Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g04 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Spa’s vir kleuters
  • Landbou wat baie water gebruik
  • Warmer weer en die dierebevolking
  • Nog mane ontdek
  • Moegheid dalk ’n voorloper van hartaanvalle
  • Vloedbeskerming vir Venesië
  • Nuus oor rook
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • Wat het van al die water geword?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2004
g04 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Spa’s vir kleuters

Gesondheidsoorde wat spabehandelings vir klein kindertjies aanbied, verrys soos paddastoele in Duitsland en elders, berig die Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung. Kinders wat maar net vier jaar oud is, ontvang warmoliemasserings en ander terapieë, benewens die feit dat hulle sommer net bederf word. Sommige deskundiges meen dat dit meer oor die geld gaan as oor die kinders se gesondheid. Ter wille van wins, sê Peter Wippermann, direkteur van Hamburg se Buro vir Tendense, “word die kinders te vroeg in ’n grootmenswêreld ingedruk”. Volgens dr. Christoph Kampmann, hoof van die pediatriese instituut by die Universiteit van Mainz, is een rede tot kommer dat “dit kinders in uiterste individualiste met ’n meerderwaardigheidsgevoel sal verander, kinders wat geheel en al egosentries is”. Kinders behoort nie spabehandeling te kry vir algemene toestande wat bloot ongemak veroorsaak nie, “hulle moet eerder boomklim en baljaar”, sê die berig. “Dit voorkom beslis probleme met die postuur, reguleer eetlus en bevorder rustige slaap.”

Landbou wat baie water gebruik

“Australië is die droogste bewoonde kontinent, maar ons het die hoogste waterverbruik per capita ter wêreld”, sê die koerant die Australian. Australië gebruik elke dag gemiddeld 900 liter water per persoon, in vergelyking met 600 liter per persoon in Noord-Amerika. “Driekwart van die water wat in Australië verbruik word, word vir besproeiingsdoeleindes” aangewend, sê die berig. Om een kilogram koring te lewer, is 1 010 liter water nodig. Vir ’n melkery om een liter melk te produseer, is ongeveer 600 liter water vir weivelde nodig. Verder vereis dit meer as 18 000 liter water om een kilogram botter te lewer en 50 000 liter water vir ’n kilogram biefstuk afkomstig van ’n bees wat in die veld gewei het. Tekstielvervaardiging is ook ’n bedryf wat baie water gebruik. Om een kilogram katoen te produseer, is 5 300 liter water nodig, en meer as 171 000 liter water is nodig om een kilogram wol te produseer. Na raming word 685 000 liter water gebruik om net een wolpak te maak.

Warmer weer en die dierebevolking

“Daar is ’n skerp toename in spinnekoppe in Australië, waaronder die potensieel dodelike knopiespinnekop, en wetenskaplikes vermoed dat aardverwarming groot ontwrigting in dierebevolkings veroorsaak”, berig The Weekend Australian. Volgens dr. Robert Raven van die Queensland-museum sal spinnekoppe wat gewoonlik net een keer per jaar paar, na verwagting vanjaar drie of vier keer paar. “Spinnekoppe wat dié tyd van die jaar nog nie volgroeid behoort te wees nie, is al”, het hy gesê. “Party spinnekoppe lewe nou twee keer langer as voorheen.” Navorsers meen ook dat warmer weer die voëllewe beïnvloed. Die koerant sê: “Voëls soos woudvisvangers, wat normaalweg een keer per jaar broei, broei nou twee keer per jaar.” Voëls “broei [boonop] vroeër en keer vroeër terug nadat hulle in Europa oorwinter het, wat daarop dui dat veranderinge moontlik wêreldwyd plaasvind”.

Nog mane ontdek

Volgens ¿Cómo ves?, die wetenskaptydskrif van die Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko, het ons danksy verbeterde tegnologie binne net ses jaar uitgevind dat daar twee keer soveel mane in ons sonnestelsel is as wat voorheen bekend was. Teen die einde van 2003 was dit bekend dat 136 mane om sewe van die planete wentel—dit lyk of net Mercurius en Venus nie ’n maan het nie—en sterrekundiges verwag om nog meer mane te vind. Jupiter het sover bekend die meeste mane (61), gevolg deur Saturnus (31), Uranus (27), Neptunus (13) en Mars (2). Pluto en Aarde het een maan elk.

Moegheid dalk ’n voorloper van hartaanvalle

Volgens ’n studie “is ongewone moegheid en slaaploosheid dalk vroeë waarskuwingstekens van hartaanvalle by vroue”, berig die internasionale uitgawe van The Miami Herald. Hoewel slegs 30 persent van vroue in die studie gesê het dat borspyn ’n vroeë teken was, het 71 persent meer as ’n maand voor hulle hartaanval ongewone moegheid ondervind. “Dit is ’n onverklaarbare en ongewone moegheid”, sê professor Jean McSweeney van die Universiteit van Arkansas vir Mediese Wetenskappe, en voeg by: “Sommige is so moeg dat hulle nie ’n bed kan opmaak sonder om eers te rus voor hulle die lakens insteek nie. . . . Hartsiekte is die nr. 1-doder onder vroue.” Sy sê: “As ons vroue sover kan kry om die simptome vroeg te herken, kan ons hulle behandel en ’n hartaanval voorkom of uitstel.”

Vloedbeskerming vir Venesië

Venesië, Italië, wat op ongeveer 120 eilande in die Adriatiese See gebou is, ondervind gereeld oorstromings. Ná omvattende studies en beraadslaging het die Italiaanse regering toestemming verleen vir die konstruksie van ’n stelsel van skarnierversperrings wat oor die drie monde van die strandmeer strek. Die versperrings sal uit 79 staalhouers bestaan, wat elk ongeveer 30 meter hoog, 20 meter wyd en 5 meter dik is. Onder normale toestande sal die houers met water gevul word sodat dit plat op die seebodem lê, wat sodoende skeepvaart en die daling en styging van die gety moontlik sal maak. Maar wanneer ’n oorstroming verwag word, sal lug in die houers gepomp word. Wanneer dit vol lug is, sal die houers soos ophaalbrûe van die seebodem af opswaai totdat dit bo-op die oppervlak dryf. Die houers sal langs mekaar lê en ’n lang versperring vorm wat die vloedwaters sal uithou. Die stelsel sal na verwagting in 2011 in werking wees.

Nuus oor rook

• “Navorsers het gevind dat daar ’n verband is tussen ’n rookverbod in kroeë, restaurante en ander binnenshuise besighede in Helena, Mont[ana], en die feit dat daar gedurende die ses maande van die verbod, bykans 60% minder mense weens hartaanvalle in die hospitaal opgeneem is”, berig The Wall Street Journal. Nadat ’n plaaslike hof die rookverbod opgehef het, het die voorkomssyfer van hartaanvalle na vorige vlakke teruggekeer. “Dít is ’n duidelike bewys dat ons die gevare van tweedehandse rook moet vermy”, het die kardioloog Sidney Smith gesê.

• “Staatsowerhede, wat voorheen die tabakbedryf se grootste teenstanders was, bevind hulle nou in ’n netelige posisie: Hulle is gereed om die land se grootste sigaretvervaardiger [van bankrotskap] te probeer red”, sê die Journal. Wat is die rede hiervoor? ’n Regter het beslis dat die maatskappy ’n sekuriteit ter waarde van R79 miljard moet stel voordat hulle teen ’n hofsaak kon appelleer. Dit sou vir hulle bankrotskap beteken het, en die skikkingsgeld van ’n vorige hofsaak wat miljarde rande beloop, sou nie betaal kon word nie. Die staatsowerhede “het van daardie geld afhanklik geword, wat ’n begrotingsramp in baie state afwend”, het die artikel gesê. Gevolglik “het die state die tabakvervaardigers te hulp gesnel”. Twee weke later het die regter sy beslissing ter syde gestel en die maatskappy ’n kleiner bedrag laat betaal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel