Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/08 bl. 10-11
  • Wanneer is selfverdediging geoorloof?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer is selfverdediging geoorloof?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God haat geweld
  • Wanneer jy bedreig word
  • Die beste beskerming
  • Selfverdediging—Hoe ver kan ’n Christen gaan?
    Ontwaak!—1991
  • “Soek vrede en jaag dit na!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Hoe beskou God geweld?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 6/08 bl. 10-11

Die Bybel se beskouing

Wanneer is selfverdediging geoorloof?

’N SKIELIKE geraas maak jou in die middel van die nag wakker. Jy hoor voetstappe. Daar is ’n inbreker in jou huis. Terwyl jou hart soos ’n hamer in jou bors slaan, wonder jy vreesbevange wat om nou te doen.

Enigiemand kan in so ’n situasie beland. Misdaad—selfs geweldsmisdade—kom nie meer net in sekere lande of in groot stede voor nie. Weens die atmosfeer van vrees wat hieruit voortspruit, probeer baie mense hulleself beskerm deur wapens te koop of die verweerkuns aan te leer. Party regerings het wette verorden wat burgers die reg gee om hulleself met dodelike geweld te verdedig. Maar wat sê die Bybel? Is dit ooit geoorloof dat iemand geweld gebruik om hom of sy gesin te verdedig?

God haat geweld

Die Bybel veroordeel geweld en dié wat hulle daartoe wend. Die psalmis Dawid het aangaande Jehovah God gesê: “Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). God het sy oordeel uitgespreek teen verskeie eertydse nasies, insluitende sy eie volk, omdat hulle gewelddadig was en bloed vergiet het (Joël 3:19; Miga 6:12; Nahum 3:1). Selfs onopsetlike manslag weens nalatigheid was ’n ernstige misdaad onder die Wet wat aan Israel gegee is.—Deuteronomium 22:8.

Die Bybel vermaan mense om moontlike konflik te vermy deur elke dag vrede na te streef. Gewelddadige gevegte begin dikwels met ’n skerp woordewisseling. Die Bybel sê: “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood, en waar daar geen lasteraar is nie, bedaar die twis” (Spreuke 26:20). As ’n mens kalm bly, kan dit dikwels woede ontlont en gewelddadige konfrontasies voorkom. Die apostel Paulus het geskryf: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:18.

Wanneer jy bedreig word

As jy vrede nastreef, is dit nie ’n waarborg dat jy nooit gewelddadig aangeval sal word nie. Getroue aanbidders van God was deur die geskiedenis heen al slagoffers van geweld (Genesis 4:8; Job 1:14, 15, 17). Wat moet iemand doen wanneer hy deur ’n gewapende rower gekonfronteer word? Jesus het gesê: “Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie” (Matteus 5:39). Hy het ook gesê: “Vir hom wat jou bokleed wegneem, moet jy selfs nie die onderkleed weier nie” (Lukas 6:29). Jesus het nie die gebruik van fisiese wapens om materiële besittings te beskerm, goedgekeur nie. As ’n wyse persoon deur ’n gewapende rower gekonfronteer word, sal hy nie weier om van sy waardevolle besittings afstand te doen nie. Die lewe is tog sekerlik veel kosbaarder as besittings!

Maar sê nou iemand se lewe word deur ’n aanvaller bedreig? ’n Wet wat God aan eertydse Israel gegee het, werp lig hierop. As ’n dief helder oordag betrap en doodgemaak is, sou die huisbewoner van moord aangekla word. Dit was klaarblyklik omdat diefstal nie met die dood strafbaar was nie en die dief geïdentifiseer en voor die gereg gebring kon word. Maar as ’n inbreker snags doodgeslaan is, kon die huisbewoner vrygespreek word omdat dit vir hom moeilik sou wees om te sien wat die inbreker besig was om te doen of om te bepaal wat sy oogmerke is. Die huisbewoner kon redelikerwys tot die slotsom kom dat sy gesin in gevaar verkeer en kon dus verdedigend optree.—Eksodus 22:2, 3.

Die Bybel toon dus dat ’n persoon hom of sy gesin kan verdedig as hulle fisies aangeval word. Hy kan houe afweer, die aanvaller bedwing of hom selfs slaan om hom van stryk te bring of buite aksie te stel. Die bedoeling sal wees om die geweld te neutraliseer of die aanval stop te sit. As die aanvaller in so ’n geval ernstig beseer of doodgemaak word, sou sy dood ’n ongeluk wees en nie opsetlik nie.

Die beste beskerming

Dit is duidelik dat daar omstandighede is waar redelike selfverdediging geoorloof is. Mense het die reg om hulle en hulle geliefdes teen geweld en dodelike gevaar te beskerm. Wanneer dit nie moontlik is om weg te kom nie, is daar geen Bybelse verbod wat ’n mens verhoed om redelike stappe te doen om jou te verdedig nie. Nogtans sal dit die verstandige weg wees om ons bes te probeer om situasies te vermy wat moontlik op geweld kan uitloop.—Spreuke 16:32.

Die Bybel moedig ons aan om in alle aspekte van ons lewe ‘vrede te soek en dit na te streef’ (1 Petrus 3:11). Dit is praktiese raad wat werklik tot ’n vreedsame lewe bydra.

HET JY AL GEWONDER?

◼ Waarom moet ons geweld vermy?—Psalm 11:5.

◼ Wat is die verstandige weg wanneer dit kom by die beskerming van materiële besittings?—Spreuke 16:32; Lukas 12:15.

◼ Watter gesindheid teenoor konflik kan gevaar afwend?—Romeine 12:18.

[Lokteks op bladsy 11]

Die Bybel toon dat ’n persoon hom of sy gesin kan verdedig as hulle fisies aangeval word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel