Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/13 bl. 14-15
  • Zheng He

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Zheng He
  • Ontwaak!—2013
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MAG, HANDEL EN SKATTING
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2013
  • Jongmense op die Internet!
    Ontwaak!—2007
  • Hoe die weer die loop van die geskiedenis kan verander
    Ontwaak!—2011
  • “Skepe van Kittim” bevaar die see
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2013
g 9/13 bl. 14-15

FIGURE UIT DIE VERLEDE

Zheng He

“Ons het meer as honderdduisend lia op uitgestrekte waters afgelê en gesien hoe reusegolwe soos berge hemelhoog in die see opstoot, en ons het verafgeleë, vreemde streke aanskou . . . terwyl ons oop seile dag en nag statig soos wolke uitgebol het en hulle roete (so vinnig) soos ’n ster bly volg het, kruis en dwars oor daardie woeste golwe asof ons op ’n openbare hoofweg beweeg.”—Vyftiende-eeuse inskripsie by Changle, Fujian, China, toegeskryf aan Zheng He.

CHINA is ’n land van groot dinge. Dit het die grootste bevolking en een van die grootste landoppervlaktes op aarde. Die Chinese het die Groot Muur gebou, een van die merkwaardigste bouprojekte in die geskiedenis. ’n Vloot groot skepe wat deur China se Ming-keisers Yongle en Xuande gebou is, was groter as enige ander vloot wat in die daaropvolgende vyf eeue byeengebring is. Die admiraal van hierdie vloot was ’n Moslem uit die suidwestelike deel van China met die naam Zheng He.

MAG, HANDEL EN SKATTING

Volgens die inskripsie wat aan die begin van hierdie artikel gedeeltelik aangehaal is, was Zheng He se sending “om die hervormende mag van die (keiserlike) ryk te openbaar en om mense in verre lande met goedhartigheid te behandel”. As gevolg van die seereise, sê die inskripsie, “het lande anderkant die horison en aan die eindes van die aarde almal onderdane [van China] geword . . . Uitlanders van oorkant die seë . . . het met kosbare voorwerpe en geskenke [na die keiserlike hof] gekom.”

Van die hawens wat deur Zheng He se vloot bereik is

Daar is verskillende menings oor wat die Ming-keisers se doelwit met hierdie seereise was. Party beskou Zheng He as ’n kulturele, welwillende ambassadeur van ’n magtige maar vreedsame nasie. Ander meen dat die doel van sy sending aggressiewe politieke oorheersing van onderhorige state was. Ja, Zheng He het uitstekende geskenke gegee en politieke ondersteuning gebied aan die heersers wat hom verwelkom het, maar dié wat geweier het om aan die Ming-keiser onderdanig te wees en skatting te betaal, het hy onderwerp en gevange geneem. As gevolg van Zheng He se indrukwekkende seereise het tientalle heersers in die gebied van die Indiese Oseaan ambassadeurs na China gestuur om aan die keiser hulde te bewys.

Hoe dit ook al sy, Zheng He se vloot het ook onvergelyklike lakware, sy en porselein vervoer wat Ming se vakmanne gemaak het om in verafgeleë hawens handel te dryf. Die vloot het teruggekeer met edelstene, ivoor, speserye, tropiese houtsoorte en ander weeldeartikels waaraan die Chinese waarde geheg het. Dit het selfs ’n kameelperd na China vervoer, wat glo groot opspraak verwek het. Hierdie uitruiling van artikels en idees het die buitewêreld ’n kykie gegee in China se indrukwekkende 15de-eeuse beskawing.

Hierdie merkwaardige seereise het tot ’n einde gekom. Net ’n paar dekades ná Zheng He se seereise het China buitelandse handel en diplomasie die rug toegekeer. ’n Nuwe keiser en sy Confuciaanse raadgewers het gemeen dat hulle niks buite China se grense nodig het nie en het probeer om die land van buitelandse invloed af te sny. Hulle het besluit dat die vloot met sy skatskepe tot die verlede behoort en het blykbaar verslae van die merkwaardige seereise asook die skepe vernietig. Eers in onlangse jare het mense, binne en buite China, uitgevind van daardie luisterryke tydperk toe Zheng He se reusevloot die seë deurkruis het.

a Die li is ’n Chinese maateenheid, waarvan die lengte deur die eeue heen verander het. Daar word gemeen dat een li in Zheng He se tyd ongeveer ’n halwe kilometer was.

VINNIGE FEITE

  • Die Ming-vloot onder bevel van Zheng He het sewe merkwaardige seereise tussen 1405 en 1433 onderneem.

  • Daar was moontlik 200 of meer vaartuie in die vloot—oorlogskepe, voorraadskepe en skepe wat water, perde, ensovoorts vervoer het. Meer as 27 000 matrose, regeringsamptenare, soldate, handelaars, instandhoudingswerkers en ander was op die skepe.

  • Eers tydens die Eerste Wêreldoorlog kon ’n nasie weer ’n vloot byeenbring wat met dié van Zheng He vergelyk kon word. Sy vloot het hawens in die Verre Ooste en die Indiese Oseaan besoek en het selfs Oos-Afrika bereik.

  • Drie van Zheng He se ondergeskiktes het afsonderlike ooggetuieverslae geskryf wat baie inligting oor sy seereise verskaf.

Zheng He se skatskepe—Hoe groot en hoeveel?

Geskiedenisverslae van die Ming-dinastie sê dat Zheng He se skatskepe verbasend groot was—136 meter lank en 56 meter breed. Geleerdes betwis hierdie syfers en kan dit nie bevestig nie omdat houtseilskepe wat langer as 90 meter is, struktureel onveilig is.

“Alles dui daarop dat daar oordryf is in die verslae wat meld hoe ontsaglik groot die skepe was”, sê ’n artikel oor die onderwerp. “’n Skip van ongeveer 200-250 vt. [60-75 m] sou baie meer sin maak as een van 450 vt. [135 m].” Hoe dit ook al sy, in die 15de eeu was vaartuie wat langer as 60 meter was, beslis uitsonderlik, en daar was tot 62 van hulle in Zheng He se vloot!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel