Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 12/22 bl. 12-14
  • Kruiemedisyne—Kan dit jou help?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kruiemedisyne—Kan dit jou help?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe kruie kan help
  • Hoe kruie gebruik kan word
  • ’n Paar waarskuwings
  • ’n Potensieel gevaarlike mengsel
  • ’n Besoek aan ’n Chinese apteek
    Ontwaak!—2000
  • ’n Kykie na alternatiewe terapieë
    Ontwaak!—2000
  • “Ons wens julle goeie gesondheid toe!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Selfbehandeling—voordele en risiko’s
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 12/22 bl. 12-14

Kruiemedisyne—Kan dit jou help?

KRUIEMEDISYNE word al van die vroegste tye af gebruik om siekte te behandel. Die Ebers-papirus, wat omstreeks die 16de eeu v.G.J. in Egipte saamgestel is, bevat honderde volksgeneesmiddels vir verskillende kwale. Maar gewoonlik is kruierate mondelings van geslag tot geslag oorgedra.

In die Westerse wêreld het mediese kruiekunde blykbaar begin met die werk van die eerste-eeuse Griekse geneesheer Dioskorides, wat De Materia Medica geskryf het. Dit was gedurende die daaropvolgende 1 600 jaar die vernaamste farmakologiese geskrif. In baie wêrelddele is tradisionele kruiemedisyne nog steeds gewild. In Duitsland dek staatsgesondheidsprogramme dikwels selfs die koste van voorskrifkruiemedisyne.

Hoewel daar soms beweer word dat volksrate en tradisionele kruiemedisyne veiliger as moderne farmaseutiese geneesmiddels is, kan dit wel gevare inhou. ’n Paar vrae ontstaan dus: Watter waarskuwings en aanbevelings moet ’n mens in gedagte hou as jy kruiemedisyne wil gebruik? En onder watter omstandighede sal ’n sekere behandeling dalk voordeliger wees as ander?a

Hoe kruie kan help

Talle helende eienskappe word aan kruie toegeskryf. Sekere kruie kan na bewering die liggaam help om infeksie teë te werk. Ander help blykbaar met spysvertering, kalmeer die senuwees, dien as ’n lakseermiddel of help om die kliere te reguleer.

Kruie kan voedings- sowel as geneeskragtige waarde hê. Byvoorbeeld, sommige plante wat as diuretikums dien, soos pietersielie, bevat ook groot hoeveelhede kalium.b Die kalium in dié plante vergoed vir die verlies van hierdie noodsaaklike spoorelement deur urinering. So ook bevat die valeriaanplant (Valeriana officinalis), wat al lank as ’n kalmeermiddel gebruik word, baie kalsium. Die kalsium kan die kalmerende uitwerking van die kruie op die senuweestelsel vergroot.

Hoe kruie gebruik kan word

Kruie kan op baie maniere gebruik word, soos in die vorm van tee, afkooksels, tinkture (aftreksels) en smeermiddels. Tee word gemaak deur kookwater oor die kruie te gooi. Maar kenners waarsku dat kruie wat as ’n tee gebruik word, oor die algemeen nie in water gekook moet word nie. Afkooksels, wat byvoorbeeld gemaak word van die wortels en bas van kruie, word in water gekook om hulle aktiewe bestanddele vry te stel.

Wat van tinkture? Een boek sê dat dit “kruie-ekstrakte is wat met suiwer of verdunde alkohol, brandewyn of vodka gemaak word”. Dan is daar smeermiddels, wat op verskillende maniere voorberei kan word. Dit word gewoonlik aan ’n wond of ’n seer liggaamsdeel gesmeer.

In teenstelling met talle vitamiene en geneesmiddels word die meeste kruie as voedsel beskou en dikwels op ’n leë maag geneem. Dit kan ook in die vorm van kapsules geneem word, wat geriefliker en feitlik smaakloos is. As jy besluit om kruiemedisyne te gebruik, is dit wys om dit onder die wakende oog van ’n kruiekenner te doen.

Kruie is tradisioneel aanbeveel vir dinge soos verkoue, slegte spysvertering, hardlywigheid, slaaploosheid en naarheid. Maar dit word ook soms vir ernstiger kwale gebruik—nie net as ’n geneesmiddel nie, maar ook as ’n voorkomende middel. In Duitsland en Oostenryk is saagblaarpalmetto (Serenoa repens) byvoorbeeld die heel eerste middel wat gebruik word in die behandeling van goedaardige prostaathiperplasie (swelling van die prostaatklier). In sommige lande ondervind 50 tot 60 persent van mans uiteindelik hierdie probleem. Dit is egter belangrik dat die oorsaak van die swelling deur ’n dokter gediagnoseer word om seker te maak dat die toestand nie drastieser behandeling vereis nie, soos in die geval van kanker.

’n Paar waarskuwings

Hoewel kruie oor die algemeen as veilig beskou word, is dit raadsaam om versigtig te wees. Moenie ’n produk vertrou net omdat die etiket sê dat dit “natuurlik” is nie. ’n Ensiklopedie oor kruie sê: “Die waarheid is dat sommige kruie eenvoudig gevaarlik is. [Ongelukkig] behandel party mense kruie—hetsy gevaarlik of onskadelik—nie met die nodige respek nie.” Chemiese verbindings in kruie kan jou hartklop, bloeddruk en suikervlak verander. Derhalwe moet mense met hartkwale, hoë bloeddruk of bloedsuikerprobleme, soos diabetes, veral versigtig wees.

Gewoonlik word die newe-effekte van kruie egter tot allergiese reaksies beperk. Dit sluit hoofpyne, duiseligheid, naarheid of veluitslag in. Kruie veroorsaak ook blykbaar ’n “genesingskrisis” deur griepagtige of ander simptome aan te bring. Iemand wat kruie gebruik, word skynbaar erger voordat hy beter word. Daar word oor die algemeen beweer dat hierdie reaksie veroorsaak word deur gifstowwe wat uit die liggaam verwyder word gedurende die vroeë stadium van kruiebehandeling.

Die sterftes wat soms met die gebruik van sekere kruieprodukte verbind word, beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n mens versigtig moet wees en betroubare hulp moet kry. Byvoorbeeld, die kruid ephedra, wat oor die algemeen gebruik word om gewig te verloor, kan ook die bloeddruk verhoog. Meer as 100 sterfgevalle wat in die Verenigde State aangemeld is, is verbind met ephedra-produkte, hoewel Steven Karch, ’n patoloog van San Francisco, sê: “Die enigste gevalle waarvan ek weet waar mense gesterf het [nadat hulle ephedra gebruik het], is dié waar hulle ernstige koronêre hartvatsiekte gehad het of te groot dosisse geneem het.”

Dr. Logan Chamberlain, skrywer van ’n boek oor kruie-aanvullers, sê: “Feitlik alle berigte in onlangse jare oor die skadelike gevolge van kruie hou verband met gevalle waar mense nie die gebruiksaanwysings gevolg het nie. . . . Die dosis wat op betroubare produkte aanbeveel word, is veilig en selfs aan die lae kant. Moet dit nie ignoreer nie, tensy jy betroubare raad van ’n opgeleide kruiekenner het.”

Die kruiekenner Linda Page gee hierdie waarskuwing: “Selfs vir ernstige gesondheidstoestande is ’n matige dosis die beste, ’n groot dosis is nie. Baie beter resultate kan verkry word deur jouself meer tyd en matiger behandeling te gee. Dit neem tyd om ’n mens se gesondheid weer op te bou.”

’n Boek oor kruiekunde verduidelik dat sommige kruie ’n ingeboude beskermingsmeganisme teen ’n oordosis het. Een kruid wat gebruik word om die liggaam te help ontspan, veroorsaak byvoorbeeld braking as ’n mens ’n oordosis neem. Nie alle kruie besit egter hierdie eienskap nie; daarom is dit noodsaaklik om by ’n veilige dosis te bly.

Baie glo egter dat kruie slegs doeltreffend is as die regte hoeveelhede in die regte vorm gebruik word. Soms kan dit slegs gedoen word deur ’n ekstrak te neem. Dit is die geval met ginkgo biloba, wat al lank gebruik word om die geheue en bloedsomloop te stimuleer, omdat groot hoeveelhede blare nodig is om ’n enkele doeltreffende dosis te kry.

’n Potensieel gevaarlike mengsel

Kruie kan op verskeie maniere met geneesmiddels reageer. Dit kan byvoorbeeld die uitwerking van die geneesmiddel vergroot of laat afneem, dit kan veroorsaak dat die liggaam dit vinniger as gewoonlik uitskei, of dit kan die risiko van newe-effekte vergroot. Sint Janskruid, wat dikwels in Duitsland vir ligte tot matige depressie voorgeskryf word, verminder die doeltreffendheid van baie geneesmiddels omdat dit veroorsaak dat die liggaam twee keer vinniger as normaalweg daarvan ontslae raak. As jy dus voorskrifmedisyne neem, insluitende voorbehoedmiddels, moet jy jou dokter raadpleeg voordat jy kruie gebruik.

’n Boek wat handel oor die helende eienskappe van kruie sê: “Alkohol, dagga, kokaïen, ander luimwysigende dwelms en tabak kan ’n dodelike uitwerking hê as dit saam met sekere kruiemiddels gebruik word. . . . Gesonde verstand vereis dat jy [sulke dwelms] vermy, veral wanneer jy siek is.” Swanger vroue en moeders wat borsvoed, moet ook daardie raad ter harte neem. Wanneer dit by tabak en verslawende dwelms kom, word Christene natuurlik beskerm omdat hulle ag slaan op die Bybelse bevel om hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig”.—2 Korintiërs 7:1.

Een naslaanwerk het in verband met kruie gewaarsku: “As jy swanger raak terwyl jy kruiemedisyne gebruik, moet jy jou dokter daarvan vertel en die gebruik daarvan staak totdat jy dit met hom of haar bespreek het. Probeer die presiese dosis onthou, asook hoe lank jy dit gebruik het.”

“Selfbehandeling [met kruie] hou etlike gevare in”, sê ’n ensiklopedie oor kruie. In die bygaande venster, “Die gevare van selfbehandeling”, is daar ’n lys met moontlike gevare van kruie.

Kruie moet, soos alle gesondheidsprodukte, met respek, kennis en natuurlik balans behandel word—en onthou dat sommige kwale nie nou genees kan word nie. Ware Christene sien uit na die tyd wanneer selfs die oorsaak van siekte en die dood—die onvolmaaktheid wat ons van ons eerste ouers geërf het—onder die liefdevolle heerskappy van God se Koninkryk heeltemal verwyder sal wees.—Romeine 5:12; Openbaring 21:3, 4.

[Voetnote]

a Ontwaak! is nie ’n mediese tydskrif nie en beveel dus geen spesifieke behandeling of dieet, met of sonder kruie, aan nie. Hierdie artikel is bloot vir algemene inligting bedoel. Lesers moet self oor mediese en gesondheidsake besluit.

b ’n Diuretikum is ’n middel wat urineafskeiding aanhelp.

[Venster op bladsy 14]

Die gevare van selfbehandeling

Hier volg party van die gevare wat die gebruik van kruie sonder bekwame professionele hulp kan inhou.

Jy weet dalk nie wat werklik met jou fout is nie.

Jou metode van selfbehandeling is dalk ongepas vir jou kwaal, selfs al het jy dit reg gediagnoseer.

Jou program van selfbehandeling kan drastieser dog noodsaaklike en gepaste behandeling uitstel.

Jou selfbehandeling kan bots met voorskrifmiddels, soos medisyne vir allergieë of bloeddrukpille.

Jou selfbehandeling genees dalk ’n minder ernstige kwaal, maar vererger ’n ander gesondheidsprobleem, soos hoë bloeddruk.

[Erkenning]

Bron: Rodale’s Illustrated Encyclopedia of Herbs

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel