‘Jy kan trots wees hierop’
WARE knegte van God besef hoe belangrik eerlikheid is. Liefde vir hulle Skepper beweeg hulle om eerlik te wees. Neem byvoorbeeld die geval van Lázaro. ’n Tydjie gelede toe hy in ’n hotel in Huatulco, Mexiko, gewerk het, het hy 70 dollar (R420) in die portaal opgetel. Hy het die geld dadelik oorhandig aan die bestuurder wat aan diens was. ’n Rukkie later het hy ’n beursie in ’n badkamer opgetel. Hy het dit by die ontvangstoonbank ingegee, en die persoon wat die beursie verloor het, was aangenaam verras.
Hierdie voorvalle het onder die aandag van die hoofbestuurder gekom, en hy het Lázaro gevra wat hom aangespoor het om die geld en die beursie terug te gee. Lázaro het geantwoord dat die sedelike waardes wat hy in die Bybel geleer het, hom daarvan weerhou het om iets te neem wat nie aan hom behoort nie. In ’n brief van waardering het die hoofbestuurder vir Lázaro gesê: “Dit is deesdae moeilik om mense te vind wat hoë sedelike waardes handhaaf. Jou gesindheid is prysenswaardig. Jy het bewys dat jy eerbaar is, ’n voorbeeld vir jou werksmaats. Jy en jou gesin kan trots wees hierop.” Lázaro is as werknemer van die maand aangewys.
Party van Lázaro se werksmaats het gemeen dat hy ’n fout gemaak het toe hy die items teruggegee het. Maar nadat hulle die reaksie van hulle werkgewer gesien het, het hulle Lázaro gelukgewens omdat hy sy sedelike beginsels gehandhaaf het.
Die Bybel vermaan Jesus se getroue volgelinge om “aan almal goed [te] doen” en hulle in “alles eerlik [te] gedra” (Galasiërs 6:10; Hebreërs 13:18). Wanneer ons as Christene eerlikheid aan die dag lê, verheerlik dit ongetwyfeld die God van die Bybel, Jehovah, wat “regverdig en reg” is.—Deuteronomium 32:4.