Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 16 bl. 121-128
  • Wat gaan jy doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gaan jy doen?
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE BANIER WAARHEEN VOLKE HULLE WEND
  • ‚HULLE SAL HOOR MAAR NIE DOEN NIE’
  • HULLE HET DIE REGTE BESLUIT GENEEM
  • “Die mees geseënde van die vrouens”
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • ’n Nuwe leier en twee dapper vroue
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Twee dapper vroue
    My boek met Bybelverhale
  • “Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 16 bl. 121-128

Hoofstuk 16

Wat gaan jy doen?

1. Watter besluit moet elke persoon self neem?

DIE besluit om Jehovah te dien, is nie ’n besluit wat iemand anders vir jou kan neem nie. As jou huweliksmaat ’n getroue dienskneg van God is, kan dit ’n onskatbare seën wees. En as jou ouers Jehovah liefhet, is jy eweneens in ’n bevoorregte posisie. Sulke huislike omstandighede kan as aansporing dien om om te gaan met diegene wat Jehovah „in gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:23, 24). Maar daar kom ’n tyd dat jy ’n persoonlike besluit moet neem. Het jy Jehovah waarlik lief, en wil jy een van sy knegte wees? Wil jy werklik in ’n wêreld lewe waar geregtigheid heers?

2. (a) Waarom is ’n ouer se gesindheid teenoor Jehovah se diens veral belangrik? (b) Watter vyf dinge kan ouers doen om hulle kinders ’n goeie begin te gee?

2 As jy ’n ouer is, wil jy ongetwyfeld hê dat jou kinders die seën van ewige lewe onder God se Koninkryk moet geniet. Jy het nie beheer oor wat hulle sal doen wanneer hulle eers oud genoeg is om hulle eie lewensweg te kies nie. Maar wat jy persoonlik omtrent ware aanbidding doen, kan ’n kragtige invloed op hulle hê—ten goede of ten kwade. As jy traag is om Jehovah te dien, beroof jy jou kinders heel moontlik van hulle beste geleentheid om die weg na die ewige lewe in te slaan. Of as jy jou aan God sou toewy en dan nie daardie toewyding ernstig opneem nie, kan dit tot die geestelike ondergang van die hele gesin lei, met die verlies van alles in die groot verdrukking. Maar as jy ’n voorbeeld van getrouheid stel, as jy jou kinders help om God se Woord te bestudeer, as jy liefde vir Jehovah en eerbied vir sy sigbare organisasie by jouself en by jou kinders inboesem, as jy hulle help om te besef hoe hulle beskerm word deur God se wil te doen, as jy hulle wys hoe om vreugde in heilige diens te vind, gee jy hulle ’n uitstekende begin op die weg wat na die lewe lei. En dit is alleen met die seën van Jehovah moontlik. (Vergelyk 2 Timotheüs 1:5.) Bid sonder ophou daarvoor. Dit sal ook groot inspanning van jou verg. Maar hoe bevredigend sal die uitslag tog nie wees nie!

3. (a) Wat kan jy doen as jou gesin jou teenstaan? (b) Wat moet jy doen as die teenstand voortduur?

3 Miskien bevind jy jou in die situasie dat ander lede van jou gesin nie jou liefde vir Jehovah deel nie. Probeer hulle jou ontmoedig? Of is daar openlike teenstand? Hoe kan jy hulle help om saam met jou die vreugde te smaak wat deur ’n begrip van God se voorneme verskaf word? Struikelblokke kan dikwels uit die weg geruim word deur gesinslede te nooi om jou na die Koninkryksaal te vergesel om self te sien wat daar plaasvind. Terwyl hulle daar is, kan hulle met een van die ouere manne praat om hulle vrae in verband met die opvattings en gebruike van Jehovah se Getuies op te klaar. Maar gestel die teenstand duur voort. Dan moet jy jouself afvra: ‚Het ek Jehovah en sy Seun Jesus Christus werklik lief, en is ek so dankbaar vir alles wat hulle vir ons gedoen het dat ek bereid is om ontbering te verduur om my liefde en dankbaarheid te toon? Het ek my gesin lief genoeg om die regte voorbeeld te stel sodat hulle ook, indien moontlik, gehelp kan word om God se voorsienings vir die ewige lewe aan te gryp?’—Mattheüs 10:36-38; 1 Korinthiërs 7:12, 13, 16.

DIE BANIER WAARHEEN VOLKE HULLE WEND

4. Hoe kan ons toon dat ons Jehovah waarlik liefhet?

4 In alle dele van die wêreld word mense vandag die geleentheid gebied om hulle liefde vir Jehovah te toon deur hulle aan die kant van sy Messiaanse Koninkryk te skaar. Daardie regering is die middel waardeur Jehovah se naam geregverdig sal word. Ons gesindheid teenoor die Koninkryk weerspieël hoe ons oor Jehovah self voel.

5. (a) Wat is in Jesaja 11:10 vir ons dag voorspel? (b) Wat beteken dit?

5 Jehovah het die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: „En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jesaja 11:10). Daardie „wortel van Isai” is die verheerlikte Here Jesus Christus. Toe hy begin het om koninklike gesag uit te oefen, het hy, as ’n lewegewende „wortel”, nuwe lewenskrag gegee aan die geslagslyn van Messiaanse konings wat uit Isai deur sy seun, koning Dawid, gekom het (Openbaring 5:5; 22:16). Sedert 1914 „staan [hy] as ’n banier van die volke”, ’n saamtrekpunt vir mense wat na ’n regverdige regering smag. Jehovah self het hom as daardie Banier, die ware Messiaanse Koning, opgehef.—Jesaja 11:12.

6. (a) Wat het mense in staat gestel om hulle rondom ’n hemelse Koning te versamel? (b) Wat het mense geleer omdat hulle na die „banier” gevra het?

6 Maar hoe kon mense hier op aarde hulle rondom ’n hemelse Koning versamel? Hulle moet inligting uit die Bybel ontvang sodat hulle hom met die oë van die verstand kan sien. Die oorblyfsel van geestelike Israel is ywerig besig om hierdie werk onder die leiding van heilige gees te doen. Hulle verkondig die goeie nuus van die opgerigte Messiaanse Koninkryk van God oor die hele aarde. Individue uit al die nasies luister met waardering. Hulle vra na die goddelike vereistes waaraan hulle moet voldoen om onderdane van die Koninkryk te wees en die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet. Nadat hulle deur die antwoorde uit die Bybel tevrede gestel is, tree hulle dienooreenkomstig op en skaar hulle hulle aan die kant van Jehovah se Messiaanse Koninkryk. Het jy dit gedoen?

‚HULLE SAL HOOR MAAR NIE DOEN NIE’

7. Watter reaksie op die Bybel se boodskap is in Esegiël 33:30-33 voorspel?

7 Weens die ywerige werk van Jehovah se Getuies is hulle dikwels die onderwerp van bespreking onder mense. Maar hoe beskou hierdie mense die boodskap wat Jehovah se Getuies verkondig? Die reaksie van baie is soos dié van die profeet Esegiël se medeballinge in Babilon. Aangaande hulle het Jehovah gesê: „En jy, mensekind, die kinders van jou volk wat oor jou gesels . . . spreek die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die HERE uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ’n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie. Maar as dit kom—kyk, dit kom!—dan sal hulle weet dat daar ’n profeet onder hulle gewees het.”—Esegiël 33:30-33.

8. Hoe openbaar sommige persone daardie gesindheid?

8 Daar is baie mense wat Jehovah se Getuies bewonder en wat van hulle Bybellektuur hou. Hulle aanvaar miskien selfs die aanbod van ’n gratis tuisbybelstudie. Party kom saam met hulle vriende na spesiale vergaderinge van die Getuies. By die jaarlikse Gedenkmaal ter nagedagtenis aan die dood van Jesus Christus is dit byvoorbeeld nie ongewoon dat die opkoms dubbel die getal bedrywige getuies van Jehovah is nie. In sommige lande is die opkoms tot vyf maal die getal Getuies. Maar wat doen hulle omtrent die Bybelwaarhede wat hulle hoor? Meer as twee-en-’n-halfmiljoen het hierdie waarhede ter harte geneem en hulle lewe daarna geskik. Maar vir ander is dit bloot soos aangename musiek, iets om hulle te vermaak. Hulle bly toeskouers wat af en toe woorde van aanmoediging laat hoor, maar hulle wy nie hulle lewe aan God toe en neem nie aan sy heilige diens deel nie.

9. Wat sal verstandige persone doen in plaas daarvan om te twyfel en te wag?

9 Wat baat dit om te twyfel en te wag? Dit lei beslis nie tot Jehovah se guns en beskerming gedurende die komende dag van wraak nie. Om onder die oorlewendes te wees, moet jy nou oortuigende bewys lewer dat jy ‚jou by Jehovah aangesluit het’ en dat jy aan hom behoort.—Sagaria 2:11; Mattheüs 7:21.

HULLE HET DIE REGTE BESLUIT GENEEM

10, 11. (a) Wie was Hobab, en watter uitnodiging het hy ontvang? (b) Hoe weet ons wat sy besluit was?

10 Almal wat aanbidders van Jehovah word deur Jesus Christus na te volg, het ’n persoonlike besluit geneem om dit te doen. Dit geld vir almal wat erfgename van die hemelse Koninkryk is. Ander kry nou die kosbare geleentheid om hulle keuse te doen, met die vooruitsig om die groot verdrukking te oorlewe en volmaakte lewe op aarde te geniet. Hobab het ’n voorbeeld gestel wat hulle gerus kan navolg.

11 Hobab was Moses se swaer. Hy was nie ’n Israeliet nie, maar ’n lid van die Kenitiese stam wat in die gebied van Midian gewoon het. Nadat Israel die Wet deur Moses ontvang en die heilige tabernakel vir Jehovah se aanbidding gebou het, het die tyd aangebreek om noordwaarts te trek na die Beloofde Land toe. Die wolkkolom wat Jehovah se teenwoordigheid aangedui het, sou voor hulle uittrek om die roete asook die staanplekke aan te wys. Maar dit sou nuttig wees om iemand saam met hulle te hê wat die terrein geken het en geweet het waar om die dinge te kry wat die laer nodig sou hê. Moses het Hobab genooi om saam met die Israeliete te trek, maar Hobab het aanvanklik geweier, omdat hy gemeen het dat hy liewer by sy familie in sy geboorteplek moes bly. Moses het hom egter aangespoor om sy besluit te heroorweeg en saam met hulle te gaan om vir Israel ‚as oë te dien’ en sodoende die seëninge te ontvang wat Jehovah op sy volk sou uitstort. Hobab het verstandig opgetree en saamgegaan, soos Rigters 1:16 aandui.—Numeri 10:29-32.

12. (a) Wie is vandag soos Hobab, en in watter opsigte? (b) Watter uitnodiging kom vandag ooreen met die een wat Moses aan Hobab gerig het?

12 Daar is vandag persone wat deur Hobab afgebeeld is. Hoewel hulle nie geestelike Israeliete is nie, werp hulle hulle lot met hierdie geestelike Israeliete in terwyl hulle na God se Nuwe Orde trek. Om dit te doen, moet hulle hulle bande met wêreldlike familielede en menseregerings verbreek. Onder die leierskap van die Grotere Moses, Jesus Christus, dien hulle vreugdevol saam met die oorblyfsel van Christus se „broeders”, terwyl hulle dikwels nuwe gebiede verken om die goeie nuus in te verkondig. Baie van hulle het verhuis na gebiede waar daar ’n besondere behoefte aan Koninkryksverkondigers bestaan, baiemaal as pioniers of sendelinge. Daar benut hulle hulle tyd ten volle om God se Koninkryk bekend te maak as die mensdom se enigste ware hoop. Daar is nog baie geleenthede om aan sulke heilige diens deel te neem. Bevoegde persone word genooi om hulleself beskikbaar te stel en aldus die seëninge te ontvang wat met sulke vermeerderde diens gepaard gaan. Kan jy?

13. (a) Wie was Jael, en wat was haar man se posisie ten opsigte van Jehovah se knegte? (b) Hoe het Jael voor ’n toets te staan gekom?

13 Sowat 180 jaar nadat Hobab besluit het om met Israel saam te gaan, het een van sy afstammelinge, ’n man met die naam Heber, saam met sy vrou, Jael, in die omgewing van Megiddo gewoon. Heber het hom van die res van die Keniete afgeskei en goeie betrekkinge aangeknoop met Jabin, ’n Kanaänitiese koning wat die Israeliete swaar verdruk het. Toe Jehovah vir Barak verwek het om Israel te verlos, het Jabin se leërowerste, Sisera, sy leër op die been gebring. Hy het negehonderd strydwaens met ystersense aan die wiele gehad. Maar Jehovah het vir sy volk geveg deur die vyand in verwarring te bring en ’n skielike oorstroming te veroorsaak wat die strydwaens laat vasval het. Sisera self het sy strydwa verlaat en te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, gevlug. Soos Sisera gehoop het, het sy hom in die tent ingenooi.—Rigters 4:4-17, vergelyk NW; 5:20, 21.

14. Watter besluit het Jael geneem, en wat het dit vereis?

14 Jael het nou voor ’n toets te staan gekom. Wat sou sy met hierdie vyand van Jehovah se volk doen? Sy het Sisera met ’n kombers toegemaak, hom dikmelk gegee vir sy dors en gewag tot hy aan die slaap geraak het. Daarop het sy „’n tentpen gevat en met ’n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.” Dít het moed gekos, en liefde vir Jehovah en sy volk. Dit het ook positiewe optrede en inspanning van haar kant vereis.—Rigters 4:18-22, NAV; 5:24-27, 31.

15. Hoe toon mense vandag dat hulle soos Jael is?

15 Net soos in die geval van ander nie-Israelitiese aanbidders van Jehovah het Jael die „ander skape” afgebeeld wat goed doen aan Christus se geestelike broeders. Ongeag die bande wat hulle gesinslede met die wêreld en sy regerende klas het, keur die „ander skape” nie die verdrukking van Jehovah se volk deur wêreldlike heersers goed nie. Hulle lojaliteit lê by die Grotere Barak, die Here Jesus Christus, en by sy ware volgelinge. Die lede van die Jael-klas tel nie self hulle hand teen die wêreldlike heersers op nie, maar hulle gebruik al die middele tot hulle beskikking om Jehovah se knegte teen verdrukking te beskerm. Hulle aarsel nie om bekend te maak dat hulle dit volkome eens is met Jehovah se voorneme om al sy vyande te vernietig nie.

16, 17. (a) Watter goeie voorbeeld is in Handelinge hoofstuk 8 vir ons opgeteken? (b) Wat moet ons daarna aanhou om te doen?

16 Daar is nie tyd om te verspeel nie. As jy waarlik geloof in Jehovah en sy Messiaanse Koninkryk het en as jy jou lewe na die Bybel se vereistes geskik het, moet jy dit sonder versuim bekend maak. Openbaar die gees van die Ethiopiese hofdienaar van wie ons in Handelinge hoofstuk 8 lees. Toe hy verstaan het wat van hom verlang word, het hy dadelik vir Filippus, wat die goeie nuus omtrent Jesus aan hom verduidelik het, gevra: „Wat verhinder my om gedoop te word?” En hy is dadelik in water ondergedompel.

17 Nadat jy so ’n goeie begin gemaak het, moet jy daagliks jou verhouding met Jehovah versterk, na maniere soek om sy Woord nog beter in jou lewe toe te pas en in die grootste mate moontlik deelneem aan die lewensbelangrike werk van Koninkryksverkondiging wat gedurende die laaste dae van hierdie stelsel gedoen word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel