Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/10 bl. 16-17
  • Joerte—Nomadewonings van Sentraal-Asië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Joerte—Nomadewonings van Sentraal-Asië
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ideaal vir ’n nomadebestaan
  • Die joert oorleef politieke veranderinge
  • Die hedendaagse joert
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2010
  • Gelukkig om ’n herder te wees
    Ontwaak!—2011
  • Alles is vir Jehovah moontlik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Die Altaiërs—’n Volk wat ons leer liefkry het
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 9/10 bl. 16-17

Joerte—Nomadewonings van Sentraal-Asië

WAT is sag en rond en hou jou warm in die winter, maar koel in die somer? Vir nomadevolke in dele van Sentraal-Asië is die antwoord: ’n Joert! Van die grasvlaktes van Mongolië en Kazakstan tot die berge en valleie van Kirgistan was hierdie tradisionele wonings eens iets algemeens.

’n Joert is ’n ronde, tentagtige woning waarvan die mure met versierende grasmatte uitgevoer is. Die buitekant bestaan uit viltdoeke wat van skaapwol gemaak is. Joerte is lig en maklik om aanmekaar te sit, maar is nogtans stewig en gemaklik gedurende warm somers en koue winters. Die Kirgistanners noem die joert ’n grys huis; die Kazakke, ’n vilthuis; en die Mongole, ’n ger, wat “huis” beteken.

Joerte kan grysbruin of helderwit wees, afhangende van die kleur van die wol wat gebruik is. Dikwels word heldergekleurde wol gebruik om Kirgistanse en Kazakse joerte te versier met plaaslike patrone wat ’n ramshoring uitbeeld. In die verlede het pragtige komberse en vloerbedekkings van vilt ’n familie se rykdom en aansien weerspieël.

’n Belangrike deel van die joert is die wiel in die nok van die dak, waaraan al die dakpale vasgemaak word. Hierdie sterk, swaar wiel maak die woning stewig. ’n Viltflap wat die wiel bedek, kan oopgemaak word vir ventilasie, of dit kan tydens gure weer toegemaak word. Op onbewolkte aande kan gesinne die viltflap oopmaak en deur die opening in die dak na die sterrehemel kyk.

Ideaal vir ’n nomadebestaan

Op die platteland van lande soos Kazakstan, Kirgistan en Mongolië is daar nog steeds mense wat ’n nomadebestaan voer. In haar boek Yurts—Living in the Round vertel Becky Kemery hoe kamele nog steeds gebruik word om joerte in Mongolië te vervoer: “Die raam word op een kameel gelaai met ’n gelyke vrag aan elke kant. Die dakwiel word laaste gelaai; dit pas mooi oor die bult. Die vilt word op ’n tweede kameel gelaai. As die herders nie kamele het nie, gebruik hulle jakke of perde om waens te trek waarop die joerte vervoer word, of die joerte kan in ’n Russiese vragmotor na hulle nuwe bestemming geneem word.”

Mongoolse joerte het reguit pale en platter dakke as ander joerte. Dit maak hulle opgewasse teen die sterk winde en weerlig op die oop vlaktes. Die joerte in Kirgistan en Kazakstan se dakke is hoër en het ’n ronder vorm. Gewoonlik is die ingang van ’n joert na die son gekeer sodat sonlig kan inkom. Binne die joert, teenoor die ingang, staan houtkiste waarop stapels opgevoude viltmatte en komberse lê. Gewoonlik sit ’n belangrike gas of die gesin se oudste manlike lid voor hierdie kleurvolle stapel.

Die kant van die joert regs van die ingang is vir die vroue. Al die voorwerpe wat gebruik word om mee te kook, skoon te maak, naaldwerk te doen en vilt te maak, word hier gehou. Die ander kant is vir die mans. Saals, ryswepe en ander toerusting vir die jag en die versorging van diere word hier gevind.

Die joert oorleef politieke veranderinge

Die lewenswyse van die nomades het drasties verander ná die Kommunistiese Revolusie in 1917. Die Russe het dwarsdeur Sentraal-Asië skole, hospitale en paaie gebou, wat ’n meer gevestigde lewenswyse tot gevolg gehad het.

Mettertyd het talle plaaslike volke hulle nomadebestaan die rug toegekeer om in dorpe en stede te gaan woon. Nietemin word joerte soms gedurende die somermaande deur herders gebruik wat op groot gemeenskapsplase na skape, beeste en perde omsien.

“As ’n tiener”, vertel Maksat, ’n Kirgistanse man wat nou in sy laat 30’s is, “het ek my pa gehelp om die kudde op te pas wat in sy sorg was. Teen Julie, wanneer die sneeu gesmelt het en die bergpasse oop was, het ons ons diere na hoër bergweiding geneem.

“Daar het ons ons joert langs ’n bergstroom opgerig, waar ons genoeg water gehad het om mee te kook en te was. Ons het daar gebly totdat dit vroeg in Oktober koud geword het.” Die joert het dus nog steeds ’n plek in moderne gemeenskappe.

Die hedendaagse joert

In plekke soos Kirgistan is dit iets algemeens om joerte langs die pad te sien. Dit word gebruik as winkels of kafees, waar besoekers plaaslike disse kan geniet. Gaste kan ook die tradisionele Kirgistanse lewenswyse ervaar deur in die berge van Kirgistan of langs die ongerepte Issik Koel-meer in ’n joert te oornag.

Joerte speel ook ’n rol in party van die tradisionele begrafnisgebruike van Sentraal-Asië. Maksat verduidelik: “In Kirgistan word die oorledene binne ’n joert geplaas, waar familie en vriende die dood van hulle geliefde kan kom betreur.”

Deesdae kan joerte ook in Westerse lande gesien word. Party mense het die joert bevorder as ’n praktiese en redelik omgewingsvriendelike woning. Maar die meeste hedendaagse joerte verskil nogal van dié wat vroeër gebou is. Ultramoderne materiaal word gebruik, en hulle word dikwels as permanenter wonings opgerig.

Hoewel die oorsprong van die joert nie met sekerheid vasgestel kan word nie, kan die waarde van hierdie gebou nie bevraagteken word nie. Die joert is steeds diep gewortel in die nomadiese gees van die mense van Sentraal-Asië en lewer blywende getuienis van die vindingrykheid van veerkragtige en aanpasbare mense.

[Prent op bladsy 17]

Joerte langs die bekende Issik Koel-meer in Kirgistan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel