Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moenie skape tel nie
  • Woude wat die wolke oes
  • Ongelyke verbruik
  • Vindingryke kewers
  • Vroeë tekens van anoreksie
  • Gif uit termometers
  • Matige oefening
  • Truffels, bome en potoroes
  • Die gevaar van oseaanlawaai
  • Die aarde se kwynende hulpbronne
    Ontwaak!—2005
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Woude
    Ontwaak! – 2023
  • Op soek na dolfyne in Nieu-Seeland
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Moenie skape tel nie

Chroniese slapeloosheid is ’n wêreldwye probleem waaraan 1 uit 10 mense ly, berig die tydskrif New Scientist. Wetenskaplikes skat dat slapeloosheid in die Verenigde State alleen die ekonomie $35 miljard (R341 miljard) per jaar kos weens siekteverlof en ongelukke. Wat kan mense wat aan slapeloosheid ly, doen om hulle te help om aan die slaap te raak? Navorsers by die Universiteit van Oxford het een groep wat aan slapeloosheid ly, gevra om te dink aan ’n aangename en ontspannende toneel, soos ’n waterval of ’n gunstelingvakansieplek. ’n Tweede groep is gevra om skape te tel, terwyl ’n derde groep kon doen wat hulle wou. Dit het die tweede en derde groep ’n bietjie langer as gewoonlik geneem om aan die slaap te raak, maar die eerste groep was gemiddeld meer as 20 minute vroeër as gewoonlik aan die slaap. Allison Harvey, ’n lid van die navorsingspan, het gesê dat dit nie help om skape te tel nie, want dit “is eenvoudig te oninteressant om werklik bekommernisse weg te hou”.

Woude wat die wolke oes

Nat tropiese reënwoude wat hoër as 900 meter bo seespieël groei, kry moontlik “tot 40 persent meer water uit die wolke as die gemete reënval”, sê die Australiese wetenskaplikes dr. Paul Reddell en dr. David McJannet. Volgens die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsorganisasie van die Gemenebes “waai lae wolke, motreën en mis gedurig deur die woud en kondenseer dit op bome waarvan dit afloop of afdrup tot op die grond”, en sodoende voeg dit miljoene liters water by die tropiese riviere. Maar “wanneer reënwoude afgekap word, bereik baie minder vog die grond”.

Ongelyke verbruik

Twintig persent van die aarde se bevolking verbruik nou 86 persent van die wêreld se goedere en dienste, berig The State of World Population 2001. Die verslag, wat deur die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds uitgegee is, waarsku teen “’n ontsaglike ‘verbruiksgaping’” tussen die mense wat in nywerheidslande woon en dié wat in ontwikkelende lande woon. Byvoorbeeld, “’n kind wat vandag in ’n nywerheidsland gebore word, sal gedurende sy of haar leeftyd meer goedere verbruik en meer tot besoedeling bydra as 30 tot 50 kinders wat in ontwikkelende lande gebore word. Op die oomblik is die vyfde van die wêreld se mense wat in nywerheidslande woon, verantwoordelik vir meer as die helfte van die koolstofdioksied wat in die atmosfeer vrygestel word, terwyl die armste vyfde net vir 3 persent verantwoordelik is”, sê die verslag. En die oppervlakte van vrugbare land of see wat nodig is om die lewenstyl van ’n individu in ryk lande te onderhou, is byna vier keer groter as wat nodig is om mense in ontwikkelende lande te onderhou.

Vindingryke kewers

Navorsers het onlangs uitgevind hoe kewers van die geslag Stenocara drinkwater kry in die Namib-woestyn, in die suidweste van Afrika. Die kewers bly aan die lewe in die woestyn, waar die reënval gewoonlik sowat tien millimeter per jaar is, deur drinkwater te kry uit die digte mis wat van die Atlantiese Oseaan af landwaarts waai. Hoe doen hulle dit? Volgens die tydskrif Natural History “is die kewers se rug vol knoppe”, wat onder ’n mikroskoop “soos ’n landskap met pieke en valleie lyk”. Die pieke trek water aan, terwyl die wasbedekte valleie dit afweer. “Die kewers draai na die wind toe en lig hulle agterlyf namate vog uit die mis op die knoppe versamel. Sodra ’n versamelde druppel swaar genoeg word, rol dit af na die insek se monddele”, sê die tydskrif.

