Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/22 bl. 21-23
  • Wiskunde is vir almal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wiskunde is vir almal
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer jy inkopies doen
  • Wanneer jy jou huis versier
  • Gebruik wiskunde elke dag
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2004
  • Hulp vir kinders met leergestremdhede
    Ontwaak!—2009
  • Hoe goed ken jy die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/22 bl. 21-23

Wiskunde is vir almal

WISKUNDE is nie net vir wetenskaplikes nie. Dit is vir ons almal. Wanneer jy inkopies doen, jou huis versier of na die daaglikse weerberig luister, gebruik jy of vind jy baat by wiskundige beginsels.

Baie mense voel blykbaar dat wiskunde vervelig is en nie op hulle daaglikse lewe van toepassing is nie. Voel jy ook so? Kom ons kyk hoe nuttig, maklik en fassinerend wiskunde kan wees.

Wanneer jy inkopies doen

Stel jou voor dat jy inkopies doen en daar is ’n groot uitverkoping. ’n Artikel wat oorspronklik R35 gekos het, se prys is met 25 persent afgemerk of verminder. Dit klink soos ’n winskopie. Maar wat is die nuwe prys? Rekenkunde kom tot jou redding.a

Trek eerstens die afgemerkte persentasie van 100 persent af, wat jou 75 persent gee (100 persent − 25 persent = 75 persent). Vermenigvuldig dan die oorspronklike prys met die resultaat, wat in hierdie geval 75 persent (0,75) is. Die nuwe prys sal R26,25 (35 × 0,75 = 26,25) wees. Noudat jy weet wat die nuwe prys is, kan jy besluit of dit werklik ’n winskopie is.

Sê nou jy het nie ’n sakrekenaar saamgebring nie? Miskien kan jy die antwoord in jou kop uitwerk. Sê byvoorbeeld ’n artikel van R45 is met 15 persent afgemerk. Hier is ’n wenk om persentasies in jou kop uit te werk. Gebruik 10 persent as grondslag. As jy 10 persent van ’n getal wil uitwerk, moet jy dit deur 10 deel. Dit is maklik genoeg om in jou kop te doen. En aangesien jy weet dat 15 gelyk is aan 10 plus 5 en dat 5 presies die helfte van 10 is, kan jy maklik die nuwe prys deur optelling en aftrekking uitwerk. Kom ons probeer dit.

Aangesien 10 persent van 45 gelyk is aan 4,5 sal 5 persent van 45 die helfte daarvan wees, of 2,25, en 15 persent sal die som van hierdie twee syfers wees, of 6,75 (4,5 + 2,25 = 6,75). Laastens trek ons 6,75 van 45 af om die afslagprys van 38,25 (45 − 6,75 = 38,25) te kry. Terloops, jy kan ’n soortgelyke benadering gebruik om uit te werk wat die verkoopbelasting op ’n artikel is of hoeveel jy as fooitjie by jou restaurantrekening moet voeg. In hierdie gevalle sal jy die resultaat natuurlik by die oorspronklike prys tel en dit nie daarvan aftrek nie.

Maar wees versigtig om nie verkeerde gevolgtrekkings te maak wanneer jy berekeninge in jou kop doen nie. Die prys van ’n rok of broek wat met 40 persent afgemerk en weer met ’n verdere 40 persent verminder is, is in werklikheid met net 64 persent verminder en nie met 80 persent nie. Die tweede afslag is volgens die verminderde prys uitgewerk, nie die oorspronklike prys nie. Dit ís moontlik ’n winskopie, maar dit is goed om die feite te ken.

Daar is egter probleme waarvoor ’n mens meer as net rekenkunde nodig het. Gelukkig is daar ander wiskundige hulpmiddele beskikbaar.

Wanneer jy jou huis versier

Gestel jy moet die matte in jou woonstel vervang en jy het ’n knap begroting. Voordat jy winkel toe gaan, werk jy eers uit wat jy nodig het. Die belangrikste vraag is: Hoeveel mat moet jy koop? ’n Basiese kennis van meetkunde kan help.

Mat word dikwels verkoop op grond van hoeveel vierkante meter nodig is om ’n oppervlak te bedek. ’n Vierkante meter is een meter lank en een meter breed. Voordat jy kan bepaal hoeveel mat jy nodig gaan hê, moet jy eers uitwerk wat die vloeroppervlak van elke vertrek en gang in jou woonstel is. Die vloerplan van die meeste geboue bestaan uit ’n aantal vierkante en reghoeke. Die volgende formule kan jou dus help om dit uit te werk: o = l × b (oppervlak is gelyk aan lengte maal breedte). Dit is die meetkundige formule om die oppervlak van ’n reghoek of ’n vierkant te bepaal.

Ter toeligting van hoe hierdie formule gebruik word, kom ons sê dat jy in elke vertrek van jou woonstel nuwe mat gaan sit, behalwe in die kombuis en badkamer. Jy meet elke vertrek en maak ’n vloerplan wat soos die een op bladsy 23 lyk. Die vierkante en reghoeke op die plan dui die grootte en ligging van die vertrekke aan. Kyk of jy die formule hierbo kan gebruik om uit te werk hoeveel vierkante meter mat jy nodig gaan hê. Hier is ’n paar wenke: Jy kan die oppervlak van elke vertrek afsonderlik uitwerk en dan die resultate bymekaartel. Of jy kan ’n bietjie tyd spaar deur die hele oppervlak van die vloerplan uit te werk en dan die oppervlak van die kombuis en die badkamer daarvan af te trek.b

In meetkunde word die oppervlak, afstand, volume en ander eienskappe van vorms en lyne bestudeer. Daar is praktiese formules vir elke denkbare vorm in twee en drie dimensies. Elke dag gebruik wetenskaplikes, ingenieurs en binnenshuise versierders hierdie formules om presies te bepaal wat hulle nodig het. Maar wiskunde behels meer as net rekenkunde en meetkunde.

Gebruik wiskunde elke dag

Ander vertakkings van die wiskunde sluit algebra en kalkulus in. Deur die eeue heen het wiskunde waarlik ’n universele taal geword wat alle mense in gemeen het, ongeag hulle kultuur, godsdiens of geslag. In die wetenskap, nywerheidswese, sakewêreld en daaglikse lewe kan wiskunde gebruik word om van die moeilikste raaisels op te los. Hetsy jy probeer om die geheime van die heelal te ontrafel of die gesinsbegroting te laat klop, die vermoë om die taal van syfers te gebruik, is ’n sleutel tot sukses.

Al het jy dus nie van wiskunde op skool gehou nie, sal jy dalk nou met nuwe oë daarna kyk. Soos met enige taal moet jy wiskunde gebruik om dit baas te raak. Probeer om elke dag ’n bietjie wiskunde te gebruik. Probeer om wiskundige raaisels op te los en speletjies te speel. Een goeie ondervinding sal moontlik jou beskouing verander. Dit sal beslis jou waardering vergroot vir die wysheid van die Groot Wiskundige wat hierdie fassinerende begrippe in die begin uitgedink het, ons Skepper, Jehovah God.

[Voetnote]

a Rekenkunde is glo die oudste vertakking van die wiskunde. Dit het duisende jare gelede ontstaan en is deur die eertydse Babiloniërs, Chinese en Egiptenare gebruik. Rekenkunde gee ons die basiese hulpmiddele wat ons elke dag kan gebruik om te tel en die fisiese wêreld om ons te meet.

b Antwoord = 54 vierkante meter mat.

[Diagram op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

3 m

3 m

Kombuis

Eetkamer

Gang

Woonvertrek

Slaapkamer

Badkamer

3 m

1,5 m

3 m

4,5 m

1,5 m

3 m

[Prent op bladsy 23]

Wiskunde kan jou help om daaglikse takies te verrig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel