Sketse van die beroemdes en die berugtes
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
HET jy al ooit probeer om iemand se gesig te teken? Dit is nie maklik nie. Maar sê nou jy moet iemand teken wat jy nou net vir die eerste keer en boonop net ’n paar minute lank gesien het? Wat dit moeiliker maak, is dat jy op jou geheue moet staatmaak om die gelaatstrekke op papier vas te lê. Uiteindelik moet jou pastelskets, wat jy uit die hoof geteken het, binne 30 minute gereed wees vir ’n wagtende televisiespan!
Vir die meeste van ons sal dit eenvoudig onmoontlik wees. Tog is daar ’n handjie vol mans en vroue in Brittanje wat in hierdie werk spesialiseer. Wie is hulle? Hofkunstenaars.
Wetlike beperkings
Hofsake gryp dikwels die verbeelding van die publiek aan, en in baie lande is televisie- en fotodekking van sulke sake iets algemeens. Maar in Brittanje is dit anders. Mense word streng verbied om “in enige hof enige portret of skets van enigiemand te probeer maak”—insluitende van regters, jurielede, getuies, beskuldigdes of gevangenes.a Dit is waar die vernuf van ’n hofkunstenaar handig te pas kom om die verrigtinge van ’n hofsitting vir die media uit te beeld.
Om meer oor hierdie fassinerende werk uit te vind, het ek na ’n kuns- en ontwerptentoonstelling in Londen gegaan. By ’n gewilde stalletjie het ek Beth ontmoet, wat een van hierdie uitsonderlike kunstenaars is. “Hoeveel tyd het jy in die hof om na ’n beskuldigde te kyk?” was my eerste vraag.
Tyd en doel
“Wanneer ’n gevangene vir die eerste keer in die beskuldigdebank staan, is hy gewoonlik net bietjie meer as twee minute daar, maar dit is lank genoeg”, het Beth my verseker. “Dit gee my tyd om die tipe haarstyl sowel as die vorm van die kop, neus, oë, lippe en mond te identifiseer. Ek moet ook aandag skenk aan hoe wyd die gesig is, die lengte van die voorkop en die grootte van die oorlobbe sowel as enige bykomende kenmerke, soos ’n baard of ’n bril. Dan eers het ek die nodige inligting om ’n akkurate skets te maak.
“Soms raak my werk moeiliker. In ’n onlangse saak was daar byvoorbeeld 12 mans in die beskuldigdebank! Hulle het nou wel omtrent 15 minute daar gestaan, maar 12 gesigte in een tekening, vereis baie konsentrasie. Ek het wat ’n mens ’n visuele geheue noem, maar ek moes dit deur die jare heen ontwikkel. Wanneer ek die hofsaal verlaat, moet ek my oë kan toemaak en duidelik die gesigte wat ek gesien het, kan herroep.”
“Hoeveel tyd bestee jy aan navorsing oor die mense wat jy in die hof gaan sien?” het ek volgende gevra. Beth se antwoord het my verras.
“In teenstelling met ’n verslaggewer, doen ek glad nie navorsing nie. Ek kom onbevooroordeeld hof toe, met ’n helder verstand, en wend ’n doelbewuste poging aan om geen interpretasie in my werk weer te gee nie. Ek probeer om die verrigtinge in die hof, waar uitdrukkings van dag tot dag kan verskil, uit te beeld. Ek moet in gedagte hou dat die jurielede dalk my sketse sal sien, hetsy dit op die televisie of in ’n nasionale koerant is, en ek wil nie een van hulle beïnvloed sodat hulle sê: ‘Kyk hoe skuldig lyk hy!’ nie. Hofkuns verskil in hierdie belangrike opsig heeltemal van portretkuns.”
“Die oomblik”
Toe ek vir Beth vra wat die geheim van haar sukses is, het sy geantwoord: “Ek soek na ’n oomblik—ek noem dit ‘Die oomblik’—wat die atmosfeer van die verrigtinge vasvang. Toe ’n beskuldigde byvoorbeeld sy kop in sy hande laat sak het, het die gebaar die saak teen hom so goed opgesom. By ’n ander geleentheid was ’n vrou se gesigsuitdrukking in reaksie op die vraag: ‘Is jy ’n goeie moeder?’ betekenisvoller as haar antwoord. Op dieselfde manier kan ’n traan wat met ’n sakdoek afgevee word, diepe emosies openbaar.
“’n Hofkunstenaar moet ook die atmosfeer in die hof vasvang, wat beteken dat hy die regter, die regsgeleerdes en die hofamptenare sowel as die boeke, die beligting en die meubels moet teken. So ’n volledige prentjie is iets wat die meeste mense nooit self sal sien nie, en dit fassineer hulle. Waar teken ek? Partykeer in die hof se perskamer, maar gewoonlik terwyl ek êrens op ’n stil trap sit. Maar dan moet ek weer vinnig teruggaan om nog gesigte by my skets te voeg wanneer ’n nuwe getuie ingeroep word of wanneer die regsgeleerde vir die verdediging die hof toespreek.” Beth glimlag en voeg by: “Ek weet dat baie van my sketse nou in regsgeleerdes se kantore hang.”
Ek het gretig na die sketse by haar stalletjie gekyk. Elkeen van hulle het my herinner aan hofsake van beroemdes en berugtes waaroor ek in onlangse jare gelees het. Ná sowat tien minute, net toe ek wou gaan, gee Beth vir my ’n pastelskets. Dit was ’n skets van my.
[Voetnoot]
a Dit is nie op Skotland van toepassing nie.
[Prente op bladsy 14, 15]
’n Skets van ’n hoftoneel en hoe dit in ’n koerant verskyn het (links)
[Erkenning]
© The Guardian