Miljoene sal dit bywoon—Sal jy daar wees?
WAAR? By een van die “Gee God heerlikheid”-streekbyeenkomste wat op honderde plekke regoor die wêreld gehou sal word. Die driedaagse program is deur Jehovah se Getuies gereël en is voorberei om almal wat God liefhet, te help om so te lewe dat hulle hulle Skepper die eer gee wat hy verdien.
Die eerste dag van die byeenkoms sal die aandag vestig op die tema ‘U is waardig, Jehovah, om die heerlikheid te ontvang’ (Openbaring 4:11). “Die skepping maak die heerlikheid van God bekend” is die tema van ’n toespraak wat ons sal help om te verstaan hoe Jehovah se eienskappe “duidelik gesien” of “waargeneem word in die dinge wat gemaak is” (Romeine 1:20). Die aanmoedigende programrede “Glorieryke profetiese visioene spoor ons aan!” sal almal beweeg om die belangrike gebeure wat vir ons dag in God se Woord voorspel is, goed in gedagte te hou. “Die profesie van Amos—sy boodskap vir ons dag” is die tema van ’n driedelige simposium wat sal beklemtoon hoe hierdie eertydse profeet se waarskuwings op ons tyd van toepassing is. “‘Die goeie land’—’n voorskou van die Paradys” sal ons waardering opbou vir die gebied wat Jehovah aan sy eertydse volk gegee het.
Die tweede dag van die byeenkoms sal die tema hê “Maak onder die nasies sy heerlikheid bekend”, gegrond op Psalm 96:3. Een van die hoogtepunte sal die simposium wees met die tema “Weerspieël die heerlikheid van Jehovah soos ’n spieël”. In hierdie driedelige aanbieding sal ons sien hoe ons bekwamer in ons bediening kan wees. Die toespraak “Sonder oorsaak gehaat” sal gevolg word deur die toewydingstoespraak en die doop—’n kenmerk van alle streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies. In die middag sal die toespraak “Pas op vir ‘die stem van vreemdelinge’” tydige raad gee oor “valse onderrigters” wat God se volk met “valse woorde” probeer mislei (2 Petrus 2:1, 3). “Ons kinders—’n kosbare erfdeel” sal die dag se program afsluit. Ouers sowel as jong kinders sal dit geniet.
Gedurende die laaste dag van die byeenkoms sal die tema “Doen alles tot heerlikheid van God” ontwikkel word (1 Korintiërs 10:31). ’n Reeks onderhoude sal gevoer word tydens die toespraak “Hoe jongmense Jehovah loof”. Die oggendsessie sal ook ’n drama van 45 minute insluit met die tema “Getuig met vrymoedigheid ondanks teenstand”. Aangesien godsdiens voortdurend in die nuus is, sal die openbare toespraak die vraag “Wie gee God vandag heerlikheid?” bespreek. Die toespraak “‘Hou aan om veel vrug te dra’ tot heerlikheid van Jehovah” sal die byeenkoms op ’n besielende noot afsluit.
Dit is net ’n paar van die motiverende aanbiedings wat by die “Gee God heerlikheid”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gehoor sal word. Jy sal sekerlik al drie dae teenwoordig wil wees. Tree gerus met die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir inligting oor waar die byeenkoms naaste aan jou gehou sal word.