Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/11 bl. 14-15
  • Tingatinga—Kuns wat jou laat glimlag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tingatinga—Kuns wat jou laat glimlag
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bronne van inspirasie
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • Wat is kuns?
    Ontwaak!—1995
  • My lewe as ’n kunstenaar
    Ontwaak!—2001
  • Ek dien die allergrootste kunstenaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 11/11 bl. 14-15

Tingatinga—Kuns wat jou laat glimlag

“TINGATINGA laat ons die wêreld sien deur die oë van die kind binne ons. Komieklik, vrolik en kleurvol”, skryf Daniel Augusta, die bestuurder van die Koöperatiewe Vereniging vir Tingatinga-kuns. Tingatinga-kuns handel oor Afrika—sy natuurlewe en kultuur, veral dié van Tanzanië, waar hierdie kunsvorm ontstaan het.

Tingatinga-kuns is vernoem na die skilder by wie hierdie styl sy oorsprong gehad het, Edward Said Tingatinga, wat in 1932 gebore is. Terwyl Edward grootgeword het, het die natuurskoon en die wilde diere in die omgewing van sy dorpie in suidelike Tanzanië klaarblyklik ’n groot indruk op hom gemaak. Toe hy in sy middel-20’s was, het hy die huis verlaat op soek na werk en ’n hoër lewenstandaard. Later het hy getrek na Dar es Salaam, die hoofstad van Tanzanië, en werk as ’n tuinier gekry. Saans het sy talent uitdrukking gevind in musiek en dans; hy het selfs vir hom ’n naam gemaak met sy optredes.

In 1968 het Edward ’n keerpunt in sy lewe bereik. Hy het vir die regering begin werk in die Muhimbili-staatshospitaal in Dar es Salaam. Daar het hy tyd gehad om die lewendige herinneringe en indrukke uit sy kinderjare in sy eie kunsvorm uit te druk. Dit was die begin van Tingatinga-kuns. Edward kon nie spesiale kwasse, verf, kleurstof en ander items koop nie. Daarom het hy materiale gebruik wat enigiemand by ’n plaaslike hardewarewinkel kon koop. Sy verf was byvoorbeeld emaljeverf vir fietse, en sy “skilderdoeke” stukke saamgeperste veselbord wat ’n gladde, blink afwerking aan die een kant gehad het en dus ideaal was vir sy prente met hulle glansende voorkoms.

Edward se skilderstyl was eenvoudig. Hy het een of twee kleure vir die agtergrond gebruik en dan net een voorwerp daarop geskilder—’n Afrikadier wat met effens oordrewe kenmerke en in helder kleure uitgebeeld is. Hy het geen ander besonderhede bygevoeg nie.

Edward het toegelaat dat ’n handjie vol hegte vriende en familielede hom dophou terwyl hy geskilder het. Kort voor lank het ’n hele paar van hulle sy “studente” geword, en sy styl het al hoe gewilder begin word.

Van die eerste skildery af word Tingatinga-kuns gekenmerk deur helder kleure en eenvoudige figure met duidelike lyne. Maar die styl het oor die jare ontwikkel. Dit sluit nou meer detail in, en etlike figure word in elke skildery uitgebeeld. Sommige kunstenaars vul selfs hulle skilderye met mense, diere en verskeie voorwerpe.

Bronne van inspirasie

Tingatinga-kuns het ’n onuitputlike bron van inspirasie—Afrika se plant- en dierelewe in al sy vorme: ape, buffels, kameelperde, leeus, olifante, sebras, seekoeie, wildsbokke en ander diere sowel as blomme, bome, voëls en visse—veral dié met treffende kleure. ’n Gewilde agtergrond is Afrika se hoogste berg, Kilimandjaro, in die noordooste van Tanzanië.

Hedendaagse Tingatinga-kuns probeer ook die mense van Afrika en hulle kultuur uitbeeld. ’n Skildery kan ’n dag by ’n besige mark, ’n besoek aan ’n plaaslike hospitaal of net die daaglikse dorpslewe uitbeeld.

Van die begin af het Tingatinga-kuns talentvolle Afrikane die geleentheid gegee om hulle uit te druk en terselfdertyd ’n welkome ekstra inkomste te verdien. Die Tingatinga-kunstenaars het selfs ’n vereniging van skilders gevorm wat in Dar es Salaam gesetel is. Party bly selfs by die tradisie om te skilder met emaljeverf vir fietse. As Edward Tingatinga vandag nog gelewe het (hy is in 1972 oorlede), sou die gewildheid van sy kunsvorm hom ongetwyfeld breed laat glimlag het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel