Die Bybel se beskouing
Word mense engele wanneer hulle sterf?
’N KLEIN dogtertjie met die naam Argyro het gesterf toe sy maar net sewe jaar oud was. Haar ouers het bedroef na haar gekyk waar sy in die kis gelê het, geklee in wit. In ’n poging om hulle te vertroos, het die predikant vir hulle gesê: “God wou nog ’n engeltjie hê, en Hy het klein Argyro geneem om by hom te wees. Nou vlieg haar siel om die Almagtige se troon.”
Baie mense koester die opvatting dat engele die siele van afgestorwe mense is, hoewel min godsdienste hierdie gedagte amptelik steun. Die media het hierdie idee gewild gemaak in rolprente en televisiereekse oor dooie mense wat as ’t ware hulle vlerke as engele verdien deur die lewendes te help en te beskerm.
Kan jy werklik verwag dat jou geliefdes engele sal word wanneer hulle sterf? Wat leer die Bybel hieroor? Om die antwoord te kry, kan ons eers kyk wat die Heilige Skrif werklik oor die aard van engele en die ware toestand van die dooies sê.
Engele—unieke skepsele
Engele is onsigbare, magtige knegte van God wat in die geesteryk woon. Hulle bestaan is onafhanklik van dié van mense. Engele is geeste wat deur God geskep is. Die Bybel sê: “Laat [die engele] die naam van Jehovah loof; want hy het bevel gegee, en hulle is geskep.”—Psalm 148:2, 5.
Die Bybel openbaar dat etlike miljoene getroue hemelwesens, waaronder serafs en gerubs, gehoorsaam dien in gespesialiseerde rolle volgens hulle rang en toewysings (Psalm 103:20, 21; Jesaja 6:1-7; Daniël 7:9, 10). Moes mense sterf sodat God al hierdie engele kon skep? Dit is in werklikheid heeltemal onmoontlik. Waarom?
Die Bybel toon dat die engele lank voor mense geskep is. Toe Jehovah die planeet geskep het wat baie later deur mense bewoon sou word, het die engele—waarna in digterlike taal as môresterre verwys is—‘saam van vreugde uitgeroep en begin juig’ (Job 38:4-7). Hulle het dus bestaan ontelbare eeue voor die mens op aarde verskyn het.
Daarbenewens verskil engele en mense grootliks wat hulle natuur en hulle plek in Jehovah se voorneme betref.a God het die mens “’n bietjie laer as engele” geskep, en daarom word daardie geesskepsele tereg as bomenslik beskou, met groter verstandelike vermoëns en mag (Hebreërs 2:7). Die hemel is die “gepaste woonplek” van engele (Judas 6). Wat mense betref, God se oorspronklike voorneme was dat die mens vir ewig op die aarde moes lewe (Genesis 1:28; 2:17; Psalm 37:29). As die eerste mensepaar aan God gehoorsaam was, sou hulle nooit gesterf het nie. Van die begin af het die plek wat mense en engele in God se voorneme geniet het, dus grootliks verskil.
Wat gebeur by die dood?
Ander belangrike vrae wat ons moet ondersoek, is: Wat gebeur met mense wat sterf? Lewe hulle in ’n ander vorm voort, miskien as engele in die geesteryk? Die Bybel gee hierdie eenvoudige en duidelike antwoord: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Wanneer mense sterf, hou hulle dus op om te bestaan. Die dooies weet, voel en ondervind absoluut niks nie.
Is daar hoop vir die dooies? Ja! Die Bybel toon dat die meeste mense wat gesterf het, die hoop het om opgewek te word. Die oorgrote meerderheid van die dooies sal as mense opgewek word tot lewe op ’n paradysaarde.—Lukas 23:43; Johannes 5:28.
’n Paar mense het die hoop om tot lewe in die hemel opgewek te word. Daar is min van hulle—altesaam 144 000. Hierdie 144 000 verskil egter heelwat van daardie skepsele wat oor die algemeen engele genoem word. Die 144 000 heers byvoorbeeld as onsterflike konings en priester saam met Christus. Hulle het gesag as regters (1 Korintiërs 6:3; Openbaring 20:6). Is hulle babas wat gesterf het? Nee. Hulle is navolgers van Christus wat ten volle getoets en beproef is!—Lukas 22:28, 29.
Beskou ook die teenstelling tussen dooie mense en lewende engele. Terwyl afgestorwenes ‘bewus is van hoegenaamd niks’, geniet engele volle bewustheid en het hulle gevoelens en hulle eie wil. Hulle is wesens met wilsvryheid (Genesis 6:2, 4; Psalm 146:4; 2 Petrus 2:4). Die dooies word beskryf as “magteloos”, terwyl engele “magtig in krag” is (Jesaja 26:14; Psalm 103:20). En terwyl menslike nakomelinge van Adam as gevolg van sonde en onvolmaaktheid sterf, is godvresende engele volmaak en geniet hulle ’n ten volle goedgekeurde posisie voor Jehovah.—Matteus 18:10.
Die idee dat engele die siele van afgestorwe mense is, is dalk verbeeldingryke temas vir TV-programme of rolprente, maar die gedagte word nie deur die Skrif gesteun nie. Die Bybelwaarhede wat hierbo uiteengesit is, help ons om enige wanopvattings oor die lot van ons afgestorwe geliefdes te vermy. En die Bybel verseker ons dat getroue engele—magtige knegte van God wat as geesskepsele geskep is—hoër as mense is en altyd gereed is om Jehovah se wil te doen. Gelukkig behels God se wil dat engele hulp verleen aan en waak oor diegene wat Jehovah opreg respekteer en hom probeer dien.—Psalm 34:7.
[Voetnoot]
a Die term “engel”, wat letterlik “boodskapper” beteken, kan soms ’n breë betekenis hê en na verskillende geesskepsele en selfs na menseknegte van God verwys. In hierdie artikel verwys ons egter na daardie geesskepsele wat die Bybel oor die algemeen engele noem.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Is jou afgestorwe geliefdes nou engele wat God in die hemel dien?—Prediker 9:5, 10.
◼ Sterf kinders omdat God meer engele by hom wil hê?—Job 34:10.
◼ Kan die dooies terugkeer om die lewendes te beskerm?—Jesaja 26:14.
[Lokteks op bladsy 29]
“Laat [die engele] die naam van Jehovah loof; want hy het bevel gegee, en hulle is geskep.”—Psalm 148:2, 5