Ons beskou die wêreld
Die waarde van potplante
“Duisende leerlinge sal beter punte behaal as potplante in klaskamers geplaas word”, sê navorsers volgens The Times van Londen. Professor Derek Clements-Croome van die Universiteit van Reading het gevind dat koolstofdioksiedvlakke in party oorvol en swak geventileerde klaskamers die aanbevole vlak met meer as 500 persent oorskry en dus die kinders se konsentrasie belemmer en hulle vooruitgang vertraag. Hy het die toestand siekklaskamersindroom genoem en gesê dat daar gemiddeld per vierkante meter vyf keer meer kinders in klaskamers is as wat daar werkers in kantoorgeboue is, waar “siekgebousindroom” ’n uitwerking op die werkers en hulle werkverrigting het. Watter plante kan gebruik word om die gehalte van die lug in klaskamers te verbeter? Een studie in die Verenigde State het gesê dat die hen-en-kuiken die doeltreffendste is. Draakbloedbome, klimoppe, rubberbome, vredeslelies en jukkas is ook uitstekende lugsuiweraars. Die huisplante verminder die koolstofdioksiedvlakke deur dit in suurstof om te sit.
“Verlore” geslag
“Jong Amerikaners is jammerlik oningelig”, sê die Daily News van New York. “Elf persent kan Amerika nie [op ’n wêreldkaart] opspoor nie. En wanneer hulle ’n kaart van die VSA voor hulle het waarop die plekname nie aangedui is nie, het die helfte nie die vaagste benul waar New York is nie.” Wanneer dit kom by ander nasies wat in die nuus is, kon slegs 13 persent Irak of Iran opspoor en slegs 17 persent kon Afganistan vind. Trouens, slegs 71 persent van 18- tot 24-jarige Amerikaners kon die wêreld se grootste watermassa—die Stille Oseaan—opspoor. Die National Geographic Society se vasvra met 56 vrae is aan 3 250 jongmense in Brittanje, Duitsland, Frankryk, Italië, Japan, Kanada, Mexiko, Swede en die Verenigde State gegee. Hoewel niemand ’n “A” behaal het nie, wat ’n gemiddeld van 42 regte antwoorde vereis, het Swede die naaste gekom met 40, gevolg deur Duitsland en Italië met 38. Amerikaners het tweede laaste gekom met ’n gemiddeld van 23 regte antwoorde, net voor Mexiko met 21. “Hoe kan ons jongmense die kwessies in verband met die wêreld se kulturele, ekonomiese en natuurlike hulpbronne verstaan as hulle nie plekke op ’n kaart kan vind of bewus is van huidige gebeure nie?” het John Fahey, president van die National Geographic Society, gevra.
Maai ná 40 wat jy gesaai het
“Die keuses wat ’n mens in die lewe gemaak het en die omgewing waaraan jy blootgestel is, begin hulle tol op 40-jarige leeftyd eis, wanneer die tekens van ouderdom versnel.” Dit was die hoofgedagte van ’n verslag oor ’n gesondheidskonferensie in The Daily Telegraph van Sydney, Australië. Volgens Rocco Di Vincenzo, hoofdieetkundige aan die Swinburne-hospitaal in Victoria, speel “‘gebrekkige gene’ of dinge wat in die liggaam verkeerd gaan” moontlik ’n minder belangrike rol in ’n mens se gesondheid ná 40 as die keuses wat gemaak is. “Ons weet nou dat gesondheid ná die ouderdom van 40 ’n gevolg is van die wisselwerking tussen genetiese erflikheids- en omgewingsfaktore”, het Di Vincenzo gesê. “Volgens die Nasionale Instituut van Veroudering is 80 persent van gesondheidsprobleme onder bejaardes glad nie die gevolg van veroudering nie. Dit is omdat mense hulle hele lewe lank nie behoorlik na hulle liggaam kyk nie, en ná 40 begin dit hulle inhaal.”
Kinders raak maklik aan nikotien verslaaf
Volgens ’n studie waarvan die Londense koerant The Guardian melding gemaak het, “kan kinders binne dae nadat hulle begin rook het aan tabak verslaaf raak en kan hulle selfs na hulle eerste sigaret verslaaf wees”. “Van die 332 jongmense wat al tabak probeer het, selfs net ’n ligte trek, het 40% tekens van verslawing getoon. Van die 237 wat ingeasem het, het 53% tekens van verslawing getoon.” Die 30 maande lange studie, onder leiding van dr. Joseph DiFranza van die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Massachusetts in die Verenigde State, het byna 700 leerlinge gemonitor, wat aan die begin van die studie tussen 12 en 13 jaar oud was. “Voor die studie is daar aangeneem dat dit kinders twee jaar neem om aan tabak verslaaf te raak—dat hulle elke dag sou moes rook, ten minste ’n halwe pakkie per dag”, het DiFranza gesê. “Party van hierdie kinders was binne ’n paar dae nadat hulle begin rook het, verslaaf. . . . [Ek] vermoed dat nikotienverslawing in baie gevalle met die eerste sigaret begin.” DiFranza glo dat tieners makliker verslaaf raak omdat hulle brein nog ontwikkel. “Ek sal graag wil sien dat kinders die boodskap kry dat hulle nie met tabak kan eksperimenteer nie. Daar is geen veilige manier om te rook nie”, het DiFranza gesê. “Ons moet kinders daarvan oortuig dat selfs net een sigaret tot lewenslange verslawing kan lei.”
Nuwe lig op “buiteliggaamlike” ervaringe
Switserse neuroloë het per ongeluk sogenaamd buiteliggaamlike ervaringe in ’n pasiënt veroorsaak terwyl hulle elektrodes gebruik het om die oorsprong van haar epileptiese aanvalle vas te stel, sê die Duitse wetenskapsnuusdiens Bild der Wissenschaft-Online. Elke keer wanneer die angulêre girus van die regterbreinkorteks gestimuleer is, het die vrou gesê dat dit voel asof sy haar liggaam verlaat en van bo af daarop neerkyk. Daardie deel van die brein is blykbaar daarvoor verantwoordelik om visuele bewustheid van die liggaam en sintuiglike inligting oor waar die liggaam is, te kombineer. “Hierdie wisselwerking in die pasiënt is ontwrig weens die uitwerking wat die elektrodes op haar gehad het, en daarom is haar sintuiglike waarneming blykbaar van haar liggaam geskei”, sê Bild der Wissenschaft. Buiteliggaamlike ervaringe “het al dikwels aanleiding gegee tot bespiegelinge oor ’n siel wat onafhanklik van die liggaam bestaan”.
Die rosekrans se herstel
“Vroom Rooms-Katolieke bid al 500 jaar lank die rosekrans, ’n mantra-agtige reeks Onse Vaders en Ave Maria’s wat bedoel is om bepeinsing aan te moedig oor 15 belangrike gebeurtenisse of ‘verborgenhede’ in die lewe van Jesus en sy moeder”, berig Newsweek. “Verlede [Oktober] het pous Johannes-Paulus II ’n apostoliese brief uitgereik wat ’n vierde siklus by die rosekrans gevoeg het”, wat gebaseer is op Jesus se bediening van sy doop tot die Laaste Avondmaal. “Die Pous se doelwit is om belangstelling in sy ‘geliefkoosde’ vorm van gebed te laat herleef, wat sedert die Tweede Vatikaanse Konsilie in gewildheid afgeneem het”, voeg die tydskrif by. “Die Pous se hoofdoel is om in hierdie unieke Katolieke godsdiensgebruik groter klem te plaas op Christus met betrekking tot Maria, die figuur wat die meeste met die rosekrans geïdentifiseer word.” Daar word gehoop dat dit die gewoonte van bepeinsing onder Katolieke sal aanmoedig in ’n tyd “wanneer die Christendom deur die bepeinsingstradisies van Oosterse godsdienste beïnvloed word”, het die Pous opgemerk.
Te hoë verwagtinge
“Die meeste huwelike in Duitsland verbrokkel weens te hoë verwagtinge”, berig die koerant Die Welt. Volgens professor Wassilios Fthenakis, wat navorsing oor gesinslewe doen, “soek mense na intimiteit en wil hulle soveel as moontlik geluk in hulle verhouding vind”. Hy het egter opgemerk dat dit onrealisties is om te verwag dat sulke gevoelens van euforie dekades lank sal voortduur. Die huidige klem op persoonlike geluk en selfverwesenliking het paartjies minder gewillig gemaak om mekaar tegemoet te kom en saam deur moeilike tye te werk. ’n Ander gesinsdeskundige het gesê: “As die pret eers verby is, doen mense vandag minder moeite om dinge uit te praat en die verhouding te red.” Huwelike in Duitsland hou nou gemiddeld net meer as 12 jaar.