Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/15 bl. 10-11
  • Besluite wat vastelande verdeel het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Besluite wat vastelande verdeel het
  • Ontwaak!—2015
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • KONINGS EN POUSE VERDEEL VASTELANDE
  • ’N NUWE LYN OP DIE KAART
  • ’n Botsing van kulture
    Ontwaak!—1992
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—die mag en die privilegie
    Ontwaak!—1990
  • ’n Ultimatum in God se naam?
    Ontwaak!—2013
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2015
g 3/15 bl. 10-11

’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Besluite Wat Vastelande Verdeel het

Pous Aleksander VI

Nadat Christophorus Columbus in 1493 van sy eerste reis na die Amerikas teruggekeer het, het daar ’n geskil tussen die konings van Spanje en Portugal ontstaan oor wie beheer moes hê oor die handel met en die kolonisasie van hierdie nuut ontdekte lande. Spanje het die pous, Aleksander VI, gevra om die kwessie op te los.

KONINGS EN POUSE VERDEEL VASTELANDE

Vir Spanje, Portugal en die pouse was die eienaarskap van nuut ontdekte lande nie ’n nuwe kwessie nie. In 1455 het pous Nikolaas V die Portugese die uitsluitlike reg gegee om lande en eilande langs die Atlantiese kus van Afrika te verken en alles wat hulle daar vind, in besit te neem. In 1479 het Afonso V van Portugal en sy seun, prins Johan, in die Verdrag van Alcáçovas algehele gesag oor die Kanariese Eilande aan Ferdinand en Isabella van Spanje gegee. In ruil hiervoor het Spanje erkenning gegee aan Portugal se alleenreg om handel te dryf in Afrika sowel as hulle algehele gesag oor die Asore-eilande, die Kaap Verde-eilande en Madeira. Twee jaar later het pous Sixtus IV hierdie verdrag herbevestig en gesê dat enige nuwe ontdekkings suid en oos van die Kanariese Eilande aan Portugal sou behoort.

Maar volgens Johan, wat nou Johan II van Portugal was, het die lande wat deur Columbus ontdek is, aan Portugal behoort. Die Spaanse koningspaar wou niks daarvan weet nie, en hulle het die nuwe pous, Aleksander VI, gevra om hulle die reg te gee om die gebiede wat deur Columbus ontdek is, te koloniseer en “Christene” van die plaaslike mense te maak.

Met ’n enkele besluit het pous Aleksander VI vastelande verdeel

In reaksie hierop het Aleksander drie verordeninge, oftewel formele besluite, laat saamstel. Die eerste hiervan het, “op gesag van die almagtige God”, die nuwe gebiede uitsluitlik en vir altyd aan Spanje toegeken. Die tweede het bepaal dat daar ’n grenslyn ongeveer 560 kilometer wes van die Kaap Verde-eilande sou wees wat van noord na suid strek. Volgens Aleksander sou alle lande wat wes van daardie lyn ontdek is of nog ontdek sou word, aan Spanje behoort. Met ’n enkele besluit het die pous vastelande verdeel! Sy derde verordening het blykbaar Spanje se invloed ooswaarts uitgebrei tot by Indië. Dit het koning Johan natuurlik woedend gemaak, aangesien sy onderdane kort tevore daarin geslaag het om om die punt van Afrika te vaar, wat Portugal se monopolie tot in die Indiese Oseaan uitgebrei het.

’N NUWE LYN OP DIE KAART

Teen hierdie tyd het Johan genoeg gehad van Aleksandera en het hy direk met Ferdinand en Isabella begin onderhandel. “Die Spaanse koningspaar, wat die genadelose Portugese gevrees het en reeds hulle hande vol gehad het met die Nuwe Wêreld, was net te bly om ’n redelike kompromis aan te gaan”, sê die skrywer William Bernstein. In 1494 het hulle dus ’n ooreenkoms in Tordesillas aangegaan en ’n verdrag, wat na die dorp vernoem is, daar onderteken.

Die Verdrag van Tordesillas het die lyn behou wat Aleksander van noord na suid getrek het, maar het dit 1 480 kilometer wes geskuif. Die hele Afrika en Asië het nou kastig aan Portugal behoort, en die Nuwe Wêreld aan Spanje. Maar toe die lyn wes geskuif is, het dit beteken dat ’n groot deel van die onontdekte land wat later as Brasilië bekend sou staan, in Portugal se gebied was.

Die verordeninge wat Spanje en Portugal die gesag gegee het om nuut ontdekte lande in besit te neem en te verdedig, het aanleiding gegee tot baie bloedvergieting. Die regte van die mense in daardie lande is geïgnoreer, wat daartoe gelei het dat hulle onderwerp en uitgebuit is. Wat meer is, dit het eeue lange konflikte tussen nasies laat ontstaan oor mag en oor die beheer van die see.

a Vir meer inligting oor hierdie uiters korrupte pous, sien die artikel “Aleksander VI—’n Pous wat Rome nie kan vergeet nie”, in Die Wagtoring van 15 Junie 2003, bladsy 26-29.

VINNIGE FEITE

  • Opeenvolgende pouse het Spanje en Portugal aangespoor om “Christene” te maak van enige heidene wat hulle op hulle ontdekkingsreise teëkom.

  • In 1493 het pous Aleksander VI ’n lyn deur die middel van die Atlantiese Oseaan getrek wat Spanje gesag oor die gebied wes daarvan gegee het.

  • Aleksander se verordening, en ander soortgelyke formele besluite, is deur Spanje gebruik om volle beheer oor die nuut ontdekte lande uit te oefen.

  • Daar was eeue lank konflik tussen Europese nasies om die regmatigheid van die gesag wat die pouse hulle oor gebiede gegee het, te verdedig of aan te val.

“Die arrogansie van die Weste”

’n Wêreldkaart wat in twee geskeur is

“Die idee van ’n Romeinse pous wat hele vastelande verdeel tot die uitsluitlike voordeel van twee klein Europese koninkryke, lyk vandag verregaande; ’n welbekende voorbeeld van die arrogansie van die Weste”, sê die skrywer Barnaby Rogerson. Hierdie pouslike verordening “kan beskou word as die vonk wat aanleiding gegee het tot die gruweldade wat deur alle latere koloniale ryke gepleeg is”, voeg Rogerson by.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel