Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 13 bl. 142-151
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hou die huwelik in alle opsigte eerbaar
  • Aanvaar God se beskouing van egskeiding
  • Vermy wyslik alle onreinheid en seksuele hebsug
  • Jou beskouing het ’n wesenlike invloed op jou vrede en veiligheid
  • Eer die goddelike huweliksreëling!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Seks
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 13 bl. 142-151

Hoofstuk 13

Jou beskouing van seks—Maak dit saak?

1-3. (a) Hoe toon die Bybel dat geslagsomgang tussen man en vrou God se goedkeuring wegdra? (b) Sal dit iemand tot voordeel strek as hy sy geslagsvermoëns op onbeteuelde wyse gebruik?

SOMMIGE mense dink dat die Bybel alles afkeur wat met seks te doen het. Maar ’n ondersoek van die Bybel toon dat dit nie die geval is nie. Nadat dit vertel het dat God die eerste man en vrou geskape het, deel dit ons vervolgens mee: “God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.”—Genesis 1:​27, 28.

2 Dit is dus duidelik dat geslagsomgang tussen man en vrou God se goedkeuring wegdra. Maar keur God onbeteuelde seks goed? Sal dit die grootste genot in die lewe verskaf? Sal dit ware vrede en veiligheid vir ons en diegene om ons bring?

3 Seks kan net so maklik soos ander menslike funksies misbruik word. Om te eet is goed en noodsaaklik vir die lewe. Maar vraatsug kan ’n mens se gesondheid skaad en jou lewe verkort. Slaap is ook noodsaaklik. Maar te veel daarvan beroof die lewe van volvoering en kan selfs die liggaam verswak. Net soos ware genieting van die lewe nie voortspruit uit vraatsug, dronkenskap en luiheid nie, so spruit dit ook nie voort uit die onbeteuelde gebruik van ’n mens se geslagsvermoëns nie. Duisende jare van mense-ervaring getuig hiervan. Moet ons dit uit bittere, persoonlike ondervinding leer? Daar is ’n beter manier.

4. Wat moet ons beweeg om God se standaarde in verband met seks te handhaaf?

4 God se Woord bied ’n gebalanseerde beskouing van seks wat ons geluk nou en in die toekoms sal beskerm. Dit is egter nie net ter wille van ons eie vrede en veiligheid dat ons God se standaarde oor die gebruik van hierdie vermoëns moet leer ken en naleef nie. Nog belangriker, ons wil dit uit eerbied vir ons Skepper doen. As ons ons waarlik aan sy kant van die geskil van soewereiniteit skaar, sal ons ons met graagte ook in hierdie saak aan sy hoëre wysheid en soewereine gesag onderwerp.—Jeremia 10:​10, 23.

Hou die huwelik in alle opsigte eerbaar

5. Wat sê die Bybel oor buite-egtelike geslagsomgang?

5 Die Bybel vermaan: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). God is dus gekant teen buite-egtelike geslagsomgang. Dit strook met die feit dat God, toe hy vir die eerste man ’n maat voorsien het, getoon het dat dit sy wil was dat die twee in ’n blywende verbintenis “een vlees” moes word. Sowat vierduisend jaar later het God se Seun getoon dat dit nog steeds sy Vader se standaard was (Genesis 2:​22-24; Mattheüs 19:​4-6). Maar is so ’n standaard onnodig beperkend? Beroof dit ons van iets goeds?

6. Wat toon dat God se wet teen egbreuk vir ons beswil is?

6 Egbreuk of owerspel is ’n skending van die goddelike standaard, en Jehovah God beloof om “’n haastige getuie” in die strafgerig teen egbrekers te wees (Maleagi 3:5). Die slegte vrugte van geslagsomgang buite die huweliksband beklemtoon die wysheid van God se wet. Egbreuk skend vertroue en lei tot wantroue. Dit skep ’n gevoel van onveiligheid en ondermyn die huweliksvrede. Die bitterheid en hartseer wat daardeur veroorsaak word, lei dikwels tot egskeiding. Kinders ly wanneer hulle sien hoe hulle gesin verbrokkel. God se veroordeling van egbreuk is duidelik tot ons beswil. Sy Woord toon dat enigiemand met ware naasteliefde nie egbreuk sal pleeg nie.—Romeine 13:​8-10.

7. Verduidelik wat bedoel word met hoerery, soos die woord in die Bybel gebruik word.

7 Soos ons gesien het, spreek die Bybel ook God se oordeel teen hoereerders uit. Wat is hoerery presies? Hoewel die Bybel se gebruik van hierdie uitdrukking geslagsomgang tussen ongetroudes asook egbreuk kan insluit, het dit dikwels ’n veel breër betekenis. Die woord vir “hoerery”, wat gebruik is toe Jesus en sy dissipels se verklarings op skrif gestel is, is die Griekse woord por·neiʹa. Dit kom van dieselfde wortel as die hedendaagse woord “pornografie”. In Bybeltye is por·neiʹa gebruik om ’n wye reeks ongeoorloofde buite-egtelike vorme van geslagsomgang aan te dui. Por·neiʹa sien op die gruwelik onsedelike gebruik van die geslagsorgaan (of geslagsorgane) van ten minste een mens (hetsy op ’n natuurlike of ’n perverse manier). Daar moes ook ’n ander party by die onsedelikheid betrokke gewees het—’n mens van enige geslag of ’n dier.

8. Om watter sterk redes het die apostel Paulus Christene aangespoor om hulle ‘van die hoerery te onthou’?

8 Toe die apostel Paulus by Christene daarop aangedring het dat hulle hulle moes “onthou van die hoerery”, het hy sterk redes aangevoer deur te sê “dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel [“inbreuk maak op die regte van sy broer”, NW] nie, omdat die Here ’n wreker is oor al hierdie dinge . . . Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie . . . Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God.”—1 Thessalonicense 4:​3-8.

9, 10. (a) Waarom wil sommige mense nie ’n wettige huwelik aangaan nie, al lewe hulle saam met iemand van die ander geslag? (b) Hoe word daar op ander ‘se regte inbreuk gemaak’ en word hulle ‘benadeel’ selfs al geskied hoerery met wedersydse instemming?

9 Iemand wat hoerery pleeg, ‘maak beslis inbreuk op die regte’ van ander en benadeel hulle. Dit is byvoorbeeld waar van pare wat saamleef sonder die voordeel van ’n wettige huwelik. Waarom doen hulle dit? Dit is dikwels sodat hulle ’n einde aan die verhouding kan maak net wanneer hulle wil. Hulle gee nie hulle metgesel die sekuriteit wat ’n verantwoordelike huwelik behoort te bied nie. Maar gestel albei persone is gewillig om so ’n verhouding te hê. Word daar dan nog steeds ‘inbreuk op die regte van ander gemaak’ en word hulle steeds ‘benadeel’? Ja, beslis.

10 Daar is baie gevolge van die dade van hoereerders wat ‘inbreuk maak op die regte van ander’. Enige hoereerder skaad die ander persoon se gewete asook enige rein posisie wat die ander persoon dalk by God gehad het. Die hoereerder bederf die ander persoon se geleentheid om rein in die huwelik te tree. Hy doen waarskynlik lede van die ander persoon se familie, asook sy eie, oneer, smaad en leed aan. Hy kan ook die geestes-, emosionele en fisiese gesondheid van die ander persoon in gevaar stel. Verskriklike seksueel oordraagbare siektes soos die dodelike VIGS (Verworwe immuungebreksindroom) ofte wel AIDS word dikwels met geslagsonsedelikheid geassosieer.

11. Waarom het niemand rede om te glo dat God hoerery sal verskoon nie?

11 Baie hou hulle blind vir hierdie skadelike gevolge. Maar dink jy dat God, in sy geregtigheid, sulke gevoellose minagting vir die regte van ander sal vergoelik? God se Woord dring daarop aan dat sy heilige huweliksreëling ‘geëer’ en nie verlaag of verwerp moet word nie.—Hebreërs 13:4; Mattheüs 22:⁠39.

12. (a) Wat is God se beskouing van homoseksualiteit? (b) Waarteen beskerm God se wet wat homoseksualiteit verbied ons?

12 Wat is homoseksualiteit? Soos ons gesien het, sluit die woord por·neiʹa (“hoerery”), soos dit deur Jesus en sy dissipels gebruik is, hierdie gebruik in. Die dissipel Judas het daardie woord gebruik toe hy van die onnatuurlike geslagsdade van die manne van Sodom en Gomorra gepraat het (Judas 7). Homoseksualiteit aldaar het tot ontaarding gelei wat ’n harde “klaaggeroep” laat opgaan het. Dit het ook daartoe gelei dat God daardie stede en hulle inwoners vernietig het (Genesis 18:​20, NW; 19:​23, 24). Het God se beskouing sedertdien verander? Nee. Eerste Korinthiërs 6:​9, 10 sluit byvoorbeeld “sodomiete” in onder diegene wat nie God se Koninkryk sal beërf as hulle met so ’n gebruik voortgaan nie. En waar die Bybel die gevolge beskryf vir persone wat ‘hulle liggame in onreinheid onteer’ deur agter “vreemde vlees” aan te loop, sê dit dat hulle “in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand [het]: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Romeine 1:​24, 27). Sulke persone word nie net deur God veroordeel nie, maar hulle ontvang ook “vergelding” in die vorm van verstandelike en fisiese verwording. Daar is byvoorbeeld vandag ’n buitengewoon hoë voorkoms van sifilis, VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes onder homoseksuele. Die hoë morele standaarde van God se Woord beroof ons nie van iets goeds nie, maar beskerm ons eerder teen sulke skade.

Aanvaar God se beskouing van egskeiding

13. Hoe ernstig is die kwessie van getrouheid aan huweliksgeloftes?

13 “Ek haat egskeiding.” Dit is hoe Jehovah God sy gevoelens uitgedruk het toe hy diegene wat “ontrou geword het” aan hulle huweliksmaat tereggewys het (Maleagi 2:​14-16). Sy Woord gee oorvloedige raad om egpare te help om ’n sukses van die huwelik te maak en om die bitterheid van egskeiding te vermy. Dit toon ook duidelik dat God getrouheid aan huweliksgeloftes as ’n heilige verantwoordelikheid beskou.

14, 15. (a) Wat is die enigste geoorloofde grond vir egskeiding? (b) Verbreek hoerery outomaties die huweliksband? (c) Onder watter omstandighede mag ’n mens weer trou?

14 Dit word beklemtoon deur die feit dat hy net een geoorloofde grond vir egskeiding erken. Jesus het getoon wat dit is: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery [por·neiʹa], en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Mattheüs 19:9; 5:​32). Soos ons gesien het, het por·neiʹa betrekking op buite-egtelike geslagsomgang, hetsy natuurlik of onnatuurlik.

15 Gestel ’n mens se huweliksmaat maak hom of haar skuldig aan hoerery. Verbreek dit outomaties die huweliksband? Nee. Die onskuldige maat kan besluit of hy of sy die skuldige wil vergewe of nie. As daar tot egskeiding besluit word, sal die Christen se erkenning van die sekulêre gesag hom die huwelik wettig laat ontbind, en dit op ’n eerlike grondslag doen (Romeine 13:​1, 2). Wanneer die geregtelike stappe afgehandel is, is hertroue toelaatbaar. Maar die raad van die Skrif is dat enige sodanige huwelik net met ’n ander Christen aangegaan moet word, met een wat werklik “in die Here” is.—1 Korinthiërs 7:⁠39.

16. Hoe toon Jehovah se Getuies eerbied vir God se wet oor egskeiding in lande waar die sekulêre wet glad geen egskeiding toelaat nie?

16 Gestel die landswette laat geen egskeiding toe nie, selfs nie eers op grond van geslagsonsedelikheid nie. In so ’n geval kan ’n onskuldige maat moontlik ’n egskeiding kry in ’n land waar egskeiding wel toegelaat word. Weens omstandighede is dit miskien nie moontlik nie. Maar die een of ander vorm van geregtelike skeiding is dalk in ’n mens se eie land beskikbaar en kan aangevra word. Wat ook al die geval is, die onskuldige maat kan die skuldige verlaat en afdoende bewys van die Skriftuurlike grond vir egskeiding aan die opsieners in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies voorlê. Gestel dat daardie persoon later besluit om weer te trou. Die gemeente sal nie optree om hom as ’n egbreker te verwyder nie, mits hy ’n skriftelike verklaring indien wat ’n gelofte van getrouheid aan die huidige maat bevat, sowel as ’n belofte om ’n wettige huweliksertifikaat te kry indien die vorige huwelik wettig of deur die dood ontbind sou word. Die persoon sal nietemin die gevolge moet dra wat sodanige optrede vir hom mag inhou wat die wêreld buite die gemeente betref. Want die wêreld erken gewoonlik nie dat God se wet hoër as mensewette is en dat mensewette net relatiewe gesag het nie.—Vergelyk Handelinge 5:⁠29.

Vermy wyslik alle onreinheid en seksuele hebsug

17. Verduidelik uit die Skrif die behoorlike plek wat geslagsomgang in die lewe van getroudes beklee.

17 Dit is duidelik dat geslagsomgang ’n behoorlike plek in die lewe van getroude mense beklee. God het dit voorsien as die wyse waarop kinders voortgebring sou word, en ook as ’n bron van genot vir die ouers (Genesis 9:1; Spreuke 5:​18, 19; 1 Korinthiërs 7:​3-5). Hy het nietemin gewaarsku dat hierdie gawe nie misbruik moes word nie.—Efesiërs 5:5.

18, 19.(a) Waarom is die beoefening van masturbasie of selfbevlekking nie vir ’n Christen betaamlik nie? (b) Wat kan ’n mens help om so ’n gewoonte te vermy?

18 Omdat daar vandag soveel klem op seks gelê word, vind talle jongmense dat hulle begeerte na seksuele bevrediging gewek word selfs nog voordat hulle in die posisie is om te trou. Gevolglik probeer sommige om genot te smaak deur self hulle geslagsorgane te stimuleer. Dit is masturbasie of selfbevlekking. Is dit ’n behoorlike of verstandige gebruik?

19 Die Skrif vermaan: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog [“seksuele begeerte”, NW], slegte begeertes en gierigheid” (Kolossense 3:5). Maak iemand wat masturbasie beoefen ‘sy liggaamsdele dood wat seksuele begeerte betref’? Inteendeel, hy prikkel die geslagsdrang. Die Bybel spoor ’n mens aan om die denke en gedrag te vermy wat tot sulke probleme aanleiding gee, dit deur heilsame bedrywigheid te vervang en om selfbeheersing te kweek (Filippense 4:8; Galasiërs 5:​22). As ’n ernstige poging aangewend word om dit te doen, kan sulke selfbevlekking vermy word, met verstandelike, emosionele en geestelike voordele vir die individu.

20. Wat toon dat dit nie betaamlik vir ’n man en vrou sou wees om alle selfbeheersing in hulle geslagsomgang met mekaar oorboord te gooi nie?

20 Wat die Bybel oor “onreinheid, hartstog, slegte begeertes” sê, is op alle Christene, ongetroud en getroud, van toepassing. ’n Getroude man en vrou het weliswaar ’n Skriftuurlike reg om geslagsomgang met mekaar te hê. Maar beteken dit dat hulle alle selfbeheersing oorboord kan gooi? Die feit dat God se Woord alle Christene aanspoor om selfbeheersing te kweek, toon dat so ’n beskouing verkeerd is (2 Petrus 1:​5-8). Dit was nie vir die geïnspireerde Bybelskrywer nodig om die natuurlike wyse waarop die voortplantingsorgane van man en vrou mekaar aanvul te verduidelik nie. Homoseksuele omgang kan vanselfsprekend nie op hierdie natuurlike wyse geskied nie. Manlike en vroulike homoseksuele gebruik derhalwe ander vorme van omgang, iets wat die apostel “skandelike seksuele begeertes” en “ontug” noem (Romeine 1:​24-32, NW). Kan egpare sulke homoseksuele vorme van omgang in hulle huwelik navolg en steeds nie in God se oë aan “skandelike seksuele begeertes” of “slegte begeertes” uiting gee nie?

21. Watter geleentheid het iedereen nou, ongeag wat sy lewenswyse in die verlede was?

21 Wanneer iemand nadink oor wat die Skrif sê, besef hy moontlik dat sy vorige denke oor hierdie sake gevorm was deur diegene wat, soos die Bybel sê, “elke sedelikheidsbegrip verloor het”. Maar met God se hulp kan ’n mens jou “met die nuwe persoonlikheid beklee” wat ooreenkomstig God se standaarde van geregtigheid gevorm is (Efesiërs 4:​17-24, NW). So toon ’n persoon dat hy dit werklik bedoel wanneer hy sê dat hy God se wil wil doen.

Jou beskouing het ’n wesenlike invloed op jou vrede en veiligheid

22. Watter voordele geniet diegene wat die raad van God se Woord in verband met geslagsedelikheid toepas nou reeds?

22 Dit is nie swaar om die raad van God se Woord oor geslagsedelikheid toe te pas nie. Vergelyk die vrugte van die weg wat die Bybel uiteensit met die wêreld se baie egskeidings, ontwrigte gesinne, jeugmisdadigers, prostitusie, siektes en die geweld en moorde waaraan mense hulle as gevolg van geslagsdrif skuldig maak (Spreuke 7:​10, 25-27). Hoe duidelik is die wysheid van God se Woord tog nie! As jy wêreldse denke wat op selfsugtige begeerte gebaseer is, verwerp en jou denke op een lyn met Jehovah se raad bring, sal dit jou hart grootliks versterk om regte begeertes te koester. In plaas van die kortstondige genot van geslagsonsedelikheid, sal jy ’n rein gewete en blywende gemoedsrus geniet. Huweliks- en gesinsbande word versterk namate wedersydse vertroue tussen huweliksmaats toeneem en hulle kinders hulle respekteer.

23. Watter rol speel ’n persoon se beskouing van seks by sy verkryging van die “teken” vir oorlewing tot in God se “nuwe aarde”?

23 En moenie die feit uit die oog verloor dat jou hoop op die ewige lewe op die spel staan nie. Skriftuurlike sedelikheid sal dus meer doen as om net tot jou huidige gesondheid by te dra (Spreuke 5:​3-11). Dit sal ’n deel word van die getuienis dat jy waarlik die gruwels betreur wat bedryf word deur mense met geen agting vir God nie en dat jy die “teken” ontvang het vir oorlewing tot in God se “nuwe aarde” waarin geregtigheid sal woon, nie onsedelikheid nie. Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat jy jou nou ‘beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God bevind te mag word in vrede’.—Esegiël 9:​4-6; 2 Petrus 3:​11-14.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel