe wolke het groot gebiede beskadig. Voedselbronne is besoedel. Die lug wat ons inasem en die water wat ons drink, is besmet. Nywerheidsafval bedreig lewe op land en in die see. Op een stadium het die supermoondhede gedreig om alles te verderf deur die hele mensdom met kernwapens uit te wis. Gelukkig sal Jehovah “die verderwers van die aarde . . . verderf”; hy sal oordeel voltrek aan die verwaande, goddelose mense wat verantwoordelik is vir die jammerlike toestand van die aarde (Deuteronomium 32:5, 6; Psalm 14:1-3). Jehovah reël gevolglik die derde wee, sodat rekenskap van hierdie kwaaddoeners geëis kan word.—Openbaring 11:14.

Wee die verderwers!

10. (a) Wat is die derde wee? (b) In watter sin bring die derde wee meer as pyniging?

10 Hier is dan die derde wee. Dit kom gou! Dit is Jehovah se middel om dié te verderf wat sy “voetbank”, hierdie pragtige aarde waarop ons woon, skend (Jesaja 66:1). Dit word aan die gang gesit deur die Messiaanse Koninkryk—die heilige geheim van God. God se vyande, en die Christendom se leiers in die besonder, is deur die eerste twee weë gepynig—hoofsaaklik deur middel van die sprinkaanplaag en die leërs van ruiters; maar die derde wee, wat deur Jehovah se Koninkryk self toegedien word, bring meer as pyniging (Openbaring 9:3-19). Dit gee die doodslag deur heeltemal ontslae te raak van ’n verderflike mensegemeenskap en sy heersers. Dit sal kom as die klimaks van Jehovah se oordeel by Armageddon. Dit is net soos Daniël geprofeteer het: “En in die dae van dié konings [heersers wat die aarde verderf] sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.” God se Koninkryk sal soos ’n indrukwekkende berg regeer oor ’n aarde wat verheerlik is; dit sal Jehovah se soewereiniteit regverdig en ewige vreugde vir die mensdom bring.—Daniël 2:35, 44; Jesaja 11:9; 60:13.

11. (a) Watter voortgesette reeks vreugdevolle gebeure beskryf die profesie? (b) Watter onverdiende goedhartigheid word verwesenlik, hoe, en deur wie?

11 Die derde wee gaan gepaard met ’n voortgesette reeks vreugdevolle gebeure wat progressief deur die dag van die Here sal plaasvind. Dit is die tyd ‘vir die dooies om geoordeel te word en vir God om aan sy slawe, die profete, en aan die heiliges en aan dié wat sy naam vrees, hulle beloning te gee’. Dit beteken ’n opstanding uit die dode! Vir die gesalfde heiliges wat reeds gesterf het, vind dit vroeg in die dag van die Here plaas (1 Tessalonisense 4:15-17). Die oorblywende heiliges sluit mettertyd by hulle aan deur ’n oombliklike opstanding. Ander sal ook beloon word, insluitende God se slawe, die profete van die ou tyd, en alle ander mense wat Jehovah se naam vrees, hetsy hulle van die groot menigte is wat die groot verdrukking oorleef of van “die dooies, groot en klein,” wat gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy opgewek word. Aangesien God se Messiaanse Koning die sleutels van die dood en van Hades het, maak sy Koninkryksheerskappy dit vir hom moontlik om ewige lewe te gee aan almal wat hierdie kosbare gawe nastreef (Openbaring 1:18; 7:9, 14; 20:12, 13; Romeine 6:22; Johannes 5:28, 29). Hierdie gawe van lewe, hetsy dit onsterflike lewe in die hemele of ewige lewe op die aarde is, is ’n onverdiende goedhartigheid van Jehovah, waarvoor elke ontvanger ewig dankbaar kan wees!—Hebreërs 2:9.

Aanskou die ark van sy verbond!

12. (a) Wat sien Johannes volgens Openbaring 11:19 in die hemel? (b) Waarvan was die verbondsark ’n simbool, en wat het daarmee gebeur nadat Israel in ballingskap na Babilon weggevoer is?

12 Jehovah regeer! Deur middel van sy Messiaanse Koninkryk oefen hy sy soewereiniteit op ’n wonderlike manier teenoor die mensdom uit. Dit word bevestig deur wat Johannes vervolgens sien: “En die tempelheiligdom van God wat in die hemel is, is oopgemaak, en die ark van sy verbond is in sy tempelheiligdom gesien. En daar het weerligstrale en stemme en donderslae en ’n aardbewing en ’n groot hael gekom” (Openbaring 11:19). Dit is die enigste keer dat die ark van God se verbond in Openbaring gemeld word. Die Ark was die sigbare simbool van Jehovah se teenwoordigheid by sy volk Israel. In die tabernakel, en later in die tempel wat deur Salomo gebou is, is dit in die Allerheiligste gehou. Maar toe Israel in 607 v.G.J. in ballingskap na Babilon weggevoer is, is Jerusalem verwoes en het die verbondsark verdwyn. Dit was toe dat verteenwoordigers van die huis van Dawid opgehou het ‘om as koning op Jehovah se troon te sit’.—1 Kronieke 29:23.a

13. Wat word aangedui deur die feit dat die ark van God se verbond in die hemelse heiligdom van God gesien word?

13 Nou, ná meer as 2 600 jaar, word die Ark weer gesien. Maar in Johannes se visioen is hierdie Ark nie in ’n aardse tempel nie. Dit verskyn in die hemelse heiligdom van God. Jehovah regeer weer eens deur middel van ’n koning in die koninklike lyn van Dawid. Maar hierdie keer sit die Koning, Christus Jesus, op die troon in die hemelse Jerusalem—die verhewe posisie van waar hy Jehovah se oordele voltrek (Hebreërs 12:22). Die volgende hoofstukke van Openbaring sal hierdie oordele aan ons openbaar.

14, 15. (a) Alleenlik wie kon die verbondsark in eertydse Jerusalem sien, en waarom? (b) Wie sien die ark van God se verbond in sy hemelse tempelheiligdom?

14 In eertydse aardse Jerusalem het die gewone Israeliete, en selfs die priesters wat in die tempel gedien het, nie die Ark gesien nie, want dit was in die Allerheiligste wat deur ’n voorhangsel van die Heilige afgeskerm is (Numeri 4:20; Hebreërs 9:2, 3). Net die hoëpriester het dit gesien wanneer hy op die jaarlikse Versoendag in die Allerheiligste ingegaan het. Maar wanneer die tempelheiligdom in die hemele oopgemaak word, is die simboliese ark nie net vir Jehovah se Hoëpriester, Jesus Christus, sigbaar nie, maar ook vir sy onderpriesters, die 144 000, wat Johannes insluit.

15 Daardie eerste gesalfdes wat na die hemel opgewek is, sien hierdie simboliese ark van naby, want hulle het hulle plek as deel van die 24 ouderlinge rondom Jehovah se troon ingeneem. En die Johannes-klas op die aarde is deur Jehovah se gees verlig sodat hulle Sy teenwoordigheid in Sy geestelike tempel kan onderskei. Daar was ook tekens om die mensdom oor hierdie wonderlike verwikkeling in te lig. Johannes se visioen praat van weerligstrale, stemme, donderslae, ’n aardbewing en hael. (Vergelyk Openbaring 8:5.) Wat simboliseer dit?

16. Hoe was daar weerligstrale, stemme, donderslae, ’n aardbewing en ’n groot hael?

16 Sedert 1914 het ’n groot omwenteling in die godsdienswêreld plaasgevind. Maar gelukkig het hierdie “aardbewing” gepaardgegaan met toegewyde stemme wat ’n duidelike boodskap oor God se opgerigte Koninkryk verkondig het. Dawerende ‘stormwaarskuwings’ uit die Bybel is verkondig. Soos weerligstrale is strale van insig ten opsigte van God se profetiese Woord gesien en bekend gemaak. ’n Groot “hael” van goddelike oordele is oor die Christendom en valse godsdiens oor die algemeen losgelaat. Al hierdie dinge moes mense se aandag getrek het. Maar ongelukkig het die meeste—soos die mense van Jerusalem in Jesus se tyd—nie die vervulling van hierdie tekens in Openbaring onderskei nie.—Lukas 19:41-44.

17, 18. (a) Watter verantwoordelikheid het die sewe engele se trompetstote vir toegewyde Christene meegebring? (b) Hoe voer Christene hulle opdrag uit?

17 Die sewe engele gaan voort om op hulle trompette te blaas en geskiedkundige gebeure hier op die aarde aan te kondig. Toegewyde Christene het ’n groot verantwoordelikheid om hierdie aankondigings aan die wêreld te bly verkondig. Hoe blymoedig voer hulle tog hierdie opdrag uit! Dit blyk uit die feit dat hulle in die 20 jaar van 1986 tot 2005 die aantal ure wat hulle jaarliks aan die bediening bestee het, byna verdubbel het—van 680 837 042 tot 1 278 235 504. “Die heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus” word waarlik “tot aan die eindes van die bewoonde aarde” bekend gemaak.—Openbaring 10:7; Romeine 10:18.

18 Ander visioene lê nou vir ons voor terwyl God se Koninkryksvoornemens verder geopenbaar word.

[Voetnote]

a Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus berig dat toe Jerusalem in 63 v.G.J. verower is en Cneius Pompeius in die tempelheiligdom ingegaan het, hy dit leeg aangetref het. Daar was geen verbondsark daarin nie.—Tacitus History, 5.9.

[Venster op bladsy 173]

Hoogtepunte van Jehovah se trompetagtige oordeelsboodskappe

1. 1922 Cedar Point, Ohio: ’n Uitdaging aan die Christendom se godsdiens-, politieke en handelsleiers om ’n verklaring te gee vir hulle versuim om vrede, voorspoed en geluk te bewerkstellig. Die Messias se Koninkryk is die geneesmiddel.

2. 1923 Los Angeles, Kalifornië: Die openbare toespraak, “Alle nasies ruk op na Armageddon, maar daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, het ’n beroep gedoen op vredeliewende “skape” om die dodelike see van die mensdom te verlaat.

3. 1924 Columbus, Ohio: Die geestelikes word aangekla van selfverheffing en weiering om die Messias se Koninkryk te verkondig. Ware Christene moet God se wraak verkondig en die treurende mensdom vertroos.

4. 1925 Indianapolis, Indiana: ’n Boodskap van hoop wat die geestelike duisternis in die Christendom kontrasteer met die helder Koninkryksbelofte van vrede, voorspoed, gesondheid, lewe, vryheid en ewige geluk.

5. 1926 Londen, Engeland: ’n Sprinkaanagtige plaag oor die Christendom en haar geestelikes, wat hulle verwerping van God se Koninkryk blootlê en die geboorte van hierdie hemelse regering begroet.

6. 1927 Toronto, Kanada: ’n Uitnodiging, as ’t ware deur leërs van ruiters gedra, wat ’n beroep doen op mense om ‘die georganiseerde Christelike godsdiens’ te verlaat en hartgrondige trou aan Jehovah God en aan sy Koning en Koninkryk te gee.

7. 1928 Detroit, Michigan: ’n Verklaring teen Satan en vir Jehovah, wat dit duidelik stel dat God se gesalfde Koning, wat in 1914 op die troon geplaas is, Satan se bose organisasie sal vernietig en die mensdom sal bevry.

[Venster op bladsy 175]

Die verderwing van die aarde

“Elke drie sekondes verdwyn ’n stuk van die oorspronklike reënwoud so groot soos ’n sokkerveld. . . . Die verlies van primêre woude vernietig duisende plant- en diersoorte.”—Illustrated Atlas of the World (Rand McNally).

“In twee eeue van kolonisasie het [die Groot Mere] ook die wêreld se grootste riool geword.”—The Globe and Mail (Kanada).

In April 1986 was ’n ontploffing en brand by ’n kernkragaanleg in Tsjernobil, USSR, “die belangrikste kerngebeurtenis . . . sedert die bomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki”, en dit het “net soveel langtermynstraling in die wêreld se lug, bogrond en water [vrygestel] as al die kerntoetse en -bomme wat ooit ontplof het”.—JAMA; The New York Times.

In Minamata, Japan, het ’n chemiese aanleg metielkwik in die baai gestort. Die eet van vis en skulpvis wat deur die storting besmet is, het gelei tot Minamata-siekte (MS), ’n “chroniese neurologiese siekte. . . . Tot op hede [1985] is daar amptelik bevestig dat 2 578 mense dwarsdeur Japan MS het.”—International Journal of Epidemiology.

[Venster op bladsy 176]

Die gewigtige aankondigings in Openbaring 11:15-19 is ’n voorspel tot die visioene wat volg. Openbaring hoofstuk 12 is ’n terugflits wat breedvoerig uitwei oor die groot aankondigings in Openbaring 11:15, 17. Hoofstuk 13 skilder die agtergrond van 11:18 deur die oorsprong en ontwikkeling van Satan se politieke organisasie wat die aarde verderf het, te beskryf. Hoofstukke 14 en 15 voorsien besonderhede oor verdere Koninkryksoordele wat met die sewende trompetstoot en die derde wee verband hou.

[Prente op bladsy 174]

Jehovah sal “die verderwers van die aarde . . . verderf”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel