Genees deur “’n baie ou boek”
◼ Een van Jehovah se Getuies in Brasilië, Suid-Amerika, het mense by hulle huise besoek toe sy ’n vrou teëgekom het wat vir haar gesê het dat haar skoonma deur ’n boek genees is. Uit nuuskierigheid het die Getuie gevra watter boek dit was. “Dis ’n baie ou boek”, het die vrou gesê, en toe het sy haar seun se eksemplaar van My boek met Bybelverhale gaan haal, wat al redelik verslete was.
Die vrou het verduidelik dat haar skoonma aan depressie gely het en dat sy so bang was vir die dood en die donker dat sy nie uit haar bed wou klim nie. Die vrou se seun het die Bybelverhale-boek in die hande gekry en dit vir sy ouma begin lees. Die ouma is so bemoedig en opgebou deur wat haar kleinseun gelees het, dat sy van haar probleem bevry is.
Die Getuie vertel: “Toe ek vir die vrou sê dat die boek deur Jehovah se Getuies uitgegee word en dat ek vir haar ’n nuwe eksemplaar kon kry, het sy my vir twee gevra—een vir haar skoonma en een vir haar. Toe ek die boeke aflewer, het sy vir nog boeke gevra. Mettertyd het sy 16 eksemplare van die boek vir haar vriende gekry!”
Jy kan ’n eksemplaar van My boek met Bybelverhale aanvra, wat 116 verhale oor mense en gebeurtenisse in die Bybel bevat. In die afgelope 30 jaar sedert hierdie boek uitgegee is, is meer as 72 miljoen eksemplare al gedruk. Jy kan ’n boek aanvra deur die bygaande koepon in te vul en dit na die adres op die koepon of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif te pos.
□ Lewer asseblief hierdie boek by my af, sonder enige verpligting.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.