Die Bybel se beskouing
Argeologie—Is dit noodsaaklik vir geloof?
In 1873 het die Engelse geestelike Samuel Manning oor Jerusalem geskryf: “Pelgrims, wat deur ’n onweerstaanbare krag aangetrek word, stroom van die eindes van die aarde af hiernatoe. Die verweerde mure, die morsige strate en die verbrokkelende ruïnes word, meer as enige ander plek op aarde, deur miljoene mense met diepe en eerbiedige belangstelling bejeën.”
MENSE word sedert die tyd van die Romeinse keiser Konstantyn deur die Heilige Land gelok.a Omtrent 1 500 jaar lank het pelgrims gekom en gegaan, op soek na ’n godsdienstige, persoonlike kontak met die Heilige Land. Maar dit was verbasend genoeg eers in die vroeë 19de eeu dat geleerdes hierdie pelgrims begin vergesel het en sodoende die weg gebaan het vir die era van Bybelargeologie—die studie van die artefakte, volke, plekke en tale van die eertydse Heilige Land.
Die vondste van argeoloë het ons ’n beter begrip van talle aspekte van Bybeltye gegee. Verder het die argeologiese verslag dikwels met Bybelgeskiedenis ooreengestem. Maar is sulke kennis noodsaaklik vir ’n Christen se geloof? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons ons aandag vestig op die plek waar talle argeologiese opgrawings gedoen is—die stad Jerusalem en sy tempel.
‘’n Klip sal nie op ’n klip gelaat word nie’
Op 11 Nisan, volgens die Joodse kalender, in die lente van 33 G.J., het Jesus Christus, saam met ’n paar van sy dissipels, die tempel in Jerusalem vir die laaste keer verlaat. Terwyl hulle na die Olyfberg op pad was, het een van die dissipels gesê: “Leermeester, kyk! watter klippe en watter geboue!”—Markus 13:1.
Hierdie getroue Jode het God en sy tempel innig liefgehad. Hulle was trots op hierdie luisterryke kompleks van geboue en die tradisies van 15 eeue wat daardeur verteenwoordig is. Jesus se antwoord aan sy dissipel was heeltemal onverwags en skokkend: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal hoegenaamd nie ’n klip op ’n klip gelaat word wat nie afgebreek sal word nie.”—Markus 13:2.
Hoe kon God toelaat dat sy eie tempel vernietig word noudat die beloofde Messias verskyn het? Geleidelik, met behulp van die heilige gees, het Jesus se dissipels ten volle verstaan wat hy bedoel het. Maar hoe hou Jesus se woorde met Bybelargeologie verband?
’n Nuwe “stad”
Op Pinkster 33 G.J. het die Joodse nasie hulle begunstigde posisie voor God verloor (Matteus 21:43). Dit het die weg gebaan vir iets veel groter—’n hemelse regering wat seëninge vir die hele mensdom sou meebring (Matteus 10:7). Net soos Jesus voorspel het, is Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig. Argeologie ondersteun die Bybelverslag van so ’n gebeurtenis. Maar Christene se geloof hang nie daarvan af of ruïnes van daardie antieke tempel gevind is of nie. Hulle geloof is gegrond op ’n ander Jerusalem, maar daardie Jerusalem is ’n ander soort stad.
In die jaar 96 G.J. het die apostel Johannes, wat Jesus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem en sy tempel gehoor en die vervulling daarvan gesien het, die volgende visioen ontvang: “Ek het ook die heilige stad, Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal.” ’n Stem het van die troon af gesê: “Hy sal by [die mensdom] woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:2-4.
Hierdie “stad” bestaan uit getroue Christene wat as konings saam met Christus in die hemel sal dien. Saam vorm hulle die hemelse regering—God se Koninkryk—wat oor die aarde sal regeer en die mensdom gedurende die Millennium tot volmaaktheid sal herstel (Matteus 6:10; 2 Petrus 3:13). Die eerste-eeuse Joodse Christene wat deel van daardie groep sou uitmaak, het besef dat niks wat hulle in die Joodse stelsel van dinge gehad het, vergelyk kon word met die voorreg om saam met Christus in die hemel te regeer nie.
Die apostel Paulus, wat oor sy vorige vername posisie in Judaïsme geskryf het, praat namens hulle almal: “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou. Ja, wat dit betref, ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here.”—Filippense 3:7, 8.
Aangesien die apostel Paulus die grootste respek vir God se Wet en die tempelreëling gehad het, het sy woorde klaarblyklik nie geïmpliseer dat daar op hierdie Goddelike reëlings neergesien moes word nie (Handelinge 21:20-24).b Paulus het bloot getoon dat die Christelike reëling voortrefliker is as die Joodse stelsel.
Paulus en ander Joodse Christene van die eerste eeu het ongetwyfeld spesifieke kennis gehad oor talle fassinerende besonderhede van die Joodse stelsel van dinge. En aangesien argeologie lig op die verlede werp, kan Christene nou van daardie besonderhede verstaan. Let egter op waarop Paulus vir die jong man Timoteus gesê het hy hom moet toespits: “Peins oor hierdie dinge [wat met die Christengemeente verband hou]; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timoteus 4:15.
Dit is prysenswaardig dat Bybelargeologie ons begrip van die agtergrond van die Bybel verbeter het. Tog besef Christene dat hulle geloof nie afhang van bewyse wat deur die mens opgegrawe word nie, maar van God se Woord, die Bybel.—1 Tessalonisense 2:13; 2 Timoteus 3:16, 17.
[Voetnote]
a Konstantyn en sy moeder, Helena, het albei daarin belanggestel om Jerusalem se heilige plekke te identifiseer. Sy het Jerusalem persoonlik besoek. Baie ander het eeue lank in haar voetspore gevolg.
b Eerste-eeuse Joodse Christene in Jerusalem het ’n tyd lank verskeie aspekte van die Mosaïese Wet nagekom, waarskynlik om die volgende redes. Die Wet was van Jehovah af (Romeine 7:12, 14). Dit was ’n ingewortelde gebruik onder die Joodse volk (Handelinge 21:20). Dit was die wet van die land, en enige teenkanting daarteen sou onnodige teenstand teen die Christelike boodskap veroorsaak.
[Prente op bladsy 18]
Bo: Jerusalem in 1920; Romeinse muntstuk vir Joodse gebruik, 43 G.J.; ivoorgranaat in bloei, moontlik van Salomo se tempel, agtste eeu v.G.J.
[Erkennings]
Bladsye 2 en 18: Muntstuk: Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority; granaat: Courtesy of Israel Museum, Jerusalem