Skielik werkloos!
“Toe ek my werk verloor het, het dit gevoel of iemand ’n emmer koue water oor my gooi. My selfbeeld het ’n geweldige knou gekry.”—Tony, Duitsland.
“Dit het vir my gevoel of ’n swaar klip op my kop gesit is. As ’n enkelouer was ek bekommerd oor hoe ek my twee kinders sou onderhou en my rekeninge sou betaal.”—Mary, Indië.
“Ek was baie moedeloos toe ek my werk verloor het, en ek was bang dat ek nie ander werk sou kon kry nie.”—Jaime, Mexiko.
DAAR is miljoene mense regoor die wêreld wat hulle in dieselfde benarde situasie as Tony, Mary en Jaime bevind. Aan die begin van hierdie eeu was sowat 10 persent van die arbeidsmag in Europa en Sentraal-Asië—ongeveer 23 miljoen mense—op soek na werk. In party minder ontwikkelde lande is meer as ’n kwart van die arbeidsmag werkloos. In die Verenigde State het daar “altesaam sowat 2,6 miljoen betrekkinge gedurende die afgelope 28 maande verdwyn”, het The New York Times in Julie 2003 berig.
In baie lande is dit werklik moeilik om werk te kry. Elke jaar word die arbeidsmark byvoorbeeld oorstroom deur ’n vloedgolf jongmense wat skool of universiteit verlaat. Boonop is ’n graad of gespesialiseerde opleiding geen waarborg dat iemand werk in ’n gekose beroep sal vind nie. Daarom is dit deesdae redelik algemeen vir mense om ’n paar keer gedurende hulle werklewe van werk te verander. Party verander selfs heeltemal van beroep.
Hoe kan jy jou kanse verbeter om werk te kry as jy werkloos is? En hoe kan jy, nadat jy werk gekry het, dit behou?