“Maai seëninge deur Jehovah se geesgerigte Koning”
◼ “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel.” Hierdie stelling, wat in die Bybel in Prediker 8:9 gevind word, is ’n gepaste beskrywing van die geskiedenis van menseheerskappy. Kan ons beter doen? Of is die patroon van die verlede die model vir die toekoms? Hierdie vrae sal bespreek word in die openbare toespraak wat gehou sal word by die “Gerig deur God se gees”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies vir 2008/2009. Die toespraak, met die titel “Maai seëninge deur Jehovah se geesgerigte Koning”, sal die aandag vestig op die een persoon wat met ware geregtigheid en liefde sal regeer—Jesus Christus, wat sy lewe ten behoewe van ons gegee het.—Matteus 20:28.
Wat maak Jesus anders as alle ander heersers? God se profeet Jesaja antwoord: “Op hom sal die gees van Jehovah [God] rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah; en hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah. En hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie. En met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, en met billikheid sal hy teregwysing gee ten behoewe van die sagmoediges van die aarde.”—Jesaja 11:2-4.
Is dit vir jou ’n aantreklike beskrywing? Indien wel, word jy genooi om die openbare toespraak by een van die honderde streekbyeenkomste by te woon wat van die begin van hierdie maand af wêreldwyd gehou gaan word. Om uit te vind waar die byeenkoms naaste aan jou gehou gaan word, kan jy met Jehovah se Getuies in jou omgewing in verbinding tree of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf by die gepaste adres op bladsy 5.