Stuifmeel—Ergernis of wonder?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
Atsjoe! Daardie geluid sowel as tranerige, jeukende oë en ’n kriewelrige loopneus is vir miljoene mense ’n teken dat die lente aangebreek het. Hulle kry gewoonlik allergieë omdat die lug vol stuifmeel is. Die BMJ (vroeër British Medical Journal) skat dat 1 uit 6 mense in nywerheidslande aan seisoensgebonde stuifmeelallergieë ly, wat ook hooikoors genoem word. Daardie syfer is glad nie verbasend as ’n mens die ontsaglike hoeveelheid stuifmeel wat plante in die lug vrystel, in aanmerking neem nie.
Wetenskaplikes skat dat die dennebosse in net die suidelike derde van Swede elke jaar ongeveer 75 000 ton stuifmeel vrystel. Net een sprinkaanbosplant, wat hooikoorslyers in Noord-Amerika se lewe moeilik maak, kan ’n miljoen stuifmeelkorrels per dag voortbring. Sprinkaanbosstuifmeel word deur die wind gedra en is al 3 kilometer bo die aarde en tot 600 kilometer die see in gevind.
Maar waarom veroorsaak stuifmeel ’n allergiese reaksie by party mense? Voordat ons hierdie vraag bespreek, sal ons stuifmeel en die verbasende ontwerp van hierdie klein korreltjies van naderby ondersoek.
Klein korreltjies wat noodsaaklik is vir lewe
Stuifmeel, sê The Encyclopædia Britannica, word “by saaddraende plante in die helmknop, of manlike orgaan, gevorm en op verskillende maniere (wind, water, insekte, ens.) na die stamper, of vroulike orgaan, gedra, waar bevrugting plaasvind”.
By blomplante bestaan stuifmeelkorrels uit drie onderskeie dele—’n kern wat spermselle bevat en twee lae wat die wand of huid van die korrel uitmaak. Die harde buitelaag ontbind nie maklik nie en is bestand teen sterk sure, alkalies en selfs intense hitte. Tog is stuifmeel, met min uitsonderings, net ’n paar dae of weke kiemkragtig. Die harde wand kan egter duisende jare lank bestaan sonder om te ontbind. Gevolglik is daar baie stuifmeelkorrels in die grond. Trouens, wetenskaplikes het al baie oor die aarde se plantkundige geskiedenis uitgevind deur die stuifmeel in grondmonsters uit verskillende dieptes te bestudeer.
Daardie geskiedenis kan ook nogal akkuraat wees, danksy die onderskeidende ontwerpe op die buitewand van stuifmeelkorrels. Na gelang van die soort stuifmeel kan die wand glad of verrimpeld wees, ’n patroon hê of met stekels en knoppe bedek wees. “Vir identifikasie is die stuifmeel van elke spesie dus net so betroubaar soos ’n mens se vingerafdruk”, sê antropologieprofessor Vaughn M. Bryant, jr.
Hoe plante bestuif word
Wanneer ’n stuifmeelkorrel met die stempel, ’n deel van die stamper in vroulike plante, in aanraking kom, vind ’n chemiese reaksie plaas wat die stuifmeelkorrel laat swel en ’n buis tot by die saadknop laat afgroei. Spermselle in die stuifmeelkorrel beweeg dan met die buis af na die saadknop, wat veroorsaak dat ’n bevrugte saad vorm. Wanneer die saad volgroeid is, moet dit bloot in die regte omgewing beland om te ontkiem.
Hoewel party saaddraende plante óf manlik óf vroulik is, bring die meeste van hulle stuifmeel en saadknoppe voort. Sommige plante bestuif hulleself; ander gebruik kruisbestuiwing deur stuifmeel na ander plante van dieselfde spesie of ’n naverwante spesie oor te dra. Dié wat kruisbestuiwing gebruik, “voorkom dikwels selfbestuiwing deur hulle stuifmeel vry te stel voordat of nadat die stempels van dieselfde plant daarvoor ontvanklik is”, sê Britannica. Ander het die chemiese vermoë om te onderskei tussen hulle eie stuifmeel en dié van ’n ander plant van dieselfde soort. Wanneer hulle agterkom dat dit hulle eie stuifmeel is, stel hulle dit buite aksie, dikwels deur te keer dat die stuifmeelbuis groei.
