Die Bybel se beskouing
Waarom jou spraak saak maak
Die Eerste Minister het so pas ’n beleefde gesprek gevoer met ’n bejaarde vrou wat hy kort tevore ontmoet het. Onbewus van die feit dat sy mikrofoon nog aangeskakel is, noem hy haar verkramp en kla hy dat sy personeel haar moes weggehou het. Die nasie is geskok oor wat hy van die vrou gesê het. Sy reputasie is nou geskend, en net agt dae later verloor hy sy amp as eerste minister, aangesien hy nie weer verkies word nie.
GEEN mens kan sy tong volmaak beheer nie (Jakobus 3:2). Nogtans toon die bogenoemde ondervinding dat woorde wel saak maak. Jou reputasie, jou loopbaan en selfs die sukses of mislukking van jou verhoudings met ander word grootliks deur jou spraak bepaal.
Maar het jy geweet dat jou spraak selfs meer doen? Die Bybel verduidelik dat jou spraak openbaar watter soort persoon jy werklik innerlik is. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). Aangesien jou woorde die gevoelens, gedagtes en emosies weerspieël wat jou uniek maak, is dit belangrik dat jy jou spraak noukeurig ontleed. Kan die Bybel jou hiermee help? Kyk na die volgende.
Hoe om jou spraak te verbeter
Woorde het hulle oorsprong by gedagtes. As jy jou spraak wil verbeter, moet jy jou denkwyse verbeter. Let op hoe die toepassing van God se Woord jou denke kan beïnvloed, wat dan weer ’n invloed op jou spraak kan hê.
Vul jou hart met goeie dinge. Die Bybel beskryf sulke goeie dinge deur te sê: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.
As jy hierdie goeie raad volg, sal dit jou help om verkeerde denke te verwerp. Onthou dat jou denke gevoed en versterk word deur wat jy sien en lees. Om negatiewe en onrein denke te vermy, moet jy dus negatiewe invloede vermy. Dit beteken dat jy van gewelddadige en onwelvoeglike vermaak moet wegbly (Psalm 11:5; Efesiërs 5:3, 4). Laat jou verstand eerder op skoon, positiewe gedagtes fokus. Die Bybel kan jou help om dit te doen. Lees byvoorbeeld Spreuke 4:20-27; Efesiërs 4:20-32 en Jakobus 3:2-12. Kyk hoe dit jou spraak kan verbeter as jy die beginsels toepas wat in hierdie tekste opgeteken is.a
Kies jou woorde sorgvuldig. “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing”, sê Spreuke 12:18. As jy vind dat jy dikwels ander se gevoelens ‘steek’, of seermaak, moet jy hard probeer om te dink voordat jy praat. Volg die uitstekende raad wat in Spreuke 15:28 gevind word: “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord, maar die mond van die goddeloses laat slegte dinge uitborrel.”
Probeer om ’n doelwit te stel. Wees vasbeslote om gedurende die volgende maand nie die eerste ding te sê wat in jou gedagtes opkom nie, veral nie as iemand jou kwaad gemaak het nie. Dink eerder na oor die teksverwysings in hierdie artikel, en wend ’n doelbewuste poging aan om op ’n verstandige, liefdevolle en kalm manier te praat (Spreuke 15:1-4, 23). Maar dit is nie al nie.
Bid vir God se hulp. ’n Bybelskrywer het gebid en gesê: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah” (Psalm 19:14). Vertel vir Jehovah God van jou begeerte om jou spraak op ’n manier te gebruik wat hom behaag en wat jou geselskap vir ander aangenaam sal maak. Spreuke 18:20, 21 sê: “Maak jou woorde aangenaam—jy sal bly wees dat jy dit gedoen het. Woorde kan die dood of die lewe beteken!”—Contemporary English Version.
Gebruik God se Woord as ’n spieël. Die Bybel is soos ’n spieël waarmee jy ’n noukeurige selfondersoek kan doen (Jakobus 1:23-25). Terwyl jy oor die volgende Bybelbeginsels nadink, kan jy jou byvoorbeeld afvra: ‘Hoe vaar ek wat my spraak en reputasie oor die algemeen betref?’
“’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). Praat jy op ’n sagmoedige, vreedsame manier?
“Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Efesiërs 4:29). Is jou spraak opbouend vir diegene om jou?
“Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). Probeer jy om, selfs in moeilike situasies, aangename spraak te gebruik wat vir ander aanneemlik is?
As jy die foute regstel wat jy in ’n spieël raaksien, lyk jy vir ander beter en voel jy ook beter oor jouself. Jy kan dieselfde voordele geniet as jy jou spraak verbeter deur in die spieël van God se Woord te kyk.
[Voetnoot]
a Jy kan die Bybel aanlyn lees op www.watchtower.org.
HET JY AL GEWONDER?
● Wat openbaar jou spraak?—Lukas 6:45.
● Hoe moet jy met ander praat?—Efesiërs 4:29; Kolossense 4:6.
● Watter praktiese dinge kan jy doen om jou spraak te verbeter?—Psalm 19:14; Filippense 4:8.
[Prent op bladsy 11]
Ons spraak het ’n uitwerking op ons reputasie en op ons verhoudings