Vroeë tekens van anoreksie

“Ouers kan aan hulle kinders se eetgewoontes agterkom of hulle anoreksie of bulimie in ’n vroeë stadium het”, berig The Times van Londen. Die Eetversteuringsvereniging (EDA) het ’n handleiding uitgegee wat ouers en versorgers help om eetprobleme te herken voordat dit te ernstig word. Vroeë waarskuwingstekens kan insluit dat kos obsessief in klein stukkies gesny word of dat daar ’n tussenpose van tot vyf minute tussen elke hap is. Party mense met eetversteurings is geslepe en sal byvoorbeeld baie los klere dra sodat hulle kos wat hulle nie geëet het nie, daarin kan wegsteek. Hulle sal moontlik ook vra dat foto’s waarop hulle gesond lyk en hulle gewig normaal is, weggebêre word. Die EDA se handleiding raai ouers aan om hierdie tekens nie te ignoreer nie en om openhartig te wees oor wat hulle opgemerk het.

Gif uit termometers

“Die kwik in net een termometer kan ’n meer van 11 akker [4,5 hektaar] besoedel, en gebreekte termometers voeg jaarliks sowat 17 ton kwik by Amerika se stroom afval”, sê die tydskrif National Geographic. Visse kry die kwik in, en mense wat die visse eet, neem so die metaal in, wat neurologiese skade kan veroorsaak. Kwiktermometers is reeds in baie stede verbied, onder andere Boston, waar party winkels termometers wat kwik bevat, sal omruil vir digitale termometers en ander minder gevaarlike toestelle.

Matige oefening

“Dit is goed om drie keer per week 30 minute of ’n uur lank oefeninge te doen wat uithouvermoë vereis (draf, fietsry of swem)”, sê die Franse nuustydskrif L’Express. Maar as jy ernstige gesondheidsprobleme wil voorkom, moet oefening nie buitensporig wees nie. Oormatige atletiese oefening kan verswakte gewrigte, vergruisde kraakbeen, verskuifde werwels, haarlynbeenbreuke, hoë bloeddruk, spysverteringsprobleme, voortydige beenverlies en selfs hartaanvalle veroorsaak. “In Frankryk veroorsaak fisiese inspanning elke jaar die skielike dood van 1 500 sportmanne wat baie fiks is”, berig L’Express. Dr. Stéphane Cascua, ’n spesialis op die gebied van sportgeneeskunde by die Pitié-Salpêtrière-hospitaal in Parys, gee hierdie raad aan die talle “Sondagsportmanne” wat in die hospitaal beland en daar moet aansterk: Oefen gereeld, maar net teen ongeveer 75 persent van jou maksimum kardiovaskulêre vermoë.

Truffels, bome en potoroes

Daar word nou gemeen dat potoroes—seldsame, rotagtige buideldiere—onregstreeks verantwoordelik is vir die bestaan van party van Australië se indrukwekkendste bloekomwoude, berig Sydney se nuustydskrif The Bulletin. Potoroes bly in die toringhoë woude van Gippsland in Victoria. Minstens 90 persent van die buideldiere se dieet bestaan uit inheemse swamtruffels, wat onder die grond groei. Die swamme wat die truffels voortbring, werk saam met die bome in die omtrek deur omhulsels om hulle wortels te vorm en ’n digte netwerk veseltjies in die grond uit te stuur om water en voedingstowwe te versamel. Op hulle beurt voorsien die bome die swamme van suikers wat deur fotosintese vervaardig word. Watter rol speel potoroes? Nadat die diere die skerp gegeurde truffels geëet het, versprei hulle onverteerde swamspore op die woudvloer wanneer hulle hulle mis agterlaat. Gevolglik hou die truffels, bome en potoroes aan om te floreer.

Die gevaar van oseaanlawaai

“Daar bestaan toenemende vrese dat die oseaan ’n bulderende, gonsende en verwarrende plek vir walvisse, dolfyne en ander seediere geword het”, berig Londen se koerant The Independent. Navorsers wat ondersoek ingestel het na die dood van ses walvisse en ’n dolfyn wat naby die kus van die Bahamas gestrand was, het gevind dat hulle aan ernstige breinbloeding dood is, wat vermoedelik deur sonaruitsendings van vlootskepe in die omgewing veroorsaak is. Handelskepe, bouwerk naby die kus, motorbote en waterponies dra ook by tot die nood van seediere, wat deur ’n breër spektrum van klanke as mense aangetas word. “Wanneer walvisse en dolfyne duik, word lug uit hulle longe in holtes in hulle liggaam ingedwing”, verduidelik die artikel. “Die vasgekeerde lugborrels kan klankgolwe tot 25 keer versterk, wat lei tot . . . ontsaglike weefselskade teen baie laer klankvlakke en oor ’n groter gebied in die see as wat voorheen gedink is.” Oseaanlawaai “verminder [ook] die afstand waaroor gekommunikeer kan word en beteken dat walvisse en dolfyne harder sal moet skreeu”, sê die navorser Doug Nowacek. “Dit kan voorkom dat hulle by mekaar uitkom en paar, en as hulle nie meer kan hoor nie, kan hulle nie hulle koers bepaal nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel