Die Bybel se beskouing
Vergewe God ernstige sondes?
BARMHARTIGHEID is een van God se vernaamste eienskappe (Psalm 86:15). Hoe omvangryk is sy barmhartigheid? ’n Psalmis het geskryf: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan? Want by u is daar ware vergifnis, sodat u gevrees kan word” (Psalm 130:3, 4). ’n Ander Skrifgedeelte lui: “So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder. Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees. Want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:12-14.
Dit is duidelik dat Jehovah ten volle en vryelik vergewe, en hy neem ons beperkings en onvolmaakthede in ag—naamlik dat ons “stof” is. Kyk na ’n paar Bybelvoorbeelde wat die omvang van God se barmhartigheid openbaar.
Die apostel Petrus het Christus drie keer verloën (Markus 14:66-72). Die apostel Paulus het, terwyl hy nog ’n ongelowige was, Christus se volgelinge vervolg. Toe van hulle tereggestel sou word, het Paulus teen hulle gestem. Hy het selfs die moord op een van hulle goedgekeur (Handelinge 8:1, 3; 9:1, 2, 11; 26:10, 11; Galasiërs 1:13). Voordat sekere lede van die gemeente in Korinte Christene geword het, was hulle dronkaards, afpersers en diewe (1 Korintiërs 6:9-11). Tog het hulle almal uiteindelik God se guns geniet. Waarom het God hulle vergewe?
Drie stappe om God se barmhartigheid te verkry
“Barmhartigheid [is] aan my bewys, omdat ek onkundig was en in ’n gebrek aan geloof opgetree het”, het Paulus geskryf (1 Timoteus 1:13). Sy eerlike woorde bring ons by die eerste stap wat nodig is om God se vergifnis te ontvang—om die sluier van onkunde te lig deur juiste kennis van Jehovah en sy standaarde te verkry soos dit in die Bybel uiteengesit word (2 Timoteus 3:16, 17). Ons kan beslis nie ons Skepper behaag as ons hom nie goed ken nie. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus in gebed tot sy Vader gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Wanneer opregtes van hart daardie kennis opdoen, is hulle innig spyt oor hulle vorige oortredings en word hulle beweeg om hartgrondige berou te toon. Dit is die tweede stap as ons God se vergifnis wil ontvang. Handelinge 3:19 sê: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word.”
Hierdie vers meld ook die derde stap—naamlik om om te draai. Om om te draai, beteken dat ’n mens jou ou weë en gesindhede laat vaar en God se standaarde en beskouings aanneem (Handelinge 26:20). Kortom, ’n persoon toon deur middel van sy nuwe lewenswyse dat hy dit werklik bedoel wanneer hy vir God sê: “Ek is jammer.”
God se vergifnis het perke
Daar is sommige mense wie se sondes God nie vergewe nie. Paulus het geskryf: “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van [’n ongunstige] oordeel” (Hebreërs 10:26, 27). Die woorde “moedswillig sonde beoefen” dui op diepgewortelde slegtheid, ’n waarlik goddelose hart.
Judas Iskariot het so ’n hart ontwikkel. “Dit sou vir hom beter gewees het as daardie man nie gebore was nie”, het Jesus gesê (Matteus 26:24, 25). En aangaande sekere godsdiensleiers van sy dag het Jesus gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel . . . Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Soos Satan, was daardie manne deur en deur sleg. Hulle was nie jammer oor wat hulle gedoen het nie, maar het selfs meer verstok geraak in hulle bose weë.a Dit is so dat selfs ware Christene weens onvolmaaktheid en swakheid sondig, soms ernstig. Maar hulle tekortkominge weerspieël nie ’n ingewortelde bose geaardheid nie.—Galasiërs 6:1.
Barmhartig tot die einde toe
Jehovah let nie net op die sonde nie, maar ook op die gesindheid van die sondaar (Jesaja 1:16-19). Dink vir ’n oomblik aan die twee kwaaddoeners wat aan weerskante van Jesus aan die paal gehang is. Albei het klaarblyklik ernstige sondes gepleeg, want een van die mans het erken: “Ons ontvang ten volle wat ons verdien vir dinge wat ons gedoen het; maar hierdie man [Jesus] het niks slegs gedoen nie.” Die kwaaddoener se woorde toon dat hy iets van Jesus geweet het. En daardie kennis het waarskynlik bygedra tot ’n positiewe verandering in sy gesindheid. Dit blyk uit wat hy daarna gesê het, toe hy Jesus gesmeek het: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Hoe het Christus op hierdie hartgrondige versoek gereageer? “Voorwaar, ek sê vir jou vandag”, het hy gesê, “jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:41-43.
Dink hieroor na: Van die laaste dinge wat Jesus gesê het as ’n mens, was barmhartige woorde teenoor ’n man wat erken het dat hy die doodstraf verdien. Hoe bemoedigend is dit tog! Ons kan dus seker wees dat Jesus Christus sowel as sy Vader, Jehovah, medelye teenoor almal sal betoon wat ware berou openbaar, ongeag hulle vorige dade.—Romeine 4:7.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Het jy teen die heilige gees gesondig?” op bladsye 16-20 van Die Wagtoring van 15 Julie 2007.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe sal jy God se barmhartigheid beskryf?—Psalm 103:12-14; 130:3, 4.
◼ Watter stappe moet ’n mens neem om God se guns te verkry?—Johannes 17:3; Handelinge 3:19.
◼ Wat het Jesus ’n kwaaddoener wat aan ’n paal gehang is, belowe?—Lukas 23:43.
[Prent op bladsy 10]
Jesus het getoon dat ernstige sondes vergewe kan word