’N Goeie getuienis by die skool
Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko
TOE Daniel, ’n 17-jarige jeugdige, die nuwe skooljaar begin het, was hy vasbeslote dat sy nuwe klasmaats moes weet dat hy een van Jehovah se Getuies is. ’n Geleentheid het hom voorgedoen toe sy Engelse onderwyser die klas gevra het om ’n onderhoud te voer met ’n buitelander wie se moedertaal Engels is. Die opdrag was om na plekke toe te gaan wat deur toeriste in Mexiko-stad besoek word, ’n onderhoud te voer en ’n bandopname daarvan vir die klas te maak.
Daniel het besluit om ’n onderhoud te voer met ’n Engelssprekende sendeling wat by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Mexiko werk, en terselfdertyd ’n video in Engels oor ’n kort toer van Bethel te maak. Daarbenewens het hy ’n uitstalling voorberei van verskeie brosjures wat in die inheemse tale van Mexiko uitgegee word sowel as van Die Wagtoring en Ontwaak! in verskeie ander tale. Daniel het toe sy Engelse onderwyser toestemming gevra om die video asook die uitstalling vir die klas te wys.
Sy klasmaats en die onderwyser was verbaas oor die werk wat deur Jehovah se Getuies in Mexiko gedoen word. Daniel se klasmaats en sy onderwyser was veral beïndruk deur die Getuies se pogings om die inheemse volke van Mexiko te bereik.
Na afloop van die aanbieding wat 25 minute geduur het, en waarvoor Daniel die hoogste punte in die klas gekry het, het hy vir almal eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied, asook die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. Baie het die lektuur geneem, en dit het die weg gebaan vir verdere Bybelbesprekings. Daniel sê: “Ek dank Jehovah dat ek deur middel van ’n eenvoudige skooltaak sy naam kon verheerlik.”