DEEL 6
Van Jesus se geboorte tot sy dood
Die engel Gabriël is na ’n goeie jong vrou met die naam Maria gestuur. Hy het vir haar gesê dat sy ’n kind sou hê wat vir ewig as koning sou regeer. Die kind, Jesus, is in ’n stal gebore waar herders na hom toe gekom het. Later het ’n ster mans uit die Ooste na die jong kind toe gelei. Ons leer wie hulle daardie ster laat sien het en hoe Jesus gered is van die pogings om hom dood te maak.
Daarna sien ons die twaalfjarige Jesus waar hy met die leermeesters in die tempel gesels. Agtien jaar later is Jesus gedoop, en toe het hy begin met die Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk wat God hom na die aarde toe gestuur het om te doen. Om hom met hierdie werk te help, het Jesus 12 mans gekies en hulle sy apostels gemaak.
Jesus het ook baie wonderwerke gedoen. Hy het duisende mense met net ’n paar vissies en ’n paar brode kos gegee. Hy het siekes gesond gemaak en selfs dooies opgewek. Dan leer ons ook van al die dinge wat op die laaste dag van Jesus se lewe met hom gebeur het en hoe hy doodgemaak is. Jesus het omtrent drie en ’n half jaar lank gepreek. DEEL 6 dek net ’n bietjie meer as 34 jaar.