Ons beskou die wêreld
◼ Na gelang van elke belastingbetaler se voorkeur ken die Spaanse regering 0,5 persent van belasting toe aan liefdadigheids- of Katolieke organisasies. Hoewel 80 persent van Spanjaarde sê dat hulle Katoliek is, kies net 20 persent die opsie om die kerk te ondersteun.—EL PAÍS, SPANJE.
◼ Volgens lewensverwagtingstabelle wat deur die Instituut van Aktuarisse opgestel is, “neem die lewensverwagting van iemand wat op 30-jarige ouderdom ’n roker is, met 5 1⁄2 jaar af in die geval van ’n man en met meer as 6 1⁄2 jaar in die geval van ’n vrou”. Maar as iemand op 30-jarige ouderdom ophou rook, sal dit die risiko om aan ’n tabakverwante siekte te sterf, aansienlik verminder.—THE TIMES, ENGELAND.
◼ Gedurende 2004 het die wêreld se olieverbruik met 3,4 persent toegeneem tot 82,4 miljoen vate per dag. Die Verenigde State en China is verantwoordelik vir byna die helfte van die toename, en hulle gebruik nou onderskeidelik 20,5 miljoen en 6,6 miljoen vate per dag.—VITAL SIGNS 2005, WORLDWATCH-INSTITUUT.
“Waardeer jou ma”
Arbeidsontleders skat dat ’n Kanadese huisvrou met twee kinders van skoolgaande ouderdom ’n jaarlikse salaris van R883 162 sou kry, wat oortydbetaling insluit, as sy betaal sou word vir al die werk wat sy doen. Die bedrag is gebaseer op algemeen heersende lone en ’n “werkweek van 100 uur, wat bestaan uit ses dae van 15 uur elk en een dag van 10 uur”, sê die koerant Vancouver Sun. ’n Huisvrou het onder andere die verantwoordelikhede van ’n kinderoppasser, onderwyser, bestuurder, huishoudster, kok, verpleegster en instandhoudingswerker. Die koerant gee die volgende raad: “Waardeer jou ma: Sy word waarskynlik te min betaal.”
Jongmense is verward oor waardes
Jongmense in Finland “skep [al hoe meer] hulle eie sedes”, sê ’n nuusblad van die Universiteit van Jyväskylä, in Finland. Dit is vandag algemeen dat “mense elemente van hulle geloof uit verskillende bronne kies, asof hulle inkopies doen”, sê die nuusblad. Die resultate is partykeer teenstrydig. Jongmense meen byvoorbeeld dat dit belangrik is om rykdom en welvaart regverdig te verdeel, maar terselfdertyd “het [hulle] ongevoeligheid en strawwe mededinging begin voorstaan”.
Priongevaar weens bloedoortappings
In ’n onlangse persverklaring het die Franse Gesondheids- en Veiligheidsagentskap vir Mediese Produkte bekend gemaak dat die gevaar dat prions deur middel van ’n bloedoortapping oorgedra word, nou nie net meer ’n moontlikheid is nie, maar ’n waarskynlikheid. Prions is proteiënmolekules wat vermoedelik die ontwikkeling van die variante vorm van Creutzfeldt-Jakob-siekte (vCJS) in mense veroorsaak. Hierdie noodlottige siekte wat die senuweestelsel aantas en waarvoor daar geen geneesmiddel bestaan nie, is die menslike vorm van sponsagtige bees-ensefalopatie, wat algemener bekend is as malbeessiekte. Voor hierdie persverklaring is twee gevalle in Brittanje ontdek waar vCJS waarskynlik deur middel van ’n bloedoortapping oorgedra is. Daar bestaan geen betroubare toets om hierdie siekte te diagnoseer voordat die kliniese simptome verskyn nie.
Hulle wil graag skraler wees
Navorsing het getoon dat “meisies wat net vyf jaar oud is, nie tevrede is met hoe hulle lyk nie en wens dat hulle maerder was”, berig The Sydney Morning Herald. In die berig word ’n studie aangehaal waarby Australiese meisies tussen die ouderdomme van vyf en agt betrokke was. Byna die helfte van die meisies wou skraler wees terwyl min of meer dieselfde aantal gesê het dat “hulle ’n dieet sal volg as hulle gewig aansit”. Een navorser het gesê dat ’n ongesonde liggaamsbeeld “later in die lewe tot ’n swak selfbeeld, depressie en eetversteurings kan lei”.