Die Bybel se beskouing
Sal die aarde ’n paradys wees?
LEGENDES van ’n goue eeu waarin die mens skuldeloos was, ’n goeie verhouding met God gehad het en vry was van siekte en die dood, kan in die tradisies van baie volke gevind word—insluitende die Egiptenare, Mexikane, Peruane en Tibettane. Hierdie legendes bevat ook die konsep van ’n sondeval.
Hoewel die legendes verdraai is en daar op hulle voortgeborduur is, bevat dit te veel gemeenskaplike elemente om toevallig te wees. Dit het baie tot die slotsom laat kom dat die stories uit geskiedkundige gebeurtenisse spruit. Trouens, die prentjie wat te voorskyn kom, stem verbasend ooreen met wat in die eerste hoofstukke van die Bybelboek Genesis gevind word. Daar vind ons egter nie die vae taal waarvoor legendes bekend is nie, maar die spesifieke besonderhede waaraan akkurate geskiedenis gekenmerk word.—2 Timoteus 3:16.
’n Volmaakte begin
Die boek Genesis vertel ons dat toe God die eerste mense—Adam en Eva—geskep het, hy hulle in ’n waterryke tuin geplaas het wat die tuin van Eden genoem is. Hulle het volmaakte gesondheid geniet en die vooruitsig gehad om vir ewig te lewe. Die straf vir sonde was die dood (Genesis 2:8-17; Romeine 5:12). Adam en Eva moes ‘vrugbaar wees en baie word en die aarde vul en dit onderwerp’ (Genesis 1:28). Die gevolg sou ’n wêreldwye paradys wees gevul met volmaakte mense wat hulle vreugdevol aan God, hulle Heerser, onderwerp.
Ongelukkig was Adam en Eva ongehoorsaam aan God en het hulle sodoende hulle geleentheid om hulle Skepper se voorneme te verwesenlik sowel as hulle vooruitsig om vir ewig te lewe, verbeur. Jehovah God sal nietemin sy voorneme met die aarde volbring. “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . , sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie”, het hy gesê, “maar dit sal . . . beslis sukses behaal” (Jesaja 55:11). Ja, Jehovah se voorneme dat die aarde ’n paradystuiste moet wees vir mense wat sy eienskappe weerspieël, is ’n vername tema van die Bybel.—Romeine 8:19-21.
“Jy sal saam met my in die Paradys wees”
Onmiddellik nadat Adam en Eva gesondig het, het God belowe om ’n “saad”, of nakomeling, voort te bring, wat “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, uiteindelik sou vernietig en sy bose werke sou verbreek (Genesis 3:15; Openbaring 12:9; 1 Johannes 3:8). Hierdie “saad” was hoofsaaklik Jesus Christus (Galasiërs 3:16). Wat meer is, God het hom as Koning van ’n hemelse Koninkryk, of regering, aangestel, wat oor die aarde sal heers.—Daniël 7:13, 14; Openbaring 11:15.
Christus sal alles tot stand bring waarin Adam misluk het. Trouens, die Bybel noem Jesus “die laaste Adam” (1 Korintiërs 15:45). En Jesus het in sy modelgebed die verband aangetoon tussen die toekoms van die aarde en God se Koninkryk deur te sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.
Toe Jesus op die aarde was, kon hy—as die toekomstige Koning van die aarde—tereg die volgende sê aan die berouvolle kwaaddoener wat langs hom aan ’n paal gehang is: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Die Paradys wat Jesus in gedagte gehad het, sal op die aarde wees, in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme. Hierdie feit word goed deur die Bybel ondersteun. Kyk na die volgende tekste.
“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly” (Spreuke 2:21). “Hulle [die onberispelikes] sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:9.
In ooreenstemming met hierdie stellings het Jesus in sy beroemde Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Later het die apostel Johannes geskryf: “Die tent van God is by die mensdom . . . Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Dit is duidelik dat hierdie Bybeltekste nie na ’n hemelse “paradys” verwys nie, maar na ’n fisiese paradys hier op die aarde.
Wat Bybelgeleerdes al hieroor gesê het
Baie Bybelgeleerdes is van mening dat die aarde onder Christus se Koninkryk ’n paradys sal word. Die teoloog Joseph A. Seiss het gesê: “Die hele aarde onder die Messias se heerskappy moet dan uiteindelik word . . . wat dit . . . sou gewees het as Adam nooit gesondig het nie.” Henry Alford het in die kommentaar The New Testament for English Readers geskryf: “Daardie koninkryk van God . . . sal aanhou werk totdat dit in werklikheid ’n koninkryk oor hierdie aarde sal word, en die onderdane daarvan sal die aarde beërf . . . , wat uiteindelik en vir ewig in ’n hernieude en geseënde toestand sal wees.”—Hy kursiveer.
Die beroemde wetenskaplike en ywerige Bybelstudent Isaac Newton het eweneens geskryf: “Die aarde sal ná die oordeelsdag steeds deur sterflikes [mense] bewoon word, en nie net vir 1000 jaar nie, maar vir ewig.”
Omdat die aarde onder die regstreekse heerskappy van Jesus Christus sal kom, sal goddeloosheid nooit weer wortelskiet nie (Jesaja 11:1-5, 9). Ja, die aarde sal in elke opsig ’n paradys wees, tot ewige lof van die Skepper daarvan.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Wat was God se oorspronklike voorneme met die mensdom en die aarde?—Genesis 1:28.
◼ Wat sal deur God se Koninkryk tot stand gebring word?—Matteus 6:10.
◼ Waarom sal goddeloosheid nooit weer wortelskiet nie?—Jesaja 11:1-5, 9.
[Lokteks op bladsy 11]
“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5