Jongmense vra
Sê nou my broer of suster het selfmoord gepleeg?
Die dag toe Karen se pa die nuus gebring het, het haar lewe verander. “Sheila is nie meer daar nie”, is al wat hy kon sê. Karen en haar pa het hulle arms om mekaar geslaan, terwyl hulle sin probeer maak het van ’n uiters sinlose daad. Karen se suster het haar eie lewe geneem.a
WANNEER ’n jongmens sterf, dink mense met goeie bedoelings wat wil troos, dikwels net aan die ouers. Hulle vra die broers en susters van die persoon wat gesterf het: “Hoe gaan dit met jou pa en ma?” maar hulle vergeet dalk om te vra: “Hoe gaan dit met jou?” Dit is dus met goeie rede dat die broers en susters wat nog lewe, vergete treurendes genoem word.
Navorsing toon dat jongmense diep geraak word deur die dood van ’n broer of suster. “So ’n groot verlies het ’n nadelige uitwerking op kinders se gesondheid, gedrag, skoolwerk, selfbeeld en ontwikkeling”, skryf dr. P. Gill White in haar boek Sibling Grief—Healing After the Death of a Sister or Brother.
Ouer kinders word ook geraak. Karen, wat aan die begin genoem is, was 22 jaar oud toe Sheila, haar jonger suster, haar lewe geneem het. Nogtans het dit soms gevoel asof haar droefheid ondraaglik is. “Ek kan nie sê dat ek meer as my ouers gely het nie”, sê sy, “maar ek dink hulle kon die lyding beter hanteer as wat ek kon.”
Het jy al, soos Karen, ’n broer of suster aan die dood afgestaan? Indien wel, voel jy dalk soos die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Ek het ontsteld geraak, ek het my baie laag neergebuig; die hele dag het ek bedroef rondgeloop” (Psalm 38:6). Hoe kan jy jou droefheid verwerk?
“As ek maar net . . . ”
Die selfmoord van ’n broer of suster kan jou met verskriklike skuldgevoelens laat. ‘As ek maar net dinge anders gedoen het, sou my broer of suster nog gelewe het’, redeneer jy dalk. Miskien lyk dit asof daar bewyse is om daardie gedagte te ondersteun. Chris, wat 21 was toe sy 18-jarige broer sy lewe geneem het, het so gedink. “Ek was die laaste persoon wat met my broer gepraat het”, sê hy, “en ek het gedink dat ek moes geweet het iets is fout. Ek het geredeneer: As dit maar net makliker was om my te nader, sou hy dalk meer vrymoedigheid gehad het en met my gepraat het.”
Die droefheid wat Chris gevoel het, is vererger deur die feit dat hy en sy broer nie ’n goeie verhouding gehad het nie. “Die briefie wat hy geskryf het, het gesê dat ek ’n beter broer kon gewees het”, sê Chris baie hartseer. “Hoewel ek weet dat hy nie emosioneel gesond was nie, teister daardie gedagte my nog steeds.” Dikwels word sulke skuldgevoelens vererger deur herinneringe aan bittere woordewisselings met ’n broer of ’n suster voordat hy of sy gesterf het. “Talle bedroefde jongmense het vir my gesê dat skuldgevoelens oor ’n uitval wat hulle maande of selfs jare gelede gehad het, hulle nog steeds teister”, het dr. White, wat vroeër aangehaal is, vir Ontwaak! gesê.
As jy ly weens skuldgevoelens oor ’n broer of ’n suster se selfmoord, vra jou af: ‘Watter mens het volle beheer oor die dade van ’n ander mens?’ Karen sê: “Die lyding waarvan die ander persoon probeer wegkom het—en die aaklige manier waarop hy of sy dit beëindig het—is nie iets wat jy kon verhoed het nie.”
Maar sê nou jy het ongevoelige of kwetsende dinge vir jou broer of suster gesê wat jy nie kan vergeet nie? Die Bybel kan jou help om dinge in perspektief te stel. Dit sê: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2; Psalm 130:3). Om te tob oor kere toe jy dalk jou broer of suster ongevoelig behandel het of nie mooi met hom of haar gepraat het nie, sal jou droefheid in werklikheid net vererger. Al is daardie herinneringe baie pynlik; die feit bly staan dat jy nie jou broer of suster se dood veroorsaak het nie.b
Hoe om droefheid te verwerk
Daar is nie twee mense wat op presies dieselfde manier treur nie. Sommige huil openlik, en niks is daarmee verkeerd nie. Die Bybel sê dat Dawid ná die dood van sy seun Amnon “gehuil [het] met ’n baie groot gehuil” (2 Samuel 13:36). Selfs Jesus “het trane gestort” toe hy die droefheid sien wat deur die dood van sy vriend Lasarus veroorsaak is.—Johannes 11:33-35.
Aan die ander kant treur sommige nie onmiddellik nie—veral wanneer die dood onverwags is. “Dit het gevoel asof my gevoelens gevries het”, sê Karen. “Ek het ’n tyd lank so te sê ophou funksioneer.” So ’n reaksie is baie algemeen wanneer ’n broer of suster sy of haar lewe neem. “Selfmoord is traumaties”, het dr. White vir Ontwaak! gesê, “en jy moet die trauma verwerk voordat jy die droefheid verwerk. Sommige professionele beraders probeer om dié wat nog lewe, te kry om te huil en te treur wanneer hulle nog nie daarvoor gereed is nie. Hulle is nog lam van die skok.”
Om jou broer of suster se dood te verwerk, sal tyd neem, en dit is verstaanbaar as ’n mens in ag neem wat gebeur het. “Ons gesin is soos ’n blompot wat stukkend gebreek het en toe weer aanmekaargegom is”, sê Chris. “Ons ‘kraak’ nou makliker onder ligter druk.” Probeer die volgende wenke toepas om jou te help om die situasie die hoof te bied:
◼ Maak ’n lys van vertroostende Bybelgedeeltes, en lees dit ten minste een maal per dag.—Psalm 94:19.
◼ Praat met ’n simpatieke persoon by wie jy jou hart kan uitstort. Om oor dinge te praat, kan jou help om beter te voel.—Spreuke 17:17.
◼ Peins oor die Bybel se belofte van ’n opstanding.—Johannes 5:28, 29.
Jy sal dalk ook vind dat dit jou sal help om jou droefheid in perspektief te plaas as jy ’n dagboek hou—ten minste ’n tyd lank. Jy kan gerus die venster hieronder gebruik om mee te begin.
Wees verseker dat ‘God groter is as ons hart en alles weet’ (1 Johannes 3:20). Hy weet beter as enigiemand watter faktore en omstandighede moontlik tot jou broer of suster se angstige toestand bygedra het. En hy ken jou—beter as wat jy jouself ken (Psalm 139:1-3). Jy kan dus volle vertroue hê dat hy verstaan wat jy deurmaak. Wanneer jy voel dat jou droefheid jou oorweldig, kan jy dink aan die woorde van Psalm 55:22: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”
Vertroosting vir dié wat treur
Vir meer inligting oor hoe om die dood van ’n geliefde te verwerk, sien die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Name in hierdie artikel is verander.
b Dieselfde geld wanneer iemand as gevolg van siekte of ’n ongeluk sterf. Ongeag hoe lief jy was vir jou broer of suster, jy het min of geen beheer oor “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” nie.—Prediker 9:11.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Met wie kan jy praat as jou gevoelens jou oorweldig?
◼ Hoe kan jy ondersteuning gee aan ’n jongmens wat treur?
[Venster op bladsy 20]
Om jou gedagtes neer te skryf, kan baie help om droefheid te verwerk. Voltooi dus die volgende stellings en beantwoord die vrae.
◼ Hier is drie aangename herinneringe wat ek van my broer of suster het:
1 ․․․․․
2 ․․․․․
3 ․․․․․
◼ Dit is wat ek wens ek vir my broer of suster gesê het toe hy of sy nog gelewe het:
․․․․․
◼ Wat sou jy vir ’n jonger kind sê wat homself (of haarself) blameer vir ’n broer of suster se dood?
․․․․․
◼ Watter van die volgende tekste vertroos jou die meeste, en waarom?
□ “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.
□ “Hy het die ellende van die geteisterde nie verag of verafsku nie; en hy het sy aangesig nie vir hom verberg nie, en wanneer hy tot hom om hulp geroep het, het hy gehoor.”—Psalm 22:24.
□ “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.