Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/09 bl. 26-29
  • Jy kan jou geheue verbeter!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan jou geheue verbeter!
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontsaglike potensiaal
  • Verbeter jou geheue
  • Geheuebrûe—’n nuttige hulpmiddel
  • Hoe om jou geheue te verbeter
    Ontwaak!—1992
  • Jy kan jou geheue verbeter
    Ontwaak!—1996
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
  • Jy kan jou geheue verbeter
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 2/09 bl. 26-29

Jy kan jou geheue verbeter!

“Ons geheue verruim ons wêreld. Daarsonder sou ons nie ’n gevoel van kontinuïteit hê nie en sou ons elke oggend ’n vreemdeling in die spieël sien. Elke dag en gebeurtenis sou ’n afsonderlike ondervinding wees; ons sou nie uit die verlede kon leer of dinge in die toekoms kon verwag nie.” —“MYSTERIES OF THE MIND.”

WAAROM kan sommige voëls ná maande onthou waar hulle saadjies vir die winter weggebêre het en kan eekhorings die plekke onthou waar hulle neute begrawe het, terwyl ons dalk vergeet waar ons ons sleutels ’n uur gelede neergesit het? Ja, baie van ons kla oor ’n swak geheue. Tog het die mensebrein ’n verbasende vermoë om te leer en te onthou, al is dit onvolmaak. Die geheim is om die beste gebruik te maak van wat ons het.

Ontsaglike potensiaal

Die mensebrein weeg ongeveer 1,4 kilogram en is naastenby so groot soos ’n pomelo, maar tog bevat dit sowat 100 miljard neurone, of senuselle, wat saam ’n ongelooflik komplekse netwerk vorm. Trouens, net een neuron kan met 100 000 ander verbind wees. Hierdie “bedrading” gee die brein die potensiaal om ’n eindelose hoeveelheid inligting te verwerk en te berg. Die uitdaging is natuurlik om die inligting te herroep wanneer dit nodig is. Party mense blink hierin uit, insluitende baie wat min of geen skoolopleiding gehad het nie.

Byvoorbeeld, in Wes-Afrika kan ongeletterde stamgeskiedkundiges wat griots genoem word, die name van baie geslagte mense in hulle dorpies opnoem. Griots het dit vir die Amerikaanse skrywer Alex Haley, wie se boek Roots ’n Pulitzerprys gewen het, moontlik gemaak om sy stamboom in Gambië ses geslagte terug te voer. Haley het gesê: “Ek is baie verskuldig aan die griots van Afrika, waar daar vandag tereg gesê word: ‘Wanneer ’n griot sterf, is dit asof ’n biblioteek afgebrand het.’”

Dink ook aan die beroemde Italiaanse dirigent Arturo Toscanini, wat op die ouderdom van 19 jaar “ontdek is” toe hy gevra is om vir ’n ander dirigent in te staan. Ten spyte van sy swak sig kon hy die hele opera Aïda dirigeer—uit sy kop!

Ons verwonder ons dalk oor sulke vermoëns. Tog het die meeste mense die potensiaal om veel meer te onthou as wat hulle dink hulle kan. Sal jy graag jou geheue wil verbeter?

Verbeter jou geheue

Geheue behels drie stadiums: kodering, berging en herroeping. Jou brein kodeer inligting wanneer dit daarvan bewus word en dit registreer. Hierdie inligting kan geberg word sodat dit in die toekoms herroep kan word. Ons geheue laat ons in die steek wanneer iets tydens enige van hierdie drie stadiums fout gaan.

Geheue as sodanig word in verskillende soorte geheue verdeel, waaronder sintuiglike geheue, korttermyngeheue en langtermyngeheue. Sintuiglike geheue ontvang inligting deur prikkels vanaf die sintuie, soos die reuksin, gesig en tassin. Korttermyngeheue, wat ook werkende geheue genoem word, berg klein hoeveelhede inligting vir kort tydperke. Ons kan dus hoofrekene doen, ’n telefoonnommer lank genoeg onthou om dit te skakel en die eerste deel van ’n sin onthou terwyl ons na die tweede deel luister of dit lees. Maar soos ons almal weet, het korttermyngeheue sy perke.

As jy inligting vir ’n onbepaalde tyd wil berg, moet dit na jou langtermyngeheue gaan. Hoe kan jy dit daar kry? Die volgende beginsels sal help.

◼ Belangstelling Kweek ’n belangstelling in die onderwerp aan, en herinner jou aan die redes waarom jy dit leer. Soos jy moontlik uit eie ondervinding weet, onthou jy iets beter wanneer jou emosies daarby betrokke is. Hierdie feit kan vir Bybelstudente van groot nut wees. Wanneer hulle die Bybel lees met die tweevoudige doelwit om nader aan God te kom en ander van hom te leer, kan dit hulle geheue aansienlik verbeter.—Spreuke 7:3; 2 Timoteus 3:16.

◼ Aandag “Wanneer jou geheue jou in die steek laat, weerspieël dit gewoonlik ’n gebrek aan aandag”, sê die boek Mysteries of the Mind. Wat kan jou help om aandag te skenk? Stel belang en maak, waar moontlik, aantekeninge. Wanneer aantekeninge gemaak word, word die verstand nie net op iets toegespits nie, maar stel dit ’n luisteraar ook in staat om die materiaal later te hersien.

◼ Begrip “By alles wat jy verwerf, verwerf begrip”, sê Spreuke 4:7. Wanneer jy ’n konsep nie verstaan nie, sal jy dit waarskynlik nie goed onthou nie, of dalk glad nie onthou nie. Begrip werp lig op die verband tussen dele, en weef dit saam om ’n geheel te vorm. Wanneer ’n student van meganika byvoorbeeld verstaan hoe ’n enjin werk, sal hy die besonderhede daarvan beter onthou.

◼ Organisering Rangskik soortgelyke konsepte of verwante idees in kategorieë. ’n Inkopielys is byvoorbeeld makliker om te onthou as ons items groepeer—vleis, groente, vrugte, ensovoorts. Verdeel ook die inligting in hanteerbare hoeveelhede van nie meer as vyf tot sewe items nie. Telefoonnommers word gewoonlik opgedeel sodat dit makliker onthou kan word. Laastens kan dit nuttig wees om jou lys volgens ’n sekere volgorde te rangskik, dalk alfabeties.

◼ Verwoord, of sê hardop As jy hardop herhaal wat jy wil onthou (byvoorbeeld ’n woord of frase in ’n vreemde taal), sal dit die neurale verbindings versterk. Hoe so? Eerstens, wanneer jy die woord sê, dwing dit jou om noukeurig aandag te skenk. Tweedens, jy kan onmiddellik terugvoering van jou onderwyser kry. En derdens, as jy luister—selfs na jouself—gebruik jy ander dele van jou brein.

◼ Visualisering Vorm ’n beeld in jou verstand van wat jy wil onthou. Dalk sal jy dit ook nuttig vind om ’n skets of ’n diagram daarvan te maak. Soos met verwoording maak visualisering gebruik van verskillende dele van jou brein. Hoe meer sintuie jy gebruik, hoe dieper word die inligting ingeprent.

◼ Assosiasie Wanneer jy iets nuuts leer, moet jy dit assosieer met iets wat jy alreeds weet. As ons gedagtes met herinneringe verbind, is dit makliker om dit te kodeer en te herroep omdat die assosiasie as ’n leidraad dien. As jy byvoorbeeld iemand se naam wil onthou, kan jy dit met ’n ongewone kenmerk van sy voorkoms assosieer, of met iets anders wat jou aan sy naam sal herinner. Hoe snaakser of onsinniger die assosiasie, hoe makliker sal jy dit onthou. Kortom, ons moet dink oor die mense en dinge wat ons wil onthou.

Die boek Searching for Memory sê: “As ons dinge dikwels werktuiglik doen en nie op ons omgewing en ons ondervindinge ag slaan nie, kan ons dalk ’n prys daarvoor betaal deur slegs vae herinneringe te hê van waar ons was en wat ons gedoen het.”

◼ Vaslegging Laat tyd toe vir die inligting om verwerk te word, om as ’t ware in te sink. Een van die beste maniere om dit te doen, is om te hersien wat jy geleer het, dalk deur dit aan iemand anders te herhaal. As jy ’n interessante ondervinding gehad het of iets opbouends in die Bybel of in ’n Bybelstudiehulp gelees het, kan jy iemand daarvan vertel. Op hierdie manier sal julle albei daarby baat vind—jy sal dit beter onthou en jou vriend sal bemoedig wees. Herhaling is ’n welbekende manier om jou te help om iets te onthou.

Geheuebrûe—’n nuttige hulpmiddel

In eertydse Griekeland en Rome kon redenaars lang toesprake hou sonder ’n enkele aantekening. Hoe het hulle dit gedoen? Hulle het van geheuebrûe gebruik gemaak. ’n Geheuebrug is ’n tegniek of hulpmiddel wat ons help om inligting in die langtermyngeheue te berg en te herroep wanneer nodig.

’n Geheuebrug wat deur eertydse Griekse redenaars gebruik is, was die lokus-metode, of die ligging-metode, wat eerste deur die Griekse digter Simonides van Keos in 477 v.G.J. beskryf is. Hierdie tegniek kombineer die beginsels van organisering, visualisering en assosiasie met iets bekends, soos ’n landmerk langs ’n pad of ’n voorwerp in jou kamer of huis. Mense wat die lokus-tegniek gebruik, gaan stap as ’t ware ’n entjie in hulle gedagtes en assosieer elke brokkie inligting wat hulle wil onthou, met sekere landmerke of voorwerpe. Wanneer hulle die inligting wil herroep, stap hulle bloot weer dieselfde paadjie in hulle gedagtes.—Sien die venster “Gaan stap ’n entjie in jou verbeelding”.

Navorsing wat gedoen is op toppresteerders in die jaarlikse Wêreldgeheuekampioenskap, het aan die lig gebring dat hulle merkwaardige geheue nie die gevolg is van ’n uitsonderlike intellek nie. Boonop was die meeste deelnemers tussen 40 en 50 jaar oud. Wat was hulle geheim? Baie het hulle vaardigheid aan hulle doeltreffende gebruik van geheuebrûe toegeskryf.

Moet jy lyste van woorde onthou? ’n Doeltreffende geheuebrug hiervoor is die akroniem—’n nuwe woord wat gevorm word deur die eerste letter of letters van ’n groep woorde saam te voeg. Baie Noord-Amerikaners onthou die name van die vyf Groot Mere—Huron, Ontario, Michigan, Erie en Superior (die Bowemeer)—deur middel van die akroniem “HOMES”. ’n Soortgelyke geheuehulp is die akrostigon, wat baie deur die eertydse Hebreërs gebruik is. In baie van die psalms begin die eerste woord van elke vers of groep verse byvoorbeeld met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. (Sien Psalm 25, 34, 37, 111, 112 en 119.) Hierdie nuttige geheuehulp het dit vir sangers moontlik gemaak om al 176 verse van Psalm 119 te onthou!

Ja, jy kan jou geheue oefen en verbeter. Soos studies toon, is ons geheue baie soos ’n spier. Hoe meer ons dit gebruik, hoe sterker word dit, selfs wanneer ons bejaard is.

[Venster op bladsy 27]

BYKOMENDE WENKE

◼ Stimuleer jou geheue deur nuwe vaardighede of ’n nuwe taal aan te leer, of om te leer hoe om ’n musiekinstrument te bespeel.

◼ Vestig jou aandag op die belangrikste dinge.

◼ Leer hoe om geheuebrug-tegnieke te gebruik.

◼ Drink genoeg water. Ontwatering kan veroorsaak dat ’n mens verward raak.

◼ Kry genoeg slaap. Wanneer ’n mens slaap, berg die brein herinneringe.

◼ Ontspan terwyl jy studeer. Spanning veroorsaak die vrystelling van kortisol, wat die interaksie tussen senuselle belemmer.

◼ Moenie alkohol misbruik of rook nie. Alkohol het ’n nadelige uitwerking op die korttermyngeheue, en alkoholisme kan lei tot ’n tekort aan tiamien, ’n B-vitamien wat noodsaaklik is vir die behoorlike werking van die geheue. Rook veroorsaak dat minder suurstof die brein bereik.a

[Voetnoot]

a Gebaseer op inligting wat in die elektroniese tydskrif Brain & Mind gepubliseer is.

[Venster/Prente op bladsy 28, 29]

GAAN STAP ’N ENTJIE IN JOU VERBEELDING

Hoe sal jy ’n inkopielys met verskillende items, soos brood, eiers, melk en botter, onthou? Deur middel van die lokus-metode kan jy hulle “sien” terwyl jy in jou verbeelding deur jou sitkamer loop.

Visualiseer ’n kussing van brood op die leunstoel

eiers wat onder die lamp uitgebroei word

jou goudvis wat in ’n tenk vol melk swem

botter wat oor die hele televisieskerm gesmeer is

Hoe snaakser of hoe ongewoner, hoe beter! Wanneer jy by die winkel kom, kan jy weer aan jou wandeling deur die sitkamer dink.

[Venster op bladsy 29]

WEES BLY JY KAN VERGEET!

Stel jou voor hoe jou lewe sou gewees het as jy alles onthou het, hetsy belangrik of onbenullig. Jou verstand sou vol onnodige inligting geraak het, nie waar nie? Trouens, een vrou wat feitlik alles kan onthou wat in haar lewe gebeur het, “het haar voortdurende herroeping van gebeure beskryf as ‘ononderbroke, onbeheerbaar en absoluut uitmergelend’, en as ’n ‘las’”, sê die tydskrif New Scientist. Gelukkig het die meeste van ons nie daardie probleem nie, omdat ons verstand volgens navorsers die vermoë het om ontslae te raak van inligting wat nie ter sake is nie of wat verouderd is. “Om doeltreffend te vergeet”, sê New Scientist, “is ’n onontbeerlike deel van ’n geheue wat reg funksioneer. Wanneer ons iets nuttigs vergeet, . . . is dit net ’n aanduiding dat hierdie uitdunstelsel ’n bietjie te goed werk.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel