Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/10 bl. 10-11
  • Die noordelike kalkoenibis—’n Gehokte trekvoël

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die noordelike kalkoenibis—’n Gehokte trekvoël
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Leer meer omtrent ons geveerde vriend
  • Bewaringspogings in Turkye
  • Die toekoms van die noordelike kalkoenibis
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2010
  • Selfs voëls ‘ken hul bepaalde tye’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
  • Die raaisels van migrasie word ondersoek
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 6/10 bl. 10-11

Die noordelike kalkoenibis—’n Gehokte trekvoël

’N GESIN van vyf is gereed om op ’n lang reis te vertrek, en vriende het hulle kom afsien. Die gesin kyk vir oulaas na die plek wat lank hulle tuiste was en vertrek dan. Terwyl die omstanders toekyk, verdwyn die vyf in die verte oor die horison.

Ons is by die Kalkoenibis-teelstasie in Birecik, Turkye, ’n dorp langs die Eufraatrivier. Die gesin wat so pas vertrek het, is ’n groep noordelike kalkoenibisse, ’n bedreigde spesie. Aan elke voël se been is ’n satellietsender vasgemaak. Die vriende—die personeel by die stasie en die besoekers—hou die voëls angstig dop terwyl hulle die onbekende invlieg omdat hulle bekommerd is dat die gesin dalk nie sal terugkeer huis toe nie.

Watter soort voël is die noordelike kalkoenibis? Waarheen vlieg hulle wanneer hulle migreer? En waarom is daar soveel belangstelling in hulle migrasie?

Leer meer omtrent ons geveerde vriend

Wanneer die noordelike kalkoenibis uitbroei, is daar vere op sy kop. Maar wanneer hy ouer begin word, verloor hy hierdie vere, wat verduidelik waar sy naam vandaan kom. Op die res van sy lyf het die kalkoenibis swart vere wat in die son ’n bronsgroen en pers skynsel het. Sy kop en snawel is rooi, met die uitsondering van ’n deel bo-op sy kop. Die kalkoenibis het ook lang vere op sy agternek.

’n Ibis bereik volwassenheid ná drie of vier jaar. Sy normale lewensduur is tussen 25 en 30 jaar. Hy eet insekte, akkedisse en selfs klein soogdiere. Wyfies kan een tot drie eiers per jaar lê en sal sowat vier weke neem om dit uit te broei. Die voëls het ’n merkwaardige eienskap—hulle behou lewenslank dieselfde maat. Wanneer een doodgaan, rou sy maat daaroor. Trouens, daar is al dikwels gesien dat die oorlewende maat ophou eet en van honger doodgaan of hom selfs van ’n hoë krans af te pletter duik.

Die inwoners van Birecik sal vir jou vertel dat die kalkoenibis se terugkeer van sy trekroete tot omstreeks die begin van die 20ste eeu ’n rede vir feesviering was. Dit is beskou as ’n aanduiding dat die lente naby is. Gedurende die fees, wat in die middel van Februarie gehou is, is bote uit die Eufraatrivier tot op droë grond gesleep terwyl daar op tromme geslaan en feesgevier is.

Destyds was die swerms kalkoenibisse so groot dat hulle soos ’n ontsaglike swart wolk in die lug gelyk het. Maar in die laaste eeu—en veral in die afgelope 50 jaar—het hulle getalle skerp gedaal. Daar was vroeër 500 tot 600 broeipare in die kolonie by Birecik, maar hulle getalle het drasties afgeneem toe landbouplaagdoders in die 1950’s in gebruik geneem is. Vandag is daar baie min van hierdie voëls oor in die wêreld.

Bewaringspogings in Turkye

Die Kalkoenibis-teelstasie is in 1977 in Birecik gestig. Die voëls is elke jaar toegelaat om te migreer—maar net tot 1990, toe net een teruggekeer het. Daarna is hulle verhinder om te migreer. Die tyd wanneer die voëls gewoonlik sou begin migreer, tussen Julie en Augustus, het die personeel hulle in voëlhokke gesit. Die voëls is in Februarie of Maart die volgende jaar vrygelaat, wanneer hulle sou terugkeer.

In 1997 is daar besluit om ’n hele paar van hulle weer te laat migreer. Ongelukkig is nie een van die 25 voëls wat vrygelaat is, ooit weer gesien nie. Vanaf 1998 is al die voëls weer in voëlhokke gesit om te verhinder dat hulle migreer. Nietemin floreer die kolonie. Die teelstasie het tans ’n bevolking van byna honderd.

Die toekoms van die noordelike kalkoenibis

Ongelukkig het net twee van die gesin van vyf, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, teruggekeer. Toe, in 2008, is nog ’n groep voëls toegelaat om te migreer. Ongelukkig het hulle ook nie teruggekeer huis toe nie. Owerhede sê dat die voëls suidwaarts gemigreer het tot by Jordanië, maar dat hulle aan vergiftiging dood is. Dit beteken dat die toekoms van die noordelike kalkoenibis nog steeds in die weegskaal is, ondanks die toename in die bevolking by die teelstasie sowel as al die pogings van wetenskaplikes en regeringsowerhede.

Al word die kalkoenibisse vir hulle eie veiligheid gehok, het hierdie onlangse pogings getoon dat hulle nie hulle trekinstink verloor het nie. Dit bevestig die woorde van die Bybel in Jeremia 8:7: “Die ooievaar in die hemel—hy ken sy vasgestelde tye goed; en die tortelduif en die windswael en die tiptol—hulle neem die tyd van hulle koms goed in ag.”

[Foto-erkennings op bladsy 10]

Links: Richard Bartz; regs: © PREAU Louis-Marie/age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel