Hoofstuk 22
Die God van die “Vredevors” word “alles vir almal”
1. Waarin stel Jesus Christus vir alle ander skepsele in die hemel en op aarde ’n voorbeeld?
KORT na sy opstanding het die “Vredevors” vir een van sy dissipels gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:17). Met daardie woorde het hy erken dat sy hemelse Vader ook sy God is, die enigste Een wat hy aanbid het. In sodanige aanbidding het hy vir alle ander skepsele in die ganse hemel en aarde ’n voorbeeld gestel.
2, 3. (a) Hoe beskryf 1 Korinthiërs 15:24-26, 28 Jesus se besondere daad van onderworpenheid aan sy Vader? (b) Wat sal die wonderlike resultaat wees?
2 Watter wonderlike voorbeeld sal die “Vredevors” tog vir die ganse volmaakte mensdom word wanneer hy hom op ’n besondere wyse lojaal onderwerp aan die Een wat die ideale Soewerein van die ganse heelal is! Dit sal op ongeëwenaarde wyse geopenbaar word aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy oor die mensdom, wanneer hy vrede, veiligheid en harmonie oor die hele aarde herstel het. In ’n onfeilbare profesie word ons hiervan verseker:
3 “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. . . . En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees” (1 Korinthiërs 15:24-26, 28). Of soos The Amplified Bible die laaste deel van vers 28 weergee: “Sodat God alles in almal kan wees—dit wil sê, alles vir almal, oppermagtig, die inwonende en beherende lewensfaktor.”
4. (a) Hoe sal die aarde se bewoners op die voorbeeld van hulle Pleegvader reageer? (b) Watter nuwe aspek van onderdanigheid sal dan bestaan?
4 Wanneer die “Vredevors” die Koninkryk aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy aan sy God oorgee, sal die aarde se bewoners bewus gemaak word van hierdie daad van hulle Pleegvader. Met hom as hulle koninklike Voorbeeld sal hulle hulle eweneens in ’n nuwe aspek aan die allerhoogste God onderwerp. Vir die eerste keer sal hulle nou regstreeks liefdevolle onderdanigheid aan Jehovah betoon, ja, aanbidding, in alle opregtheid en waarheid, sonder om langer Jesus se priesterlike dienste nodig te hê, selfs nie eens wanneer hulle bid nie.
5. Wat sal die gesindheid van die 144 000 medekonings van Jesus Christus wees?
5 Sodoende word die allerhoogste God weer Koning van die ganse heelal met geen koninklike verteenwoordiger vir hom in die hemel of op aarde nie. Dit volg dat die 144 000 medekonings wat Jesus Christus van die aarde vrygekoop het ook die knie voor die oppermagtige, koninklike Heerser sal buig en hom in hierdie bykomende sin as die Universele Soewerein sal erken.
Die finale toets vir die hele mensdom
6. (a) Wat sal gedurende Jesus se Duisendjarige Heerskappy met ongehoorsame mense gebeur? (b) In watter toestand sal diegene wees wat Jesus aan sy hemelse Vader oorgee?
6 Omdat Jesus Christus Jehovah as die Opperregter erken, wil hy graag hê dat die broodnodige goddelike goedkeuring uitgespreek moet word oor die werk wat hy gedurende sy Duisendjarige Heerskappy verrig het. Gedurende daardie bewind is die mense wat geweier het om hulle na die vereistes van geregtigheid te skik en wat aan die Koning ongehoorsaam was, vernietig. Diegene wat Jesus Christus aan Jehovah God, die finale Regter, oorgee, sal gevolglik die gehoorsames wees wat menslike volmaaktheid bereik het.
7. (a) Wat sal grondig beproef word nadat Jesus die Koninkryk teruggegee het? (b) Hoe sal die volmaakte mensdom aan daardie toets onderwerp word?
7 Dan is dit tyd om die duursaamheid van menslike toewyding teenoor die Universele Soewerein, Jehovah God, te beproef. Soos in die geval van Job is die vraag: Het hulle God lief en aanbid hulle hom slegs vanweë al die goeie dinge wat hy vir hulle gedoen het, of het hulle hom lief oor wat hy wesenlik is—die regmatige Soewerein van die heelal? (Job 1:8-11). Maar hoe sal die volmaakte mensdom se hartetrou beproef word? Die Bybel antwoord: Satan die Duiwel en sy demone sal “’n kort tydjie” ontbind word uit die afgrond waarin hulle ’n duisend jaar lank opgesluit was (Openbaring 20:3). Deur die Duiwel toe te laat om die herstelde mensdom op die proef te stel, kan die lede van die volmaakte mensdom se individuele onkreukbaarheid teenoor God in ’n volmaakte sin beproef word.—Vergelyk Job 1:12.
8. (a) Wat sal Satan en sy demone probeer doen nadat hulle uit die afgrond vrygelaat is? (b) Watter weg sal diegene inslaan wat toelaat dat die Duiwel en sy demone hulle mislei?
8 Seweduisend jaar tevore het Satan die Duiwel daarin geslaag om volmaakte Adam en Eva oor te haal om te sondig deur ’n selfsugtige weg in te slaan. Die Skrif sê nie watter versoekingsmetodes Jehovah Satan en die demone sal toelaat om te gebruik nadat hulle uit die afgrond vrygelaat is nie. Maar selfsugtigheid en ’n begeerte na onafhanklikheid van God sal ongetwyfeld uitgebuit word. Daar die Duiwel steeds self ’n rebel teen Jehovah se soewereiniteit is, sal hy daarop uit wees om ook rebelle van die mensdom te maak. Presies in watter mate hierdie vrygelate demonmagte welslae sal behaal, word nie gesê nie, maar daar sal genoeg menserebelle wees om die indruk van ’n groot menigte te skep. Enige sonde aan die kant van mense, wat dan almal volmaak sal wees, sal met bewustheid gedoen word en gevolglik opsetlik, moedswillig, wees. Dit sal aandui dat daar van die aanbidding van die enigste ware en lewende God afgewyk is en dat Satan die Duiwel se kant gekies word (Openbaring 20:7, 8). In die geval van hierdie opstandiges word Jehovah gevolglik nie “alles vir almal” nie.
9. (a) Wat sal gebeur met diegene wat nie hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah God bewaar nie? (b) Hoe sal die onsigbare ryk van alle rebelle bevry word? (c) Watter wonderlike toestand sal dan dwarsdeur die hemel en dwarsoor die aarde heers?
9 Die lojale mense weier egter om te swig voor die argumente en druk van die misleide, nasionalistiese persone. Sonder om te huiwer verkies die lojale mense dat Jehovah in hulle geval “alles vir almal” is. Om geregtigheidsonthalwe moet Jehovah se soewereiniteit streng gehandhaaf word. Al die rebelle op aarde wat deur Satan beïnvloed is, sal gevolglik vir ewig uitgewis word. En dankie tog daarvoor! Die onsigbare ryk van die skepping moet ook van alle rebelle bevry word. Om die universele suiwering te voltooi, sal Satan die Duiwel en sy hele demonhorde vernietig, uitgewis word. Sodoende sal die hemele en die aarde van elke spoor van sonde gereinig word (Openbaring 20:9, 10). Jehovah se heiligheid sal oral heers. (Vergelyk Sagaria 14:20.) Die heerlike naam van die allerhoogste God sal in die hemel en op aarde geheilig word. Almal wat in die hemel en op aarde woon, sal Sy opperwil vreugdevol doen.
10. In watter opsigte sal die aarde tot in alle ewigheid ’n onderskeiding geniet wat geen ander planeet geniet nie?
10 Tot in alle ewigheid sal ons aarde ’n onderskeiding geniet wat geen ander planeet in die eindelose ruimte sal geniet nie, hoewel die aarde moontlik nie die enigste planeet sal wees wat ooit bewoon word nie. Dit sal uniek wees as die plek waar Jehovah sy universele soewereiniteit onteenseglik geregverdig en ’n ewige en universele, wetlike presedent geskep het. Dit sal die enigste planeet wees waarop Jehovah van die leërskare “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” gevoer het. Dit sal die enigste planeet wees waarheen God sy dierbaarste Seun gestuur het om ’n mens te word en te sterf om die planeet se bewoners van sonde en die dood te red. Dit sal die enigste planeet wees vanwaar Jehovah 144 000 van sy bewoners geneem het om “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” te wees.—Romeine 8:17.
Serafs, gerubs, engele
11, 12. (a) Watter soort geesskepsele het Jesaja in ’n gesig gesien? (b) Watter belangstelling het hulle in mense?
11 God, die glorieryke Bron van die ganse skepping, hemels en aards, sal nie alleen vir die 144 000 erfgename saam met Christus “alles” word nie, maar ook vir ander in die hemelryk. In hoofstuk 6 van die boek Jesaja kry ons ’n vlugtige blik op die hemelse howe. Daar lees ons: “Ek [het] die Here sien sit op ’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!”—Jesaja 6:1-3.
12 Hoe hoog begunstig was Jesaja tog nie om die allerheiligste Persoon in die ganse heelal op sy hemelse troon te sien sit terwyl glorieryke serafs hom dien nie! Watter ontsagwekkende gesig was dit tog nie! Dit het getoon watter hoog begunstigde posisie daardie serafs beklee, want Hy is die allerheiligste Persoon wie se heiligheid hulle geloof het deur dit op drievoudige wyse te beklemtoon. Die serafs stel daarin belang om Jehovah se aanbidders te help om heilig te wees soos God heilig is.—Jesaja 6:5-7.
