Is filantropie die antwoord?
HOEWEL natuurrampe, armoede, hongersnood, siekte en dreigende omgewingsprobleme die nuus oorheers, word ’n positiewer tendens ook waargeneem—dié van vrygewigheid. Soms hoor ons op die nuus van welgestelde mense wat honderdmiljoene, selfs miljarde, rande aan ’n goeie saak skenk. Daar word dikwels gesien dat beroemdes hulle roem gebruik om die soeklig op ernstige probleme te werp. Selfs baie mense met ’n beskeie inkomste dra by tot ’n verskeidenheid sake. Maar tot watter mate kan finansiële vrygewigheid help, veral op die lange duur?
’n Goue era van vrygewigheid?
Dit lyk of die tendens van vrygewigheid in sommige lande veld wen. “Aan die begin van die een-en-twintigste eeu is daar meer [filantropiese] stigtings met meer bates in meer lande as ooit tevore”, sê een bron. Aangesien daar al hoe meer rykes is, sal vrygewigheid na verwagting voortduur. Nie net sal party meer hê om te gee nie, maar wanneer die welgesteldes sterf en hulle bates nalaat, sal die deel wat na liefdadigheid toe gaan, na verwagting toeneem. Dit is met goeie rede dat die Britse nuusblad The Economist gesê het dat ons moontlik die begin van “’n goue eeu van filantropie” sien.
’n Faktor wat tot hierdie tendens bydra, is regerings se onvermoë om dringende wêreldprobleme op te los. ’n Spesiale VN-verteenwoordiger vir MIV/vigs in Afrika het ’n “leemte in politieke leierskap” as een rede aangegee waarom al hoe meer beroemdes by wêreldwye gesondheidskwessies betrokke raak. Of die probleem nou verband hou met armoede, gesondheidsorg, die omgewing, opvoeding of maatskaplike geregtigheid, die rykes in die besonder “raak al hoe ongeduldiger met die onvoldoende regerings- en internasionale pogings om hierdie probleme op te los of te verlig”, sê Joel Fleishman in sy boek The Foundation: A Great American Secret—How Private Wealth Is Changing the World. Omdat sommige welgestelde filantrope nou graag ’n verskil wil maak, probeer hulle metodes gebruik wat hulle in die sakewêreld suksesvol gemaak het.
Die mag van filantropie
Aan die begin van die 20ste eeu was daar ’n vroeëre, sogenaamde goue eeu van filantropie. Finansiële reuse soos Andrew Carnegie en John D. Rockefeller sr. het besluit om hulle fortuin te gebruik om behoeftiges te help. Hierdie weldoeners het gesien dat tradisionele liefdadigheid, hoewel dit verhongerde mense voed of siek kinders versorg, nie aan die onderliggende oorsake aandag skenk nie. Hulle het gevoel dat ’n meer strategiese benadering tot vrygewigheid nodig is en het dus institute en stigtings op die been gebring wat maatskaplike verandering sou bevorder en navorsing sou befonds wat daarop gemik is om die oorsaak van probleme uit die weg te ruim. Sedert daardie vroeë jare is daar wêreldwyd letterlik tienduisende van hierdie organisasies gestig, en 50 van hulle het bates van meer as sesmiljard rand.
’n Mens kan nie die positiewe impak hiervan ontken nie. Tallose skole, biblioteke, hospitale, parke en museums getuig daarvan. So ook het programme om oesopbrengste en voedselproduksie te verhoog, gehelp om meer voedsel in arm lande te voorsien. Befondsing vir mediese navorsing het bygedra tot vooruitgang in gesondheidsorg en, in sommige gevalle, die uitroeiing van sekere siektes, soos geelkoors.
Aangesien wêreldwye probleme vandag met groter dringendheid en meer middele as ooit tevore bestry word, lyk dit vir baie mense of daar ’n groot kans op sukses is. ’n Voormalige Amerikaanse president het in 2006 aan ’n groep filantrope gesê: “’n Mens kan nie oorbeklemtoon watter impak privaat skenkings op openbare welsyn sal hê nie.”
Baie mense is egter nie so seker hiervan nie. Laurie Garrett, ’n kenner op die gebied van wêreldgesondheidsorg, het geskryf: “’n Mens sou dink dat met al die geld wat beskikbaar is, die oplossing vir talle wêreldgesondheidsprobleme ten minste nou in sig sou wees. Maar jy sou jou misgis.” Waarom? Sy meld duur burokrasie, korrupsie, die gebrek aan gekoördineerde pogings en die neiging onder skenkers om hulle fondse tot ’n spesifieke gesondheidskwessie—byvoorbeeld vigs—te beperk.
Omdat pogings nie gekoördineer word nie en geld “grotendeels aangewend word vir spesifieke hoëprofielsiektes—eerder as vir openbare gesondheid oor die algemeen”, meen Garrett dat “daar ’n groot gevaar bestaan dat die huidige eeu van vrygewigheid moontlik nie net te kort sal skiet nie, maar dinge in werklikheid sal vererger”.
Waarom geld nie genoeg is nie
Die sukses van filantropie, ongeag wat die oogmerk daarvan is, sal altyd beperk wees. Waarom? Om maar een ding te noem, nie geld of ’n goeie sekulêre opvoeding kan probleme soos hebsug, haat, vooroordeel, nasionalisme, stamtrots of valse godsdiensoortuigings uit die weg ruim nie. Hoewel hierdie dinge tot die mens se ellende bydra, is dit nie die grondoorsaak van lyding nie. Soos die Bybel toon, is selfs fundamenteler faktore hierby betrokke.
Een faktor is menslike onvolmaaktheid as gevolg van sonde (Romeine 3:23; 5:12). Weens ons onvolmaakte toestand is ons geneig tot verkeerde denke en verkeerde gedrag. “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, sê Genesis 8:21. Miljoene swig voor hierdie verkeerde neiging en maak hulle skuldig aan geslagsonsedelikheid en dwelmmisbruik. Hierdie bedrywighede dra weer by tot die verspreiding van verskeie siektes, onder andere vigs.—Romeine 1:26, 27.
’n Tweede grondoorsaak van menselyding is ons onvermoë om met welslae oor onsself te regeer. “Dit behoort nie aan die mens . . . om sy voetstappe te rig nie”, sê Jeremia 10:23. Die “leemte in politieke leierskap”, waarna vroeër verwys is, is een rede waarom baie filantropiese organisasies hulle werk doen sonder om regerings daarby te betrek. Die Bybel verduidelik dat mense veronderstel is om hulle tot die Skepper as Heerser te wend, nie tot mekaar nie.—Jesaja 33:22.
Wat meer is, die Bybel belowe dat die Skepper, Jehovah God, al die probleme wat die mensdom teister, sal oplos. Trouens, hy het alreeds groot stappe gedoen om dit te bereik.
Die grootste filantroop
Die woord “filantropie” kom van ’n Griekse woord wat “liefde vir die mensdom” beteken. Niemand het groter liefde vir die mensdom as ons Skepper nie. Johannes 3:16 sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Ja, Jehovah het baie meer as net geld gegee om mense uit die wurggreep van sonde en die dood te bevry. Hy het sy kosbare Seun gegee as “’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Die apostel Petrus het van Jesus geskryf: “Hy het ons sondes in sy eie liggaam aan die paal gedra, sodat ons met sondes klaar kan wees en vir regverdigheid kan lewe. En ‘deur sy wonde is julle genees’.”—1 Petrus 2:24.
Jehovah het ook iets gedoen omtrent die probleem van heerskappy. Hy het ’n wêreldregering opgerig wat God se Koninkryk genoem word. Daardie Koninkryk, wat uit die hemel sal regeer, sal al die goddeloses vernietig en vrede en harmonie op die planeet Aarde tot stand bring.—Psalm 37:10, 11; Daniël 2:44; 7:13, 14.
Deur die grondoorsake van menselyding uit die weg te ruim, sal God doen wat die mens, individueel en gesamentlik, glad nie in staat is om te doen nie. Daarom wy Jehovah se Getuies, in navolging van Jesus Christus, hulle tyd en finansiële middele eerder aan die verkondiging van die “goeie nuus van [God se] koninkryk” as om filantropiese organisasies op die been te bring.—Matteus 24:14; Lukas 4:43.
[Venster/Prent op bladsy 21]
“God het ’n blymoedige gewer lief”
Hierdie stelling, wat in die Bybel in 2 Korintiërs 9:7 gevind word, is ’n beginsel waardeur Jehovah se Getuies hulle laat lei. Wanneer hulle van hulle tyd, energie en materiële besittings gee ten behoewe van ander, probeer hulle om die volgende vermaning te gehoorsaam: “Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 Johannes 3:18.
Wanneer dit nodig is, soos wanneer daar ’n natuurramp is, beskou die Getuies dit as ’n voorreg om die slagoffers te help. Byvoorbeeld, nadat die orkane Katrina, Rita en Wilma die suidelike dele van die Verenigde State getref het, het derduisende Getuievrywilligers na die geteisterde gebiede gestroom om met noodlenigings- en herbouwerk te help. Onder die toesig van plaaslike noodlenigingskomitees het die vrywilligers meer as 5 600 huise van Jehovah se Getuies en 90 Koninkryksale herstel—feitlik alles wat beskadig is.
Jehovah se Getuies hef nie tiendes nie en vra nie op enige ander manier geld nie. Hulle werk word geheel en al deur vrywillige bydraes ondersteun.—Matteus 6:3, 4; 2 Korintiërs 8:12.
[Prente op bladsy 19]
Geld kan nie die grondoorsake van siekte en lyding uit die weg ruim nie
[Erkenning]
©Chris de Bode/Panos Pictures