Die Bybel se beskouing
’n Weeklikse heilige dag—Is dit ’n vereiste?
REGOOR die aarde het miljoene Moslems, Jode en verklaarde Christene ’n dag elke week opsygesit vir spesiale godsdiensbedrywighede. Waarom? Ibrahim, ’n vroom Moslem wat elke Vrydag ’n moskee besoek om te bid en na ’n preek te luister, verduidelik: “Ek wil na aan God voel en gemoedsrus vind.”
Leer die Bybel dat God van ons vereis om ’n weeklikse heilige dag te hou? Is aanbidding op ’n spesifieke dag die sleutel tot ware geestelike verkwikking?
’n Tydelike reëling
Meer as 3 500 jaar gelede het God ’n spesiale stel wette deur die profeet Moses gegee. Hierdie Wet het ’n stelsel van rusdae, of Sabbatte, ingesluit wat vir aanbidding opsygesit is. Die rusdag wat die meeste gehou is, was die weeklikse Sabbat. Dit het Vrydag met sonsondergang begin en het geduur tot sonsondergang op Saterdag.—Eksodus 20:8-10.
Moes mense van al die nasies daardie weeklikse rusdag hou? Nee. Die Wet van Moses is net aan die Israeliete en hulle proseliete gegee. God het vir Moses gesê: “Die kinders van Israel moet die sabbat hou . . . Tussen my en die kinders van Israel is dit ’n teken tot onbepaalde tyd.”a—Eksodus 31:16, 17.
Die Bybel sê dat die Mosaïese Wet “’n skaduwee van die toekomstige dinge” was (Kolossense 2:17). Die Sabbat was dus ’n tydelike reëling vir aanbidding wat vooruitgewys het na ’n toekomstige, voortrefliker reëling (Hebreërs 10:1). Die Bybel toon dat die Wet wat aan Israel gegee is, insluitende die vereiste om ’n weeklikse Sabbatdag te hou, uit God se standpunt met Jesus se dood tot ’n einde gekom het (Romeine 10:4). Waardeur is dit vervang?
’n Nuwe vorm van aanbidding
Die vorm van aanbidding wat vir God aanneemlik was nadat die Mosaïese Wet sy doel vervul het, word duidelik in die Bybel uiteengesit. Sluit dit in dat ’n spesifieke dag elke week vir aanbidding opsygesit moet word?
Die Skrif dui aan dat party gebooie wat aan Israel gegee is, ook op diegene in die Christengemeente van toepassing was. Dit het die gebooie ingesluit om hulle van afgodediens en hoerery sowel as die eet van bloed te onthou (Handelinge 15:28, 29). Dit is opmerkenswaardig dat die gebooie aangaande die weeklikse Sabbat nie ingesluit is onder dié wat Christene moes gehoorsaam nie.—Romeine 14:5.
Wat sê die Bybel nog vir ons oor hoe eerste-eeuse Christene aanbid het? Hulle het gereeld bymekaargekom om te bid, die Skrif te lees, na toesprake te luister en lofliedere tot God te sing (Handelinge 12:12; Kolossense 3:16). By sulke vergaderinge het Christene onderrigting ontvang, hulle geloof versterk en mekaar aangemoedig.—Hebreërs 10:24, 25.
Die Bybel sê nêrens dat Christelike vergaderinge op ’n Sondag of enige ander spesifieke dag van die week gehou moet word nie. Maar waarom word Sondag dan deur baie verklaarde Christene as ’n heilige dag beskou? Die gebruik om op ’n Sondag te aanbid, het ontstaan nadat die Bybel voltooi is en verskeie nie-Bybelse opvattings en tradisies begin verskyn het.
Het God later weer ’n weeklikse dag vir gesamentlike aanbidding ingestel? Nee. Die hele patroon vir ware aanbidding is in besonderhede in die Bybel uiteengesit. Geen ander geïnspireerde geskrifte is by die Heilige Skrif gevoeg nie. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Selfs al sou ons of ’n engel uit die hemel aan julle iets as goeie nuus bekend maak benewens dit wat ons aan julle as goeie nuus bekend gemaak het, laat hom vervloek wees.”—Galasiërs 1:8.
Verkwikkende aanbidding wat God behaag
Hoewel die godsdiensleiers van Jesus se dag ’n weeklikse heilige dag nougeset onderhou het, was hulle aanbidding nie vir God aanneemlik nie omdat hulle harte goddeloos was. Hulle was lief vir geld en het neergesien op gewone, nederige mense. Hulle wou aansien hê, hulle was korrup en hulle was diep betrokke by die politieke konflikte van hulle dag (Matteus 23:6, 7, 29-33; Lukas 16:14; Johannes 11:46-48). Hulle het beweer dat hulle God verteenwoordig. Maar hulle het die Sabbat, wat God wou hê ’n bron van verkwikking moes wees, in ’n onderdrukkende stelsel van mensgemaakte reëls verander.—Matteus 12:9-14.
Dit is duidelik dat die onderhouding van ’n weeklikse heilige dag nie die sleutel is tot aanbidding wat God behaag nie. Wat is die sleutel dan? Jesus het hierdie hartlike uitnodiging aan mense gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Aanbidding wat werklik op Jesus se leringe gegrond is, is inderdaad verkwikkend. Dit is vry van huigelary en swaar rituele.
Regoor die wêreld bly Jehovah se Getuies getrou by die patroon van aanbidding wat Jesus se vroeë volgelinge gevolg het. Getuies geniet ’n weeklikse program van Bybelonderrig. Die dae waarop hulle vergaderinge gehou word, word bepaal deur plaaslike omstandighede, nie deur onskriftuurlike tradisies nie. Woon gerus so ’n vergadering in jou gemeenskap by en ondervind self hoe verkwikkend hierdie aanbidding is.
[Voetnoot]
a Die Bybelse uitdrukking “onbepaalde tyd” beteken nie noodwendig vir ewig nie. Dit kan ook ’n lang, ongespesifiseerde tydperk beteken.
HET JY AL GEWONDER?
● Moet jy God op ’n spesifieke dag van die week aanbid?—Romeine 10:4; 14:5.
● Waarom moet ons vir aanbidding bymekaarkom?—Hebreërs 10:24, 25.
●Wat is die sleutel tot aanbidding wat werklik bevredigend is?—Matteus 11:28.
Tabel/Prente op bladsye 10, 11]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DINSDAG
WOENSDAG
1 DONDERDAG
2 VRYDAG
3 SATERDAG
4 SONDAG