Ons beskou die wêreld
◼ “Teen die tyd dat die gemiddelde kind in Brittanje ses jaar oud is, sal hy ’n volle jaar voor die televisie deurgebring het, en meer as die helfte van driejariges het ’n TV in hulle slaapkamer.”—THE INDEPENDENT, BRITTANJE.
◼ In China het 31,4 persent van respondente bo 16-jarige ouderdom hulle as godsdienstig beskryf. As dit verteenwoordigend is van die hele nasie, beteken hierdie bevinding dat “sowat 300 miljoen godsdienstig is . . . in skerp teenstelling met die amptelike syfer van 100 miljoen”.—CHINA DAILY, CHINA.
Meer kwaad as goed
’n Paar jaar gelede het Nederlandse politici en omgewingsdeskundiges gedink dat hulle die sleutel gevind het tot volhoubare energie—om kragopwekkers aan te dryf met biobrandstof, hoofsaaklik palmolie. Hulle verwagtinge het in “’n omgewingsnagmerrie” ontaard, sê The New York Times. “Die stygende aanvraag na palmolie in Europa het daartoe gelei dat groot stroke reënwoude in Suidoos-Asië uitgewis is en dat chemiese bemestingstof oormatig gebruik is.” Plantasies is geskep deur turfland te dreineer en te brand, wat “ontsaglike hoeveelhede” koolstofgasse in die atmosfeer vrygestel het. Gevolglik, sê die Times, het Indonesië vinnig “die land geword wat die derde meeste koolstofgasse ter wêreld vrystel, wat volgens wetenskaplikes verantwoordelik is vir aardverwarming”.
“Oordeelsdaghorlosie” skuif aan
Die oordeelsdaghorlosie, wat deur die Bulletin of Atomic Scientists (BAS) geskep is om te toon hoe naby die mensdom aan ’n wêreldwye kernramp is, is met twee minute aangeskuif sodat dit vyf minute voor middernag wys—die “figuurlike einde van die beskawing”. In die 60 jaar van die horlosie se bestaan is dit nog net 18 keer verstel. Die laaste verstelling was in Februarie 2002, ná die aanvalle op die World Trade Center in New York. Volgens ’n verklaring deur die BAS is die voortdurende ontwikkeling en teenwoordigheid van kernwapens sowel as die versuim om kernmateriaal te beveilig, “simptome van die onvermoë om die probleme wat deur die vernietigendste tegnologie op aarde geskep is, op te los”. Verder het dit gesê dat “die gevare wat klimaatverandering inhou, byna so ernstig is soos dié wat kernwapens inhou”.
Stres tydens swangerskap
Volgens onlangse navorsing kan stres wat deur ’n swanger vrou ondervind word as gevolg van argumente met of geweld deur haar maat, ’n nadelige uitwerking op haar ongebore baba se verstandelike ontwikkeling hê. Professor Vivette Glover, van die Imperial-kollege, Londen, sê: “Ons het gevind dat dit ’n baie groot uitwerking op [die] baba se toekomstige ontwikkeling het as die swanger vrou ’n maat het wat [haar] emosioneel mishandel. Die pa speel ’n groot rol.” Die toestand van die ouers se verhouding “beïnvloed die hormoon- en chemiese balans in die ma se liggaam, wat weer ’n invloed het op die ontwikkeling van die kind se brein”, het sy verduidelik.
Pendelaars konsentreer nie
Bestuurders wat elke dag dieselfde roete ry, doen dit dikwels sonder om die deel van hulle brein te gebruik waar bewuste denke plaasvind, sê die verkeerswetenskaplike Michael Schreckenberg van die Universiteit van Duisburg-Essen, Duitsland. Wanneer bestuurders ’n bekende roete ry, begin hulle op ander dinge konsentreer in plaas van op die verkeer. Gevolglik neem dit langer om gevare raak te sien. Schreckenberg moedig pendelaars aan om hulleself voortdurend te herinner om oplettend te wees en nie toe te laat dat hulle aandag van die pad afgetrek word nie.