Die moeilikste vraag
“WAAROM?” Dit is hartseer om te sien hoeveel pyn en smart in hierdie een woord uitgedruk kan word. Mense vra dikwels hierdie vraag nadat ’n ramp of tragedie hulle getref het: ’n Orkaan woed deur ’n gebied en laat ’n spoor van dood en vernietiging agter. ’n Aardbewing maak van ’n stad ’n puinhoop. ’n Terreuraanval verander ’n doodgewone, stil dag in ’n nagmerrie van vrees en geweld. Of ’n geliefde word beseer of verloor hulle lewe in ’n ongeluk.
Alte dikwels sluit die slagoffers die onskuldigstes en weerloosstes onder ons in. In onlangse tye was daar talle sulke rampe, wat baie mense tot God laat uitroep het: “Waarom?” Kyk na ’n paar voorbeelde:
◼ “Waarom het u dit aan ons gedoen, God? Wat het ons gedoen om u kwaad te maak?” Die Reuters-nuusagentskap het berig dat ’n bejaarde vrou in Indië hierdie vrae gevra het nadat ’n tsoenami haar dorp verwoes het.
◼ “Waar was God? En as God ten volle in beheer is, waarom het hy dit laat gebeur?” Hierdie vrae is deur ’n koerant in Texas, VSA, geopper nadat ’n gewapende man op mense in ’n kerk begin skiet het en ’n aantal aanbidders gewond en doodgeskiet het.
◼ “Waarom het God toegelaat dat sy sterf?” ’n Vrou het hierdie vraag gevra nadat haar vriendin aan kanker oorlede is en die oorledene se man met hulle vyf kinders agtergelaat is waarna hy moet omsien.
Hierdie mense is nie die enigstes wat dink dat God op die een of ander manier vir hulle lyding verantwoordelik is nie. Aangaande natuurrampe het amper die helfte van die respondente in ’n onlangse Internetmeningsopname byvoorbeeld gedink dat rampe soos orkane van God af kom. Waarom dink soveel mense dat dit die geval is?
Godsdiensverwarring
In plaas daarvan dat godsdiensleiers bevredigende antwoorde gee, dra hulle dikwels tot die verwarring by. Kom ons kyk na net drie van hulle algemene verduidelikings.
Eerstens leer baie godsdiensleiers dat God rampe stuur om eiesinnige mense te straf. Nadat New Orleans, Louisiana, deur die orkaan Katrina verwoes is, het sommige predikante in die Verenigde State byvoorbeeld beweer dat God die stad gestraf het. Hulle het gewys op die algemeenheid van korrupsie, dobbelary en onsedelikheid. Party het selfs die Bybel as bewys aangehaal en voorvalle genoem waar God die goddeloses deur ’n vloed of deur vuur vernietig het. Maar sulke bewerings gee ’n wanvoorstelling van die Bybel.—Sien die venster: “Dade van God?”
Tweedens beweer sommige geestelikes dat God redes het waarom hy rampe oor die mensdom bring, maar dat hierdie redes bo ons begrip is. Baie mense vind hierdie redenasie onbevredigend. Hulle wonder: ‘Kan ’n liefdevolle God werklik sulke bose dinge doen en dan weier om geestelike verligting te verskaf aan diegene wat na vertroosting smag en pleitend vra: “Waarom?”’ Die Bybel sê immers: “God is liefde.”—1 Johannes 4:8.
Derdens meen ander godsdiensleiers dat God dalk nie almagtig en liefdevol is nie. So ’n verduideliking laat weer eens ernstige vrae ontstaan. Is die Een wat ‘alles geskep het’—insluitende die oneindige groot heelal—nie in staat om lyding op hierdie een planeet te voorkom nie? (Openbaring 4:11). Hoe kan die Een wat ons die vermoë gegee het om lief te hê, wie se Woord hom beskryf as die verpersoonliking van liefde, onverskillig staan teenoor mense se lyding?—Genesis 1:27; 1 Johannes 4:8.
Die drie bogenoemde punte is natuurlik net ’n paar van die maniere waarop mense probeer verduidelik waarom God lyding toelaat—’n vraag wat denkende mense al eeue lank verbyster. In die volgende artikel sal ons kyk na wat die Bybel oor hierdie belangrike en tydige onderwerp leer. Soos jy sal sien, word die verwarring uit die weg geruim deur die Bybel se betroubare, logiese verduideliking. Daarbenewens bied die Bybel groot vertroosting vir almal wat deur tragedies getref is.
[Venster/Prent op bladsy 4]
Dade van God?
Leer die Bybel dat God verantwoordelik is vir die natuurrampe wat ons vandag sien? Glad nie! God se oordele soos dit in die Bybel beskryf word, verskil heelwat van natuurrampe. Om maar een ding te noem, God is selektief; hy lees die harte van mense en vernietig net dié wat volgens sy oordeel goddeloos is (Genesis 18:23-32). Daarbenewens stuur God eers waarskuwings en gee hy die regverdiges sodoende die geleentheid om gered te word.
Daarenteen vind natuurrampe plaas met min of geen waarskuwing nie en veroorsaak die dood en verminking van mense sonder onderskeid. In sekere mate het die mensdom sulke rampe vererger deur die omgewing te beskadig en deur geboue te bou in gebiede waar aardbewings, oorstromings en uiterste weerstoestande dikwels voorkom.
[Erkenning]
SENA VIDANAGAMA/AFP/Getty Images
[Prent op bladsy 4]
Godsdiensleiers gee ’n verskeidenheid verwarrende antwoorde