13. (a) Watter ander soort geesskepsele openbaar die Bybel aan ons? (b) Wat is Jehovah se verhouding tot hulle?
13 Net soos daar ’n verskeidenheid lewensvorme hier op aarde is, iets wat van Jehovah God se krag getuig, is daar ook wesens van ’n ander aard in die geesteryk. Die Bybel openbaar dat dit die glorieryke gerubs is, en hulle moet baie vinnig kan vlieg. (Psalm 18:11; vergelyk Hebreërs 9:4, 5.) Nadat Adam en Eva teen die heilige God van die hemel gesondig het deur die verbode vrug te eet, deel Genesis 3:24 ons mee dat die Skepper gerubs en “die swaard wat vlam en flikker” aan die oostekant van die ingang tot die Paradys van genot gestel het. Daar word gesê dat Jehovah ‘op die gerubs sit’ (Psalm 99:1, NW; Jesaja 37:16). Dit toon dat hy bo-oor die gerubs troon.
14. (a) Watter ander soort geesskepsel moet ons nie vergeet nie? (b) Hoe talryk is hulle?
14 Wanneer ons aan die mag der menigte geesskepsele dink, moet ons nie die engele vergeet nie. Daar is miljoene van hulle (Daniël 7:9, 10). Onder hulle is daar die engele met die toewysing om Jehovah se aanbidders op aarde te dien. Jesus het gewaarsku dat niemand enige van Jehovah se aanbidders moet laat struikel nie aangesien “hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 18:10; Hebreërs 1:14). Watter voorreg het die engele tog nie gehad om in die maer, honger Jesus se fisiese behoeftes te voorsien nadat hy 40 dae in die woestyn gevas het en nadat hy die Duiwel se drie kritieke versoekings seëvierend weerstaan het nie!—Mattheüs 4:11.
15, 16. (a) Beskryf die gesinseenheid wat in die hemel en op aarde sal bestaan. (b) Watter beloning sal die volmaakte mense wat in die toets geslaag het van Jehovah ontvang? (c) Hoe sal Jehovah die volbrenging van sy oorspronklike voorneme beskou?
15 In die hemelryk daar bo sal die glorieryke geesbewoners mekaar se broers wees, terwyl die vervolmaakte mensegesin hier onder op die aarde mekaar se broers en susters gemaak sal word. Hulle sal na die beeld en gelykenis van God wees in die wonderlike mate wat Adam en Eva, vars uit die skeppingshande van Jehovah God, na die ‘beeld en gelykenis’ van hulle Skepper was (Genesis 1:26, 27). Nadat hulle in die finale toets geslaag het, sal die volmaakte mense die reg gegee word om vir ewig te lewe en sal hulle liefdevol aangeneem word as “die kinders van God” wat hulle in heerlike vryheid verheug, en ’n deel word van Jehovah se verenigde gesin in die hemel en op aarde.—Romeine 8:21.
16 Met watter genot en opgetoënheid in sy hele wese sal Jehovah God tog die volbrenging van sy oorspronklike voorneme aanskou—die ongeëwenaarde prestasie om alles volgens sy oorspronklike besluit te hê—alle skepsele in onverbreeklike, liefdevolle eenheid met hom!
17. Wat sal almal in die lig hiervan wil doen, in ooreenstemming met die woorde van die psalmis?
17 Wie sal, in die lig hiervan, dan nie hierdie wonderlike, doelbewuste God wil seën nie? Dit was nie onvanpas van die psalmis om die volgende woorde tot bomenslike skepsele te rig nie: “Loof [Jehovah], sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof [Jehovah], al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!”—Psalm 103:20, 21, vgl. NW.
18. Hoe sluit die psalmis die boek Psalms af?
18 Die opgetoë, geïnspireerde psalmis sluit die boek Psalms met hierdie aansporing af: “Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel! Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid! Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!”—Psalm 150:1-6.
19. (a) In watter band sal die heelal dan verenig wees? (b) Wat sal alle intelligente skepsele in werklikheid sê?
19 Die ganse heelal sal uiteindelik verenig wees in ’n volmaakte band wat vir ewig sal hou, die band van die enige aanbidding van die hemelse Vader omdat sy kinders hom bo alles en almal liefhet en vereer. Ja, dan sal alle intelligente skepsele in werklikheid sê soos die serafs gesê het: “Heilig, heilig, heilig is [Jehovah] van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” Dan sal die God van die “Vredevors” inderdaad “alles vir almal” geword het—vir ewig en altyd.
[Prent op bladsy 188, 189]
Die ganse heelal sal verenig wees in die vreedsame aanbidding van die Universele Soewerein