Van ons lesers
Tienerswangerskap Die reeks “Tienerswangerskap—’n wêreldwye tragedie” (8 Oktober 2004) het my hart geraak. Ek was 16 toe ek swanger geraak het. Ek is dankbaar dat julle die belangrikheid daarvan beklemtoon het om die moeder te ondersteun en dat Jehovah omgee vir die baba, wat niks verkeerd gedoen het nie. Dankie vir so ’n liefdevolle artikel.
M. R., Verenigde State
Ek het hierdie nommer van die Ontwaak! vir die hoofvroedvrou by ’n nabygeleë kliniek aangebied. Sy het genoem dat baie 14- en 15-jarige meisies geboorte gee, iets wat voorheen hier onbekend was. Sy het gesê dat sy dadelik 20 eksemplare van die tydskrif kan gebruik om vir adolessente en hulle ouers te gee.
I. R., Benin
Ek het ’n maand voor ek 17 geword het, uitgevind dat ek swanger is. Om my ouers daarvan te vertel, was beslis die moeilikste en hartverskeurendste ding wat ek al ooit moes doen. Ek hoop jongmense lees hierdie artikel en neem dit ernstig op. Ek het nooit gedink dat dit met my sou gebeur nie!
D. C., Verenigde State
Ek het op 17 ma geword. Ek is in ’n huwelik ingedwing wat gou op die rotse beland het. Dit is vir my pynlik om te dink aan alles wat ek gedurende daardie jare kon bereik het, as ek nie oorhaastig by ’n seksuele verhouding betrokke geraak het sonder om te besef wat die gevolge is nie. Ek probeer jongmense altyd aanraai om nie hierdie ernstige fout te begaan nie. Ek sê opreg dankie vir julle artikel!
N. C., Honduras
“Jehovah, u het my gevind!” Ek is 15 jaar oud, en ek het dit baie geniet om die artikel “Jehovah, u het my gevind!” (8 Oktober 2004) te lees. Nelly se ondervinding het my gehelp om die woorde in Jakobus 4:8 beter te verstaan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Dankie vir hierdie geloofversterkende artikel!
K. P., Verenigde State
Die ondervinding van Nelly Lenz oortuig ons dat Jehovah ’n liefdevolle God is en dat hy dit vir ons moontlik sal maak om hom te vind as ons hom aanhou soek.
M. K., Japan
Dit is gerusstellend om deur artikels soos dié verseker te word dat al Jehovah se skape vir hom so kosbaar is dat hy hulle onthou en elkeen van hulle sal onderskraag, waar hulle ook al is.
J. G., Kanada
Hierdie artikel het my oë vol trane laat skiet. My ouers is nie Getuies van Jehovah nie, en hulle het die lewe vir my moeilik gemaak. Ek is bly dat Nelly onwrikbaar gebly het by haar besluit om Jehovah te dien.
K. L., Jamaika
Ek is 12 jaar oud. Dit is baie bemoedigend om te weet dat Jehovah jou altyd met jou probleme sal help, al het jy baie probleme by die huis.
J. W., Verenigde State
Dit is goed dat Nelly haar ondervinding vir ons vertel het. Dit sal kinders in soortgelyke situasies help. En dit is belangrik dat volwassenes hierdie kinders in gedagte hou. Dit is maklik om te vergeet dat hulle spesiale behoeftes in die gemeente het.
M. K., Denemarke
Ek is nog nooit so deur ’n ondervinding geraak nie. Ek weet ook wat dit beteken om op jou eie as ’n jongmens standpunt vir die waarheid in te neem. Ek was vier jaar lank die enigste een in ons huis wat Jehovah gedien het. Toe ek lees dat Jehovah persoonlik vir Nelly omgee, het dit my hart diep geraak. Dankie vir die opbouende ondervinding. Dankie, Nelly!
G. W., Duitsland