In ’n gebied waar daar ’n verskeidenheid plante is, kan die lug ’n ware mengelmoes van stuifmeel wees. Hoe sif plante die stuifmeel uit wat hulle nodig het? Party gebruik ingewikkelde beginsels van lugdinamika. Dink byvoorbeeld aan dennebome.
Windbestuiwing
Manlike dennekeëls groei in groepe en wanneer dit volgroeid is, stel dit groot hoeveelhede stuifmeel in die wind vry. Wetenskaplikes het uitgevind dat vroulike dennekeëls, in samewerking met die dennenaalde om hulle, die lug so laat vloei dat swewende stuifmeel warrel en in die rigting van die keëls se voortplantingsdele val. In ontvanklike vroulike keëls word hierdie dele blootgestel wanneer die skubbe effens oopmaak en van mekaar skei.
Die navorser Karl J. Niklas het omvattende toetse oor dennekeëls se slim toepassing van lugdinamika gedoen. In die tydskrif Scientific American het hy geskryf: “Ons studies toon dat die unieke vorm van elke plantsoort se keël eiesoortige wysigings van die lugvloeipatrone tot gevolg het . . . Net so het elke soort stuifmeel ’n kenmerkende grootte, vorm en digtheid, sodat die stuifmeel op ’n unieke manier op die lugvloei reageer.” Hoe doeltreffend is hierdie tegnieke? Niklas sê: “Die meeste van die keëls wat ons bestudeer het, het hulle ‘eie’ stuifmeel uit die lug gesif, maar nie dié van ander spesies nie.”
Alle plante word natuurlik nie deur die wind bestuif nie—tot allergielyers se groot verligting! Baie plante gebruik diere.
Aangelok deur nektar
Plante wat deur voëls, klein diertjies en insekte bestuif word, gebruik gewoonlik hakies, stekels of klewerige drade om stuifmeel te laat vassit aan die lyf van die bestuiwer wat na kos soek. ’n Harige hommelby kan byvoorbeeld sowat 15 000 stuifmeelkorrels op ’n slag wegdra!
Trouens, bye is die vernaamste bestuiwers van blomplante. Plante beloon die bye hiervoor deur hulle soet nektar sowel as stuifmeel te gee om te eet, en laasgenoemde voorsien hulle van proteïene, vitamiene, minerale en vette. In ’n buitengewone daad van samewerking besoek bye dalk meer as 100 blomme op net een tog, maar hulle sal stuifmeel, nektar of albei van net een spesie versamel totdat hulle genoeg bymekaargemaak het of totdat die voorraad opraak. Hierdie merkwaardige, instinktiewe gedrag help om doeltreffende bestuiwing te verseker.
Geflous deur blomme
Party plante bied nie soetighede aan nie, maar maak op slim nabootsingstegnieke staat om insekte te lok om hulle te bestuif. Kyk byvoorbeeld na die hamerorgidee, wat in Wes-Australië groei. Die hamerorgidee se blom het ’n onderlip wat selfs vir die mens feitlik op ’n druppel na ’n lywige, vlerklose thynnid-perdebywyfie lyk. Die blom stel selfs ’n chemiese namaaksel van die regte perdebywyfie se seksferomoon, of sekslokstof, vry! Aan die punt van ’n arm net bo hierdie verleidelike “wyfie” is daar klewerige sakkies vol stuifmeel.
’n Thynnid-perdebymannetjie, wat deur die reuk van die nagemaakte feromoon aangelok word, sal die “wyfie” gryp en met “haar” probeer wegvlieg. Maar as hy opstyg, gooi sy momentum hom en sy aanstaande op en onderstebo, in die klewerige stuifmeelsakkies in. Wanneer hy sy fout agterkom, los hy die “wyfie”—wat aan ’n spil vas is sodat dit in die regte plek terugval—en vlieg hy weg, net om weer deur ’n ander hamerorgidee geflous te word.a Hierdie keer bestuif hy egter die orgidee met die stuifmeel wat hy tydens sy vorige ontmoeting opgetel het.
Maar as thynnid-perdebywyfies bedrywig is, sal die mannetjies altyd een van hulle kies, nie die nabootsing nie. Die orgidee blom etlike weke voordat die perdebywyfies uit hulle ondergrondse papies kom, wat die blom ’n tydelike voorsprong gee.
Waarom die allergieë?
Waarom is party mense allergies vir stuifmeel? Wanneer klein stuifmeelkorreltjies in die neus beland, sit dit vas in ’n laag klewerige slym. Daarvandaan beweeg dit na die keel, waar dit ingesluk of uitgehoes word, gewoonlik sonder enige slegte gevolge. Maar soms prikkel stuifmeel die immuunstelsel.
Die probleem lê by stuifmeelproteïen. Om die een of ander rede beskou die immuunstelsel van ’n allergielyer die proteïen van sekere soorte stuifmeel as ’n bedreiging. Die liggaam reageer hierop deur ’n kettingreaksie aan die gang te sit wat veroorsaak dat masselle, wat in die liggaamsweefsel gevind word, baie histamien vrystel. Histamien laat bloedvate uitsit en meer deurlaatbaar word, sodat vloeistowwe deursyfer wat ryk aan immuunselle is. Onder gewone omstandighede beweeg hierdie immuunselle na waar daar ’n besering of infeksie is en help dit om van skadelike indringers in die liggaam ontslae te raak. Maar vir allergielyers veroorsaak stuifmeel ’n vals alarm, wat ’n kriewelrige loopneus, geswelde weefsel en tranerige oë tot gevolg het.
Navorsers meen dat mense die neiging om allergies te wees van hulle ouers erf, hoewel die neiging dalk nie met ’n spesifieke allergeen verband hou nie. Besoedeling kan ook ’n faktor wees wat ’n mens gevoelig vir allergene maak. “In Japan is ’n regstreekse verband gevind tussen gevoeligheid vir stuifmeel en nabyheid aan gebiede met hoë vlakke van dieseluitlaatgasdeeltjies in die omringende lug”, het die BMJ gesê. “Volgens studies van diere kan hierdie deeltjies ’n mens meer geneig tot allergieë maak.”
Gelukkig kan antihistamiene baie lyers se simptome verlig.b Soos die naam aandui, werk hierdie geneesmiddels die werking van histamien teë. Maar ondanks die irritasie wat stuifmeel veroorsaak, kan ’n mens nie anders as om diep beïndruk te wees met die vindingrykheid wat duidelik te sien is in die ontwerp sowel as die manier waarop hierdie klein, lewensnoodsaaklike deeltjies versprei word nie. Daarsonder sou die planeet Aarde beslis ’n dorre plek wees.
[Voetnote]
a Die blom word die hamerorgidee genoem omdat die lokmiddel (die labellum) om ’n spil op en af beweeg, wat dit moontlik maak om soos ’n hamer te swaai.
b In die verlede was antihistamiene geneig om lomerigheid en ’n droë mond te veroorsaak. Nuwer soorte het minder van hierdie newe-effekte.
[Diagram op bladsy 24, 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Stamper
Saadknop
Vrugbeginsel
Stuifmeelbuis
Stempel
Stuifmeelkorrel
Meeldraad
Helmknop
Kroonblaar
[Erkenning]
NED SEIDLER/NGS Image Collection
[Prent op bladsy 25]
Verskillende soorte stuifmeel deur ’n mikroskoop gesien
[Erkenning]
Stuifmeelkorrels: © PSU Entomology/PHOTO RESEARCHERS, INC.
[Prent op bladsy 26]
’n Deel van die hamerorgidee se blom lyk soos ’n perdebywyfie
[Erkenning]
Foto’s van hamerorgidee: © BERT & BABS WELLS/OSF
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Stuifmeelkorrels: © PSU Entomology/PHOTO RESEARCHERS, INC.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Stuifmeelkorrels: © PSU Entomology/PHOTO RESEARCHERS, INC.