Ons beskou die wêreld
◼ In ’n onlangse studie “is bevind dat ses uit 10 Britte dink dat godsdiens ’n verdelende krag geword het”.—THE CATHOLIC HERALD, BRITTANJE.
◼ Die wêreld se grootste fotovoltaïese aanleg is in Portugal opgerig. Sonkragselle beslaan 250 hektaar en sal genoeg elektrisiteit kan produseer vir sowat 30 000 huise.—EL PAÍS, SPANJE.
◼ Elke jaar sterf 900 000 kinders—meer as 2 000 elke dag—regoor die wêreld as gevolg van onnatuurlike oorsake. Die vernaamste oorsake is padongelukke, verdrinking en brandwonde.—DIE WELT, DUITSLAND.
◼ “Hoewel die tempo van die netto verlies aan woude in onlangse jare afgeneem het, verloor die wêreld nog steeds sowat 200 vierkante kilometer woud per dag.”—VOEDSEL-EN-LANDBOU-ORGANISASIE VAN DIE VERENIGDE NASIES, ITALIË.
◼ In Januarie 2009 het vyf seerowers verdrink kort nadat hulle groep glo ’n losprys van $3 000 000 (VSA) (R24 000- 000) vir ’n Saoediese olietenkskip ontvang het. Een van die liggame het op die strand uitgespoel, en in sy sak is $153 000 (R1 224 000) in kontant in ’n plastieksak gevind.—ASSOCIATED PRESS, SOMALIË.
Jongmense dink portuurs is bederf
Die koerant de Volkskrant sê dat jongmense in Nederland “meen dat hulle portuurs bederf word” en dat hulle “te veel aangespoor word om goed oor hulleself te voel, wat ’n gebrek aan bedagsaamheid teenoor ander tot gevolg het”. Onder mense tussen 16 en 24 “meen ten minste 2 uit elke 3 . . . dat jongmense se regte nie meer in ewewig is met hulle pligte nie”, berig die koerant. Die algemene mening is dat “jongmense baie eise stel . . . en hulle selde afvra wat hulle tot die samelewing kan bydra”.
Kinders berei middagete voor
Toe ’n Japannese skoolhoof na maniere gesoek het om ouers en kinders aan te moedig om meer tyd saam deur te bring, het die skool sy idee aangeneem dat kinders een dag in ’n maand hulle eie kosblik moet pak. Honderde skole doen nou dieselfde. “Daar word nie van die kinders verwag om van die begin af alles self te doen nie”, sê Japan se IHT Asahi Sjimboen. “Elke graad het sy eie doelwit. Kinders in die laer grade vra hulle gesin om te help om ’n spyskaart op te stel en om die bestanddele te koop. . . . Die hoër grade konsentreer daarop om ’n gebalanseerde spyskaart uit te werk.” Die resultaat? “Skole het berig dat kinders beter kon kosmaak, minder kos vermors is en gesinne iets nuuts gehad het om oor te praat”, sê die koerant. Kinders beweer ook “dat hulle geleer het om te waardeer wat hulle ouers vir hulle doen”.
Opruiming by die Suidpool
Russiese pooldeskundiges het verlede jaar, as deel van ’n spesiale ekologiese program, 360 ton afval in ’n algemene opruiming uit Antarktika verwyder. Vullis wat naby navorsingstasies by die Suidpool gestort is, het ongebruikte boumateriaal, stukkende masjinerie en leë brandstofvate ingesluit. “Volgens die protokol vir die ekologiese beskerming van die suidelikste punt van die aarde moet elke land sy eie vullis verwyder”, berig die Russiese tydskrif Itogi. “Die Japannese kom hulle verpligtinge die getrouste na.”