Batik—Indonesië se pragtige materiaal
BATIK bestaan al eeue lank, en tog is dit nie outyds nie. Koninklikes dra dit by swierige onthale, en handelaars dra dit by plaaslike markte. Dit is pragtig en kleurvol, en daar is ’n baie groot verskeidenheid. Maar wat is batik? Hoe word dit gemaak? Waar het dit ontstaan? En waarvoor word dit vandag gebruik?
Batik is ’n materiaal met ’n ou geskiedenis. Die batikontwerp word gemaak deur middel van ’n spesiale kleurstofbestande tegniek, en dit het ’n onafskeidelike deel van die Indonesiese lewe en kultuur geword. Soortgelyke materiaal is wêreldwyd gewild.
’n Kombinasie van kleurstof en was
’n Batikwerker maak ’n stuk batiklap deur ’n klein koperinstrument wat met vloeibare was gevul is, te gebruik om ’n ingewikkelde patroon met die hand op ’n stuk materiaal te teken. Wanneer die was droog is, word die materiaal gekleur. Die dele wat met was bedek is, bly ongekleur. Die proses word telkens herhaal met kleurstof van verskillende kleure om kleurryke patrone te skep.
In die middel van die 19de eeu het batikwerkers koperstempels gebruik om die was op die materiaal aan te wend. Hierdie metode was vinniger as om die handinstrument te gebruik en het dit moontlik gemaak om identiese stukke materiaal te vervaardig. Gedurende die 20ste eeu het kommersiële fabrieke die patroon deur middel van skermdruk op die materiaal begin aanbring. Handgemaakte batik word nog steeds te koop aangebied. Maar batik wat industrieel gedruk word, oorheers nou die mark.
Katoen of sy word gewoonlik gebruik om batik te maak. Kleurstowwe word gemaak van blare, hout, bas en speserye wat plaaslik beskikbaar is, maar sintetiese kleurstowwe word ook gebruik. Voordat was gebruik is, is plantaardige pastas, dierevet en selfs modder gebruik om patrone te skep. Deesdae is die was dikwels sinteties. ’n Mengsel van paraffien en byewas word egter nog steeds gebruik.
Lang geskiedenis—Blink toekoms
Niemand weet presies wanneer en waar batik die eerste keer gemaak is nie. In China is daar batikfragmente wat uit die sesde eeu HJ dateer. Daar is nog steeds onsekerheid oor wanneer die tegniek in Indonesië bekend geraak het, maar daar is bewyse dat Indonesië teen die 17de eeu batik ingevoer en uitgevoer het.
In onlangse dekades het batik gewilder geword en het dit ’n simbool van die Indonesiese nasionale identiteit geword. Ter erkenning van batik se lang geskiedenis in Indonesië en die impak daarvan op die plaaslike kultuur het UNESCO batik in 2009 gelys as deel van die land se “Ontasbare Kulturele Erfenis van die Mensdom”.
Batikkledingstukke
Daar is tradisionele maniere om batik te dra, te vou en te maak wat deur plaaslike opvattings en bygelowe beïnvloed word. Baie van Indonesië se provinsies het hulle eie kenmerkende batikkleure en -motiewe. Byvoorbeeld, batik van die noordkus van Java word gekenmerk deur helder kleure, en motiewe van blomme, voëls en ander diere word dikwels gebruik. Maar batik van die sentrale deel van Java is gewoonlik minder kleurvol, en die motiewe bevat dikwels geometriese patrone. Daar is sowat 3 000 batikontwerpe op rekord.
’n Tradisionele batikkledingstuk is die selendang, ’n tjalie of dradoek wat oor die skouer gehang word en deur vroue gedra word. Vroue dra dikwels ’n baba daarin of items wat by ’n mark gekoop is. Maar die tjalie word ook gebruik om die kop op ’n warm dag te bedek.
Mans dra ’n tradisionele hoofbedekking wat iket kepala genoem word. Die vierkantige batiklap word om die hoof gebind om ’n tulband te vorm. Dit word oor die algemeen as formele drag vir seremonies beskou.
Nog ’n gewilde kledingstuk wat uit batik gemaak word, is ’n langwerpige lap wat om die lyf gedraai word en ’n sarong genoem word. Soms word die twee ente van hierdie lap aanmekaargewerk om ’n buis te vorm. ’n Tipiese sarong word om die bene gedra en by die middellyf ingesteek, en dan lyk dit soos ’n los romp. Die sarong word deur mans sowel as vroue gedra.
Batikmateriaal word vir byna enige klerestyl gebruik, van slenterbroeke tot deftige aandrokke. Maar die materiaal word ook gebruik vir skilderye, muurbehangsels, tafeldoeke, dekens, ensovoorts. Toeriste wat deur ’n Indonesiese mark stap, sal moontlik sakke, sandale, lampskerms en selfs oortreksels vir skootrekenaars vind wat van batikmateriaal gemaak is. Ja, hierdie pragtige materiaal word vir ’n byna eindelose verskeidenheid items gebruik!
[Prent op bladsy 23]
’n Klein koperinstrument wat met vloeibare was gevul is, word gebruik om ’n ingewikkelde patroon met die hand te teken
[Prent op bladsy 23]
Die materiaal met die wasontwerp word herhaaldelik in die kleurstof gedompel
[Prente op bladsy 23]
Batikkledingstukke
1. Selendang
2. Iket kepala
3. Sarong